Jy blaai in die argief vir tokkie van deventer.

VLOERMOER OOR VOORBLADFOTO

Maart 11, 2021 in Uncategorized

Tokkie in 1966

 ‘n Voorbladfoto wat toe nie ‘n voorbladfoto was nie, was die voorloper vir ‘n vloermoer waarop die uwe nie trots is nie, maar wat ongelukkig nie weggewens kan word nie. Die suurderige herinnering dateer uit 1966. HvD neem die eerste keer waar as nuusredakteur van Die Volksblad, en is – nodeloos om te probeer ontken – heel bewus van die belangrikheid van die amp en ipso facto dan ook van die 25-jarige tydelike bekleder daarvan. Lappies Labuschagne, hooffotograaf, word gestuur om ‘n voorbladfoto te gaan neem. Die onderwerp is drie of vier mooi onderwyseresse wat nog met punte en rapporte doenig is nadat die kinders reeds vort is met vakansie. 

Tokkie 75 op 15 Maart 2021

Op nommer 99 kom sit Lappies die foto voor my neer – tegnies so onbesproke soos al sy foto’s, waarvan letterlik duisende oor die jare die koerant versier het. Net daar sink my hart egter deur die vloer. Want in die middel van die foto is die dierbare gesiggie van my verloofde, Tokkie van Wyk, die ene soet glimlaggie.  My oordeel was dat my kollegas my sou verdink van ‘n erge graad van nepotisme en onsensitiwiteit op die vooraand van my huwelik met Tokkie op 31 Desember daardie jaar op Bultfontein. Ná al die jare dink ek nog die gebruik van die foto was om daardie rede nie aan te raai nie. Maar ‘n grote krisis was dit. Tyd was daar nie. Enigste alternatief vir die voorblad was ‘n foto van twee Duitse meisies in sjoebroekies wat op ‘n leer staan en ‘n olifant in Berlyn se dieretuin met besems was. Dié het al dae lank in my mandjie gelê. Die redakteur was nie geamuseer nie. Vir die tweede uitgawe was Lappies terug met drie ander onderwyseresse. Nie een naastenby so mooi soos Tokkie van Wyk nie. Maar gelukkig almal aan die waarnemende nuusredakteur geheel onbekend. Agterna het ek vir Tokkie die dood voor die oë gesweer as sy ooit weer op ‘n Volksblad-foto sou verskyn. As jy ‘n kamera sien, dra jou mooi beentjies, gehoor! Maandag is Tokkie 75. Sy het mooi vir haar aanstaande geluister. Was nooit weer ‘n kandidaat vir die voorblad nie.

‘N TUKKIE EN ‘N TOKKIE

Desember 15, 2020 in Uncategorized

Die jong Tokkie toe sy in my lewe gekom het in 1964.

Een middag, vroeërig in 1962, stap die huisvoorsitter van Kollege-tehuis op die Tukkie-proefplaas ewe vernaam in die lang gange van die eerstejaars-vleuel af. Almal moet hul meisies se foto’s uithaal en wys. Die kommentaar was nie bedoel om ienk-ego’s te streel nie.

Daardie arrogante (ai tog) huisvoorsiter was die uwe.

‘n  Eerstejaar in Ingenieurswese, Dirk C. du Toit (latere regsprofessor en Adjunk-minister van Landbou in die ANC-regering) diep ‘n foto’tjie op van ‘n vrolike skoolmeisie met ‘n sonkyn-glimlag. “Pure kind,” is die bevinding. “Maar h’m, ‘n oulike kind. Wat sien sy in ‘n vent soos jy?”

Min het ek geweet ek kyk op daardie oomblik na die gesiggie wat oor ‘n tydperk van veertig jaar my foto-albums — en my lewe! — sou oorheers. Tokkie van Wyk, gedoop Gesina Susara, ‘n talentvolle Bultfonteinse dogter. Vir haar weduwee-ma, Marietjie, was die hele dorp lief. Haar broer, Fanie, my portuur, was op sy dag ‘n uitblinker-sportman.

Tokkie (kort vir Tokkelossie, haar pa,  Kotie, se naam vir haar omdat sy so ‘n kortetjie was) was in my primariusjaar in standerd nege, ‘n kranige pianis met ‘n string Unisa-sertifikate en diplomas agter haar naam (o.m. Klavier, finaal, met eervolle vermelding). Dirk wat van Boshof gekom het, was ook ‘n doring op die klavier, maar het Kollege se seniors vervreem toe hy — weens akademiese redes nogal! — weier om op Lentedag sy koshuis te gaan verteenwoordig met sy gevoelvolle vertolking van die  destydse treffer Tell Laura I love her.

Ek het jare lank met die idee geloop dat Tokkie en Dirk se paaie by die Bloemfonteinse Kunswedstryf ewe onskuldig gekruis het. Later  het sy my reggehelp: dit was eintlik op ‘n piekniek by Maselspoort. Ek sou eerlik eersgenoemde scenario verkies het.

