Woonstelstories VI (23 Maart 2012)

Augustus 14, 2012 in Sonder kategorie

Die huwelik is ‘n slaghuis, het Malie van nommer 75 soms vir my gesê. Malie het agtergekom dat ek voorheen ‘n predikant was. En van toe af het sy haar logge lyf byna daagliks hier by my deur ingesleep. Eers het sy met haar een hand teen die deurkosyn gestaan en rus. Hortend, snakkend, smagtend na asem. Dan het sy die vyf treë moeisaam na die rusbank toe geskuifel en terwyl sy nog dink sy sit, al gesit. Sommer net so, soos een van daai ruimtetuie in die flieks wat land sonder dat jy hom sien aankom het.

Dan het Malie haar hande op haar gebergte van’n skoot gevleg en my oorrompel met hartseer waarin mens kon verdrink. Maar nie sonder rede nie, besef ek. Malie het ‘n hartseer storie.

Dit was sowat twintig jaar gelede. Malie was die kassier by Dolf se Slaghuis op Petrusfontein, ‘n klein dorpie waarvan niemand nog ooit gehoor het nie. Nooit tot trou gekom nie. As ‘n mens Malie se grootte in ag neem, kan mens die jongmanne van destyds nie eintlik kwalik neem nie. Maar nou ja, mens moet darem ook na die hart kyk en nie net na die voorkoms nie, nè? En daarvan het Malie oorgenoeg gehad. Sy het ‘n hart groter as haar lyf gehad. Maar niemand wou dit raaksien nie. Tot Malie se bittere verdriet.

Tot eendag. ‘n Nuwe jong onderwyser is by die plaaslike skool aangestel. Afrikaans. Vol poetry en mooi stories. Deugdelike knaap, die Alfons, het die tannies van Petrusfontein gesê. En wat meer is, Alfons kon ‘n barshou dwarsdeur die lyf van ‘n vetsugtige mens kyk. Alfons kon ‘n hart onder ‘n ton vetrolle uitkyk. Hy het blomme aangedra, poetry gelees, flieks wat hy in die stad gekoop het gewys, minneliedere gesing. ‘n Aardige gesig, die paartjie. Alfons met sy pipetlyf en Malie wat ryk Jaap Scholtz se nuutste Massey Ferguson sou laat skaam kry. Maar dit het gewerk. En die dorp moes leer om die paartjie se geluk te aanvaar. Alfons het die grond aanbid waar Malie geploeg het. En Malie was sielsgelukkig.

Die huweliksbevestiging was ‘n grandiose affêre. Reg uit die tradisie van kleindorpies. Die hele dorp was daar. En uit die stad het Alfons al sy akteurs- en skrywersvriende laat kom. Die bekende minnesanger Koert Davel het die paartjie toegesing. Dit was ‘n heuglike dag. Een van daardie onthale waarvan mense lank na die troue nog oor kon praat. En hulle sou, as dit nie vir daardie tragiese huweliksnag was nie. Alfons is oorlede.

Dit het Malie lank geneem om my genoeg te vertrou om die fynere besonderhede van daardie nag te openbaar. In kort kom dit hierop neer: In haar oorgretigheid vir die huweliksnag, het Malie vir Alfons doodgelê. Morsdood. Geknakte pipet.

Daardie selfde nag nog het Malie haar trourok gegryp, niks anders nie, en met dit geklem in die gebergte van haar skoot, het sy versteek in ‘n trok van die melktrein gevlug. Stad toe. Eers Johannesburg en van daar af deur die genade van weldoeners Pretoria toe. Silverton. Twee woonstelle van my af. Hier bly sy nou al twintig jaar. Blykbaar was daar ‘n hofsaak, maar die regter het bevind dat Malie nie skuldig aan ‘n misdaad is nie. Haar persoonlike vonnis sou egter deur geen ander straf oortref kon word nie. Dis een ding om verwerp te word of ‘n ander te verwerp. Maar om aandadig te wees aan ‘n geliefde se dood, is ‘n lewenslange vonnis. Selfs al het jy dit nie so beplan nie.

Vir die res van haar lewe is sy gedoem tot ‘n stryd met God, haarself, Satan, herinnering, hede, toekoms, die opregtheid van ander mense en die wêreld rondom haar. Ernst, die faktotum, het vir haar gesê sy moet met my kom praat, hy het gehoor ek was ‘n dominee. Dalk kan hy help om jou hartseer weg te vat, het hy gesê.

So het dit gekom dat ek die laaste drie maande byna daagliks pastorale berading aan Malie moet gee. Sy wat ‘n mens met die wye hartseer in haar oë kon verdrink.

Ek moes eers baie vrae antwoord: Glo ek in God, gaan ek kerk toe, hoekom is ek nie meer ‘n dominee nie, bestaan God regtig, hoekom kry goeie mense (ek dink sy het na haarself verwys) swaar, hoekom is ek geskei? Die een vraag na die ander. En van die begin af kon ek nooit eerlik met haar wees nie. Ek het maar die antwoorde gegee soos wat ek gedink het sy daarvan sal hou. Die antwoorde wat haar sus. Ek kon net sowel nog ‘npredikant gewees het.

Ek moes die meeste oor die huwelik gesels. Sy wou weet hoeveel mense ek al in my lewe getrou het. Het ek mense al afgeraai om te trou? Hoeveel van die huwelike wat ek al bevestig het, het op egskeidings uitgeloop? Wat is die ideale vrou? En die ideale man? En hoe kry party mense dit reg om vyftig jaar lank getroud te wees? Sal ek weer trou? Malie het my gedwing om te dink oor getroud wees. Diep te dink soos ‘n klip wat in troebel water sink.

