Jy blaai in die argief vir wvk.

WVK – VERLORE DOKUMENT

Julie 8, 2021 in Uncategorized

Oor Afrikaanse koerante se rol in die oorgangspolitiek van die jare 80 en 90 word vurige debatte steeds veral op sosiale media gevoer. Die onwilligheid van die Nasionale Pers om by die WVK (Waarheids-en-Versoeningskommissie) van Desmond Tutu kollektief te gaan boete doen oor die “sondes” van ons koerante in die ou bedeling bly by van die jonger garde ‘n teer punt.

Op die oomblik kry ‘n TV-program gestalte waarin die kwesssie weer sterk ter sprake kom. Gesprekke word onder andere gevoer met van leiersfigure van die 127 Jong Turke om teen die wense van Ton Vosloo, van myself, wat uitvoerende hoof: koerante was, en van die Naspers-direksie wel te gaan getuig.

Ek weet ek steek my nek uit en sal daaroor opnuut getrap kan word, maar die waarheid kan tog nie ontken word nie. Die 127 se optrede, was vir my, om dit sag te stel, ‘n teleurstelling. Destyds het ek dit beskou as idealisme wat op loop gesit het. Vandag het ek meer begrip daarvoor.

In ‘n persoonlike voorlegging aan die WVK slaan ek geheel ‘n ander koers in. Die Afrikaanse koerante se sware stryd om regverdigheid en ‘n demokratiese bestel aan regse Afrikaner-gemeenskappe te “verkoop”, was my perspektief.
My standpunte daaroor was aanvanklik net vir Ton se oë bedoel terwyl gesprekke gevoer is oor hoe Naspers die WVK-turksvy moet hanteer. Ton het die gedagte uitgespreek dat dit goedskiks as ‘n selfstandige voorlegging op sy eie bene kan staan. Ek het my nie twee keer laat nooi nie. Toe pos ek dit dadelik – voordat hy of die direksie dalk anders begin dink. My sienswyses was nogal omstrede maar ek hetself het baie sterk daaroor gevoel.

‘n Monitor-onderhoud hieroor met ‘n siedende Chris Louw van die SAUK staan my nog helder voor die gees. Volgens Louw het ek my oor die rol van Afrikaanse koerante uitermate aan “romantisering” besondig. Hy het my oor die eter so bevlieg dat in Rapport ‘n spotprentjie deur Lou Henning daaroor verskyn het. Dit hang tussen ander spotprente teen my studeerkamer. Dit is al voorheen hier gepubliseer. Maar hier is dit weer.

Hoekom ek daardie geskiedenis vandag weer oprakel? Nie omdat ek rusie soek nie. Op my oudag soek ek vrede. Sê dan maar om historiese redes. Daardie oorspronklike dokument wat ek op 25 Junie 1977 afgestuur het, was lank “iewers” , maar waar. Al waarop ek en andere kon steun, was die Sapaverslag wat op die internet beskikbaar is. Nou het kollega Tobie Wiese, een van die 127, my dokument in een van sy leggers raakgevat. Hoe dankbaar is ek nie!

Dit – en die Sapaverslag -verskyn op my webblad, www.hennievandeventer.co.za by die volgende skakel http://hennievandeventer.co.za/my-storie-by-wvk/ Gaan loer gerus as jy wil sien wat ‘n Afrikaanse redakteur van daardie era vir homself te sệ gehad het.

“ENE JANNIE”

September 24, 2015 in Uncategorized

IMG-002

Die dag toe ek my naam vergeet het. Dis die titel van ‘n roerende werk van die skrywer F.A. Venter nadat hy in sy later jare ‘n beroerte gehad het.

Die dag toe ek my naam verloor het. So sou hierdie kort skrywetjie kon heet.

Of: Die dag toe ek skielik “ene Jannie van Deventer” geword het.

Ek skryf na aanleiding van die gedugte Crito se blog in die jongste Litnet-nuusbrief. Die geheimsinnige Crito – ‘n gerespekteerde (en gevreesde) naam in die boekewêreld – lewer kommentaar op Tobie Wiese se resensie in Rapport van die Naspers-feesboek ‘n Konstante revolusie, saamgestel deur Lizette Rabe.

Wat Cito oor Tobie se resensie op die hart het, kan lesers van hierdie blog gerus op Litnet gaan naspeur. Soos altyd oor resensies van allerlei aard, spreek hy/sy prikkelende – soms uitdagende – menings uit.

Waarby ek toe in daardie resensie vassteek, is ‘n terloopse opmerking tussen hakies: “Daar het glo destyds net een Nasperser voor die WVK gaan getuig, ene Jannie van Deventer.”

Nee, Crito, dit was nie “ene Jannie van Deventer nie”. Dit was ekke, Hennie – wat toe Naspers se hoof van koerante was. Was onder die indruk dat daardie feit nogal redelik goed geboekstaaf was. (Klik vir ‘n Sapa-verslag op
www.justice.gov.za/trc/media/1997/9707/s970703a.htm Die opskrif is: AFRIKAANS EDITOR TELLS TRC OF DEATH THREATS FOR SUPPORTING REFORM )

Ek weet ek steek my nek uit en sal daaroor opnuut getrap kan word, maar die waarheid kan tog nie ontken word nie. Die besluit van 127 Jong Turke om teen die wense van Ton Vosloo, van myself en van die Naspers-direksie by die WVK (Waarheids-en-Versoeningskommissie) van Desmond Tutu te gaan boete doen oor die “sondes” van ons koerante in die ou bedeling, was vir my, om dit sag te stel, ‘n teleurstelling.

Vandag het ek meer begrip vir hul optrede. Destyds het ek dit beskou as idealisme wat op loop gesit het. My eie voorlegging aan die WVK was uit ‘n totaal ander perspektief: die Afrikaanse koerante se sware stryd om regverdigheid en ‘n demokratiese bestel aan regse Afrikaner-gemeenskappe te “verkoop”.

My standpunte daaroor was aanvanklik net vir Ton se oë bedoel. Hy het gemeen dit kan op sy eie bene as ‘n selfstandige voorlegging staan. Toe pos ek dit dadelik – voordat hy dalk anders begin dink. My sienswyses was nogal omstrede.

‘n Monitor-onderhoud hieroor met ‘n siedende Chris Louw van die SAUK staan my nog helder voor die gees. Volgens Louw het ek my oor die rol van Afrikaanse koerante uitermate aan “romantisering” besondig. Hy het my oor die eter so bevlieg dat in Rapport ‘n spotprentjie deur Lou Henning daaroor verskyn het. Dit hang tussen ander spotprente teen my studeerkamer. Dis hierbo te sien.

Hoekom ek daardie geskiedenis nou weer oopkrap? Nie omdat ek met Crito wil swaarde kruis nie. Op my oudag soek ek net vrede. Sê dan maar met die oog op historiese juistheid. Ek is immers Hennie – nie “ene Jannie” nie.

Nie juis ter sake nie maar tog interessant genoeg is dat Crito se verwysing na “Jannie van Deventer” en my vorige blog, Die bitter van verloor, in dieselfde Litnet-nuusbrief verskyn.

Ek skryf hierdie op Erfenisdag . As Crito sou braai – mag die vleis perfek van die kole kom.