Jy blaai in die argief vir 2008 Junie.

by izakdv

Kostelikhede by die Kaapse Boekfees

Junie 17, 2008 in Uncategorized


Jacqui en Jeremy Mansfield lyk vreeslik beïndruk met hulleself, en hoekom nie? Daar het klaarblyklik al 40 000 eksemplare van hulle kookboek Zsoozsh! verkoop. (Hou nou op soet wees, Sonia!)


 

 
George Bizos moes ook ervaar dat ’n skrywer honger word terwyl die mense wag vir jou handtekening.

 


Daar was pitkos vir die kleingoed. Jabu (links) wou weet wat dinosourusse eet.


Hierdie kinders het die mooiste weergawe van Stille Nag (in Afrikaans) gesing wat ek in ’n lang tyd gehoor het. Sielekos by die Maskew Miller Longman-stalletjie.

by izakdv

Nog Boekfeeskiekies

Junie 16, 2008 in Sonder kategorie

By NB kon jy rustig raak, of mal gaan oor die boeke.

MacMillan en National Geographics was indrukwekkend.
 

Cambridge het ‘n missie…

… en Protea het baie boeke!
 

by izakdv

Nog foto’s van die boekfees

Junie 15, 2008 in Sonder kategorie

 
Wie? Ek? Famous? Kinder- en jeugboekskrywer Jaco Jacobs by die Lapa-stalletjie.


“Ek is baie famous, maar los my uit!” sê die Babalela van Lapa.


Daar was ook baie stories vir die kleingoed by die Maskew Miller Longman-stalletjie.
 
 
Vanoor Suid-Afrika, en Afrika, het hulle gekom. En dan moet julle nie al die Europese en Asiese stalletjies vergeet nie. Ek kan gewoon nie almal plaas nie!

by izakdv

Die Kaapse Boekfees

Junie 14, 2008 in Sonder kategorie

Soos belowe, deel ek ‘n paar kiekies van die boekfees.
 
Hier is Eben Venter (regs) by die NB-stalletjie.

Piet Grobler (middel) klets met jong ondersteuners by die kinderafdeling.

En hier is Winnie the Pooh by die Maskew Miller Longman-stalletjie.

Daar is nog, hulle kom!

by izakdv

Brick Lane

Junie 14, 2008 in Uncategorized

      

Brick Lane is nie die naam van ’n pornoster nie. (Dink Dirk Diggler in Boogie Nights!) Brick Lane is die naam van Monica Ali se debuutroman en dit is ook die titel van ’n wonderlike film wat oor die roman gemaak is.

Voor ek enige iets oor die plot sê, moet ek eers noem dat Brick Lane nié ’n donker film, of boek is nie. Moet dus nie die boek, of die film, vermy bloot omdat dit oor ernstige sake gaan nie.

Waaroor gaan dit dus? ’n Jong vrou van Bangladesj, Nazneen, word na Engeland gestuur, na haar nuwe man. Sy word letterlik oor die pos aan haar nuwe man verkwansel (verkoop?). Mail-order bride is ’n film wat in 2003 ’n ruk lank mense laat giggel het. In dié geval is die onderwerp ernstiger.

Wat gebeur as ’n middeljarige, oorgewig man sy hand hande (en ander liggaamsdele) kry op beeldskone jong vrou wat eenvoudig aan hom onderdanig móét wees? En hoekom is sy so onderdanig?

a) Sy praat nie Engels nie,

b) Sy is ’n vrou, hy is haar man,

c) Hulle is Moslems, en sy kom uit ’n tradisionele gehuggie waar vroue gewerk word, nie gehoor word nie.

Oor punt c, daar is ’n stuk in die boek wat hulle verbatim na die film oorgedra het. Nazneem sê, kort na haar ma se dood en kort voor haar gedwonge troue: “No one spoke of our mother’s death … and I remembered her saying: ‘If Allah wanted us to ask questions, he would have made us men’.”

Eish. Ja.

Tog, Nazneem se man, Chanu, is ’n “educated husband”, so hy laat haar toe om TV te kyk, om só Engels te leer, en om, uiteindelik, die omgewing waarin hulle woon te gaan verken.

Maar stel jou voor: Jy’s ongeveer agtien jaar oud, jou man is byna veertig en vet, en jy sit in ’n piepklein woonstelletjie waar jy niemand ken nie en met niemand kan praat nie.

Nazneem en Chanu probeer tog. Hulle maak twee wonderlike dogters groot en Nazneem begin mense, dikwels ander Moslems, in die omgewing ontmoet. Om den brode begin sy klere maak teen betaling. En een van haar kliënte, Karim, besef dan hierdie mooi vrou is slim. En as hier pragtige, jong vrou kan naai …

Nou ja. So ontstaan een van mooiste, en hartseerste, liefdesverhale wat ’n mens jou kan indink.