Die aand van 29 Februarie het sy my egter tot op die bodem laat val. Sy het oudergewoonte hier ingeskuifel. Maar die keer het sy ‘n vasberade trek op haar gesig gehad. En sy het nie doekies omgedraai nie. Sal ek met haar trou, het sy gevra.

Dit was onverwags soos dood. Ek het onwillekeurig my hart vasgehou. Ek kon sweer ek snak na asem. So hard as wat ek probeer het om niks te laat blyk nie, het sy onmiddellik gesien dat ek ongemaklik is. En ja, ek was. Ek het nou nie ‘n pipetlyfie nie, maar ek het geen rede om te glo dat my lyf, anders as Alfons, die gewig van ‘n oorgroot vrou kon hanteer nie. En boonop het ek geprotesteer, sy is goed tien jaar ouer as ek. Sy het trane in haar oë gekry, moeisaam opgestaan en by die deur uitgeskuifel, sonder ‘n woord. Ek het verslae gesit en haar agterna gestaar. Dit was die laaste sien voor vanoggend vroeg.

Iets soos ‘n mini-aardbewing het my uit my slaap geruk. Sesuur, het die horlosie gewys. Ek het uitgehardloop stoep toe. Die son het sy eerste strale oor Bronberg gestoot. Onder in die parkeerarea het Malie gelê. Haar trourok bloedbevlek, ‘n heilige kleed geklem in haar hande. Here, nee, het ek gedink. Ek het hulpeloos halflyf oor die tralie gehang. Die Here weet, die huwelik is ‘n slaghuis. Iemand gaan altyd dood, selfs al het jy ‘n hart groter as Malie se lyf.

Woonstelstories V (14 Maart 2012)

Augustus 14, 2012 in Sonder kategorie

‘n Papegaai is minimaal troetelbaar. Die intiemste troeteling wat ‘n mens met ‘n papegaai kan pleeg, is om sy koppie te krap. Probeer dit maar self. Vleg jou vingers deur ‘n papegaai se veredos soos deur die pels van ‘n geliefde brak. Al wat jy voel is ‘n benerige lyfie wat geen liefde ontketen nie. Toegegee, papegaaie is dalk oulik met hulle pragtige koppe en snawels en hulle ver

moë om hulle base se onsinnighede klakkeloos te herhaal. Maar andersins is papegaaie lyflose troeteldiertjies. Selfs koppiekrap is ‘n bra steriele oefening in liefde.

Desnieteenstaande loop Flip Voël van nommer 66 die wêreld vol met sy Skollie op die skouer. En oral waar hy kom, selfs by Hoot ‘n Toot Pub, kan mense hulleself nie keer om Skollie se koppie te probeer krap nie. Sonder uitsondering loop die beoefenaar van steriele liefde met ‘n bebloede vinger daar weg. Flip Voël is Silverton se yskasmechanic – appliance engineer noem hy homself. Dierbare mens, die Flip Voël.

Elke middag, klokslag soos ‘n godsdienstige ritueel, stap Flip Voël met sy ontblote, grote, harige strandbal van ‘n pens en Skollie op sy skouer by Hoot ‘n Toot in. Maar eers nadat hy ‘n draai stadig verby die kroeg gery het. Die ouens by Hoot ‘n Toot sê Flip toorts eers wie is daar voor hy besluit om in te kom. En as sy soeklig op iemand geval het waarvan hy hou, is die persoon die gelukkige een wat vir die res van die aand nie ‘n dop hoef te koop nie. Flip Voël betaal alles. Boonop is daardie persoon die uitverkorene om Skollie se koppie te mag krap sonder dat hy gebyt word. En eers as Flip ‘n stappie ontwikkel soos ‘n seven single wat vashaak, gaan hy en Skollie huis toe.

Sowat twee weke gelede het Flip my raakgetoorts. Hy het sy kort lyfie langs my kom neerplak, vir Skollie op die toonbank neergesit en met ‘n stem wat klink soos iets tussen ‘n donkievul en ‘n tiener wie se stem breek vir Pollie aangesê om alles wat ek bestel op sy rekening te plaas. En toe begin die groot gesels. Kyk, Flip Voël is nie dom nie. Hy het ‘n heel gebalanseerde siening oor landsake, godsdiens en dergelike dinge wat ‘n geselsie met hom aangenaam maak. En soos hyself sê, hy hou daarvan om met mense wat slimmer as hy is te gesels want dit challenge sy mind.

Ek wou nie aan Skollie se koppie gevat het nie. Maar Flip het my aangepor. Komaan, het hy gesê, hy sal nie byt nie. Hy weet ek het vir jou toestemming gegee. Ek het toe maar my wysvinger uitgesteek, die man betaal immers my hele drankrekening, en Skollie se koppie gekrap. Terwyl ek die benerige koppie onder my vingerpunt voel, het almal in die kroeg my jaloers aangekyk en toe na die fyn littekens op hulle vingers. Ek kon sweer die hele lot het hulle koppe hartseer geskud soos iemand wat ‘n hartseer herinnering wil ontken. Flip Voël het my selfingenome op die skouer geklop en vir Pollie nader geroep. Gee vir die man nog ‘n dop, het hy gesê.

Daar moes een of ander band tussen my en Flip in daardie oomblik ontstaan het. Soos ‘n whiskeyglas wat omgestamp word het Flip Voël se lewensverhaal daardie aand oor my gespoel. Hoe hy wou gaan swot het. Prokureur. Maar hoe vroue, drank en vinnige karre sy lewe oorheers het. Hoe hy vir Delina, die mooiste vrou in die wêreld, ontmoet het en hoe sy hom weer terug op die regte pad gekry het. Hoe hulle getroud is en ‘n huisie hier in Silverton daar naby die Silver Valke rugbyklub opgesit het. Hoe sy besigheid ontplof het en hoe hulle toe ‘n huis in Silverton Ridge kon bou. En hoe hy helaas weer begin ronddonner het. Vroue, drank en vinnige karre. Flip het trane in sy oë gekry en sy mond het skeef getrek soos wat hy probeer het om nie te huil nie. Ek het die mooiste vrou in die wêreld onder my gat uitgesuip, het hy gesê. En vandag is dit net ek en Skollie. Die groot liefde in my lewe. Toe het hy omgedraai en soos ‘n seven single wat vashaak weggestap met Skollie wat verbete aan sy skouer vasklou.