Tokkie het in 1964 na die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gekom. Dirk was toe  ‘n regstudent aan die Vrystaatse Universiteit. Ek was parlementêre verslaggewer van Die Volksblad. ‘n Ouer broer van Dirk,  Ben — ook later ‘n regsprofessor, aan die Universiteit van Zoeloeland — was my kollega. Ben nooi my een aand na ‘n partytjie. Daar sien ek toe die nooientjie op die foto die eerste keer in lewende lywe.  Die skamerige standerd-agt-meisie het intussen ‘n sprankelende eerstejaar-student geword — ‘n meisie om wie die jong manne draai .

‘n Week later was ons eerste afspraak — ‘n middaguitstappie na die restaurant op Naval Hill. Vir Kersfees is ek Bultfontein toe. ‘n Paar maande later kom kuier sy in die Kaap saam met my ouers in die parlementêre Paasreses. ‘n Jaar later, op haar twintigste verjaardag, 15 Maart 1966, steek ek ‘n verloofring aan haar vinger.

Die besoek aan die Kaap sorg vir die eerste Tokkiefoto in my albums: ‘n stippeltjie in die hoek van ‘n kabelkarretjie by Tafelberg. Daarna volg die foto’s vinnig: verlief, verloof, getroud, moedertjie…

Ek en Willie Kühn, latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, was tot met die huwelik woonstelmaats. Tokkie het saans kom kuier en kosmaak. Een aand in die kombuis konfronteer sy Willie met die vraag: “Wat is ‘n ballas?”

“Ekskuus?”

Sy herhaal die woord, en verduidelik die rede vir haar navraag. ‘n Seuntjie in haar klas het kom kla ‘n maatjie sê sy ballas. Omdat sy — o soete onskuld! —  nie geweet het watse ding dit is nie, het sy van die aangeleentheid korte mette gemaak met ‘n besliste: “Ag nee, man, gaan sit.”

Willie het keel skoongemaak en diplomaties geantwoord:  “Ek stel voor jy vra vir Hennie nadat julle getroud is!”

Ewenwel, die getroud-kom was net enkele maande later. Op ‘n snikhete 31 Desember 1966 in die N.G. kerk neffens die ou begraafplaas op Bultfontein, met rye grafstene as dekor op verskeie van ons troufoto’s. ‘n Mens se troudag onthou jy, selfs al is dit in bitterheid. Myne kan ek om verskeie redes — maar gelukkigheid nie uit bitterheid nie! — nooit vergeet nie.

Een herinnering is natuurlik die jong bruid aan my sy. Vir my was sy te mooi vir woorde! In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega Kas Dreyer, soos Lappies ‘n knap fotograaf, haar gelukkig op pakke pragfoto’s verewig.

Die tweede is die onbeskryflike Desemberhitte wat veral die blomme — ‘n trougeskenk van Frank Budd, Zola se vermoorde pa — en die arme bruidegom in sy gitswart pak behoorlik opgedreun het. Dan het my Kollegemaats teenwoordig die bruidegom boonop so deeglik geborsel dat sy boude brand – nie die laaste keer dat ek dit in die huwelik hotagter gekry het nie.

Die belangrikste herinnering is die oorweldigende vreugde in die hart van daardie dag, ‘n vreugde wat voortduur omdat die verbintenis wat aangegaan is, die beste ding bly wat my in my amper 80 jaar op aarde oorgekom het. (Uit “In Kamera”, Protea Boekhuis).

OTJIE MET ‘N C.V.

Januarie 1, 2017 in Uncategorized

1-1-img_4958

Kleinseun Christopher(7) kom van die strand af in groot haas om ‘n emmer te kom soek. Steek in die deur vas. Staar na die gedoentetjie op die tafel in die woonkamer. “Is dit ‘n wolf?” wil hy weet.

Geen wolf nie, Christopher. Net maar ‘n otjie, lekker bruin gebrand en mooi gegarneer. Maar gewis nie sommerso se otjie nie. ‘n Outjie met ‘n lang CV, hoor. Dis nie net vir instap in ‘n slaghuis en tjoef-tjaf jou varkie koop nie. Regte varkboerdery, grootte, gewig – dis alles vername faktore as die gier vir ‘n speenvark jou pak.

Tokkie se oë het in Oktober begin glinster. Gebraaide speenvark op die tafel op Oujaarsdag. Nes in die prentjies met die pootjies netjies ingevou en ‘n blink rooi appel in die bekkie. Dit was op haar spyskaart vir die dag wat ook ons goue bruilof sou wees. Niks sou haar daarvan laat afsien nie.

Sal nie opnoem by hoeveel “logiese plekke” sy vrugteloos aangeklop het nie. Ook nie hoeveel vriende later help soek het nie – tot in Merweville in die Karoo. Uiteindelik kom ‘n buurman van ‘n buurman met die naam van die Pork Deli in Klein Drakenstein vorendag.

Tokkie en die eienaar, Altus Joubert, kom tot ‘n akkoord. Haar varkie moet soveel siele voed. Moet dus soveel weeg. Hy moet in haar oond inpas. Hoe groot is dié? Die maatband kom uit. Dit word ‘n gereelde bellery Paarl toe om die vordering te monitor.

Op ‘n dag kom die nuus: die varkie is nou net groot genoeg. Net swaar genoeg. Als doodreg. Maar toe ons die dag oorry, kry ek hond se gedagte. Die gevriesde varkie se pootjies staan doer. Ek korrel die oond se deur in my gedagtes. Aikona.

