Jy blaai in die argief vir sir de villiers graaff.

JINTELMAN-POLITIKUS

Januarie 25, 2022 in Uncategorized

Sir Div in later jare; op die kruin van sy loopbaan in 1962; as jong soldaat en op die dansbaan in Kaapstad met prinses Elizabeth (huidige monarg) op haar 21ste verjaardag in 1947.

Een van die politieke leiers wat in my persgalerydae in die 60’s die diepste in my hart gekruip het, was – snaaks genoeg vir die verteenwoordiger van ‘n Nasionale koerant – sir De Villiers Graaff, jintelman-leier van die Verenigde Party.

Ek het hom op die krieketveld by Fernwood, die parlementêre sportklub in Nuweland, beter leer ken. Hy was ‘n formidabele paaltjiewagter-kolwer van die parlementêre krieketspan, ondanks ‘n rug wat hom toe al opgekeil het. Ek en twee kollegas in die persgalery, die SAUK se Daan Eksteen en wyle Neville Krige, het jong bloed tot die span bygedra.

“Groot Div” en “Klein Div” het die VP-leier en die Volksblad-man vir ons spanmaats geword toe ons een dag vir ‘n substansiële vennootskappie van so dertig, veertig lopies sorg. Daardie aand was my naam in die Argus Late Sport – die enigste keer in sy lewe dat hierdie middelmatige sportman die sportblad gehaal het!

Sir Div was darem ‘n Oxford Blue (hy was dit ook in boks) en ek ongetwyfeld die junior (dog ratser) vennoot!

My “Div” het moontlik van my van gekom, moontlik van ‘n ooreenkoms in voorkoms, wat sommige glo bemerk het. Of so ‘n ooreenkoms wel bestaan het, is iets waaroor ek my nie sal uitlaat nie. Wat egter baie waar is, is dat “Groot Div” “Klein Div” se guns gewen het deur hom hoflik en bedagsaam te behandel, allerlei geselsies aan te knoop, ligweg oor die politiek te korswel, en buitengewone gasvryheid te betoon.

Ek (en ander pergalery-kollegas) is na sy spogplaas De Grendel aan die Tygerberg genooi; ek is ook by geleentheid sommer spontaan in die wandelgang vir ete in die parlementêre eetkamer gevra. Een Woensdagaand was dit net ons twee aan tafel, en was daar ‘n hele geskarrel om vir ons ‘n oop plekkie te kry. ‘n Tafeltjie is later speiaal ingedra.

In die politiek van destyds was min wat met integriteit, standvastigheid, eerbaarheid, betroubaarheid, waardigheid, beskaafdheid en ordentlikheid by hierdie regsgeleerde, voorste melkboer, teler van kampioen-Friese  en veteraan-politikus met sy ouwêreldse standaarde kon kers vashou.  Vriend en vyand het hom gerespekteer. ‘n Bewys is die voorwoord deur die destydse staatspresident PW Botha in sy biografie,  Sir De Villiers Graaff  (Digma, 1990). Hoë agting vir die mens Div Graaff word daarin uitgespreek.

Psalm 15  met sy eise van opregtheid, onberispelike wandel, doen wat reg is, die waarheid praat en jou woord hou, was lewenslank vir hom ‘n rigsnoer.

As student was die seun van Bishops die houer van ‘n Rhodesbeurs – ‘n uitblinker op akademiese en sportgebied. Later as soldaat met die rang van kaptein het hy sy land in die Tweede Wêreldoorlog met onderskeiding gedien. Nadat hy in Tobruk gevange geneem is, was hy vir jare in ‘n krygsgevangenekamp waar hy ‘n leiersrol vertolk het. ‘n MBE (Member of the Bitish Empire) is aan hom toegeken.

Met sy terugkeer het die VP hom opgeraap.  Hy is in 1948 Volksraad toe en het agt jaar later op ouderdom 43 die oninspirerende adv. JGN Strauss as leier van die party opgevolg.

In die politiek was hy in 21 jaar (1956 tot 1977) leier van die opposisie in die termyne van drie premiers, JG Strydom, HF Verwoerd en BJ Vorster. Ondanks koersvaste leiding het sy party uiteindelik onder hom verkrummel en het die Progressiewe Federale Party (PFP) die amptelike opposisie geword.  Die ondergrawery deur jong lede van sy koukus was vir hom ‘n ontnugterende ervaring juis omdat hy soveel prys op lojaliteit gestel het. Hy het die politiek met ‘n sekere mate van geregverdigde verbittering verlaat.

Tot die verbittering het ongetwyfeld bygedra die verbete veldtog in die Sunday Times (redakteur: Ken Owen) dat “Graaff must go” , sonder dat ‘n alternatiewe leier van betekenis aangebied kon word.

Miskien nie onverwags nie was Sir Div my kandidaat toe ‘n nuwe Staatspresident in 1979 gekies moes word. Die mantel het op Marais Viljoen geval. Ek het geglo ‘n geleentheid is verspeel om groter eenheid in die land te bewerkstellig, en dat Graaff in elk geval vanweë sy hoë kwaliteite as mens eer en internasionale aansien na die amp sou bring. Ook sy voorkoms en houding was prima-presidensiëel.

*Sir De Villiers Graaff is op 4/10/1999 oorlede.