Net daar het my pastorale hart ingeskop. Ek het vir Mercia een aand laat by die 24 hour Laundromat in Pretoriaweg ontmoet. Sedertdien het ons mekaar gereeld daar raakgeloop. Mercia is ‘n Silvertonskoonheid wat in die woonstelgebou oorkant Kingswood bly. Rooi high heels, stywe jeans wat oor ‘n ronde maag span, ‘n cleavage vol rekmerke, rooi lippe, lang naels en ‘n geel graspol vir hare wat met ‘n hele bottel haarsproei in posisie gehou word. Ek was seker Mercia is die ideale kandidaat om vir Flip Voël en Skollie vir die res van hulle lewe gelukkig te hou.

En ‘n week later oortuig ek vir Mercia om saam met my Hoot ‘n Toot toe te gaan. Dit het soos ‘n droom gewerk. Flip Voël het ingetoorts op Mercia. Mercia kon Skollie se koppie krap en soos ‘n seven single wat vashaak is Flip daar weg nadat Mercia belowe het om die volgende aand by hom en Skollie in nommer 66 te kom kuier. Sewe-uur sharp, het sy gesê. En met ‘n skelm laggie het sy bygevoeg dat hulle twee op 55 jaar oud darem nog nie oor die muur is nie. Oud maar nog nie koud nie, het sy gesê. Flip het bloedrooi in die gesig geword.

Ek het die storie tweedehands by Ernst, daardie werfhaan van ‘n opsigter, gehoor. Hy weet mos alles van almal in Kingswood. Blykbaar het Flip Voël die volgende oggend benoud begin wonder of hy regtig nog so warm is op 55. Hoe verder die dag gevorder het, hoe meer benoud het hy in sy potensiaal begin twyfel. Sê nou maar net die oomblik is te groot en hy kan nie doen wat Mercia blykbaar wil hê hy moet doen nie. Teen teetyd het die penarie gedreig om oor te spoel in ‘n eksistensiële krisis. En teen etenstyd het hy vir Skollie van sy skouer afgehaal en vir die eerste keer in baie jare in sy hokkie laat sit. Hy is weg by die woonstel sonder Skollie. Pollie het later vir my vertel dat die ouens se bekke oopgehang het toe Flip sonder Skollie daar by Hoot ‘n Toot aangekom het. En toe hy boonop met niemand gesels nie, het die ouens geweet hier is groot fout.

Flip het alleen by die kroeg gesit. Nie eers ‘n dop bestel nie. Net vir die Pollie die koerant gevra. Hy was halfpad deur die koerant toe hy skielik daar opspring en met die baldadigheid van ‘n splinternuwe yskas daar wegjaag. Ernst sê hy moes die storie uit hom trek. Maar blykbaar het Flip die berig gelees van ‘n dominee wat gevang is dat hy ‘n tipe Viagra by ‘n apteek gesteel het. Blykbaar is dit ‘n kruieproduk waarvoor mens nie ‘n voorskrif nodig het nie, het die berig gemeld. Moresex of so iets het Ernst gesê. Dit is mos wat ek nodig het, het Flip gedink.

Daardie aand het Flip met ‘n kas bier, ‘n boksie Moresex of so iets, twee dagwoods van Casbah Roadhouse en ‘n hart vol hoop vir Mercia gewag. Die instruksies het gesê dat mens een kapsule sowat veertig minute voor jou groot plan moet sluk. Flip Voël het blykbaar optimisties twee gesluk, ‘n bier oopgemaak en in spanning gewag vir die groot oomblik. Eers het daar niks gebeur nie. Later het Flip ‘n brandende roering in sy maag gevoel. Maar nog niks daar waar die groot plan se uitvoering vandaan moet kom nie. Vyf voor sewe het die eerste tekens begin kriewel. Tien oor sewe was Flip gereed soos ‘n bruidegom op sy huweliksnag. Twintig oor sewe het Flip geweet vanaand perform hy soos klein Kallie, die drankrep by Hoot ‘n Toot. Halfagt het sake pynlik begin raak. Hy moes nie twee kapsules gesluk het nie, het Flip besef. Kwart oor agt, met nog geen Mercia in sig nie, het Flip begin voel hy sit met ‘n tweede papegaai.

Toe hy teen nege-uur besef dat Mercia nie gaan kom nie, het hy vir die tweede keer daardie dag benoud geraak. Hoe raak mens nou ontslae van hierdie lastigheid, het hy gewonder. Hy het ‘n koue stort gevat, warm melk gedrink, ‘n warm bad ingetap, ys opgepak, onder in die parkeerterrein gaan stap, maar sy lyf het gelaai gebly soos ‘n high voltagedraad.

Toe Flip Voël gister vir die soveelste dag agtereenvolgens nie by Hoot ‘n Toot uitkom nie, het ek aan sy woonsteldeur gaan klop. Ek het die deur oopgemaak toe niemand antwoord nie. Flip het op die rusbank gesit. Eenkant op die tafel het halfkas bier gestaan. Flip was besig om Skollie se koppie te krap. Ek kon sien hy weet ek weet van alles. Ek het vir my ‘n bier gevat en langs Flip gaan sit terwyl ek aan die warm bier teug. Toe ek halfpad met die bier is, het Flip Voël opgestaan, vir hom nog ‘n bier uit die kas gevat en toe terwyl hy na sy hand kyk en sy kop skud soos een wat ‘n slegte herinnering ontken, gelate gesê: Jy is reg, koppiekrap is ‘n steriele oefening in liefde.