Ek het Brick Lane gekoop en gelees pas na dit verskyn het. Monica Ali was ’n jong, onbekende skrywer en ’n resensie het my geprikkel. Ek was gek na die boek en het dit vir ’n jong Moslem-kollega geleen. Binne weke het my roman die rondes begin doen. Haar ma het dit gelees, dié se sussie het dit gelees … Ensovoorts. Dit het baie lank geneem voor ek my boek teruggekry het.

Die roman is in 2003 vir die Man Booker-prys gekortlys.

En nou die film.

Abi Morgan en Laura Jones, die draaiboekskrywers, het Monia Ali se roman baie netjies verwerk. Daar is ’n paar baie klein veranderinge aangebring, maar die hart van die roman klop steeds in die film.

En die regisseur, Sarah Gavron, se voete moet gesoen word. Hemel, mense, die film is ’n lus vir die oog. Onthou, ’n groot deel van die film speel af in ’n piepklein woonstelletjie. En ’n bitter groot deel van Nazneem se lewe speel ook daarin af. Die kamerawerk is deur Robbie Ryan gedoen, en saam met Gavron se regie, is die eindproduk verbluffend. ’n Groot aantal skote word deur glas geskiet, veral wanneer Nazneem na buite probeer kyk. Sáám met die karakter, word die kyker dus bewus daarvan hoe moeilik dit is om duidelik te sien as jy vasgevang is aan die binnekant (van ’n woonstel en ’n leefwyse).

Wanneer Nazneem met haar lover verkeer, word daar heel dikwels deur materiaal of plastiek, of in spieëls, geskiet. Nazneem se interaksie met haar dogters gebeur ook soms in spieëlbeelde.

Daarteenoor word die groot Chanu gewoonlik van naby, of van onder, geskiet sodat sy imposante figuur en grootse teenwoordigheid in die klein vertrekkies versterk word.

Ek wil nie vir julle vertel wat gebeur nie, maar ek kan sê die einde is wonderlik en positief.

Ek en ’n (ander) Moslemvriendin het die fliek een aand gaan kyk en sy het sommer daardie selfde aand al die roman begin lees. Ek noem dat sy Moslem is, want ek wou graag haar perspektief hê op die film (bo en behalwe die feit dat dit lekker is om saam met haar rond te loop!).

Die goeie ding van die roman én die film, is dat dit nooit Moslems sleg maak nie. Dit vra eerder vrae oor hóé religieuse mense hulleself moet aanpas by hulle omstandighede. En dié aspek van die roman kom pragtig na vore in die film.

Mense, gewoonlik sê ek vir almal: Lees eers die boek. En hierdie geval wil ek sê: Ondersteun vir Ster Kinekor (of jou plaaslike videowinkel as dit dan moet), en dan koop jy die boek.

Die boek is méér as die film, maar die film is so goed, dat ek dink dit sal sin maak om eers die sensuele beelde te ervaar, en dan die storie te lees.

Terloops, vergeet die videowinkel. Jy wil hierdie film op ’n enorme doek sien. Gaan koop die kaartjies! En koop die boek!

by izakdv

Sien julle by die boekfees

Junie 13, 2008 in Sonder kategorie

Mense, as julle enigsens NABY die Kaap is, kom loer in by die boekfees.

Die wat al daar was sal weet dis ‘n ervaring. Vir die wat dit nog nie beproef het nie, dis wonderlik!

Sien julle daar!

by izakdv

Soentjie!

Junie 10, 2008 in Sonder kategorie

Net om te bewys dat ek, al my ernstige bloggerasies ten spyt, steeds die birds op hol kan sit.

Jene, wanneer laas het iemand my gelek?

Dit laat my dink: Wie van julle ken Theunis Engelbrecht se “ek gaap kyk ek gee jou ’n gek gedig”? Die eerste reël begin so: “ek gaap kyk die son lek mak aan my gesig”.

by izakdv

Lovers en getroude vroue?

Junie 9, 2008 in Sonder kategorie

’n Kollega, wat in ’n vaste verhouding is maar nie getroud nie, stuur die ander dag hierdie grappie per e-pos:

Once upon a time a guy asked a girl, “Will you marry me?”

The girl said, “No!”

And the girl lived happily ever after and went shopping, dancing, camping, drank whole bottles of wine, always had a clean house, never had to cook, did whatever the hell she wanted, never argued, didn’t get fat, traveled more, had many lovers, didn’t save money, and had all the hot water to herself. She went to the theatre, never watched sports, never wore fricken lacy lingerie that went up her bottom, had high self esteem, never cried or yelled and felt and looked fabulous all the time.

My vraag is: Waarom kan getroude vroue nie ook hierdie vreugdes smaak nie? Wat het van ons samelewing geword dat die huwelik mense só moet terughou dat dié soort internetgrappie ’n hartseer waarheid wil word?

