Dan Roodt se volkstaat-idee: ‘n ope brief

Januarie 14, 2010 in Sonder kategorie

Ek het my nog nooit verwerdig om op Dan se skrywes te reageer nie, maar gister se Volkstaat-een vat die koek! In kort: hy is ‘n voorstander van die idee dat ‘n Afrikaner-volkstaat gestig word. En hier is hoe sy Volkstaat moet lyk (ek paste net so van sy blog af): Ons eis ‘n derde van die land in ‘n strook wat loop van Pretoria-Oos tot anderkant Witbank met Jan Smuts-lughawe en die meeste kragsentrales, asook suidwaarts ‘n groot deel van die Oos-Vrystaat tot in die Suid-Kaap met die kusgebied tussen Port Elizabeth en Mosselbaai daarby ingesluit.”

Hier sal “Afrikaners oplaas ná eeue van vlug, swerf en stryd omdat ons deur Katolieke Spanjaarde, moordlustige Britte en nou rassistiese Afro-Saksers verdruk is, vryheid smaak.”

Hoesê? Ek het Geskiedenis tot Matriek gehad, maar het seker die dele gemis waar Afrikaanssprekendes deur “Katolieke Spanjaarde” vervolg is. En Afro-Saksers?? Ek weet van Afro-Americans, en dis vir my ‘n belaglike konsep. (Om jouself met Afrika te verbind bloot omdat jou oerantie se oupagrootjie se derde niggie 400 jaar gelede in die Kongo gewoon het, kon ek nog nooit verstaan nie.) NET SO MIN as wat ek nie rassiste soos Roodt se ontkenning van swart mense se regte om in Suid-Afrika te woon en te werk en te leef verstaan nie.

Want al was my oer-oer-oer-oupagrootjie ‘n Russiese Duitser, is ek ‘n Suid-Afrikaner. Nie ‘n Rus of ‘n Duitser nie. Of ‘n Ier, aan my ouma se kant. Ek is ‘n Afrikaan, wat hierdie kontinent in my bloed het en NOOIT erens anders wil bly nie. En ek is Afrikaans en trots daarop, en ja, ek is ‘n Afrikaner, maar minder trots dáárop as mense soos Roodt die term rondgooi en beweer hy praat namens alle “denkende, moderne en ingeligte Afrikaners”.

Skies tog, Neef Roodt, maar wat maak dit my dan? En volgens alle definisies wat ek ken en gemeet aan alle beskaafde standaarde en norme is ek beslis denkend, modern en ingelig. Jammer, jy praat beslis nie namens my en my vriende nie.

En jou stelling: “Swartmense en vele Engelssprekende blankes verkies die huidige regeringsvorm met sy welvaartstaat, misdaad, Engels, regstellende aksie, omgewingsbesoedeling en korrupsie wat ons tegelyk woedend en moedeloos maak.

Net so sal hulle waarskynlik ontuis voel in ‘n land met wetstoespassing, Afrikaans en hoë opvoedkundige standaarde waar niks op ‘n skinkbord verkry word nie. Dit sal egter ordelik, skoon en veilig wees met die helfte van Suider-Afrika se BNP en Afrikaans as enigste amptelike taal.” verwerp ek met meer minagting as wat dit verdien. Dis nie net onchristelik nie, dis ook chauvinisties, nepotisties (baantjies vir boeties, jy weet), gierig, rassisties en meerderwaardig. Alles dinge wat in MY Bybel nogal sterk afgekeur word deur dieselfde Here wat sekere “Afrikaners” so links en regs gebruik om hulle idiootlike uitsprake te regverdig.

 

Ja, meeste van die dinge waarop jy nou wil beslag le vir die Volkstaat is ontwikkel onder die apartheidsregering, maar met wie se hande-arbeid en bloedsweet? As jy wil eerlik wees, hoofsaaklik met SWART mense s’n, Dan. So, wie het meer reg daarop: wit of swart? (Die antwoord is eenvoudig: alle Suid-Afrikaners het ewe veel reg op hierdie land en sy hulpbronne.)

