Jy blaai in die argief vir rietbok.

DUIKBOOT-EKSPEDISIE NA RIETBOKRAMP

Maart 26, 2022 in Uncategorized

Toe ek aan die begin van die 60’s as groentjie by Die Volksblad kom, was wyle Peet Simonis (84) ‘n gedugte misdaadverslaggewer. Die “senior” lessenaar in die hoek van ons oop verslaggewerskantoor en die beste tikmasjien in die kantoor was syne. Hy was ‘n teenwoordigheid wat ontsag afgedwing het.

Enkele jare later is Peet vort Perskor toe; eers na die Sondagkoerant Dagbreek en daarna Die Transvaler. Nog later het hy, in sy eie woorde, ‘n “Bybelsmokkelaar” geword – ‘n liefdestaak wat hom tot in China en Rusland gebring het.

By Dagbreek het hy legende-status bereik as avontuurlike verslaggewer  wat vir niks stuit nie.  Waarskynlik sy avontuurlikste – en gewis opspraakwekkendste – stukkie joernalistiek was in 1967 nadat die Rietbok. ‘n Viscount van die SAL ,  op 13 Maart van daardie jaar naby Oos-Londen raaiselagtig in die see gestort het. Oor die werklike oorsake word steeds gegis.

Nietemin, Peet kry dit toe in sy kop om met ‘n tweesitplek-duikbootjie na die wrak en die 25 insittendes te gaan soek. Marius Jooste, Perskor se baas, gee die groen lig.  Die voorneme was voorbladnuus in Dagbreek – natuurlik! – en het, buiten opspraak,  ook omstredenheid gewek. ‘n Engelse koerant –seker maar goed Jantjie – het sy lesers teen die “Dagbreek-ekspedisie” opgesweep deur te skryf Dagbreek behoort hom te skaam, Dis alles net ‘n soeke na sensasie.  Laat die dooies met rus.

Hierby is ‘n foto van die duikbootjie wat aan ‘n Kaapse bioloog, Gary Haslau, behoort het. Soos gemeld, was dit ‘n tweesitplek: loods voor en passasier agter. Dit was battery-aangedrewe en kon drie uur onder die water bly. Dit was toegerus met soekligte en kon gemaklik op ‘n diepte van 50 meter opereer.

Die onderneming was nie sonder gevaar nie. Een risiko was dat die boot te vining daal en ‘n rots tref. ‘n Sterk gety kon dit meesleur. Peet – ‘n toegewyde Christen – het ernstig gebid terwyl hulle in die ondersese skemerte al hoe dieper en dieper daal.

Hy vertel:” Ons het gesak en gesak. Ek het gewonder of ek die son ooit weer gaan sien. Ek het die wrak van die Rietbok voor my geestesoog gesien, vasgekeerde lyke, ooopgesperde oë van drenkelinge  … en geril.

“Skielik het die romp van ons duikbootjie die bodem van die se getref. Die sterk vloei van die water het ons meegesleur. Gary het die skroef aangeskakel en die tuig beheer sodat ons van die gevaarlike bodem met sy rotse en splete kon opstyg. Die sig was hoogstens vyf meter ver. Hier iewers was die wrak van die Viscount …”

En toe? En toe? En toe eintlik niks. Gary het na ‘n ruk na sy passasier omgekyk en beduie hulle moet maar opstyg. Peet het terugbeduie met ‘n vuis (klammerig van binne) en ‘n duim na bo. Uiteindelik was hulle bo. Met niks om te wys nie.

Grootste drama, trouens, was toe die manne wat Peet by die telefoon moes kry om sy storie deur te bel, nie op die afgesproke plek wag nie. Die boot met die duikboot in tou kon dit nie in vlakker water waag nie, en in ‘n stadium het Peet dit oorweeg om ‘n reddingsbaadjie aan te trek en uit te swem strand toe, ongeveer twee kilometer ver.

‘n Kwartier na Dagbreek se spertyd was hy darem in die hawe. Gelukkig het Gary se Landy daar gewag en met hom hotel toe gejaag. Aan die ander kant het Vossie Vosloo, nuusredakteur, verlig geantwoord: “Jis, pêl, waar is jy? Ons dag jy’t verdrink. Wag ek sit jou deur na ‘n tikster toe. Laat waai, die hele koerant wag vir jou storie, die land ook.”

Ek het Peet na soveel dekades die eerste keer weer gesien op ‘n Volksblad-saamtrek op 10 en 11 November 2017 in Bloemfontein. Hy was die vader van ‘n spesiale gedenkboekie, waarmee hy op die foto hierbo  afgeneem is. Dit was ook die laaste keer dat ek Peet  – wat gister oorlede is – gesien het.