Woonstelstories IV (27 Februarie 2012)

Augustus 14, 2012 in Sonder kategorie

Jy kry bikers, soos my vriend die politieke ontleder, wat ‘n bike na ‘n sensuele one night stand kan laat lyk. Dan kry jy bikers, soos Henjatjie van nommer 46, wat ‘n bike laat lyk soos ‘n ingeburgerde lewensmaat: die seks is besadig en selfs soms saai, maar jy sal haar nooit verneuk nie.

Henjatjie is ‘n reistas vol anomalieë. Hy is groot en grof met ‘n lyf vol bultende liggaamsdele wat eens bultende spiere was, maar sy stem is fyn en hoog soos die blondine wat in Laerskool Silverton se kantoor werk se stem; hy kan Hoot ‘n Toot pub op ‘n besige Vrydagaand leegmaak, maar hy versorg sy bejaarde ma beter as sy 1984 Suzuki FJ 1100; hy kan ‘n bike in hoogste versnelling deur Long Tompas se draaie laat gly, maar hy verseg om by ‘n supertube af te gly; hy is ‘n lid van Satan Saints, maar soms woon hy die eredienste van Lewende Woord by. Henjatjie is ‘n wandelende anomalie.

Ek het Henjatjie ontmoet sonder dat ek wou, nog voor ek geweet het hy bly in nommer 46. Dit was verlede week laataand by Hoot ‘n Toot. ‘n Vriendin wat ek soms op verskillende plekke onverwags raakloop, was daar. Ek het by haar tafel gaan sit en sy het my voorgestel aan haar vriendin. Die vriendin het haar hand uitgesteek om die aangenaamheid van ons kennismaking te bevestig en ek het dieselfde gedoen. Tussen die aanraking van ons hande het die lewe egter in ‘n stadige aksie kykweer verander. Vandat ek my hand uitgesteek het, totdat ons vingerpunte aan mekaar se handpalms geraak het, ons hande inmekaar gegly het en ons mekaar ‘n stewige handdruk gegee het, kan ek die toneel wat ek uit die hoek van my linkeroog waargeneem het, so goed onthou soos Gerrie Germishuys se drie destyds in 1980 op Bloemfonteinstadion teen die Britse Leeus. Dit is een van daardie tonele wat sekonde vir sekonde, raampie na raampie in jou geheue vasgesteek bly.

‘n Reuse-warrelwind met natgeswete, lang hare en ‘n lyf wat soos die skilderdoek van ‘n beginnerkunstenaar lyk, het by die deur ingewaai. Sy mond was ‘n benoude padda wat geluidloos kwaak. Wel, dit was nie regtig geluidloos nie. Maar die woorde wat daai kwakende padda my toegevoeg het, noodsaak my om ter wille van hierdie storie te lieg en te sê dit was geluidloos. Die leser moet op hierdie punt maar self besluit wat ‘n swak beskilderde reuse-warrelwind met die mond van ‘n kwakende padda, wie se stem boonop nog nooit gebreek het nie, vir iemand soos ek sal sê in ‘n kroeg. In kort het dit daarop neergekom dat as ek nie nou sy girlfriend se hand uitlos nie, wat nog net ‘n breukdeel van ‘n sekonde in my hand was, gaan ek nie more die son sien opkom nie. En ek is so lief vir sonsopkomste. Ek het dus binne nog korter as ‘n breukdeel van ‘n sekonde gedoen wat die reuse-warrelwind vir my gekwaak het.

My liefde vir sonsopkomste en my gewilligheid om in te stem tot die kwaakversoek het my lewe gered. Dit het my in staat gestel om my volle fokus te verskuif en die vuis wat vir my bedoel was betyds raak te sien. Ek het twintig jaar gelede op universiteit laas ‘n vuisgeveg gehad. Die pyn daarvan het my geleer om dit nooit weer te doen nie. Ek het dus instinktief gekoes. Net betyds. Die hou het my gelukkig gemis. Maar ongelukkig vir die vrou wie se hand ek sekondes gelede in myne gehad het, kon sy nie betyds koes nie. Henjatjie het haar vol op haar skouer getref. Haar gesig het vertrek in iets tussen afsku, haat en nou-het-jy-die-verkeerde-fokken-ding-gedoen. Dit alles kon ek waarneem terwyl sy soos ‘n bike wat om ‘n draai geval het, deur die lug tuimel en met ‘n hengske slag teen die muur te lande kom. Doef!

Kyk, ek kom uit ‘n familie met goeie breeding. Jy vat ‘n skinkbord by ‘n vrou, laat hulle eerste by ‘n vertrek inloop, maak vir hulle motordeure oop, dra vir hulle skinkborde en skink vir hulle drankies. Sover moontlik, het my pa altyd gesê, maak jy die lewe vir ‘n vrou gemaklik. Jy sal ryklik daarvoor beloon word, het hy my belowe. Maar verlede week in Hoot ‘n Toot het ek net geweet: Sakkie, selfs al beloon hierdie vrou jou honderdvoudig vir jou goeie breeding, gaan jy nie vanaand galant wees nie. Hier staan jy net eenkant toe. En soos die gode dit beskik, was dit die slimste besluit wat ek in my lewe geneem het.