Ek sien die twyfel ook in Tokkie se oë. Maar die vark kom saam huis toe, en die onder in die vrieskas onder met sakkies gerasperde kaas en wat nog beskerm. Een van daardie penorent oortjies moet tog nie afbreek nie.

Nog ‘n kwellender gedagte: skoonseun Brent moet tog nie die otjie ontdek as hy gaan ys haal vir ‘n ottermaklottertjie nie. Hy gaan tydelik hier tuis. Tokkie wil die kleinkinders met die varkie verras, en vrees elke aand haar geheim gaan op die lappe kom.

Maar die geheim hou, en intussen duik ‘n ander gelukkie op. Sy laat haar motor op Melkbos versien. Die eienaar laat val sy vrou moet vir ‘n groot troue regstaan. So kom my vrou by Tracy van Zyl uit. Sy sien kans. Haar tuisbedryf, Chef-at-home, gelukkig ‘n groot nywerheidsoond.

Presies om 11:00 , soos afgespreek, kom Tracy en haar man, Johan, toe Saterdagoggend met die speenvark hier aan. Nes in die prentjies van ouds. Die varkie is die ene ore. Kon egter bekkiger gewees het. Bekkie was te klein vir die tradisionele appel, ongelukkig. Of dalk is deesdae se appels te groot.

Thomas, Jacob en Christopher maak kennis met die otjie. .

Thomas, Jacob en Christopher maak kennis met die otjie.

Ewenwel, die kameras het geflits: Tokkie by die vark; ek by die vark; ons by die vark, glasie vonkelwyn in die hand; kleinkinders by die vark; al die teenwoordiges saam by die vark. Vir laasgenoemde word die Canon op ‘n hoë stoel staangemaak vir ‘n tydopname, natuurlik.

Die lakmoestoets lê egter voor. Hoe smaak die vleisies onder daardie krakerige, bros, donkerbruin vel? Aan al die betrokkenes en belangstellendes rapporteer ek graag terug: die vark het vorentoe gesmaak.

Die klein kalant het ons gryshare besorg. Dit is waar. Maar hy het ook sy kant gebring om die goue bruilofsete saam met kinders en kleinkinders ‘n avontuurlike en gedenkwaardige okkasie te maak.

Tokkie se oë glinster weer soos hulle in Oktober begin glinster het.

RAAISEL VAN ONS HUWELIK

Desember 31, 2016 in Uncategorized

1-1-1-vir31des1
31 Desember 1966

Presies 50 jaar gelede, op ‘n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, is Jakob Hendrik van Deventer (25) en Gesina Susara van Wyk (20) op haar tuisdorp Bultfontein in die huwelik bevestig. In die NG kerk neffens die ou begraafplaas op Bultfontein, met rye grafstene as dekor op verskeie van ons troufoto’s.

‘n Mens se troudag onthou jy, selfs al is dit in bitterheid. Myne kan ek om verskeie redes – maar gelukkigheid nie uit bitterheid nie! – nooit vergeet nie.

‘n Oorheersende herinnering is die jong bruid aan my sy. Vir my was sy te mooi vir woorde! In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega Kas Dreyer, ‘n knap fotograaf, haar gelukkig op pakke pragfoto’s verewig. Het pas weer met behae die spierwit trou-album uit sy boks gehaal. Die foto’s lyk so vars of dit gister geneem is.

‘n Tweede herinnering is die oorweldigende vreugde in die hart, ‘n vreugde wat voortduur omdat die verbintenis wat aangegaan is, ondanks periodieke hobbels op die pad, die beste ding bly wat my in my 75 – amper 76 – jaar op aarde oorgekom het.

Die derde is die onbeskryflike Desemberhitte wat veral die blomme – ‘n trougeskenk van Frank Budd, die atleet Zola se vermoorde pa – en die arme bruidegom in sy gitswart wolpak behoorlik opgedreun het. Dan het die teenwoordige koshuismaats van Tukkies se Kollegetehuis die bruidegom boonop so deeglik geborsel dat sy boude brand – nie die laaste keer dat hy dit in die huwelik hotagter gekry het nie!

Op die foto kan ek elkeen van daardie skenders van my liggaamlike integriteit identifiseer: Manie Steyn, Pierre le Roux, Piet Theron, Jan-Jakob de Jager, wyle Piet Lategan en wyle Fanie van Huysteen. Maar toemaar, vrinne, ek gaan nie hof toe hardloop nie.

Bruidegom se boude brand.

Bruidegom se boude brand.

Die vierde is ‘n stuk sabotasie, waarvan die oorsprong en motief tot vandag toe ‘n raaisel is. Die ontdekking daarvan, slegs ure voor die koster, Oom Willie Botes, die huweliksklokke oor die dorp sou laat jubel, was soos ‘n dolksteek in die hart.

Al die dokumente vir die huwelik – so sorgvuldig in ‘n hoekie van my koffer versteek – het spoorloos verdwyn! Onthou, die bruid was minderjarig. En dit was die dae van gebooie en ‘n gebooiebrief, waarsonder ‘n huwelik nie wettig voltrek kon word nie.

