My kinders is die middelpunt van my lewe. Gelukkig twee liewe goed wat my nog nooit teleurgestel het nie. Hulle is maar nog net 8 en 11, maar as ek luister na die sewe soorte hel waardeur ander ouers met kinders van dieselfde ouderdom gaan, kan ek nie help om die liewe Vader te dank vir my twee nie.
Sonder om in ‘n predikasie te verval, wil ek net heel eerste se ek glo aan drie R’e: roetine, reels en rituele. Met roetine bedoel ek nie gegiet-in-sement nie, maar min of meer. Hulle kan drie etes ‘n dag verwag, op min of meer dieselfde tyd. Iewers in ‘n dag moet daar huiswerk gedoen word, min of meer op dieselfde tyd. Blablabla.
Ek is erg op die reels – klink soms vir myself soos die bose heks van Endor, maar dit werk. Hoe ouer hulle word, hoe minder het ek nodig om die reels af te dwing.
En rituele het ons BAIE! Hulle was sedert geboorte welkom in my bed – vir ‘n slapie as die spoke pla, vir ‘n DVD saam met my kyk, vir koffie-en-beskuit op ‘n Saterdag. ‘n Ander ritueel wat al ‘n groot bron van pret en plesier was, is huisgodsdiens. Ek het al gebede aangehoor wat my trane laat loop het (so hard moes ek inhou om nie te skater van die lag nie). En ek het al wonderlike geloof gehoor – onder meer dat hulle steeds glo dat Liewe Jesus hulle (volslae alkoholis) pa se hart kan verander. Hulle mag bid net wat in hulle koppe kom, en het soveel selfvertroue dat die oudste gister en die jongste vandag die skool se afsluitingsgebed oor die interkom gedoen het – self gevolunteer. Onthou, Luc is maar graad 2, so ek was stomverbaas dat hy die moed gehad het vir dit.
As ek Bybel-lees, probeer ek dit interessant en informeel hou. (Hulle is nou, wat my betref in elk geval, verby die Kinderbybel stadium. Hulle moet nou die mooi van die Psalms en die wonderwerke van die Nuwe Testament en die ander wonderlikhede lees.
Eergisteraand verduidelik ek toe dat Paulus se naam eers Saulus was, en dat hy die Christene so gehaat het dat hy hulle help doodmaak het. Toe verander God sy hart en gee vir hom ‘n nuwe naam as teken van die verandering, en so word Saulus Paulus.
Vanaand lees Zoe Bybel, en sy blaai rond op soek na iets. Kom af op Job, en se dit hardop. O, seg Luc, Job klink soos jok.
Ja, se ek, maar Job het nooit gejok nie.
En Luc, dwalende op die Saulus/Paulus-kwessie, se in al sy 8-jarige onskuld en opregtheid: “O ja, en sy naam was mos eers Sop.”
Nou ja, dan se ek maar eers: “Nag, Sop!”
Onlangse kommentare