 

Ja, daar is probleme. Daar is misdaad en swak opvoeding en infrastruktuur wat ineenstort. En korrupsie en plaaslike dienste wat non-existent is. Maar die volwasse, Christelike ding sou wees om saam te soek na die oplossing, en om mense in jou dampkring te besiel en te inspireer om van SUID-AFRIKA ‘n beter plek te maak. As ons wag vir die regering, gaan ons lank wag. Daarom moet ONS ‘n begin maak. ONS moet ons bure leer ken en by ons plaaslike gemeenskapspolisieringsforum aansluit sodat ons saans veiliger kan slaap. ONS moet sorg dat ons kinders ook by die huis opgevoed word. ONS moet ons Bybelse opdrag van naasteliefde uitvoer, en mense help wat swaarkry, ongeag ras of klas.

 

Daar is vir my ‘n logiese oplossing wat ons almal skynbaar miskyk: elke gesin in hierdie land wat oorvloed het, moet iemand (of ‘n gesin) help sodat die maatskaplike las nie so swaar druk op die regering nie. Want hoe kan 50 miljoen mense uit staatskoffers gehelp word? En nee, moenie vir my vertel dis jou goed en jy’t daarvoor gewerk nie. Onthou maar altyd wie die Bron is, wie die Voorsiener van ‘n werk is. Hy kan dit enige tyd wegneem, en dan gaan jy (dalk eers as jou neseier op is) ook bakhand moet staan. En Sy Opdrag is om te help waar jy kan. En dit sluit swart mense in. Eers as minder mense broodgebrek ly, kan ons begin om die misdaadgolf in SA hok te slaan.

 

‘n Ander kwessie is die verval van waardes en norme – nog ‘n rede tot immer stygende misdaadsyfers. Beeld berig vanoggend van ‘n taxi -bestuurder wat ‘n rooi lig ignoreer het en die dood van ‘n pragtige 19-jarige op haar verjaarsdag veroorsaak het. MAAR, vrinne, dis LANKAL nie net meer taxi’s wat so ry nie. Kyk bietjie om jou – gewone mense, ja ook wit mense (shock and horror!!) ry gereeld voor my oor rooi verkeersligte. Of in die geel streep. Of teen lewensgevaarlike spoed. (Al die jong manne met hulle Tazz’s en Chico’s gesien, om nie te praat van die manne in die luukse motors en 4×4 nie.)

 

En die manne met die Klippies en Coke in hul lywe is dikwels nie oorgretig om die sleutels aan vroutjie te oorhandig na ‘n partytjie nie. Dronkbestuur eerder, en blote geluk as hulle nie ‘n mens se lewe kos nie.

 

Dis ONS plig om ons kinders ook te leer wat reg en verkeerd is, in alle situasies. Dan sal onderwysers ook meer uitgerig kry in die klaskamers.

   

Laasten jou slotopmerking van “vele swartmense sal dit ook so sien” is niks minder as misplaaste arrogansie nie.

 

Dink weer, neef. En dink twee keer voordat jy namens my as jou mede-Afrikaner praat. Ek is beslis nie soos jy nie.

 

Groete,

Ilse Salzwedel

Joernalis

Hier is die kommentaar wat ek op Dan se blog gepost het:

Ag komaan Dan! Moenie dat ‘n informele Beeld-peiling jou so opgewonde maak nie.
En jy het NIE die meerderheid Afrikaners se toestemming om namens ons hierdie lugspieelings te verkondig nie. Dis rassisme, uit en gedaan. En rassisme is sonde, klaar. Die Here het ons almal gelyk geskape. Nie een van jou grend verduidelikings gaan vir Hom werk nie, ou maat.
Jou manier is NIE die manier om by werkbare oplossings vir ons land uit te kom nie. Ek wonder hoe die brein van ‘n man wat beweer hy is intelligent soveel nonsens kan voortbring. Of hou jy net daarvan om die waters te roer vir ‘n bietjie aandag?
Ek is seker daarvan jy kan jou geld, tyd en intelligensie beter aanwend.
(Terloops, jou Max du Preez-webwerf is kinderagtig verby. En nee, ek is nie noodwendig ‘n Max-aanhanger nie, en het trouens al in BY in ‘n volblad-artikel met hom verskil. Ek sidder om te dink daar is mense elders wat dalk kan dink jou mentaliteit is sprekend van die Afrikanerdom.)