Gelukkig is ons deur my neef Bertus du Plessis in die eg verbind – ‘n goeie man wat later ‘n leraar van die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) geword het en van wie tot my spyt ‘n politieke vervreemding was. Bertus was bereid om op grond van sy neef se geloofwaardigheid met die plegtigheid voort te gaan. Krisis afgeweer!

Net ná 15:30 het Gesina (my Tokkie) stralend aan die arm van haar weduweema, Marietjie, die kerk binnegekom. Lenie Mostert kon die orrel ooptrek met Felix Mendelssohn se Troumars. Bertus kon sy spreke plegtig spreek. Margot Luyt, stemkunstenaar, ‘n mede-Bultfonteiner, het in haar volryp stem vir die bruidspaar Psalm 121 (ou vertaling) voorgedra: “Ek slaan my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom….” Ons het mekaar die regterhand gegee. Ek het die bruid gesoen.

Van die “gelukwensing in die saal” onthou ek, benewens die onwaardige borselry, nie veel nie. Hoop my toespraak was nie te langdradig nie. Was toe al soms soos ‘n Boeing wat nie kan land nie as ek op dreef kom. Wel onthou ek dat wyle swaer Fanie aan die einde ‘n welkome bottel vonkelwyn opgediep het. In die kerksaal is net vrugtesap voorgesit. Maar danksy Fanie se kado’tjie kon ons toe darem ‘n private heildronkie drink voordat die egpaar Van Deventer in hul wit Toyota Corona vort is Winburg toe vir die eerste huweliksnag.

Terwyl ons op ons wittebroodsvakansie in Durban was, het snippertjies herkenbare papier van nêrens in ‘n buurvrou se agterplaas teen die grensdraad vasgewaai. Die allerbelangrike dokumente wat onverklaarbaar voete gekry het, het in gehawende vorm asof uit die niet hul herverskyning gemaak.

Nou die dag vra ek Tokkie weer of sy ná al die jare kan raai wie die sondaar was. Sy skud die kop. In die distrik was egter boerseuns wat ook in Hertzogstraat flikkers gegooi het. Dalk wou ‘n jaloerse vryer ‘n stokkie voor die troue steek. In die gemeenskap was ook goeie, besitlike siele wat hierdie geliefde dogter uit eie bodem dalk wou beskerm teen die wêreldwyse koerantman wat anderster waardes kon hê.

Ná 50 jaar sê ek vir hulle almal (diegene wat nog in die lewe is, altans): pê!

GOUE BRUILOFSLIED

Desember 28, 2016 in Uncategorized

1-img_4934

Hoe nader Saterdag 31 Desember kom, des te sentimenteler raak hierdie bruidegom van 50 jaar gelede oor sy bruid, Tokkie. Delf genoeg stof uit die “argiewe” om ‘n hele paar blogs te vul.

Hierbo is die tuisblad van ‘n spesiale Tokkie60-webwerf wat vriend Ollie Olwagen help skep het vir haar 60ste verjaardag op 15 Maart 2006. Die werf self is, helaas – ander as die onderwerp! – nie meer aktief nie.

Die beste ding wat my nog op aarde oorgekom het – so beskryf ek my Gesina Susara in my boek In Kamera (Protea Boekhuis 2003) in ’n spesiale hoofstuk. Die hele hoofstuk word op die webwerf herhaal.

Almal wat haar ken, weet hoe lief sy vir rooi is. Daaroor verskyn ‘n versie:
Kersie, granaat, ryp waatlemoen;
Rooi is ‘n kleur wat iets aan jou doen.
Tooi jou in rooi, my rooibloedvrou,
Om my vir altyd aan jou voete te hou.

Ontmoet op die werf die Tokkie van Tokkielaan in Pres Swartpark, Bloemfontein, en ontdek ’n paar dingetjies waaroor Tokkie uit pure beskeidenheid nie loop en dreunbors maak nie.

Ek verklap ook ’n paar huishoudelike geheimpies – soos die een keer toe sy baie kwaad was en ek moes koes vir ‘n “vlieënde piering” (met ‘n koppie tee boonop daarin)!

Die laaste paar dae het ek al ‘n hele paar keer met hartlike instemming na Burl Ives se “True love goes on and on” geluister. Klik op: https://www.youtube.com/watch?v=3C1Drpz216A ……. en luister gerus saam na ons mooi “bruilofslied”.

So lui die lirieke:

True love goes on and on
My darling, I’ll always love you

The white snow of Christmas will melt away
The darkness of evening will end the day
And time will wither the strongest tree
But nothing will change you and me

[Koor:]
For true love goes on and on
Our love will be ever new
True love goes on and on
My darling, I’ll always love you

The mightiest mountain may tumble down
The world may even stop spinning round
A star may fall to the deep blue sea
But nothing will change you and me

[Herhaal koor]

Some days the sun will forget to shine
In autumn, the leaves will desert the vine
An ocean may someday a desert be
But nothing will change you and me

[Herhaal koor]

Liedjieskrywers: RICHARD ADLER, JERRY ROSS

DONKER VERLEDE

Maart 14, 2016 in Uncategorized

Tennis in 'n ou kerkrokkie en uitgevat vir tiekiedraai.

