The article on becoming the “parent” for your parent

September 25, 2009 in Sonder kategorie

I referred to this article in my blog on Tuesday (I think). It is in Afrikaans, but I hope it helps somebody out there. I also interviewed friend and fellow journalist Ronel Nel for this, as she was going through the same thing with her parents.  It was published in Rooi Rose earlier this year, and it won the Real Life Story of the Year Award at the recent Caxton Excellence Awards.

My hele lewe het in ‘n breukdeel van ‘n sekonde op ‘n Namibiese grondpad verander. Die uiteinde was dat ek my bejaarde pa se ouer moes word, ‘n rol waarvoor ek totaal onvoorbereid was. Deur Ilse Salzwedel.

 

 

As die rolle ruil

Die een oomblik was ons nog op pad na my oudste broer se jagplaas vir sy troue, en die volgende het ons 4×4 gerol.

Eers was alles swart om my. Toe was daar ‘n angswekkende mengelmoes van geluide: gras en boompies wat teen die kar vee, klippe wat teen die bakwerk stamp, iemand wat gil…

Ek voel eers ‘n onmenslike drukking op die basis van my nek. Dan weer ‘n loodswaar gewig wat my bors toedruk en my na asem laat snak.  

Die wete dat die motor gerol het tref my saam met die eerste welkome asemteug. En stof wat neersif. In ‘n breukdeel van ‘n sekonde besef ek my kind lê in die middel van die breë grondpad, gesig ondertoe, so slap soos ‘n lappop.

 “My kind!” hoor ek myself gil. Dis ‘n oerkreet.

Here, net nie dit nie. Moenie my 9-jarige Zoë hier van my wegneem nie.

In nog ‘n flertsie van ‘n sekonde besef ek my 6-jarige Luc is genadiglik springlewendig. Hy skreeu soos ‘n besetene. Ek stamp my deur oop, sit hom op die grond neer, en hardloop na Zoë – die pyn in my nek en die glasskerwe onder my kaal voete vergete. “Hoekom verloor mens altyd jou skoene in ‘n ongeluk?” flits dit deur my gedagtes.

Die verligting toe ek my kind hoor huil is ‘n verlammende golf. My broer Gerhard dra haar terug motor toe. Sy het haar hand gebreek, en daar is ‘n reuse kneusing op haar heupbeen, maar sy leef!

Terug by die motor wil my ma verdwaas weet wat gebeur het. Sy vra twee maal, ek en Gerhard verduidelik. My ma is orraait, sy praat ten minste met ons. Maar my pa…

Sy kop hang teen ‘n vreemde hoek, en daar is oral bloed. Maar daar is ‘n pols. Ons sukkel die gebuigde deur oop, tel hom versigtig uit en lê hom op ‘n kombers agter die wrak neer.

Ek troos my histeriese kinders. Zoë wil weet of ons dood is en of dit nou die hemel is. Luc skreeu aanmekaar dat hy nie hier wil doodgaan nie.

Iewers in daardie eerste paar lewensbelangrike minute sak ek letterlik op my gesig neer in die stof, en smeek by die Here vir genade soos nog nooit tevore nie. Ek bid lewe oor die toneel, vra dat niemand hier moet sterf nie…

Ek sit gehurk langs die motor om my kinders te kalmeer toe ek my ma hoor roggel. “Ma verstik!”, gil ek vir Gerhard.

“Ek kan nie my arms voel nie.” prewel sy terwyl ons oor haar buk.  

Hoe sy, wat oomblikke tevore nog op haar rug gelê het, haar gesig ondertoe kon draai, verstaan ek nie.

Ons probeer haar help. Toe ek my hand onder haar nek sit om dit te stut as ons haar probeer draai, weet ek dadelik. Dis onmiskenbaar: haar nek is gebreek, verkrummel. Dit voel soos los klippies in ‘n sak…

En daar, op 11 Julie 2008, ‘n paar minute voor twee, sterf Susan Elizabeth Herselman in ons arms.

Ma en ouma, en byna 54 jaar al Johan se vrou… Wie sou ooit so mooi na Pa kon kyk soos wat sy dit getrou gedoen het sedert sy beroerte, op ‘n dag of twee na presies vier jaar tevore?

In plaas van troue hou ons toe roudiens. Tussendeur maak ons beurte langs my pa se hospitaalbed.

Toe hy ontslaan word, is hy letterlik te swak om een voet voor ‘n ander te sit of selfs Ma se roudiens by te woon. Hy sal nooit weer alleen kan teruggaan na hul huis op Worcester nie. Al genade is om hom eers in Windhoek te laat aansterk.

Ons redeneer in sirkels oor ‘n oplossing. Pa het skielik 24 uur versorging nodig, selfs meer as na sy beroerte. Behalwe vir sy beserings is daar die trauma van ‘n lewensmaat wat gesterf het sonder dat daar groetkans was.  Hy is skielik inkontinent, moet in die bed gewas word en ‘n effense vergeetagtigheid begin ontaard in ‘n ernstiger demensie. Hy weet party dae nie waar hy is of dat my ma dood is nie.

