Jy blaai in die argief vir sedebewakers.

November 2, 2021 in Uncategorized

HERRIE OOR BEELDE (2)

Tienie Pritchard (“’KAAL BEELDE SOEK WEER ‘N TUISTE, 31/10) was nie die eerste beeldhouer wat in die Jakarandastad die wind van voor gekry het nie. Daardie eer behoort aan ‘n voorganger op die toneel, Moses Kottler, in 1957. Ook in die geval was ‘n staatsgebou betrokke. Daar is ook ander sinonieme.

In daardie jaar, ná voltooiing van die Bevolkingsregister se gebou op die hoek van Van der Walt- en Schoemanstraat (destydse name), is ‘n reliëfwerk van Kottler teen die westelike muur aangebring. Die eerste reaksie was positief. Die publiek was nogal ingenome dat ‘n kunswerk op ‘n stugge staatsgebou pryk.

Die koerant Die Transvaler het so ’n verbeeldingryke stap nuuswaardig geag. ‘n Fotograaf, Corrie Roux, is gestuur om ‘n foto te neem. Hy het gewag dat die son net reg vale n die sluiter gedruk. Dit was ‘n voortreflike foto.Een komplikasie: Die reliëf, bestaande uit ‘n halfnaakte man en vrou met die man se hand half stouterig op haar hand wat op haar bors rus en met albei se lendene net met ‘n drapeersel bedek, was baie eksplisieter op die foto sigbaar as vir die voetganger op straat, aangesien die kleur van die reliëf teen die gebou met sy agtergrond saamgesmelt het,

Roux se foto is as voorbladfoto oorweeg, maar die nuusredakteur indertyd, Fritz Potgieter, het gemeen dit sou verstandiger wees om dit op ‘n binneblad te plaas. Wat die koerant betref, was dit fluit-sluit die storie is uit.

Sowat ‘n week later kom die eerste aanmaning van ‘n moontlike agteropskop. ‘n Leser van die Wes-Rand betuig sy onbehae oor so ‘n onbetaamlike beeld teen ‘n staatsgebou. Nog briewe volg. Later nog. Dit word ‘n dik stroom.Soos dit in die koerantwệreld gaan, begin ander koerante ook aan die storie krap. Nog foto’s word geplaas en onderhoude gevoer. Kerkinstansies tree toe tot die toe al taamlike vurige gesprek. Afvaardigings word na die minister van openbare werke, sen. Jan de Klerk – vader van FW de Klerk – gestuur.

Sen De Klerk kondig toe aan dat die kabinet die saak sal oorweeg en dat hy daarna ‘n verklaring sal uitreik. Die Transvaler se redakteur besluit in daardie stadium om die briefwisseling te sluit. Die ander koerante het nie die voorbeeld gevolg nie. Die druk het dag vir dag in momentum toegeneem.

Uiteindelik het De Klerk aangekondig: die beeld moet af. Te midde van groot openbare belangstelling is ‘n hyskraan gestuur om die bron van aanstoot te verwyder. Maande, indien nie jare nie, is dit iewers in ‘n donker hoek weggesteek. Later het dit onverwags sy verskyning gemaak aan ‘n muur in die binneplein van die William Humphreys-kunsmuseum in die Diamantstad, Kimberley.

Kunsliefhebbers was dankbaar dat die beeld ‘n wreder lot gespaar is. Party, ook doodgewone nuuskieriges, het tussen Pretoria en Kaapstad spesiaal Kimberley langs gery om die beeld te besigtig.

“KAAL” BEELDE SOEK WEER TUISTE

Oktober 31, 2021 in Uncategorized

Vandag kan ‘n mens in verbasing jou hande daaroor saamslaan, meewarig glimlag, afkeurend frons of onbegrypend veroordeel, maar die waarheid is dat kuisheid by vorige generasies so swaar geweeg het dat selfs oor “onbetaamlike” beelde landwye storms ontketen is.

Een beeldhouer wat meermale in die spervuur gekom het, was Tienie Pritchard wat in die winter van 2021 op 83-jarige ouderdom weens Covid oorlede is, Die titel van ‘n pragtige kunspublikasie oor haar man wat sy vrou, Elna, in 2013 laat verskyn het, verklap die rede. Die titel is Tienie Pritchard, Sculptor of the Nude. A Narrative.

‘n “Sculptor of the nude” was Joachim Marthinus Pritchard, oud-staatsamptenaar uit Soekmekaar in Limpopo, inderdaad. In sy nalatenskap is talryke Lorelei’s, nimfe en ander naakte vrouefigure met parmantige boesems waarmee hy homself in ‘n vrugbare lopbaan tereg as die meester van die naak of semi-naak brondbeeld gevestig het.