16 antwoorde op Dan Roodt se volkstaat-idee: ‘n ope brief

  1. Mau het gesê op Januarie 14, 2010

    “Eis” nogal ‘n derde? En wat maak hulle nogal geregtig op ‘n derde van die land?

  2. Jy kan my bad as ek weet. Dis juis hierdie tipe arrogansie wat my grensloos irriteer en wat onnodige [email protected] vir die res van ons veroorsaak wat net doodgewoon wil aangaan met ons lewens.

  3. Tannemys. Dit is skitterend geskryf. Waar ek so de moer in raak dat ek wil slange vang, en dus sommer die man takel op my eie manier (vol laterale denke en verwysings wat die arme sot klaarblyklik nie verstaan nie, omdat hy, komieklik genoeg, probeer aandring op logika en bewyse en sulke stront. Soos jy weet is ek nie ‘n geweldadige mens nie, maar as daar een mens is wat ek graag sou wou bliksem, is dit die gevaarlike arrogante man met die ego van ‘n babelse koning. Die jammerte is natuurlik dat hy die ding nie gaan lees nie. Hy lees net wat sy skewe “denke” pas. Onnosele skaap. Ek sou graag op sy netjiese sokkies opgooi. Hoekom rig jy die skrywe nie aan Praag nie? Dalk sal dit dan binne sy eng vermoe wees.

  4. En en hy is nou in ‘n debat op sy blog. Nou gryp hy weer na die Here, ens. Dit maak my as Christen nogal siek dat party Afrikaners Christenskap gebruik om hul eie rassistiese agenda’s te bevorder of verduidelik.

  5. Lefts, this oke is seriously deranged. Of course he probably has a zillion books by wierd and wonderful Broeder Piet or Broer Jakkie or whomever, which he will trot out as proof of whatever screwball ideas he chooses to retch out.

    And don’t forget, he also has his own geography and scripture experts, who will no doubt “prove” that The world started just outside the pub in Orania some 10 million years ago, that an Afrikaans speaking white dude popped a rib for a blonde-blue-eyed Eva at creation, and that Eden is in fact that dusty cemetry just outside town.

  6. And what’s new in that, my friend? Nothing worse than an arrogant Christian. It goes against everything Christianity stands for.

  7. Ilse, dankie vir jou ope brief. Ek dink dis belangrik dat daar ‘n debat oor dié kwessie plaasvind en dat diegene wat daarteen gekant is ook hul kant stel. Feit is, meer as 11 000 mense het Maandag en Dinsdag op Beeld se webblad gestem en 73% steun die volkstaat, waarvan 17% voorwaardelik en 56% onvoorwaardelik. Dit was amper soos ‘n referendum!

    Intussen moet ek net bietjie aandag skenk aan http://www.praag.co.za want daar is ook vele briewe en kommentaar oor die volkstaatkwessie wat insgelyks daar opgelaai moet word. Mense wil ook die hele kwessie van watter deel van die land ons toekom bespreek en ek wil daaroor reageer.

    Ek vind net jou beroep op godsdiens, wel, onnodig. Ek het tussen die liberales en linkses grootgeword en ek meen die Afrikaner se grootste enkele fout is om godsdiens en politiek te meng. Dit lei tot onlogiese denke, wat verklaar waarom ons vandag is waar ons is. Geen Fransman, Engelsman of Duitser sal sommer net “oorgee” en sy volk deur ander laat regeer omdat hy homself blindweg “in die hande van die Here” plaas nie. Dis ook nie ‘n Calvinistiese siening om jou aardse besluite en kwessies en politiek net so aan ‘n Hoër Hand oor te dra nie. En: as rassisme sonde was, gaan 600 miljoen swartes in Afrika en 40 miljoen in die VSA seker hel toe, want hulle is baie meer rasbewus (en rassisties) as ons blankes. Kyk maar vir Mugabe, Mbeki, Malema of selfs Obama wat al voorheen sterk anti-wit uitsprake gemaak het. Maar genoeg daaroor, ek reageer binnekort op jou ope brief.