Meer as vyf weke later loop hy vir die eerste keer weer – weliswaar met hulp. Hy kan weer stort, mits iemand met letterlik alles help.  

Drie maande na die ongeluk besluit ons dis beter as hy by my kom bly. Ek werk immers van die huis af, en die diere en kinders in my huis behoort Oupa se siel goed te doen.

Ek is meer as positief oor my pa se koms. Hoe moeilik kan dit nou wees om ‘n bejaarde in die huis te hê, veral as ons voltydse hulp vir hom kan bekostig?  

Tien weke later voel dit of ek gaan knak. Die een naghulp dros. Ek kyk byna ‘n week snags na my pa. Die grootste deel van elke dag draai ook om hom, al het ek ‘n steunpilaar in die vorm van Martha Moroke, my huishulp van byna agt jaar.

Daar is bloed wat getrek moet word om sy bloedverdunningsmedikasie se werking te monitor, doktersbesoeke in ‘n rolstoel. Een nag ontwikkel hy ‘n onophoudelike neusbloeding, en teen dagbreek sukkel ek hom alleen motor toe en jaag hospitaal toe. Hy word opgeneem – die bloeding word eers ure later gestop – en ‘n skandering wys hy het weer ‘n klein beroerte gehad.

Hy is pas terug uit die hospitaal toe die nuwe naghulp siek word en uiteindelik ook bedank. Ek slaap 10 nagte in ‘n ry by hom in die kamer en staan vier of vyf keer ‘n nag op om hom te help om die urine-bottel te gebruik.

Na die ongeluk, waarin ek ‘n nek en skouerbesering opgedoen het, het my werkstempo aansienlik gedaal. Nou, met my pa in die huis, kom dit feitlik tot stilstand. Ek voel skuldig omdat ek my kinders afskeep. Ek voel ingehok omdat ek my hele lewe om my pa moet beplan. Spandeer ek te veel tyd aan hom of sy sake, voel ek gefrustreerd. Spandeer ek te min tyd aan hom, voel ek skuldig.

Gelukkig herken ek die voortekens van ‘n ernstige depressie, en gaan terug na die sielkundige wat my moes help om die ongeluk te verwerk. Iets gaan moet verander…

 

Wat ek geleer het

  • Kry hulp! Jy kan nie ‘n bejaarde ouer – veral ‘n verswakte – alleen versorg nie. Moenie huiwer om jou ondersteuningstelsel in te span nie, en kry opgeleide verpleeghulpe as dit enigsins bekostigbaar is. (Dit het my lewe verander!)
  • Gaan vir berading. Nie net omdat jy fisies en emosioneel uitgemergel raak nie, maar ook omdat jy hoogs waarskynlik met skuldgevoelens en frustrasies gaan worstel. Party dae gaan jy selfs wens jy het nooit jou ouer in jou huis gehad nie! Boonop moet jy aanskou hoe jou ouer daagliks verswak.
  • Gee ekstra aandag aan jou kinders. Hulle gaan jou emosioneel nodiger as ooit tevore hê, want ‘n bejaarde in ‘n huis met jong kinders bied unieke uitdagings en raak soms baie neerdrukkend. Skep ook tye waarin jy alleen kan wegglip met jou kinders.  
  • Hou op skuldig voel! ‘n Konstante stryd, in my geval, veral as dit kom by my sosiale lewe. Maar jy móét ook na jouself kyk.
  • Maak jou somme deeglik. Maak voorsiening vir ekstra uitgawes soos chroniese medikasie, doeke, hulpmiddels soos ‘n rolstoel en die inrig van ‘n badkamer vir iemand wat moeilik beweeg. Jou ouer en sy versorgers gaan ook jou kosbegroting beïnvloed.
  • Behou jou sin vir humor! Doen jy dit nie, gaan jy beslis knak. Ek gril myself byvoorbeeld halfdood vir valstande. Om Oupa se tande te moet borsel, is vir my amper die heel ergste van sy versorging. Een aand kon ek weer nie gou genoeg sy tande vir hom teruggee nie. Sonder om twee maal te kyk, het ek begin om die komberse om sy lyf in te druk. Toe ek opkyk, begroet ‘n baie vreemde gesig my: Pa het sy botande agterstevoor én onderstebo in sy mond gedruk gekry, en kan nou net geluide maak en woes na sy mond beduie. Nadat ek dit reggedraai het, het ek (en hy, later) onbedaarlik begin lag. En ek het gewens ek kon my ma daarvan vertel…
  • Hou by ‘n vaste roetine. Bejaardes, net soos babas en jong kinders, raak moeilik as hulle roetine omver gegooi word.

