Die BY-artikel: Ons is regtig nie almal so nie.

Oktober 24, 2009 in Sonder kategorie

My standpunt in vandag se BY ( in repliek op Max du Preez se artikel verlede week oor Afrikaners wat “gatvas en verbete” is).

Max du Preez vra in verlede Saterdag se BY hoekom so baie Afrikaners so onverdraagsaam en gatvas is. Ilse Salzwedel reageer hierop, maar as jy gehoop het sy vat weer vir Max aan, soos ‘n vorige keer, moet jy dalk maar hier ophou lees.  

 

                                                                                                Ons is regtig nie almal so nie!

Ek is trots Afrikaans. En ‘n Afrikaner. (Behalwe as daardie definisie beweer ons is beter is as enige ander groepe.)
En ek probeer my bes om ‘n goeie Christen te wees. Maar partykeer, net partykeer, skaam ek my morsdood vir my mense.

Sedert my 83-jarige pa by my bly, luister ek noodgedwonge soms saam met hom RSG. (Eintlik hou ek van stilte.) So luister ek soms saam na Loslip, en hoor hoe die arme Ian Wessels dikwels deurloop onder omgekrapte, onverdraagsame en onvergenoegde Afrikaners.   

Twee Loslippe het my oopmond van verbasing gelaat. In een het Ian en stasiebestuurer Magdaleen Kruger probeer verduidelik hoekom dit soms nodig is om ‘n Engelse kundige in programme te gebruik as daar nie ‘n Afrikaanse kundige beskikbaar is nie. Want sien, party oompies en tannies word so kwaad vir die Ingils, dat hulle sommer die radio sal afskakel. Een se rede is dat sy ouma met swepe deur die Engelse in die konsentrasiekamp ingejaag is. Meer as 100 jaar gelede…

In ‘n vurige debat rondom kindertoelae was daar ‘n groot klomp wat gemeen het dat swart vroue net babas kry vir die R240-kindertoelae ‘n maand. Selfs nadat ‘n (Afrikaanse) kenner wat al jare daarmee werk, luisteraars verseker het dat swart geboortesyfers nie sedertdien noemenswaardig gestyg het nie. Een luisteraar se bediende sou kastig gesê het dat sy net meisiekinders wil hê, want hulle beteken meer geld. Sy haal hulle glo in “in St. 2 uit die skool om babas te kry.” Al gehoor van lobola, tannie? Dis hoekom ‘n dogter meer werd is as ‘n seun.  

Ek en Martha Moroke, my sielsuster wat al agt jaar my huis bestuur en my kinders se ander ma is, kon net lag oor van die argumente. Want hoe het ons nie al die afgelope agt jaar gesukkel met die kindertoelaes wat haar werklik sieklike dogter moet kry nie? Kort-kort word dit sonder rede gekanselleer. En wat koop mens met R240 – kos, melk, doeke of klere? Want jy kan beslis nie alles koop nie.  

Verskeie luisteraars het voorgestel dat arm mense (lees “swart”, want dit was die implikasie) gesteriliseer moet word om nie kinders te hê nie. Sou ons Afrikanervolk enigsins bestaan het as so ‘n beleid na die ABO afgedwing is?

Dis sulke tye dat ek vir nie-Afrikaanses wil sê ons is nie almal so nie. Nie almal is rassiste, Engels-haters en heethoofde wat glo dat arrogansie en misplaaste aktivisme Afrikaans van uitsterwing gaan red nie. Inteendeel. Ek stem saam met aktrise Lizz Meiring dat ons taal nie ‘n brandsiek skaap is wat iewers allenig in sy eie kampie moet staan nie. Solank ons hom praat en in hom doen en skep en in hom vriende maak en nie vyande nie, sal hy oorleef.

Net so met die taaldebat by universiteite. Ek is seker ontsettend naïef, maar op hoeveel Afrikaanse universiteite is ons nou eintlik geregtig? Hoekom nie ‘n goue middeweg vind tussen Engels en Afrikaans nie? Toe ek 1990 rond op Maties was, was Engelse studente welkom, en kon hulle vraestelle in Afrikaans of Engels beantwoord en vrae aan dosente stel in beide tale. En maak dit nie sin dat Afrikaanse studente wel vertroud moet raak met Engels as meeste van die handboeke in Engels is nie? Om nie te praat van die vaktaal van sekere beroepe nie.

