Jy blaai in die argief vir rusland.

RYK GEUR VAN MARLBORO

Januarie 21, 2021 in Uncategorized

“Come to where the flavour is”, het die cowboy met sy diep stem verleidelik genooi terwyl hy behaaglik aan sy Marlboro teug. Het die mense dan nie gekom nie! Of dit nog so is, weet ek nie, maar in ‘n stadium toe rook nog die inding was, was Marlboro met sy “ryk Virginiese tabak” die beste verkoper ter wereld. 

In Rusland was die wit en rooi van ’n pakkie Marlboro as’t ware die paspoort wat vir jou allerlei toe deure oopgemaak het. ‘n Hardekwas Rus se gesindheid kon darmee maklik positief geswaai word. Die wenk het kollega Tertius Myburgh van die Sunday Times my gegee toe ek in 1990 – nog die Gorbatsjof-era – ‘n besoek agter die Ystergordyn sou bring. 

Ek vertrek toe uit Bloem met ‘n karton Marlboros in my koffer op die eerste skof van die reis na Londen waar ‘n visum vir die destyds nog seldsame, selfs misterieuse, besoek op my sou wag. My “gasheer” was die Sowjet-nuusagentskap “Nowosti”. Naspers moes egter vir als opdok.

Igor, my gids en beskermheer, het my darem na sy en sy vrou, Anna, se woonstel genooi vir middagete in ‘n knapperige kombuisie in ‘n siellose, grou woonstelgebou. Ek onthou die blokkiespatroon van die tafeldoek en die koolsop soos gister. Ook al die ander identiese blokke woonstelle voor, agter en aan alle kante. En die verwarrende netwerk van treinspore by die voorstedelike stasie. 

Ek was in een van my periodieke ophou-rook-fases. Tydens my oorslaap in Londen gaan kuier ek egter ‘n aand by ds. Henno Cronje in Wimbledon. Hy was leraar by die groot Afrikaanse gemeente in die stad. Henno haal ‘n vergete pakkie Rembrandt Van Rijn uit ‘n laai en ons steek oor ‘n Engelse bier of wat ‘n paar entjies aan. 

Volgende oggend staan ek op met daardie hond-in-die-mond-gevoel. Net ‘n sigaret kan red. Wel in my koffer onder die kooi is ‘n hele karton. ‘n Sielestryd soos min ontvlam. Sal ek toegee of sal ek verbete my belofte aan gade Tokkie probeer gestand doen? Seker ‘n halfuur lank staan ek verskeurd. Toe borsel ek my tande ‘n tweede keer en gaan eet ‘n stywe Engelse brekfis.

Die Marlboros is saam op Aeroflot (Aerovrot?) se Toepolef Moskou toe. En Tertius se wenk het gewerk soos ‘n bom. Veral etenstye wanneer die Russe aanvanklik nie gretig was om die verlore siel in hul vol restaurants te verwelkom nie. Hoekom nie? Slaan my dood. Koppigheid was net ‘n Russiese ding doerie tyd. 

Van rook gepraat. In Bloemfontein was in die 80’s ‘n dr. Ann Hiemstra wat oor die stad se gesondheid moes waak. ‘n Belangrike gesagsamp by die munisipaliteit beklee. Dr. Hiemstra was nie lief vir sigarette nie. Sy skryf toe aan Die Volksblad ‘n brief waarin sy drie van die stad se grootste rook-rampokkers by die naam noem: Louis Botha, administrateur, Barnie Human, motormagnaat, en Hennie van Deventer, redakteur van Die Volksblad. 

My kollega by die brieweblad het gewonder of hy so ‘n sensitiewe briefie moet plaas of liewer nie,Ek het nie lank gedink nie. Net vir my ‘n Van Rijntjie opgesteek. Toe ek die eerste wolkie rook behaaglik in die lug blaas, spreek ek die oorwoë oordeel uit: sit hom in. 

Dr. Ann is uit vele oorde gelukgewens. Ook uit my eie huis. Ek het my egter nie deur die “misipaal” (kollega Johan van Wyk, ‘n kwarteeu lank die skrywer van die rubriek “Stop van myne”, se woord) laat voorskryf nie! Ook nie Louis nie. Ook nie Oom Barnie nie  Oom Barnie het hoeka verkondig om op te hou rook, is die maklikste ding. Hy het dit al 12 keer reggekry!

LEKKER BY DIE SEE?