Ons het Vrydagaand ’n Amerikaanse paartjie by ons gehad. Hulle is reeds vyftien jaar lank bymekaar. En, sê hulle, hulle het gewoon aan die begin van die verhouding vir mekaar gesê: “Life must remain an adventure.”

Dié twee manne kry dit reg, en hulle is in show bizz, so daar is lang tye wat hulle van mekaar weg is.

Ek en my wederhelf is al baie jare bymekaar en meer as dertien jaar getroud. Dis waar dat ek moet huis skoonmaak, dat ons moet kook, ag, al daai goed.

Wat meer is, soos baie ander bloggers (waaronder Sonia en Hello-Kietie) gereeld vir ons vertel: Dis tough as ’n ou eers kinders het.

En, natuurlik moet ons versigtig wees vir siektes en goete, maar hemel, die huwelik is nie ’n vorm van slawerny nie.

Ou Kassie se vrou is ook, soos myne, gereeld weg. Soos ek, is Kassie ook maar die ou wat die skottelgoed gereeld doen en die beddens opmaak. Maar, soos hy sê, dis die kleingoed wat ’n ou besig hou, nie noodwendig die feit dat ons getroud is nie.

Helaas.

Dalk kan ons eendag die punt in ons kollektiewe psige bereik waar die grappie hierbo glad nie meer verstaan sal word, of aangestuur sal word nie.

by izakdv

Woekerende vroue = ((lesende brein – penis) * gelyke regte)

Junie 8, 2008 in Sonder kategorie

Die kanse is goed dat mans én vroue my titel sal verstaan, maar die kanse is beter dat vroue my woorde sal verstaan.

Hoe so?

The Economist van 31 Mei 2008 het ’n openbarende berig gedra. Daarin word ’n akademiese publikasie uit Science aangehaal waarin die nuutste opsomming van ’n studie oor die klaarblyklike verskille tussen ’n seun en ’n meisie se brein geplaas is. Daar is jare lank geglo dat meisies swakker vaar in Wiskunde as seuns. Die studie, deur Luigi Guiso van die Europese Universiteitsinstituut in Florence, het hierdie siening op haar kop gedraai.

Meisies vaar net so goed met algebra en “somme” as seuns, mits die meisies in lande bly waar mans en vroue gelyke regte het. (Voorbeelde is Swede en Ysland. In Pole en Noorweë is dit baie naby.) In lande waar daar steeds groot ongelykhede tussen mans en vroue bestaan (soos Turkye en Suid-Korea), vaar meisies swakker in Wiskunde.

Daar is egter ’n groter probleem vir diegene wat ’n penis rondswaai: Hoe gelyker die regte van mans en vroue is, hoe beter lees die meisies. Dus, ons arme mans verloor ons voorsprong in Wiskunde én ons raak verder agter as dit kom by lees.

Kan julle sien hoekom ek my nuwe boek skaamteloos op vroue gemik het?

Dalk moet ons maar leer kook, broers. Maar dan is daar Sonia …

Toilette skoonmaak iemand? Ek kon darem die ander dag ’n vriendin help toe haar drein nie meer so lekker geloop het nie!

by izakdv

Bob Dylan, Breyten Breytenbach en die fiktiewe ander

Junie 6, 2008 in Sonder kategorie

   

Mense, bederf julleself en gaan kyk I’m not there voor Ster Kinekor dit van die rol afhaal. Dis ’n wonderlike en verbysterende fliek.

Ek en Madlala het dit gaan kyk, en daar was nie veel ander mense in die teater nie, so ek vrees Ster Kinekor mag begin dink aan die einde van die speelvak.

Wat my opgeval het, was dat die meeste mense (vyf) ouer as ek en Madlala was. Hulle het dus iets van Bob Dylan kom soek.

Die ander twee het heel agter gesit en ek sweer hulle het op ’n stadium liefdegemaak daar in die agterste, donkerste ry. En hoekom nie? Hulle was in hulle vroeë dertigs, duidelik verlief en die teater was feitlik leeg. Ek was skoon jaloers.

Okay, so die woorde “Bob Dylan” het uitgeglip. Ja, dit is oor Bob, en nee, dis glad nie oor Bob nie.

Eintlik is dit deksels moeilik om te verduidelik wat dit was, en hoe dit inmekaar steek. Die maklikste is dalk om te noem dat hierdie fliek oor ses karakters gaan:

– Jude Quinn, ’n drugged out superster met ’n moerse mop hare, meesterlik gespeel deur Cate Blanchett.

– Arthur Rimbaud, ’n drugged out karakter wat pas in hegtenis geneem is, wat allerlei wyshede kwytraak, gespeel deur Ben Whishaw.