Lank-lank gelede, aan die begin van sy loopbaan, het hierdie voorliefde van hom hom in diepe pekel laat beland. Die department van binnelandse sake was op soek na ‘n beeldgroep vir die ingang van sy nuwe Civitasgebou in die liewe Pretoria – ‘n konserwatiewe stad waar ‘n klomp sedebewakers saamgetrek was. In 1969 is die opdrag desondanks – ietwat avontuurlik – aan die ontembare jong Pritchard gegee.

Hy kom toe te voorskyn met ‘n lewensgroot groep genaamd Lewenslikus/ Life Cycle (foto) wat by wyse van ‘n seun, ‘n mooi jong vrou, ‘n volwasse man, ‘n ouer vrou en ‘n ou man die lewensiklus van jonk tot oud uitbeeld. Albei vrouefigure was naak. Die jong vrou staan op haar knieë en die hoek is so dat dit haar volledige profiel van kop tot tone beklemtoon. Ook haar gesonde borsmaat. En toe, voor oprigting nog, bars die herrie los.

Alles en almal wat ‘n sê oor sedes en kultuur gehad het, ‘n aksie teen Pritchard se “skandelike pornografie” begin. Die SA Vrouefederasie, kerke en die publikasieraad was voor in die koor. Die beeld is “onbehoorlik en “in stryd met openbare sedes”. Verontwaardigde verklarings is uitgereik. Koerante het maande lank voorbladstories gehad. Briewekolomme het gebult. Hier en daar was iemand wat vure probeer blus, maar in die algemeen was die volk diep ongelukkig.

Pritchard wat aanvanklik “uit eie beweging” ‘n ligte drapeersel om die lendene van die bejaarde man aangebring het, het later “uit respek vir die ouderdom” ingewillig om, teen kunsoorwegings in, die liggaam van die ou vrou ook liggies te drapeer. Maar die jong vrou bedek … dit kon hy nie oor sy hart kry nie.

Daarin is hy gesteun deur FGE Nilant, hoogleraar in die skone kunste aan die Universiteit van Pretoria. “Ons is tog geen bloedarmoedige volk nie,” het hy aan Rapport gesệ.

Pritchard kon altyd uitbundig lag as hy daardie petalje in herinnering roep. “Dit was alte prettig,” het hy aan die joernalis Daleen van Manen vertel. “Al wat ‘n koerant was, wou met my ‘n onderhoud voer. Die beelde is twee keer in kabinetsittings bespreek en ‘n groep afgevaardigdes van die publikasieraad het dit by die gietery in Hartebeespoort kom bekyk. Hulle was ‘n klomp suurgat ou mans wat nie ‘n woord gesê het nie.

”Vier jaar lank het die stryd gewoed. Hoewel Lewensiklus /Life cycle in 1971 voltooi is, is dit in 1974 eers goedgekeur en opgerig – maar nie naastenby so prominent soos dit bestem was nie. Die tuiste was nie voor by die ingang nie, maar die podiumvlak van die gebou waar die publiek nie vrye toegang gehad het nie. ’n Mens moes met ‘n hysbak ry en toestemming vra om die beelde te sien.

Die oprigting het in die geheim op ‘n Sondag geskied en die media is weggehou. “Verslaggewers en fotograwe het egter in bome geklim en die verrigtinge met telefotolense afgeneem. Die foto’s in die koerante was dof en uit fokus.”

So, versteek waar die publiek nie met die ergerlike naaktheid gekonfronteer word nie, is verdere aanstoot vermy en kon die lewe weer normaal aangaan. Die omstredenheid en heftige debat was op die lange duur nie vir Pritchard sleg nie. Die vraag na sy werk het die hoogte ingeskiet.In 1993 is Pritchard versoek om die beelde skoon te maak en op te knap. Hy het dit na sy ateljee in Hartebeespoort gebring.

“’n Jaar lank het ek niks gehoor nie. Toe kontak ek die nuwe regering om te vra wat ek met die beelde moet maak. Hulle wis egter van niks en sê ek moet dit hou.” Lewensiklus/ Life cycle is later na die die eksklusiewe Orient-boetiekhotel tussen die heuwels van die Krokodilriviervallei by Hartebeespoort verskuif waar dit tot Maart vanjaar die ingang versier het. “Hul naaktheid is uiteindelik ontbloot.” Sowat 80 van sy beelde is  heeltyds in die Tienie Pritchardmuseum in die hotel uitgestal.

Ongelukkig is die hotel in Maart gesluit.  Die beelde soek dus ‘n nuwe tuiste. 

(Pritchard se vakmanskap kan o.m.. ook bewonder word in die nege meter hoë George Harrison-beeld – ook bekend as The Miner – by Eastgate aan die Rand en die ses meter hoë Water nymphs in Bela-Bela (Warmbad, of in Tshwana “die pot wat kook”) in Limpopo.)

*Hierdie was nie die eerste storm oor “te kaal” beelde in Pretoria nie. Van ‘n vorige een vertel ek later.