Hierdie onderhoud het verlede jaar in Rooi Rose verskyn. (Ons het ‘n artikel wat ons noem Rooi Stoel. Daarin gesels ons V&A-styl met mense met sterk opinies – na enige kant van die spektrum, en in enige bedryf. Vir wat dit werd is: ek en Max het so aan die begin van 2008 ‘n openbare debat in BY gehad. Hy het geskryf dat hy dink daar was nie verkragtings in die Boere-Oorlog nie, en ek het van hom verskil aan die hand van sekere bronne waarin ek nagelees het. Maar dis presies wat dit was: ‘n meningsverskil. Ons Suid-Afrikaners – en mag ek maar spesifiek wees – sekere Afrikaners moet nog leer dat ‘n meningsverskil nie noodwendig gelyk is aan vyandskap nie. Sonder DEBAT gaan ons nerens kom in hierdie land nie. Hoor julle regses?)
Noem die naam Max du Preez, en jy gáán ‘n reaksie kry. Want niemand staan onpartydig teenoor dié joernalis/skrywer/politieke kommentator nie. Of jy is mal oor hom, of jy kan hom nie verdra nie. Hy gesels met Ilse Salzwedel.
Onverskrokke Max
Hy is “deel van die Kroonstad Klub”, spot-spog hy. Nes Antjie Krog, Terror Lekota, Ivy Matsepe-Casaburri, Anton Goosen, Pallo Jordan en Jan Blohm, wat almal daar gebore en getoë is.
As een van agt kinders van “goeie, konserwatiewe Christen middelklas-Afrikaner ouers”, was sy grootwordjare “rustig en normaal sonder om ooit iets te kort”. Rugby was die hoogtepunt van sy kleindorpse bestaan.
Maar Max-die-uitgesprokene het eers ontpop na sy studies in Politieke Wetenskappe by Maties. Daarna was hy joernalis by verskeie Afrikaanse en later ook Engelse koerante. Maar teen die laat tagtigs was die naam Max du Preez sinoniem met die Vrye Weekblad, waarvan hy stigter-redakteur was. Maar al word hy wyd geag, is dié veelbekroonde uitgesproke man by die huis net pa, ywerige tuinier, rugby- en krieketondersteuner, natuurliefhebber…
Vertel bietjie meer van jou gesin.
Ek het twee volwasse kinders, John en Annéne, en ‘n laatlammetjie – eintlik ‘n nalatige lammetjie – Frances. Sy hou my jonk en vol vreugde. Niks kan ‘n mens meer dankbaar maak as om te weet jou kinders is goed-aangepaste, gebalanseerde en suksesvolle mense wat omgee vir ander mense en vir hul omgewing. Ek is getroud met Angela, ‘n formidabele vrou, kunstenaar en grafiese ontwerper. Anders as sommige van die voorste taalbulle wat ek ken, praat ek net Afrikaans met my kinders. Hulle is al drie volkome tweetalig. Ek hou vol ons eintlike huis is steeds op ons landgoed by Napier in die Overberg, maar eintlik is ons net naweke daar en woon ons deesdae weens werkredes in Kaapstad.
Hoe ontspan jy?
Met ‘n lekker maaltyd en goeie wyn saam met familie of vriende. En ‘n baie groot deel van my dag word gewy aan lees, maar al is dit vir my ‘n groot plesier, is dit eintlik werk. Ek is verslaaf aan navorsing oor die stories van Suid-Afrika se verlede.
Sien jy jouself as skrywer, of as politieke joernalis en waarnemer?
Ek het myself altyd in die eerste plek as ‘n joernalis gesien, maar in die laaste nege jaar het ek ses boeke geskryf. Ek skryf ook so agt rubrieke ‘n maand vir verskeie koerante en ‘n webwerf. Dit sou my meer skrywer en politieke ontleder maak. Maar ek maak ook nog gereeld dokumentêre vir televisie. Maar waarnemer, ja, altyd, my hele lewe lank. Mense se gedrag fassineer my.
Waarvandaan kom jou politieke bewussyn en belangstelling?
Dis moeilik om te sê. Daar is soms politiek in ons huis gepraat, maar ek is die enigste van ons kinders wat so betrokke is by die politiek. Ek het ‘n sterk sin vir reg en geregtigheid en omgee vir die wat swaar kry by my pa geërf, en dit is seker in sigself polities. My natuurlike nuuskierigheid het my na die joernalistiek getrek, en daar het ek baie gou by die politiek betrokke geraak.
Wat was die hoogtepunte van die Vrye Weekblad-fase van jou lewe?
Ek was in 1987 deel van Van Zyl Slabbert en Breyten Breytenbach se span Afrikaanse meningsvormers wat met die (toe steeds verbode) ANC-leierskap in Dakar, Senegal gaan gesels het. Dáár het Oom Beyers Naudé, Abraham Viljoen en Van Zyl my uitgedaag om nie net te kla oor hoe slaafs die Afrikaanse koerante die Nasionale Party se propaganda as feite verkoop nie, maar om self ‘n koerant in Afrikaans te begin wat die ware gesig van apartheid as ‘n onchristelike, onregverdige en gewelddadige ideologie sou uitwys.
