Jy blaai in die argief vir resensie.

AS JY NA LAEVELD VERLANG

Julie 16, 2021 in Uncategorized

Ken jy die Laeveld, sal jy Bure van nature baie geniet. Was jy nog nooit daar nie, sal jy stomgeslaan wees oor die leefstyl in die bos, skryf Dawid de Wet in sy vriendelike Litnet-resensie van “Bure van nature”.

Hy skryf: Ek was baie geseënd om as kind baie tyd in die Krugerwildtuin te kon deurbring. My oom was die hoof van spyseniering in “die wildtuin”. In ’n tyd van buffelvleispasteie met slaptjips vir middagete en wit lapservette. ’n Tyd voor kettingwinkels. My oom-hulle het in die personeeldorp in Skukuza gebly. Ben was ’n koedoe wat elke dag oor die lae heining gespring het om in die tuin aan allerlei groen blare te kom peusel. Die heining was eerder daar om nuuskierige hiënas saans uit die werf te hou. Soms kon my neef nie met sy fiets na die laerskool toe ry nie, want daar was manne met tanne op die dorp se gholfbaan of krieketveld. Dikwels was dit ’n seekoei of rooibok wat in die slag gebly het. Ouers is dan baie mooi gevra om die kinders maar self by die skool se hek te kom besorg. Ek het vele sorgelose dae in die bos tussen die huise spandeer. Dit was vir my nooit genoeg nie.

Almal wat al tyd in die Laeveld spandeer het, sal jou kan sê dit is sintuigwêreld. Die flikkerende vlamme van ’n Combretum– (kierieklapper-) vuurtjie, die vroegoggendgeluide, soos dié van ’n fisant wat lank voor sonsopkoms die nag se nuus uitblaker, die laatmiddagreuk van oewerbos, en die rillings langs jou ruggraat as jy skielik bewus raak van die hiëna agter jou kampstoel.

Hennie van Deventer se Bure van nature: Waar mens en natuur skouers skuur is ’n boek vol stories van ontmoetings met wilde diere in ’n wilde wêreld. Die verhale wat Van Deventer, lank verbonde aan Naspers, hier deel, is oor ’n tydperk van 20 jaar in Sabiepark, ’n privaat natuurreservaat teenaan die Sabierivier en aangrensend aan die Krugerwildtuin, versamel.

Ek het van die beskrywing van die gebande muishonde gehou. “Die bangjanne in hulle geledere sal sommer ’n agteroor-salto uitvoer as hulle ’n mens sien. Daardie stukkie gimnastiek word met skril uitroepe van skok en verontwaardiging begelei.”

…….

Die hoofstukke is kort en die vertellings humoristies, en die boek lees dus maklik. Dit is perfek vir diegene wat in die wintermaande saans knus in die bed lê en na die Laeveld verlang.

……..

Dan is daar nog stories van likkewane in die dak, leeus op die wandelpad, luiperds op die stoep en hiënas wat alles vreet wat in sig is. Natuurlik ook slange: luislange, Mosambiekse spoegkobras en die gevreesde swart mamba. Vir iemand wat daar huis moet hou, is die streke van blouape en bobbejane dalk nog erger.

Diep binne-in ons is daar tog ’n heimwee, ’n tipe verlange na so ’n lewe in die bos. Watter ander woonbuurt kan dan spog met ’n inwonende luiperd? Nogal met ’n naam soos Vin Diesel. Dit is net jammer dat die buurt se vlakvark, Brood, ook onder Diesel moes deurloop. En wie kan die vloed van Februarie 2000 vergeet?

Die hoofstukke is kort en die vertellings humoristies, en die boek lees dus maklik. Dit is perfek vir diegene wat in die wintermaande saans knus in die bed lê en na die Laeveld verlang. Ek ruik en proe en sien “die tipiese Laeveldse natuurskouspel van blitse teen die donker naghemel” wat oorslaan in ’n sagte reën. En dan verlang ek ook.

Sabiepark klink vir my soos die ideale woonplek (as jy die insekaanvalle en breekskade van viervoetiges ignoreer). Jou huis is in die wildtuin en die wildtuin in jou huis. Duikertjies en bloukuifloeries word bekendes en kameelperdgeboortes kan van die stoep waargeneem word.

Ken jy die Laeveld, sal jy Bure van nature baie geniet. Was jy nog nooit daar nie, sal jy stomgeslaan wees oor die leefstyl in die bos.

SOET GESKENK VIR MY 80ste

Desember 5, 2020 in Uncategorized

So ‘n deeglike, indringende resensie sien ‘n mens nie aldag nie. Louise Viljoen,  gerekende resensent, het my en my verjaardagboek, “Koerant”, die eer aangedoen om haar werklik diep in die boek se bladsye in te grawe. Die resultaat was die resensie hieronder op die webblad Kragdag-gemeenskap.  Haar vriendelike woorde oor my en my pennevrug is soet op die verhemelte, en ‘n lekker 80ste verjaardaggeskenk.