Tennis in ‘n ou kerkrokkie en uitgevat vi tiekiedraai.

Laat ek maar die sluier oor my vrou, Tokkie, more, 15 Maart, ‘n rype 70, se “donker verlede” lig. Tot September van haar matriekjaar, 1963, was my liewe vrou as ‘t ware ‘n skadufiguur – ‘n kol teen die muur in die flikkerende liggie van ‘n lamp of ‘n kers in ‘n enemmelblaker.

Toe eers het elektrisiteit Bultfontein bereik. “Hondebakkies” – so het die benieude Bultfonteiners die skermpies genoem – het oornag aan geboue se plafonne begin pryk. Die bakkies het op ‘n haar soos omgekeerde hondebakkies gelyk wat die gloeilampie met ‘n kappie oordek.

Bultfontein in die jare 60 was nie vir sissies nie. Dis nie net elektrisiteit wat Tokkie en haar generasie moes ontbeer nie. Ook spoeltoilette. Sy is ná matriek B.O.K. toe met die nagkar op Bulfontein steeds op sy rondes, en met hul eie “gemakkie” by Hertzogstraat 5 steeds ‘n buitehuisie met ‘n nagemmer onder ‘n seringboom.

Glo die nuwe generasie sal hieroor gril – maar hopelik ook perspektief kry in ‘n era van net alles “demand” en “demand”.

Die gebrek aan elektriteit is deur die Bultfonteiners, soos so baie ander “deep plattelanders” van daardie era, gelate aanvaar. Hulle was gewoond daaraan. Hul Dovertjies (koolstowe), primusstofies, lampe en kerse was voldoende vir hul behoeftes. Mense wat dit minder gelukkig getref het, was “inkommers” van elders waar elektrisiteit reeds net ‘n knoppie ver was.

Tokkie en Hannatjie, beste maats.

Tokkie en Hannatjie, beste maats.

Een so ‘n gesin was die Groenewalds wie se dogter, Hannatjie, van standard drie (nou graad vyf) af ‘n beste maatjie van Tokkie was. Eerwaarde Groenewald het ‘n beroep na Bultfontein se sendingkerk aangeneem. Die gesin daag toe op met ketel, strykyster, broodrooster en wat nog. Ontnugtering! Die geriefies het alles mooitjies sewe jaar lank in die bokse moes bly.

Dit was natuurlik nie toevallig nie dat die eerste straatligte hul buiging gemaak het in die straat waar Ou One Light, gewoon het. Hy is so genoem weens sy glasoog, en was die “misipaal” se elektrisiën-cum-honde-inspekteur. Ouma Marietjie, Tokkie se gedugte weduweema, het op ‘n dag van Ou One Light korte mette gemaak toe hy kom hondelisensie soek. “Hier blaf ek sommer self,” het sy hom in sy peetjie gestuur. Dis ‘n ander storie.

Ewenwel, feit is dat Tokkie tot laat in matriek haar tuiswerk by lamplig gedoen en ook vir eksamens so geleer nie. As sy ná donker voor haar klavier gaan sit om die skone klanke van Chopin of Liszt in die klein voorhuisie te laat opklink, moes die getroue lamp ook aangesteek word.

Laat my nou nie onbehoorlik spog nie, maar sy was ‘n formidabele pianissie, die klein meisietjie wat weens haar kort lyfie deur haar vroeg gestorwe pa, Kotie, Tokkelossie gedoop is. In daardie jare was oor en weer kuier nog die in-ding. Op een so ‘n kuier by ‘n buurvou, Tant Ellie van Wyk (nie familie), in standard een (graad drie) het sy ongenooid voor dié se ouderwetse klavier ingeskuif.

tvd7

Hertzogstraat 5- herbesoek in 2003.

Dadelik was die talent onmiskenbaar. Gou het sy lesse geneem en is ‘n splinternuwe klavier by R. Müller in Bloemfontein aangeskaf, wat in ‘n krat Bultfontein toe geskarwei is. Op daardie klavier het klein Tokkie haar pad oopgespeel Unisa-eksamens en Bloemfonteinse kunswedstryde toe, waar sy goue diplomas links en regs ingeoes het. In matriek het sy met eervolle vermelding Unisa se Finale Eksamen (Klavier, Graad V111) kafgedraf. Sy was ook Sondae agter die kerk se orrel wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Die klavier staan nou by ons dogter, Marisa, in Hilton, Natal.

Op die sportveld was tennis na aan Tokkie se hart. In haar wit rokkie (‘n ou kerkrok wat vir die doel korter gemaak is) en met tekkies wat – lank voor die Nike-era – van ‘n hoop af by die O.K. Bazaars gekoop is, was sy en Mrad Shahia (later prof. Mrad Shahia) veral in die dubbels ‘n gedugte kombinasie. Die tekkies, terloops, was net ‘n stuk wit seil en ‘n sool wat kwalik die kous werd was. Die seil is met Shushine skoongemaak. Haar raket was ‘n oue van haar Tant Siena, wat ‘n rooilissie was in die Tweede Wêreldoorlog – ook ‘n tronkbewaarder wat o.a. die gifmoordenares Daisy de Melcker in haar sorg gehad het.