Ek het vas geglo as gewone Afrikaners regtig weet wat apartheid aan die swart meerderheid doen, sou hulle dit nie langer ondersteun nie.
Teen alle voorspellinge en ten spyte van volgehoue pogings van magshebbers om dit te kelder, het die koerant op die been gekom, en daarop is ek bitter trots.
Vrye Weekblad het met sy onkonvensionele, lewendige en energieke beriggewing oor die politiek, letterkunde, kuns en kultuur ons taal Afrikaans ‘n groot guns gedoen en baie gehelp om nie-Afrikaanses se vooroordele jeens die taal te ondermyn. Vrye Weekblad was ‘n besonderse hoofstuk in die geskiedenis van die Afrikaanse joernalistiek en die mense wat daar gewerk het, sal altyd my helde bly.
Jy is uitgesproke en dikwels baie krities oor sake van die dag, ook teenoor die huidige regering. Pla dit jou as mense kwaad word oor jou standpunte?
As ‘n mens ‘n kommentator is oor aktuele sake en dit pla jou as mense van jou verskil, moet jy regtig iets anders vir ‘n lewe gaan doen. As rubriekskrywer en ontleder is dit in elk geval deel van my taak om debatvoering te prikkel. Watter sin sou dit maak as ek bloot net mense se vooroordele en gebrekkige insigte staaf met wat ek skryf? Wat vir my belangrik is, is dat ek die laaste twintig jaar nog my kritiek op dieselfde beginsels baseer. My kritiek op PW Botha en my kritiek op Mbeki-regering gaan oor dieselfde besware: oneerlikheid, minagting van die lot van gewone mense, kragdadigheid, inbreuk op mense se basiese vryhede…
Jy vryf skynbaar veral Afrikaanssprekendes by tye heeltemal verkeerd op. Doen jy dit met opset?
Dink jy rêrig so? Vryf ek Afrikaanssprekendes verkeerd op? Haai, ek sal iets daaraan moet doen, ek wil so graag gekoester word aan die boesem van my volk…
Het die nuwe Suid-Afrika tot dusver aan jou verwagtinge voldoen? Wat sou jy anders wou he?
Wel, ons het absolute vryheid van spraak en van beweging, en ons ekonomie is goed bestuur die laaste vyftien jaar. Ons het stabiliteit, en het van baie van ons haat en wrewel jeens mekaar ontslae geraak. Dis goed om voor dankbaar te wees. En ons het darem ook die beste nasionale krieket- en rugbyspan in die wêreld!
Maar die manier waarop die ANC-regering oorhaastig was om wit en bruin kundigheid by die venster uit te gooi en met onervare swart mense te vervang; die grootskeepse korrupsie op die vlak van politici en amptenare; die lae prioriteit wat aan onderwys en gesondheid gegee word; en die onbeholpenheid waarmee die vlaag kriminaliteit hanteer word… dis baie teleurstellend.
Wat dink jy van die huidige politieke woelinge, en wat kan ons in die verkiesing verwag?
Dis baie belangrik dat die ANC, die “bevrydingsbeweging”, nou in twee geskeur het. Dit gaan baie help om die rasseskeiding in ons politiek ongedaan te maak. Ek glo die ANC gaan minder as 60 persent van die stemme kry, wat beteken hullle sal hulle baie mooi moet gedra as hulle nie in 2014 die verkiesing wil verloor nie. Ek het vandag baie meer hoop vir ons demokrasie as ‘n jaar of twee gelede.
Wat gaan die volgende regering se grootste uitdagings wees?
Die bekamping van misdaad en korrupsie, werkskepping, onderwys en gesondheid is bo-aan die lys van prioriteite, maar seker ondergeskik aan die bekommernis oor die stand van die ekonomie wat deur die wêreldwye resessie bedreig word. Of miskien gaan die regering se onmiddelikste groot uitdaging wees om die land te regeer met ‘n president wat meer in die beskuldigdebank as in die Uniegebou sit.
Is daar (volgens jou) enigsins ‘n einde in sig vir die voortslepende krisis in Zimbabwe?
Jy moet jou oë hemel toe rig en vra hoe lank Robert Mugabe nog gaan lewe. Solank hy betrokke is, kan daar nie juis positiewe ontwikkeling plaasvind nie.
Sal jy ooit emigreer?
Ja, miskien later – terug Vrystaat toe. Maar bedoel jy land-uit? In der ewigheid nooit. Ek hóórt hier, ek is gelukkig hier, ek voel ek het ‘n verantwoordelikheid hier. As dinge begin skeefloop, baklei ek eerder as vlug. Ek hou nogal van ‘n goeie fight.
Onlangse kommentare