Titel: Koerant

Outeur: Hennie van Deventer

Uitgewer: De Novo Boeke,  Langebaan

Hennie van Deventer, die outeur van Koerant, skryf op bladsy 3 só oor sy liefde vir koerantlees: “Ná 23 jaar van aftrede bly die eerste tintelende aanraking elke dag met die kraakvars produk steeds ’n hartsgenot; die kennismaking met die nag se nuus oor ’n koppie oggendkoffie ’n vreugdevolle roetine”. Lesers wat hierdie liefde deel, sal saam met Van Deventer die feit betreur dat Volksblad nie meer in papierformaat verskyn nie, maar slegs vyf dae per week op Netwerk24 se digitale platform te kry is. Die “oudste koerant in Afrikaans” is dus “nie meer ’n tasbare entiteit waaruit jy ’n knipsel kan maak of waarmee jy ’n netjiese pakkie kan vou vir jou vis en skyfies nie” (p. 2). Hy skryf: “Ek treur oor Volksblad en sy ou korps verknogte lesers wat hom in papierformaat moes groet” (p. 3). Hy wonder ook “oor hoeveel uitgawes, hoeveel rolle papier, hoeveel konkas ink” Volksblad  ’n gister-ding geword het (p. 7).

Volksblad se bestaan as papierkoerant het op die vooraand van Van Deventer, wat twaalf jaar lank redakteur was, se 80ste verjaarsdag tot ’n einde gekom ná 116 jaar se vrugbare jare. Volgens die lokteks op Koerant se agterblad, was Van Deventer by Die Volksblad (só genoem voor 20 April 2001) onder meer “parlementêre verslaggewer, hoofsubredakteur, nuusredakteur en redakteur. By Beeld was hy die eerste nuusredakteur en senior assistent-redakteur. By Naspers was hy uitvoerende hoof: Koerante van die Pers”.

Van Deventer skryf dat hy in Koerant onder meer fokus “op Volksblad se nuwe gedaante; uiteenlopende elemente van my eie lang loopbaan, en enkele mense met wie my paaie gekruis het” en noem dit ook “’n versameling humorstories wat hopelik ’n glimlaggie sal ontlok” (p. 4). Die boek beslaan 223 bladsye oftewel 50 essays wat opgedeel is in Afdeling Een: Einde van ’n era; Afdeling Twee: O wêreld; Afdeling Drie: Voetspore; en Afdeling Vier: ’n Skeutjie humor. Hier deel Van Deventer herinneringe aan ’n vervullende loopbaan saam met topkollegas. “Dit behels groot nuusstories wat hanteer moes word, maar ook allerlei ander gedenkwaardige insidente wat maklik vergete kan raak. Hierdie boek is ’n willekeurige verkenningstog op laasgenoemde terrein” (p. 4).

Op bladsye 13 tot 19 bring Van Deventer, ook ’n gesoute bootreisiger en liefhebber van die bos, ’n ode aan die rolpers. Hy vertel van die vreugde en bekoring om ’n kraakvars gedrukte koerant by die rolpers in te wag. “Telkens is ek opnuut getref deur die gladde sinchronisasie van tegniek, konkas vol ink, yslike rolle papier en vakmanskap. […] Wanneer jy die koerant oopvou, die verslawende aroma van die drukkersink nog skerp in jou neusgate, is elke berig, elke foto en elke advertensie presies op die regte plek. Die kleure is perfek ingestel. Die koerant is gereed vir die lesers wat wag.”

Van Deventer noem spesiaal ook die onmiskenbare (en dikwels onderskatte) rol van die koerantverkoper. “Die rekord vir ’n lang “dienstermyn” is iets soos sewe jaar. Dit word gehou deur ene Louis Slump. Hy het alles mooi opgeteken en sy “loopbaansyfers” is indrukwekkend: in die sewe jaar het hy 15 288 km (sic) op sy fiets agter 82 intekenare aangery” (p. 18). Hy gesels oor foto’s wat saak maak, bv. “Een van die ikoniese foto’s in Volksblad se argiewe is deur hooffotograaf Lappies Labuschagne geneem toe ’n kwaai bul ’n kollega, verslaggewer Jan Lombaard, skraap” (p. 20). Koerant is vol nostalgie, staaltjies, bekende en nie so bekende name – dit wat die voorblaaie gehaal het én dit wat agter die skerms gebeur het. Dit is sonder twyfel ’n skatkis van herinneringe en anekdotes wat verlore sou wees vir die nageslag sou Van Deventer nie die tyd geneem het om dit te boekstaaf nie.