Elke kind het die een of ander tyd ‘n fiets gehad? Verkeerd. Tokkie het nooit in haar lewe ‘n fiets besit nie. Die enigste wiele in hul huis was ouer broer, Fanie, se tweedehandse dikwiel. Sy kleinsus het altyd op die handvatsels, die dwarspyp voor die saal of op die drarak agter gesit na gelang van omstandighede. Kinderkrans toe, was daar vier kinders op Fanie se fiets. Dan was Tokkie voor op die handvatsels, gevoude voetjies op die modderskerm.

Soos Tokkie in musiek uitgeblink het, het Fanie sy naam as kranige atleet in Bultfontein se rekordboeke ingehardloop en gewerp. Hy was in matriek SA se onder 19-kampioen in die 440. Glo die duwweltjies op die atletiekbeen wat hom geleer het om sy knieë te dra. ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat die gewigstoot aan die oorkant van die veld eers gestaak moes word.

My vrou was, by alles, ‘n entoesiastiese volkspeler. Sy was in die demonstrasiegroep wat ook kunswedstryd in Bloemfontein toe is om daar passies te gaan maak. ‘n Foto van Bultfontein se groep van 1961 het op Die Volksblad se voorblad verskyn. Daardie foto het ‘n buitengewone geskiedenis.

Tokkie, die swartkoppie in die middel, maak in haar klassieke wit Voortrekkerok ‘n treffende prentjie – een wat dadelik die oog vang van ‘n jong koerantleser, Johan de Necker. Hy was in matriek aan die Grey-kollege. Hy was halsoorkop verlief. Hy wóú eenvoudig die meisie op die koerantfoto ontmoet.

Ten einde raad skryf die beenaf skoolseun (later ‘n mediese dokter of tandarts) aan die geamuseerde skoolhoof hy moet asseblief help: Wie is hierdie meisie op die foto, waar kan hy met haar in aanraking kom? “U daadwerklike optrede sal waardeer word.”

Ongelukkig vir hom, was die skoolhoof ‘n verstandige man. Vir vreemde wolwe was hy uiters bedug!

Die skoolhoof se beskermende optrede word op prys gestel. Daardie De Neckertjie verdien nietemin volpunte vir ondernemingsgees.

TOKKIE SE HOUT

Julie 9, 2014 in Uncategorized

IMG_2476My gade, Tokkie, gebore Van Wyk, is tipies Van Wyk erg danig oor die mooi inheemse boom met die indrukwekkende wetenskaplike naam bolusanthus speciosus. Die Afrikaanse naam verklap die rede: VanWykshout.

‘n Keer was ons in Oktober in Olifantskamp in die Krugerwildtuin. Langs ons rondawel was ‘n formidabele Van Wykshoutboom met trosse pers blomme aan die takpunte. Party trosse was tot 20 cm lank. Tokkie het daardie boom met moederlike welgevalle bejeën.

Julle Van Wyks het maar net ‘n boom, het ek haar geterg. Ons Van Deventers het ‘n hele stad – natuurlik die skilderagtige Nederlandse stad Deventer aan die Ijsselrivier. In alle eerlikheid moet ek egter erken: Dis ‘n besonderse boom daardie Van Wykshout – veral wanneer dit in blom is en ‘n mens die rede vir die Engelse naam, Tree Wistaria, duidelik kan waarneem.

“Bloureën”, het ons ons Wistaria in Bloemfontein genoem. ‘n Gedugte verteenwoordiger van die spesie het ‘n waterval van blomme langs ‘n gedeelte van ons motorpad gewerp. Die ligpers kleed het baie oe’s en aa’s uitgelok van mense wat in blomtyd by die huis verbyloop.

Vir my met my kleurswakheid is blou en pers moeilik te onderskei – het in aardrykskunde in standerd agt die wrewel van mnr. Jack Slabbert uitgelok toe ek die hele see om die vasteland van Afrika pers ingekleur het. Dit was die einde van hvd en aardrykskunde se paadjie saam. Dit daar gelaat.

Hoekom ander, kleuronderskeidende mense pers blomme blou sou noem, weet ek nie. Maar “bloureën” was die algemene naam. Ek dwaal af.

Miskien die danigste Van Wyk oor VanWykshout wat aan my bekend is, is Jaco van Wyk, ons peetkind van Pretoria. Oral waar hy by ‘n VanWykshout kom, is sy eerste gedagte om ‘n knoets of stomp te bekom, deur dit af te bedel of hoe ookal.

Jaco het in die Jakarandastad met ‘n trotse meubelmaker saamgespan om pepermeule uit VanWykshout te laat vervaardig wat as spesiale geskenke vir sy VanWykverwante dien.

Die boomkenner Piet van Wyk (inderdaad ook ‘n Van Wyk) beskryf in sy Veldgids tot die bome van die Nasionale Krugerwildtuin die voorkoms van VanWykshout as “baie soos olienhout”. Ek meen Piet is een van die beskeier soort Van Wyks In my boekie kan jy nie olienhout in dieselfde geselskap noem nie.

Pepermeul oorhandig. 'n Trotse TvD by die Van Wyks van Pretoria, Jaco, Lientjie, Bernard en S,J.

Pepermeul oorhandig. ‘n Trotse TvD by die Van Wyks van Pretoria, Jaco, Lientjie, Bernard en S,J.