Toe daardie tengerrige vrou daar opstaan, wonder bo wonder, het sy êrens ‘n braaitang vandaan getower. Een van daardie knypbraaitange met die diamantvormige knypers. Dit is mos van een of ander buigbare, onbreekbare staal gemaak. En sy swaai die braaitang soos ninjastokkies bokant haar kop rond. Woer-woer-woer-woer-woer-woer suis die braaitang deur die lug. Sy hanteer hom soos net die behendigste ninja so iets kan doen. Ek kon sommer sien, Henjatjie, al ken ek nog nie jou naam nie, jy het groot probleme.

Dit was ook so. Sy het vir Henja gemoer, oor sy kop, teen sy ore, oor sy rug, totdat hy soos Jan in die boontjierank se reus neergetuimel het. En toe hy lê, toe slaan sy nog steeds totdat daar nie meer ‘n teken van beweging was nie. Daarna sit sy die braaitang pikant op die kroegtoonbank neer, vryf haar hande selfvoldaan teen mekaar en met ‘n glimlag vra sy vir my: Wat het jy gesê is jou naam nou weer?

Sakkie, het ek geantwoord. Sien jou weer, het ek met die omdraaislag bygevoeg en gemaak dat ek uit die kroeg kom. Ek het nog nie die vaardighede om in Silverton te oorleef nie, het ek gedink terwyl die hele kroeg se oë in my rug gebrand het.

Henjatjie het tot my verbasing vanoggend saam met my by die voorportaal uitgeloop. Maar tot my verligting het hy my nie herken nie. Hy het swaar geloop. En sy kaal bloekomstamdikte arms was vol diamantmerke.

Ek het gewag totdat hy uitgeloop het en toe vir Ernst, die werfhaan van ‘n faktotum, gevra wie die ou is wat nou net hier uit is. O, het Ernst geantwoord, dit is Henjatjie van nommer 46. Niemand in Silverton sukkel met hom nie. Hy het blykbaar weer ‘n hele bende van tien ouens verlede week uitmekaar gebliksem. En toe vertel Ernst vir my die storie van Henjatjie van Silverton, die breker, die biker van faam, die kerkman en die beer wat sy moeder soos ‘n man van die woord eer.

Uit die hoek van my oog kon ek sien hoe Henjatjie sy bike bestyg soos ‘n man wat impotent is, maar nog net eenmaal wil probeer, kom wat wil.

Woonstelstories III (25 Februarie 2012)

Augustus 14, 2012 in Sonder kategorie

Noudat ek daaraan terugdink kan ek sweer Antie Millie het my die eerste dag in die voorportaal al gebrandmerk as ‘n man reg uit die hel. Dit raak nou alles so duidelik soos die duiwel se stert. Die woonstel waarin ek bly behoort aan ‘n goeie vriendin en haar man. Nadat die vriendin vir my die plek gewys het en die sleutels aan my oorhandig het, het ek besluit om my eerste amptelike aand as vrygesel alleen te toets. Die woonstel was vuil; dit het vir ‘n jaar of twee leeg gestaan; ek het nog geen meubels gehad nie; die geyser was af; die ligte het nie gewerk nie; die matte was gaar, maar ek wou my voet in die koue water van alleenwees sit. Ek moes die eerste tree gee en weet of ek dit gaan maak.

Daardie middag het ek vir my ‘n cheap ketel, ‘n plastiekstoel, koffie, suiker, brood, margarien en eiers gekoop. Ek het ‘n ou kampmatrassie uit die garage van co-parent gesteel, want ek het nog die sleutels gehad, ‘n kussing uit die spaarkamer gesmokkel, vir my ‘n paar boeke ingepak en soos die geykte wegloophond uit die huis gesluip. Op pad woonstel toe het ek verby ‘n drankwinkel gery … en gestop. Egskeidings is seer soos oorlog, selfs al is jy die wegloophond. Ek moes baie van hulle help fasiliteer in my lewe. Soms help dit om die sinne te verdoof. In my beursie was daar egter nog net sowat R100 oor en die bankkaart was by co-parent se huis. Die enigste whiskey wat jy met R100 kan koop is ‘n halfjack Firstwatch. Dan bly daar bietjie oor vir mix en sigarette. En niks vir ‘n sakkie nie. Nie eers ‘n bloue duit nie. Ek het die bottel mix, whiskey en sigarette maar onder my arm gedruk en woonstel toe gery.

Daar gekom het ek eers die ander goed opgedra en toe die drank gaan haal. Dit was toe ek terug is in die voorportaal wat ek vir Antie Millie die eerste keer gesien het. Daar staan ek met ‘n halfjack Firstwatch, een liter sodawater en ‘n pakkie Princeton wat ek in my arms soos ‘n werpsel hondjies koester. Ek lyk lankal nie meer soos die predikant wat ek amper twee jaar gelede was nie. My jeans is verbleik en geskeur, my T-shirt het ‘n gat onder die arm, ek dra Jesusplakkies, my baard is drie dae oud en my hare is so lank soos Jopie Adam s’n. Die prentjie van ‘n moeilikheidmaker, besef ek nou.

Gelukkig bevind ek my meestal in kringe waar my voorkoms niemand pla nie. Maar Antie Millie is ‘n vooraanstaande suster in die Lewende Woord gemeente. Sy woon elke Bybelstudie, gebedsgroepie, uitreikgeleentheid, Bybelvasvrae en Bybelse ete by. Sy sing hallelujaliedjies in haar kantoor wat net Dinsdagoggende oop is, luister Radio Kansel en lees Solly Ozrovech. Sy het die vredige uitdrukking van ‘n Christen wat reeds in haar Maker se skoot sit. En ek vermoed dat sy obsessief jaloers is dat haar skoot die voorreg ontsê is om geboorte aan Jesus te skenk. Vandaar die suur trek om haar mondhoeke. Die prentjie van potensiële konflik, besef ek nou.