Ek sien die gatvasgeit wat Max sien oral om my. In boekresensies wat impliseer dat jy nie intellektueel is as jy nie wroegende Afrikaanse letterkunde lees nie. Ek is dan maar dommerig, want ek lees suiwer vir ontspanning, nie om die in-boeke op ‘n lysie te kan aftik nie. Ook op die sg. intellektuele Afrikaanse gespreksforums verwar Afrikaanses slegsê met gesonde debatvoering.

Ek is ‘n Christen, want ek weet Jesus het vir my sonde gesterf. En alles, net mooi alles, is Genade. Maar keer dit my om te sondig? Ek kry padwoede, spreek in tale en gebruik soms selfs my middelvinger, en nie om ‘n geleentheid te vra nie… Ek het al gejok, begeer, gestry, geskinder. Ek pas nie my liggaam, die tempel van God, baie goed op nie. Ek stres dikwels eerder as om my bekommernisse op Hom te werp.

Ek is nie altyd so lief vir my naaste soos wat God van my verwag nie. En ek kan God ook lekker uitskuif as dit my pas.

Ek is geskei ook, al het ek voor God belowe “tot die dood ons skei”. En ek moes al ‘n aborsie oorweeg toe daar vermoed is dat my ongebore kind erg gestremd is. (Gelukkig was hy nie.) Dit en ander krisisse het al my geloof getoets, maar ek glo God verstaan dat ek soms twyfel.   

Is al hierdie sondes van my kleiner as Casper se gebruik van die Here se naam? Of as George Claassen se twyfel oor God? En wat maak die mense wat hulle so uitskel, dikwels anoniem, enigsins beter as Casper de Vries of George Claassen? Onthou jy daardie WWJD-armbandjies? What would Jesus do? Inderdaad. Ek dink nie Hy sou ‘n skel-SMS of uittrap-brief gestuur het nie. Nog minder ‘n anonieme een.

Ek kan nie eintlik Bybelverse aan nie, maar ek weet Jesus het op aarde sonder huiwering gemeng met prostitute, tollenaars, heidene en Samaritane. En dat Sy hele wet opgesom word in hierdie woorde: jy moet God én jou naaste liefhê soos jouself. God sê ook (deur Paulus, dink ek) dat ons alle dinge moet beproef, maar die goeie moet behou. Wat per implikasie sê dat ons wel soms gaan afdwaal.   

Jesus het nooit Sy standpunt op ander afgedwing nie. Jy kon Hom volg, of jy kon bly. Sonder dat Hy jou geskel het. Inteendeel, hy het eerder harde woorde gehad vir meerderwaardige gelowiges, soos skrifgeleerdes, wat op ander neergesien het. Nooit vir die sondaar nie.

Ek is te onwetenskaplik om te weet hoe oud die aarde is. En ek kan met my eie oë sien dat evolusie bestaan – wat anders is dit as sekere spesies radikale aanpassings maak om veranderinge te oorleef?  Ek glo wel dat God magtig en slim genoeg is om alles te laat ontstaan. Maar nie noodwendig dat dit in sewe dae van 24 uur elk gebeur het nie. En ek sien Hom as Liefde en Genade, nie as vuur, swael en verdoemenis nie.  

Ek het twee kinders op laerskool, maar het nog nie ‘n oomblik se slaap verloor oor godsdiens (of nie) in skole nie. Want eintlik is godsdiensopvoeding nie die skool se plig nie, maar myne as ouer. Dis hoekom ek ‘n doopbelofte afgelê. Ek moet hulle aan God en sy Woord bekendstel en hulle kerk toe neem, maar méér nog: ek moet hulle leer om God se grootste gebod – naasteliefde – uit te leef. Láát kinders meer leer van Jode, Hindoes, Moslems of wie ookal. Want so verstaan ons mekaar beter. En geen les oor ‘n ander geloof kan ons van die die liefde van God kan skei nie – Hyself het gesê NIKS kan ons van Sy liefde skei nie.  Ons as Christene moet beslis meer vertroue in God en ons geloof hê!