Om ‘n lang storie kort te maak, soos Tokkie graag sê: Jaco en sy gesin (Lientjie en die vierjarige tweeling, Bernard en S.J.) het vir ons in Sabiepark kom kuier. Een geskenk wat saamgekom het, is ‘n grysbruin pepermeul uit ‘n stuk VanWykshout wat uit Pretoria se botaniese tuin kom – darem nie geskaai nie!

Dis ‘n indrukwekkende meneer van ‘n pepermeul. Tokkie het nou des te meer rede om bors uit te stoot oor “haar” boom, wat nie net mooi blomme dra nie, maar (in Piet van Wyk se woorde) ook sulke harde, sterk, duursame en aantreklike meubelhout lewer.

Dit deug natuurlik ook as goeie vuurmaakhout, wat vir die uwe ‘n belangruke maatstaf van bykomende waarde is!

‘N GLASIE RENOSTERMELK!

Desember 5, 2013 in Uncategorized

 Die Van Deventyers se jaarlikse Kersbrief uit Melkbos.  Mer die skrywe was die vaart op die Queen Mary 2 einde Januarie nog nie op die horison nie. So vinnig kan dinge verander!

claassens

 

 

 

 

 

 

Jacob, Oupa, Thomas, Ouma, Marisa, Christopher, Brent

vandeventers2

 

 

 

 

 

 

 

Mariza, Sam, Johan, Migael

Desember 2013

Een perspektief op die jaar wat was, is ‘n bederfdrankie uit Ouma se kombuis wat stewig ingegrawe geraak het in die Van Deventer-folklore: “Renostermelk” of “babarenostermelk” vir die minderjariges.  Dit is een van die gawe dinge waarmee die kleinkinders kuiers by Oupa en Ouma assosieer, hetsy op Melkbos of Sabiepark.  

 Die basiese resep is dieselfde: een blikkie kondensmelk en 250 ml. room. Meng en breek ‘n sjokoladestafie (“Flake) in. Al verskil: By die “volwasse” weergawe kom ‘n skeut whisky. Voortreflik! Die resep kom uit ‘n resepteboek van Jacob en Thomas se skool, die Laerskool Welgemoed. Ouma het die resep gaandeweg haar eie gemaak.

 Meng vir julle ‘n groot beker vol renostermelk, vriende  – klein bekers raak te gou leeg! – en drink saam met ons ‘n ryk en lekker heildronk op die ou en nuwe jaar!

 Aan die ernstige kant, het die einde van Ouma Marietjie van Wyk se lang, geseënde en vrugbare lewe aangebreek. Sy is op 10 Maart 2013, minder as ‘n maand voor haar 99ste verjaardag, oorlede. Haar laaste rusplek is ‘n nissie by die NGK Melkbos. ‘n Gedenksteentjie is opgerig op die graf op Bultfontein waar sy  – voordat soveel dinge soveel verander het – aanvanklik bestem was om saam met haar vroeg ontslape man, Kotie, ter ruste gelê te word.

 Hennie het begin Oktober ten einde laaste deurgedruk met die heupvervanging wat drie jaar gelede die eerste keer geskeduleer was.  Danksy die gevorderde Amis-tegniek uit Frankryk was hy vinnig pure perd. Ná drie weke was hy terug op eie voete. Hy stap al ente langs die strand en droom van lekker wandelinge in die bos, piekniekplek toe en terug.

 Tokkie is soos daardie befaamde, onverwoesbare ou Datsun-enjin wat nie ophou ken nie.  Kan darem rapporteer dat sy sorgsaam, dog kwaai, oor HvD se herstel gewaak het. 

 Op George het Johan sy besigheid met welslae in ‘n nuwe baan gestuur, en het Mariza haar ontpop as kranige skrywer van persverklarings, onder meer vir die “Pink Trees for Pauline”-kampanje en Estée Lauder. Haar skoonpa beweer al lank sy is uitgeknip om te skryf. Migael is nou al sewe en geniet sy skooltjie – ondanks die inbreuk op sy speeltyd saam met sy onafskeidbare Labrador Sam. Hy reageer relatief na verwagting op die intensiewe sorg wat sy spesiale omstandighede verg.

 In Welgemoed geniet die gesin Claassens in die algemeen voorspoed, al het Brent klippe gekou met langdurige stakings in die fabrieke onder sy vlerk, wat hy boonop met sy studies moes probeer versoen – hopelik met goeie gevolg.  Marisa ry net kinders rond – na rugby, krieket, atletiek, swem, judo en wat nog.  Die hele gesin trap geesdriftig bergfiets. Die seuns se medaljeversamelings groei …. 

 Sabiepark bly los voor as vakansiebestemming. Ons wintervakansie was ‘n uitgerekte saligheid met hope indrukwekkende olifant-ervarings – ook een skrikwekkende ervaring toe ‘n muur van groot voete op die Onder-Sabie- teerpad onstuitbaar op die Honda’tjie afgestap kom.  Die plan is om in die nuwe jaar ‘n ekstra Aprilvakansie in die bos in te pas. 