Jesus se wannabe-moeder het reg voor my gestaan en anders as ek het sy ‘n Bybel, ‘n boek met geestelike dagstukkies, ‘n pen en ‘n notaboek in haar arms gehou. Haar gesig was die ene afkeur oor die inhoud in my arms. Ek het nietemin vriendelik gegroet in my beste, heel beste domineestem. Ten spyte daarvan was die hysbakrit tot op die sewende vloer, waar ek moes uitklim, langer as die wag op oordeelsdag. Antie Millie het nie van my gehou nie en niks wat ek kon doen, sou dit ooit verander nie.

Dis nou ses maande, ‘n clamp en drie boetes later. Maar ek sal nooit haar woorde vergeet toe ek die hysbak se deur daardie aand oopgemaak het nie. Dis een van daardie deure wat ‘n ewigheid vat om toe te maak. Net voor die deur uiteindelik toeglip, het sy gesê: Dis duidelik dat jy nog nooit in ‘n kerk was nie. Dit sal beter met jou gaan as jy vir Jesus leer ken.
Ek wou nog uitroep dat ek die kerk baie beter ken as wat sy dink, maar die binnedeur van die hysbak het toegegly en ek kon sweer ek voel die duiwel se halfjackstert onder my arm wikkel

Woonstelstories II (21 Februarie 2012)

Augustus 14, 2012 in Sonder kategorie

Daar is twee soorte faktotums: Die een is lamlendig lui, soos ‘n uitgediende Ferguson wat onder ‘n plaat Black Wattles op die oordeelsdag wag. Die ander is kordaat lui, soos ‘n werfhaan wat skrop, skrop, skrop vir niks en dan skielik, haanmoedig ‘n weerlose hen betrek.

Ernst, die faktotum van Kingswoodwoonstelle, is van die kordaat lui soort. Soms verf hy gemaak toegewyd die stoepe van ons woonstelblok se tralies, ander kere slenter hy op die stoepe rond asof hy besig is met inspeksie, maar hy soek net dop by iemand wat tuis is, en laatmiddag sit hy voete op die tafel in sy stoor en wag vir tjailatyd. En oral waar hy gaan, luier die stemme van Radio Pretoria se aanbieders vanuit sy draadlosie.

‘n Kaiing van ‘n man, dié Ernst. Met sy blou kortmou overall, die Voyager wat afwisselend skeef in sy mond hang en tussen sy duim en wysvinger rol, sy haak-en-steek-neus en sy oë wat lyk soos ‘n reënmeter met ‘n poeletjie vuil, bruin water onderin, is hy nie die tipe man wat ek aan ‘n vriendin sal voorstel nie. Maar hyself meen dat hy die Don Juan van Silverton is. Wel, nie in soveel woorde nie. Ek dink nie hy weet wie Don Juan is nie. Maar die stories wat hy my vertel getuig daarvan dat hy die amoreuse libertyn waarskynlik sal opneem in sy galery van helde.

Daar is die storie van Koekie Goosen, die cashier by Uitkyk Vleismark. Effe dik in die diff, maar toe sy hom soen, toe voel dit of sy hele 54-jarige lyf soos ‘n bungee-tou styf trek. Dan is daar Corrie Barnard, die jongetjie by Casbah Roadhouse se pub. Jarre, daai cherrie het my weer agtien laat voel. Hy kry so skaam glimlag as hy dit vertel en dan skommel sy poeletjiesoë ondeund. Die lekkerste van almal was Hettie Klopper, die barlady van Maders Hotel. Jassas, sy het ‘n lyf soos ‘n nommer dertien spanner. Hy het een middag die bus van Silverton af Maders toe gevat en toe dans hulle mekaar raak toe dit haar af aand was. Hulle het daai aand tot in haar flat daar in Paul Krugerstraat gedans. En die volgende oggend toe dans hy like nog steeds.

So vertel Ernst vir my sy stories as hy kom skimp vir ‘n dop. Die Don Juan van Silverton. Ek sal jou een aand saamvat, belowe hy gereeld gulhartig. Ek verduur sy stories, want ek het hom nodig. In ‘n woonstelkompleks waarvan die body corporate uit afgetrede tannies van die vorige bedeling saamgestel is, het mens enige connection nodig. Hier mag kinders nie raas nie; mag hulle nie op die grasperk speel nie; moet jou voordeur wit wees; moet jou gordyne aan die noordekant wit wees en mag jy net een parkering per woonstel kry. Waag dit net om op ‘n ander plek te parkeer, dan gil Antie Millie, die opsigter, van die elfde vloer af vir Ernst om daai kar te gaan clamp. En hy word nie weer losgemaak voordat jy R300 betaal het nie. Ek weet, want my kar was geclamp in die eerste week wat ek hier ingetrek het. Haar gat moet geclamp word, het Ernst gebrom terwyl hy die geel wielvasbyter losgemaak het, nadat ek R300 betaal het. Ek het terstond besluit Ernst gaan my vriend word. Die plan werk uitstekend, want Ernst het ‘n murwe plekkie vir die whiskey wat ek soms in my woonstel aanhou. Dit werk effektief om ‘n ekstra parkeerplekkie op ‘n gereelde basis te beding. Vir dié rede hoor ek sy Don Juan-ervarings gelate aan.

Daar is egter een storie wat Don Ernst nie te gretig vertel nie. Ek het dit ook maar per ongeluk gehoor toe hy laas Vrydagmiddag ‘n halwe bottel Johnnie Walker Black Label by my uitgedrink het. Cindy Matthee, die dogter van Antie Millie, die opsigter, het volgens Ernst die lyf van ‘n splinternuwe shifting spanner. Ernst het sy hart verloor die eerste keer toe hy sy oë op haar lê. Maar sy wou niks van hom weet nie. Vir amper ses maande het hy ogies gemaak en koffie gaan drink. Maar sy was so koud soos ‘n ryspoeding teenoor hom. Nie eers ‘n ou soentjie gekry nie, bely Ernst.