Oktober 25, 2014 in Uncategorized

Die Regering se voetjie-voetjie-spelery met Moedertjie Rusland herinner my aan ‘n kuiertjie in 1990  – die dae van Gorbatsjof. Een van die vreemde verskynsels vir die SA besoeker was daardie koddige land se vakansiekultuur. Dalk is dit deesdae anders, maar destyds is strandapartheid streng gehandhaaf.  Daaroor het ek o.m. geskryf in ‘n reeks artikels vir die Afrikaanse dagblaaie.

 

DIE strande aan die Swart See by Odessa in die Oekraine is stampvol vakansiegangers. Hulle ry trapkar op die kalm water, baljaar in die Augustus-son en speel ‘n potjie biljart, skaak of tafeltennis in die buitelug. Van hulle was tot vier jaar op ‘n waglys van ‘n vakbond wat ‘n uitspanplekkie by die see besit. Ander het sewentig geword voordat hulle só ‘n kans kry.

Baie het een of ander kwaal – die algemeenste paspoort tot die begeerde sertifikaat wat ‘n gesubsidieerde vakansie hier of in die Krimgebied, in die Kaukasusberge en aan die Riga-kus moontlik maak. Vakansiegangers wat uit eie sak betaal, is ver in die minderheid. Net die rykstes kan dit bekostig. Vir die ander, 10 tot 12 miljoen per jaar, betaal hul vakbonde tot 70 persent van die rekening, ook met die oog op behandeling in een van die honderde klinieke aan die kus.

Die mediese aspek van ‘n seevakansie word sterk beklemtoon. Die see- en berglug van die Krimgebied ewenaar die genesende waarde van die Franse Côte d’Azur vir asemhalingsprobleme, is die aanspraak. ‘n Plaaslike geloof is selfs dat net een druppel op die vel van die beroemde swaelwater van Dagomies, naby Sotsji in die Krimgebied, ‘n verjongingskuur is. Hawaii, Jamaika en Florida in Amerika kan in dié opsig (maar seker ook darem net hierin!) gaan slaap, spog die Sowjet-burgers.

By van die oorde agter die Ystergordyn is selfs klein skooltjies vir besoekende kinders. Die vakansiehotel by Misjkor spesialiseer in vakansies dwarsdeur die jaar, en het elf onderwysers wat die kinders met lesse, huiswerk en allerlei opvoedkundige programme besig hou.
‘N TIPIESE dag vir vakansiegangers met ‘n gesondheidsprobleem begin met ‘n paar uur in die kliniek. Daar is egter ook die gelukkiges wat hul vakansie-sertifikate van hul vakbonde gekry het as beloning vir goeie diens. Vir gesondes en ongesondes waarborg die sertifikaat ‘n plekkie op ‘n strand, maar vir saunabaddens, massering, psigoterapie en die huur van TV-stelle moet almal self opdok.

Wat opval in Odessa, sogenaamde ”pêrel van die Swart See”, is die ”strand-apartheid” wat streng gehandhaaf word. Oorsese toeriste het ‘n spesiale ”Intourist-strand” wat met tralies van die openbare strande afgehok is. Die reisagentskap Intourist behoort aan die regering. Selfs op dié strand is die geriewe egter maar oes. Die sogenaamde kroeg en ‘n restaurantjie is beknop en slordig. Van die gewone strandfront-ontwikkeling waaraan ‘n Westerling gewoond is, sien ‘n mens geen teken nie.
‘N ONTNUGTERING is dat die hotel van kwalik eenster-gehalte minstens ‘n halfuur se busrit van die see is, deur ‘n neerdrukkende nywerheidsgebied met stink rook, vuil fabrieksgeboue en druk vragmotorverkeer. Jy wonder oor die nywerheidsafval wat in die see gestort word wanneer jy versigtig ‘n toon in die Swart See steek. Van die openbare strande is die ene klipbanke tot teenaan die see. Branders is skaars en die sand grof. By Jalta in die Krimgebied, wat volgens foto’s in ligging en voorkoms veel nader aan ‘n Westerse vakansie-oord kom, is egter geen sand nie, net spoelklippies.

Stranddrag verskil min van dié in Suid-Afrika, maar is klaarblyklik minder modieus as die jongste skeppings wat Clifton en ander uithangplekke van professionele Suid-Afrikaanse sonaanbidders versier. Bikini’s is volop, maar die bostukke word aangehou.