Jonathan Jansen in vandag se Burger.
Die argitekte van UGO het nou skielik verdwyn
2010-07-12 20:23
As die rampspoedige gevolge van uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) op die televisie uitgebeeld kon word soos miljoene siek en sterwende kinders, sou ons met afgryse vervul wees oor die uitwerking van hierdie verderflike proefneming.
Maar aangesien onderwys-letsels nie onmiddellik waarneembaar is soos dié van ‘n gesondheidskrisis nie, maak ons niks van die ramp wat uitkomsgebaseerde onderwys oor ons kinders gebring het nie.
Die leuens, huigelagtigheid en skreiende oneerlikheid van politici en vakbondleiers nadat die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshekga, die vanselfsprekende aangekondig het – naamlik dat UGO dood is – was enersyds vermaaklik, andersyds verontrustend. Mnr. Kader Asmal het aan ‘n koerant gesê dr. Blade Nzimande moet die blaam dra, nie hy nie. ‘n Vooraanstaande figuur in onderwysgeledere het ontken dat hy die vader van UGO is; dit was iemand anders. ‘n Beampte van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie het ook op die lawaaiwa gespring en gesê sy organisasie was van meet af teen UGO gekant. Genade! Dit het my herinner aan die NP-politici in die middel van die jare 1990: Nie een van hulle het ooit apartheid gesteun nie. Die feit is, UGO was die ideologiese projek van die ANC-regering.
Maar wat is die minder sigbare letsels van UGO? Ek kan aan ses dink.
Een, die geldelike koste vir die land.
Honderde miljoene rande is bestee aan die opleiding van onderwysers, die ontwikkeling van onderwysmateriaal, die opleiding van kurrikulum-fasiliteerders, die gebruik van internasionale kundiges, die uitvoer van duur hersienings en evaluasies, die skryf en herskryf van konsep-leergidse, die reël van massa-konferensies, ad infinitum.
Twee, die geleentheidskoste, naamlik die dinge wat ons in die afgelope 12 jaar kon gedoen het om deurdag en metodies ‘n nuwe skoolstelsel op ‘n sterk grondslag te vestig. Dié gulde geleentheid is onherroeplik verby, omdat die geld en die geesdrif doodgewoon tans skaarser as destyds is.
Drie, die motiveringskoste. Die beginjare van ons demokrasie is deur opwinding en verwagting gekenmerk; die stelsel was gereed en ontvanklik vir verandering. Onderwysers het besef dat die apartheidskurrikulum vervang moet word, en hulle het hulself op verandering voorberei. Hoewel onbeholpe, het talle UGO verwelkom as die kuur vir apartheidskennis.
Nou sal hulle ons nie weer so geredelik glo nie. Professionele onderwysers is afgemat, en talle voel hulle is mislei.
Vier, die regskoste. Een van die mites oor dramatiese kurrikulumveranderings is dat ‘n senior woordvoerder, soos ‘n minister, bloot ‘n aankondiging kan doen en die kurrikulum verdwyn eensklaps. Die probleem is dat UGO nou gevestig is in die bewussyn van die meeste van ons onderwysers. Dit sal nog baie jare ‘n negatiewe uitwerking hê op wat onderwysers en leerders in der waarheid in hul klaskamers doen.
Vyf, die ekonomiese koste. Al hoe minder studente, met of sonder naskoolse opleiding, kon daarin slaag om in die arbeidsmark opgeneem word.
Dit sou insiggewend wees om ‘n onderwysekonoom te vra om die ekonomiese koste van UGO te bereken.
Ses, die belangrikste, ingrypende menslike koste. Reeds benadeelde kinders is blootgestel aan ‘n kurrikulum wat ‘n brose leeromgewing nog slegter gemaak het.
Pleks van die aanleer van die onmisbare vaardighede van lees, skryf en reken, is hulle onderwerp aan deftige konstruksieteorieë wat talle van hulle ongeletterd gehou het. Die newegevolge hiervan het nie net baie uit die skoolstelsel weggedryf nie, maar ook al hoe swakker studente gelewer aan universiteite, waar hulle moes sukkel om sukses te behaal.
Daar behoort natuurlik ook ‘n politieke prys te wees. Koppe behoort te rol. Die slegte nuus is: Die onaantasbaarheid van ons politieke stelsel bring mee dat nie een van diesulkes aanspreeklik gehou sal word nie. Nie een van die senior burokrate wat UGO gepromoveer het, het kundigheid gehad in die teorie, ontwerp of inwerkingstelling van die kurrikulum nie; hulle was ontplooide kamerade wat ons land meer as 30 jaar teruggesit het met die afdwinging van dié onbesonne kurrikulum.
– Die Burger
Onlangse kommentare