– Jack Rollins, ’n rock ’n roller wat tot bekering kom, gespeel deur Christian Bale

– Billy the Kid, as Billy the Kid, deur Richard Gere

– Woody Guthrie, ’n meesterlik klein swart sanger, briljant vertolk deur Marcus Carl Franklin, en

– Robbie Clark, ’n drugged out filmster gespeel deur Heath Ledger.

Ja. Dwelms is nogal ’n belangrike karakter in fliek.

En Cate Blanchet is darem iets om te waardeer. Magtig.

Die beeld wat geskep word van hierdie vreemde karakters is nie positief beeld nie. Klaarblyklik was Bob Dylan nóú betrokke by die maak van die film, hoewel hy nie gelys word as ’n skrywer nie.

Die feit is egter, Dylan kom nie baie mooi daarvan af nie. Die meeste karakters openbaar ’n baie donker kant (van Dylan?). So misbruik Robbie Clark almal om hom, ook sy pragtige vrou, Claire, gespeel deur die beeldskone Charlotte Gainsbourg. Jude Quinn is te spaced out om nice te wees, Jack Rollins is te gelowig om ’n Rollin’ Stone te wees, en Woody Guthrie hardloop weg van die polisie.

Billy the Kid is natuurlik ook ’n karakter met ’n vreemde verlede, maar hy bring darem hoop in dié sin dat hy die skurke uitdaag en hoop gee aan die arme mense in ’n dorpie vol vreemde karaters. Tog waarsku Jude Quinn ons: You know, I didn’t come out of some cereal box. There’s no one out there who’s gonna be converted by a song.”

So, helaas. Alice Fabian, gespeel deur die immergroen Julianne Moore, verduidelik vir ons dat die folk-beweging gekaap is deur geld, en dat geld mense wegdryf van hulle wortels af.

Ek sou dwelms ook hier ingooi. Die fliek preek nooit, maar as jy darem nie geraak word deur die manier waarop Quinn (Blanchet) uitrafel nie, weet ek nie.

I’m not there se regisseur is die Todd Haynes. Die draaiboek is geskryf deur Haynes en Oren Moverman.

En nou vir deel twee van dié resensie.

As julle hierdie fliek gesien het, en dit geniet het, moenie van ons eie groot digter, Breyten Breytenbach, vergeet nie. Breyten se jongste boek, A veil of footsteps, het baie negatiewe reaksies gekry onder die Engelse pers. Die Afrikaanse pers het, soos gewoonlik, weer al die verkeerde goed rondom Breyten se werk belig. En op LitNet, vrees ek, het dinge heeltemal handuit geruk.

Nou dat ons almal rustiger is, en ek Bob Dylan as metafoor kan gebruik, wil ek weer ’n eier lê vir A veil of footsteps. Onthou, die subtitel is: Memoir of a nomadic fictional character.

Ek wil werklik sê: Gaan kyk die Bob Dylan fliek, of neem dit op DVD uit, of KOOP die dônerse DVD, want jy gaan dit waarskynlik meer as een keer moet kyk om dit te verstaan. Dan lees jy Breyten se boek. En KOOP asseblief die dônerse ding! Die uitgewersbedryf het jou geld en ondersteuning nodig. Bowendien gaan jy dit meer as een keer moet lees om dit te verstaan.

Maar goed, A veil of footsteps is moeilik, en Breyten kom lelik tweede daarin. Of is dit Breyten? Nes Dylan tweede kom in I’m not there. Of is dit Dylan?

Maar hoekom? In dié geval is dit Breyten self wat oor iemand, genaamd Wordfool en talle ander soortgelyke karakters, skryf. Die subtitel kon werklik geheet het: Memoir of a number of nomadic fictional characters.

Lees self en besluit self, maar doen jouself die guns om eers I’m not there te kyk. Dan sal jy reg wees om ’n soortgelyke acid trip mee te maak in A veil of footsteps.

In A veil of footsteps probeer die verteller byvoorbeeld vir ons vertel dat Breyten nooit ’n politieke gevangene was nie, maar dat hy in hegtenis geneem is omdat hy met dwelms gesmokkel het.

Mense, dis nie verniet dat Dylan een van die grootse Amerikaanse digters is nie, en almal weet Breyten is een van die reuse in ons klein, maar uitstekende letterkunde.

Digters goël met woorde.

Goeie skrywers plaas altyd iets van hulleself in die pot, maar dra soveel maskers, dat die leser nooit sal weet waar feit en fiksie eindig nie.

Doen jouself die guns. Kyk I’m not there en lees dan A veil of footsteps.

Dis moerse om te sien hoe digters hulleself wegsteek agter fiktiewe karakters.

Nie een van die twee is ligte letterkunde nie, maar albei is uiters genotvol. Verryk jouself deur te kyk hoe digters verkleurmannetjie speel.

A Veil of footsteps is te koop by Kalahari.