Maar een aand toe bespring hy haar soos net ‘n skelm werfhaan dit kan doen. En hy beplan dit so dat sy hom nie sien aankom nie. Hy reël met George Chan, die Afrikaanse Chinees in 118 op die elfde vloer om hom een aand uit die voete te maak en sy woonstel ‘n rukkie vir hom wat Ernst is te leen. George het eers ‘n bietjie geprotesteer, maar toe Ernst vir hom ‘n kas bier aandra, toe sê hy: Niks later as twaalfuur nie. Twaalfuur kom ek terug en dan moet jy klaar wees, gehoor?

Daardie middag het Ernst nie oudergewoonte huis toe gegaan toe tjailatyd kom nie. Hy het hom gaan tuismaak in George se flat met ‘n paar biere en gewag dat Cindy van die werk af kom. Af en toe het hy buite gaan staan en ‘n skyf gerook. George het gedreig om hom deur die Chinese mafia te laat uithaal as hy in die flat rook. Sesuur die aand toe kom Cindy, met die lyfie van ‘n shifting spanner, op die stoep van die elfde vloer aangestap. En Ernst is reg vir haar.

Hy moet George se woonstel oppas terwyl dié na ‘n familiekrisis in Bronkhorstpruit moet gaan omsien, vertel hy. Is sy nie lus om gou ‘n bier saam met hom te drink nie. Toe sy instap, toe stamp Ernst die deur van die flat met sy hak toe. Hy gryp haar van agter, draai haar om en druk haar teen die deur vas en toe soen hy. Met ‘n cherrie soos daai, verduidelik hy, moet ‘n man beheer neem. Dis hoekom hulle so hardegat is: Mans wat nie weet hoe om ‘n vrou op haar plek te sit nie. Daar in George se flat, toe sit Ernst blykbaar vir Cindy op haar plek.

Maar toe sy hande afdaal na die benede skoonheid van ‘n vrou, toe is dit die laaste ding wat hy kan onthou. George het hom twaalfuur daar op die vloer kom kry, opgekrul soos ‘n duisendpoot wat nie weet waar sy gevaar vandaan gekom het nie en mettertyd gefossileerd geraak het.

Op hierdie punt van die storie het Ernst, asof skielik nugter, opgehou praat, ‘n laaste sluk whiskey gevat en gegroet.

Toe James, die faktotum-assistent, die volgende oggend verby kom om vuilgoedsakke weg te dra, kon ek die versoeking nie weerstaan om uit te vra oor Ernst en Cindy nie. James het gelag dat sy tande wit flits in die oggendson. Antie Millie het nie ‘n dogter nie, het hy geantwoord.

Gefnuikte werfhaan, het ek gedink. Daar is drie soorte faktotums.

Woonstelstories I (17 Feb 2012)

Augustus 14, 2012 in Sonder kategorie

Ek probeer vir die kids ‘n klerekas in my woonstel opbou, sodat hulle nie elke keer ‘n sak hoef te pak as hulle na my toe kom nie. Ek hoop heimlik dat dit sal bydra tot die idee dat hulle nie by my kom kuier nie, maar dat dit hulle ander huis is. Ek het egter nie, soos die meeste van ons, genoeg geld om in ‘n winkel in te stap en ‘n winkeltrollie vol klere te koop nie. Die projek verloop dus stadig. Gisteraand bel ‘n vriendin terwyl ek by die rugbyoefening vir Hendro wag. Hulle is in ‘n finansiële verknorsing en om dit te verlig, het hulle die garage in ‘n winkel omskep vol klere en ander items wat hulle wil verkoop. Wil ek nie kom kyk of daar iets vir my kinders is nie? Ek kom uit ‘n familie wat nie vol fiemies oor hand-me-downs is nie en ek besluit om gou na rugby daar te stop. ‘n Propperse winkel met rails en hangers en klere gesorteer in grootte, geprys, getag, ge-alles begroet ons. Ek is daar weg met twee bokse goeie klere, behalwe vir die een wit rokkie wat bietjie verslete voorkom. Maar Mia wil dit hê. Dis ‘n drama van staatsteaterfaam toe ek voorstel ons moet die rokkie eerder los. Soos enige ouer wat The Seven Laws of Raising Great Kids deeglik onder die knie het, gee ek toe en vat die verslete, wit rokkie.

Terug by die huis hou die opwinding die kinders wakker. Slaaptyd kom en gaan, maar dit woel. Ek slaan in angssweet uit by die gedagte dat die co-parent gaan bel en agterkom die kinders hou nie by hulle roetine nie. Ek jaag hulle deur die bad, beveel hulle om tande te borsel, lees vir Hendro die leviete voor oor die handdoek wat in die bad beland het, droog die handdoek uit en los dit in die wasbak, druk ‘n worsrol in elkeen se keelgat af (ja, in hierdie volgorde, but please don’t tell) en pen hulle a la Jan Wilkens op die bed vas, sodat hulle lekker rustig aan die slaap kan raak. Tussenin onthou ek dat ek die bad en wasbakke se proppe moet insit om die kakkerlakke uit my woonstel te hou. Kom terug en pen die kinders weer vas, want hulle raak onrustig.

Hendro kerm egter dat sy oog seer is en hy gaan haal ‘n sakkie ys uit die vrieskas wat hy in ‘n handdoek sit om op sy oog te druk. Hy het wragtag ook nog nie sy tande geborsel en ek dreig hom met die verskriklikste dreigemente waaraan ek kan dink. Dreigemente soos die tandarts met sy yslike boor! Ek weet hoe om kinders op te voed. Uiteindelik raak hy so aan die slaap met die handdoek teen sy oog. . Mia het gelukkig ook al die tydelike met sweet dreams verwissel. Niks soos ‘n Nelsongreep om ‘n kind aan die slaap te sus nie.