“As ons net betyds beplan het”

Ronel Nel, nog ‘n rooi rose-medewerker, bevind haarself in ‘n soortgelyke bootjie nadat haar pa (75) en haar ma (80) sedert Julie verlede jaar ernstig siek is.

Hulle was nog totaal onafhanklik en selfversorgend toe haar pa met ‘n aggressiewe kanker van die mond en kaak gediagnoseer is. ‘n Sewe-uurlange operasie het sy liggaam ernstig geknou. Eers het sy hart ingegee, toe sy longe en niere. Hy het ook trombose en bloeding op die brein ontwikkel, en altesaam ses maande in die intensiewe sorgeenheid van ‘n hospitaal deurgebring.

“Van al die stres en spanning gee my ma se hart toe ook in en beland sy in dieselfde hospitaal se kardiologiese intensief vir ’n maand.”

Ronel en haar twee ouer broers se lewe is handomkeer verander deur hul ouers se verswakte gesondheid.

Sy beskryf haar ouers se woonplek van die afgelope 20 jaar as “heeltemal ouderdom-onvriendelik”. Al drie die kinders het eie gesinne gehad en  niemand se huis was reg ingerig vir ‘n verswakte bedleênde bejaarde of selfs net een in ‘n rolstoel nie.

Ronel het haar ma aanvanklik alleen probeer versorg, maar moes noodgedwonge uiteindelik ook 24-uur tuisversorgers aanstel. “Dit het ons ‘n arm en ‘n been gekos, en is nie deur die mediese fonds gedek nie.”

“My ma het aanvanklik ook – heeltemal te verstane – geweier om na ‘n ouetehuis te gaan.”

Met ‘n skok moes hulle besef dat hulle ouers ook nie genoegsame finansiële voorsorg getref het vir hul oudag nie. En, sê Ronel, wat om te doen as ‘n ouer soveel sorg nodig het, is iets wat nooit in hulle huis bespreek is nie. Hulle moes inderhaas na versorgingsoorde begin soek.

“ Die meeste aftree-oorde – veral die waarheen mens jou ouer sal wil laat gaan – was jare vooruit bespreek. Daar was baie min wat mediese- of versorgingsfasiliteite het om te kan omsien na verswakte bejaardes.”  

En daar was die emosionele aspek: hoe sou hul ouers reageer op ‘n ingrypende, totale omgewingsverandering sonder bekendes én skielike totale afhanklikheid?

Nou, na maande “wat letterlik agt maande uit my en my broers se lewens gehaal het” besef Ronel dat die emosionele en finansiële impak veel minder kon gewees het as hulle as gesin vroeër hieroor gepraat en daarvoor voorsiening gemaak het.

“As ons almal net deeglik vir eendag beplan het…”

 

Ronel se ouerversorging 101

  • Praat vroegtydig en openlik met albei ouers oor hul versorging sou hulle skielik verswak. “Maak seker dat hulle nie voel hulle word weggestoot nie, en beklemtoon dat goeie beplanning vir hulle eie gemak en almal se gemoedsrus is.”
  • Beplan finansieël – ook vir skielike, onverwagse uitgawes. “As al die kinders en die ouers saam betaal aan aftree-annuïteite, werk dit nie so duur uit nie. ke, onverwagse uitgawes.”
  • Maak doodseker dat hulle mediese fonds alle hospitalisie en nasorg dek.
  • Gaan kyk – verkieslik saam met hulle – betyds na aftree-oorde en versorgingsplekke. Let op na die privaatheid en netheid en die ander bejaardes se gemoedstoestand. Is daar fasiliteite soos ‘n siekeboeg, mediese hulp en eetgeriewe? Word daar vervoer na en van winkels aangebied? Is daar aktiwiteite of uitstappies?”
  • Plaas hulle name betyds op ‘n waglys. “Dis selfs ‘n goeie plan om ‘n vaste datum te bespreek.”
  • Tuisversorging is ’n opsie, maar dit word nie deur mediese fondse gedek nie, tensy die ouer/s ook mediese versorging nodig het.

2 antwoorde op The article on becoming the “parent” for your parent

  1. My ouers is vanjaar na n aftree oord. Die uitgawes is rof aangesien daar ook nie finansiele voorsorg getref was nie.
    Mooi bly
    😉

  2. My ma-hulle het ‘n pragtige huis in ‘n aftree-oord laat bou, maar is deur die ontwikkelaar met ‘n slap riem gevang. Daar sou ‘n frail care eenheid gewees het, wat toe nooit gebou is nie. En toe my ma so skielik sterf, en my pa nogal ernstig beseer is, toe sit ons in ‘n reuse fix. Snaaks, my ma-hulle het altyd gese hulle moes vroeer na so plek toe getrek het dat hulle hul aftreetyd nog meer kon geniet. Hulle was eers soontoe toe my pa al 79 was.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.