  8. Dan, vir my is Christenskap deel van my lewe. Ek is nie ‘n perfekte Christen nie, maar ek weet dat blatante rassisme beslis sonde is. En ek worry nie oor die miljoene ander wat vir rassisme hel toe gaan nie, want dis hulle saak. Maar mense wat deel is van ‘n kultuur wat daarop roem dat hulle Godvresend is, behoort gewaarsku te word dat dit wat in hulle kele afgedruk word as “eie” en “ons reg” niks anders as rassisme is nie. En dit, Dan,is en bly sonde.
    Ek het ook ‘n probleem met die ewige implikasie dat die Afrikanervolk beter is as enige ander. Dis ‘n Herrenvolk-mentaliteit.
    Oor die 11 000 wat gereageer het in Beeld: die res van ons het nie eers jou artikel gelees of ons verwerdig om aan so ‘n absurde stemmery deel te neem nie. Dis VER van ‘n referendum af. Bloot ‘n steekproef, onwetenskaplik, onverteenwoordigend en dus van geen belang in die groter prentjie nie.

  9. Ai jy het te veel aandag aan Dan gegee. Hy moet net kort gevat word en dan kom sy huigelary na vore. Hier my blog wat ‘n eenvoudige saak aanspreek as sy Volksstaat ooit verwesenlik word en op sy blog waarna ek verwys sal jy sien hoe hy kringe om ‘n direkte vraag probeer hardloop. http://letterdash.com/africannewsferret/and-guess-who-is-back-selling-a-dream

  10. News, ek weet hy kan nie ‘n reguit vraag antwoord nie. Gaan kyk ons debatjie op sy blog vandag. Ek stel verskeie feite, hy kom na vore met ‘n simpel stelling soos “Dink jy die Here keur goed wat nou in Zim aangaan?”
    En ja, eintlik gee mens hom onverdiende aandag. Maar ek kan ook darem nie dat nie-Afrikaanssprekendes dink ons (Afrikaners) is almal idiootlike dom rassiste nie.

  11. Beste Ilze, ek het jou nou geantwoord op my woernaal. Sal jy omgee as ek jou brief ook elders kopieer? Want hierdie stelsel is nie soekbaar deur die soekenjins nie en daarom plaas ek maar my goed ook op roodt.org of op praag.co.za waar almal daartoe toegang het en dit ook soekbaar is deur Google, ens.

  12. Doodreg Dan.

  13. I started answering and it got a bit long so I pasted it to a blog… heh heh
    Here:
    http://blogs.news24.com/Revthump/racists-and-dinosaurs-i-wish-they-had-more-in-common-like-extinction

  14. Absoluut Uitstekend!!

    Ek stem 100% saam, woord vir woord, en soos ek op sy blog gesê het – Hy moet wakker word uit sy droom anders word sy koffie koud!!

  15. UITSTEKEND!
    Dit “tick” my so 100% af dat sulke mense daar ‘staan’ en kamma namems my soveel gemors verkondig… met so ‘n mentaliteit sal ons net mooi nooit erens kom nie!

  16. As jy wil praat van mentaliteit, Foxy, gaan lees wat hulle oor en vir my geskryf het op Praag. Ek is stom geskok. Eerlikwaar. Mens kan nie met ekstremiste debateer nie – dis regtig onmoontlik. En ons het blykbaar verskillende Bybels ook nog. Maar alles geskied natuurlik onder skuilname, terwyl almal weet wie ek is. Een het glads gese veral vroue moet mooi dink voor hulle dit in hulle domein waag. Is dit 2010 of nie?

Los ’n antwoord vir Mau. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.