Terloops, ek koop my kinders se skoolklere by ‘n dierbare Indiërman teen wie se winkelmuur prente van (vermoedelik) Hindoegode is. (Sien, dit sou gehelp het as ek iets hieroor op skool geleer het…) Al is daar ‘n Afrikaanse winkel reg oorkant die straat. Mnr. L is vriendelik, praat Afrikaans, en is heelwat goedkoper. En hy is dekades lank bekend as iemand wat sonder huiwering gratis skoolklere verskaf vir behoeftige (wit, Afrikaanse) kinders in Christenskole. Hoe kan ek summier verklaar Mnr. L gaan hel toe? Ek glo daardie besluit berus by God, wat almal se harte ken.  

Dis tyd dat Afrikaners, Afrikaanses en Christene die absurde klein geveggies oor taal, godsdiens, ras en politiek moet laat staan en eerder lewensbelangrike goed, soos misdaad, armoede, HIV/Vigs, besoedeling en klimaatverwarming moet takel. Want ek glo dis wat Jesus sou doen…

*Ilse Salzwedel is ‘n vryskut-joernalis van Johannesburg wat al met onder meer ‘n PICA en ‘n ATKVeertjie bekroon is. Sy word aanstaande week saam met o.a.Tim du Plessis, Beeld se redakteur, deur die FAK vereer met die H.B. Thom-toekenning vir ‘n besondere bydrae tot Afrikaanse joernalistiek. 

 

7 antwoorde op Die BY-artikel: Ons is regtig nie almal so nie.

  1. Dankie Maddie!

  2. Nee wat geen vrese nie en jy hoef nie saam met Tigger in die tuin te kom wegkruip nie. Alles baie goed en duidelik gestel. Opvallend die versoenende wyse, sonder aggressie, waarin jy jou denke openbaar het. Mooi so. Geniet die naweek en sterkte met jou varder dar by jou.

  3. Dankie Ferret. Ek wag nou vir die hospice suster – hy het vandag baie pyn, stygende koors en ‘n skielike swelling by die lewer rond. Het nog nooit voorheen van pyn gekla nie.

  4. Ek raak sommer warm onder die kraag as mense so teer op die verlede. Wat hulle nie besef nie is ons het 1 lewe en daardie lewe moet jy geniet. Hoekom so swartgallig wees. …want hulle is verveeld en kry nie genoeg stimulasie nie.

    Mooi geskryf en dit is jammer daardie mense lees nie jou artikel nie.

  5. Magtig en Pragtig!
    :))

    ps – BAIE goed gestel!

  6. benmica het gesê op Oktober 24, 2009

    Lekker gelees, ek is ook een van daai ouens met ideale en klei tussen my tone.
    Baie lief vir my land. En al sy mense.

  7. Max Du preez het nog altyd opgestaan vir sy oortuigings, in die verlede en nou in die hede, dit het hom taamlik laat vereensaam, maar ek het ‘n baie groot bewondering vir hom daaroor. Ek is van mening dat ‘n mens moet keuses maak waarmee jy kan saamleef en dat die fanatici(oor enige iets, ook godsdiens) niemand ‘n guns doen nie, nie eers hulleself nie. Inteendeel, hulle doen ‘n land geweldig skade aan, ook hulle eie nageslagte wat daarvoor gestraf gaan word. Ek bewonder jou ook jou moed om te sê wat jy voel.

    Ek leer my kinders dat daar net een goue reël in die lewe is en dit is respek vir ander mense. As jy gerespekteer wil wees, moet jy bereid wees om eerste respek te betoon. Dis gewoonlik mense wat geweldig bang en onseker is wat fanaties raak. Mense met selfvertroue kan situasies baie beter hanteer. Somtyds kry ek ook geweldig skaam vir my eie mense, dit moet ek bely.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.