Ek skink ‘n glas wyn, probeer werk, speel later facebook en droom van die mooiste vrou in die wêreld. Ongeveer elfuur gaan lê ek eers ‘n rukkie by Hendro om sy seunslyfie teen myne te voel. Maar ek kan sweer sy asem stink soos gas wat lek. Was hy wragtagwaar nou weer ongehoorsaam. Ek probeer ruik, maar kom niks agter nie. Die reuk van gas hang egter swaar in die kamer. Maar ek kry nie die bron nie. Ek het nie gas in my woonstel nie. Ek laat dit dus daar en gaan lê by Mia. Sy het intussen van haar slaapklere ontslae geraak en slaap met die verslete, wit rokkie. Ai, my kind.

Vieruur word ek oudergewoonte wakker. Die woonstel ruik verstikkend na gas. Êrens murmel ‘n stroompie water. Ek gaan ruik aan Hendro se mond, want die reuk kom uit sy kamer. Mens weet nooit nie, dalk het hy ‘n abses. Maar ek kom niks agter nie. Ek strompel deur die slaap badkamer toe en sink soos ‘n sinker weg onder die water. As ek soms opkom om asem te skep, sien ek die wasbak wat soos ‘n waterval stroom. Ek kry dit reg om weer aan land te kom in die gang. Shit, ek moet nog handdoeke kry, Hendro het die donnerse kraan oopgelos na hy tande geborsel het. En sowel die nat handdoek as die prop, is in die wasbak. Ons badkamer is ‘n duiktenk vol water. Ek loop sitkamer toe deur plasse water en verdrink jou wragtag amper weer in my nuwe binnenshuise swembad in die sitkamer. Die hele donnerse woonstel is onder water, besef ek. Onder water en vol gas.

Maar ek het nie tyd om my aan die gas te steur nie, ek moet water uitvee. Ek kry dit reg om die swembad in ‘n visdammetjie te verander. Ek moet my droogmaakproses onderbreek toe Hendro benoud na my roep. Hy kla oor iets wat nat en koud is op sy bed. Dis die blerrie ys, besef ek. Ek vat die handdoek en maak dit oop om die sakkie met ys uit te haal. En daar slaan die gasreuk my lights out. Hendro het ‘n sakkie gevriesde kool gevat, in pleks van ys. Eish!

Daar is egter nie meer tyd vir kontemplasie oor die gebeure nie. Die kinders moet by die skool kom. En ek moet die res van die woonstel drooglê. Intussen het Mia ontwaak uit haar drome en die frons op haar gesiggie sê: Ek hou die verslete, wit rokkie aan vir skool. Oukei.

The Seven Laws of Raising Great Kids, herinner ek myself. Ek stop hulle vol Smurfpap en stukkies karton (dié het glo meer voedingswaarde as die pap self), gooi slappap in hulle kosblikke, prop hulle in hulle skoolklere, vra honderd maal dat hulle hulle tande moet gaan borsel (ja, die regte volgorde hierdie keer), sleep hulle deur die stroom water by die voordeur, af met die trappe, boender hulle in die kar, want nou is ons laat. Ek jaag soos ‘n ouer wat The Seven Laws of Raising Great Kids self geskryf het, af met Meiring Naudéweg, op die snelweg, in Atterburyweg af, regs by Faerie Glen-hospitaal, haal 5000 kilometer van my bande af voor die skool, plant ‘n skewe soen op Hendro se mond en lei vir Mia met haar verslete, wit rokkie na haar Graad R-klas toe. Toe ek haar ‘n drukkie gee met die belofte dat ek hulle Sondag weer sien, sien ek agter haar rug hoe die juffrou meewarig na haar verslete, wit rokkie kyk. Ek wens ek was dom genoeg om vir die juffrou te verduidelik dat sy die rokkie wou aantrek en dat ek dit nie gekies het nie. Maar ek het trots opgestaan en weggeloop soos ‘n pa wat dink sy kind het ‘n splinternuwe rokkie aan. Ek kon egter nie help om te wonder of my woonstel met die koolreuk en die stroom water regtig vir hulle ‘n ander huis kan wees nie.

Hey, ek staan uit die dood op.

Augustus 14, 2012 in Sonder kategorie

Hierie blog sal voortaan weer ‘n bietjie lewe kry. Aanvanklik nogal baie, want ek het heelwat materiaal wat ek gaan opsit.

Pinkster

Oktober 5, 2011 in Sonder kategorie

Teetyd op die plaas het my Oupa Jaap

die voorwiel van ‘n trekker vasgetrap –

sy tee met boerse sekerheid gedrink:

die piering soos ‘n siel in sy moerse

linkerhand gehou terwyl hy vlamme

tee versigtig daarin uitstort met sy

regterhand. Soos een wat smak na God

het hy dit koud geblaas en opgeslurp

en geestig weer die braak land omgeploeg.

Rondelet

Augustus 28, 2011 in Sonder kategorie

Ek wou nog sê

hoe koud die gang is sonder jou.

Ek wou nog sê

hoe diep jy in my vingers lê,

hoe plooie seisoenaal ontvou,

en winter hierdie jaar is blou.

Ek wou nog sê …

Die hemelvaart van ‘n digter

Junie 26, 2011 in Sonder kategorie

Wolke hang soos strofes in die lug

tussen Kaapstad en Johannesburg,

ons vliegtuig is ‘n vrye vers in vlug.

Wolke hang soos strofes in die lug,

digter as die Here se genade.

Hoe ver sou mens op ‘n wolk kon vlieg?

Wolke hang soos strofes in die lug

tussen Kaapstad en Johannesburg.