 Die vaart Walvisbaai en Lüderitz toe was soos teer – ons lus steeds  meer. Ons het in Maart ‘n kort vaart in die vooruitsig, terwyl ons advertensies fynkam vir hopelik nog ene in die nie te verre toekoms.  Die luilekker lewe op ‘n groot skip met net die oseaan om jou geval ons.  Kort wegbrekies van so twee, drie dae sorg ook vir lekker ervarings in die herfsjare.  Sulke besoekies aan Kaappunt se kontrei , aan die verruklike Franschhoek  en die skone Slanghoekvallei was vanjaar hoogtepunte.

 In Julie behoort die boskampie Balule aan die Olifantsrivier in die Krugerwildtuin weer aan die spannetjie gryse Kollegemanne wat, op Hennie se inisiatief, sedert 2012 al ses rondawels vir ‘n paar nagte huur. Die GROOT kampvure, feestelike braai-etes onder die sterre en genotvolle uitruil van onthou-jy-nog-stories is al stewig as nuwe tradisie gevestig. Net jammer jy moet so vroeg roer as jy ambisies het om Balule voor al die ander aspirante op te raap! 

 Ons sien uit na 2014. Seënwense vir julle almal vir Kersfees en die nuwe jaar.

 Hennie en Tokkie van Deventer, Melkbosstrand

 

 

UITEINDELIK MYNE!

Maart 20, 2013 in Uncategorized

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Een van die foto’s wat bo die koppenent van Ouma se sterfbed gehang het, is van my vrou in haar fleurige jeug. Dis ‘n foto met ‘n geskiedenis.  

 Tokkie was ‘n eerstejaartjie aan die Bloemfonteinse Onderwyserskollege toe sy haar hare by Maison Costa (Francis) laat “doen”, ‘n swart moulose nommertjie aangetrek en na die ateljee van die latere burgemeesterspaar Oom Christo en Tannie Freda Groenewald van Christo’s in Maitlandstraat afgesit het vir ‘n fotosessie.

 Dit was haar eerste jaar uit die huis uit en die foto was bedoel as ‘n verjaardaggeskenk aan haar verlangende moeder op haar 50ste verjaardag op 7 April. Amper 50 jaar het dit bokant Ouma se  bed gehang: eers in Hertzogstraat en toe in Louisehof, Bultfontein; daarna in Genl. Van Schoorstraat, Bloemfontein, toe in daardie volgorde  in O’Kulisstraat, Welgemoed, Penguin Place, Melkbosstrand, .SeaPark, Melkbos, en Groeneweidetehuis, Darling.  

 Al die jare het ek daardie foto van my vrou begeer.  Al is die haarstyl ietwat ouderwets, is daardie skitter-glimlaggie tydloos.  Oom Christo en Tannie Freda was boonop kunstenaars met die verfkwas.  Hul inkleurwerk is so realisties dat jy in die versoeking kom om jou hand uit te steek en aan die beeltnis van die bloedjonk meisie te vat.

 Van daardie foto het ek in 1964 ‘n klein weergawetjie gekry nadat my en Tokkie se paaie een aand op ‘n partytjie romanties gekruis het.  Wat van die foto’tjie geword het, kan ek tot haar wrewel nie verklaar nie. My wrewel is weer omdat ek nou moet hoor sulke foto’tjies is nogal wyd uitgedeel – as’ t ware soos visitekaartjies (haar woord).  Sy het die proefblad vir daardie doel sorgvuldig met n skêr opgeknip.

 Enkele dae gelede, ná Ouma se dood op amper 99, het die foto my eiendom geword.  Dit is hier in my studeerkamer voor my.  Dit is ‘n plek waar ek baie tyd deurbring en lank onbelemmerd vir my mooi vrou kan sit en kyk, opnuut dankbaar verwonderd dat ek al die ander kandidate se hande in die as kon slaan. Miskien was dit omdat ek op ‘n rype 25 ouer was, en dalk meer wêreldwys, as die jong boertjies wat skoolkyse was, en die ambisieuse aspirant-onderwysers in hul tweede- en derde jaar wat as nuwe vryers Viljoen-tehuis se stoep vol spore getrap het.

 Ek skat ek had ook Ouma gou aan my kant met my entoesiasme vir haar heerlike frikkadelle en boerpampoen (wat ek aanvanklik as salige soetpatats aangesien het). Dit is steun wat deurslaggewend moet gewees het het in ‘n gemeenskappie wat die vreemde koerantmanvryer se attensies aan “hul” dogter met heelwat agterdog bejeën het, het ek later agtergekom.

 Maar die foto: dit is nog in die oorspronklike sier-raampie van destyds – ene met twee ogies en ‘n stuk draad agter sodat dit van die prentelys in Hertzogstraat se huis kon hang.   Tokkie beweer sy het die opsie van ‘n staanraam verwerp omdat daar nie eintlik staanplek vir ‘n foto in hul huisie was nie. Stem nie saam nie. Wat van op haar klavier?

 Nietemin, gehang het dit gehang, en omdat ek ‘n man is met respekte vir die geskiedenis en so moet dit in daardie hangraampie bly …  al moet ek dan ‘n baksteen agter staanmaak om my spesiale foto van my spesiale vrou op ‘n spesiale strategiese plek ‘n nuwe tuiste te gee.