Tussen die bladsye van hierdie boek is dekades se onthou vasgevang en ook die passie wat ’n merkwaardige man vir sy taal en nuuswaardige gebeure het.

Hier volg slegs enkele van die interessante hoofstuktitels in Koerant, nl. “Moord Wat My Geruk Het”; “Mnr. Vorster Trek ’n Leeu Plat”; “Wie het vir J.R. Geskiet”; “Uit die Hand van “Groot Krokodil””; “Kluitklap op die Kis”; “Pot Vol Skoon Doilies” en “Moedertjie Wysdbeen”. Voorwaar koerantstories op sy beste!

+ Lees die resensie op die webblad Kragdag-gemeenskap by die volgende skakel:  https://kragdag-gemeenskap.co.za/boekresensie-koerant/Deel dit:FacebookTwitterPinterestShare

Submit a Comment

LEKKER STUKKIE LUISTER

September 19, 2018 in Uncategorized

Gerekende boekeman Danie Botha, oud-uitgewer by Tafelberg, het my die eer aangedoen om “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” in die program “Boekkeuse” op Fine Music Radio te resenseer. Werklik ‘n warm, gesellige resensie, en boonop perfek voorgedra. Dankie, Danie, vir ‘n lekker stukkie luister. Hierby Danie se vriendelike woorde:

Danie Botha

Ek vind Hennie van Deventer se Laatoes ’n wonderlik meevoerende werk. Die subtitel lui: Kykweer van ’n kanniedood-koerantman. Dit bestaan uit 57 kort tekste; elkeen iets tussen 3 en 7 bladsye lank. Louis Esterhuizen het gehelp met die samestelling van die bundel.

Die boek is ideaal vir ’n gewag van allerlei aard of om te lees waar jy ook al mag reis. Die prosa en meestal speelse verse is deurgaans maklik verstaanbaar. Hennie laat jou lag, maak jou nostalgies of aangedaan. Dit is hoofsaaklik tekste om iets te herdenk of hulde aan mense te bring. Die jongste tekste is van 2017 en daarna gaan ons verder en verder die verlede in tot by Hennie van Deventer se aftrede by Naspers op 15 Desember 1997 en die afskeidsgeleentheid op 19 Februarie 1998.

Ons beleef sy studentejare by Tukkies in Pretoria. Hoe ’n man regkom met die dames en by ’n aanstaande skoonpa. By hom en die digter en later regsgeleerde Toon van den Heever “pomp dieselfde koshuisbloed: Ou Kollege”. Toon het inspirasie gekry vir sy grootse gedig “Beeld van Oom Paul” toe hy op ’n aand te laat uit was vir die laaste trem terug kampus toe. Hy moes voetslaan, verby Prinsespark en die begraafplaas waar die standbeeld destyds gestaan het. Toon se woorde: “Grou in die maanlig rys die swaar kolos.”

Van Deventer vertel baie oor sy jare by Die Volksblad in Bloemfontein. Hier het hy onder meer gehelp om die nuus van twee van die groot gebeurtenisse in ons geskiedenis uit te dra.

Die eerste: 6 September 1966. Dr. H.F. Verwoerd word vermoor in die parlement. Van Deventer is hoofsubredakteur. Hy vertel: “ʻStop alles!’ het ek skielik deur dun lippe geskreeu, en my sigaret sommer agterstevoor in my mond gestop, die kooltjie op my tong. Van die mees dramatiese, emosioneel-uitmergelendste en pakkendste ure in my koerantloopbaan is daarmee ingelui.” Van Deventer vertel van ’n vroeëre ontmoeting met Verwoerd toe Van Deventer parlementêre verslaggewer was. Ook hoe Tsafendas altyd vir hulle as verslaggewers iets te ete van die kombuis gebring het. “Die hand wat die dolk in Verwoerd se hart gedruk het, het vir my geroosterde eiertoebroodjies gebring!”

Die tweede gebeurtenis: prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967. Van Deventer gee kleiner besonderhede wat ’n mens dalk destyds nooit van gehoor of gelees het. Hoe die skenker Denise Darvall en haar moeder in Hoofweg, Observatory deur ’n jaagduiwel omgery is toe hulle die straat wou oorsteek om “by ’n geliefkoosde bakkery ’n koek te koop terwyl pa, Edward, en jonger broer, Keith, in hul geparkeerde Ford Anglia niksvermoedend oorkant die straat sit en wag.”

In die boek is daar vele vermaaklike gedeeltes. Rubriekskrywer Johan van Wyk se “Stop van Myne” het ’n kwarteeu lank in Die Volksblad verskyn. Hoekom het hy homself “Oom” genoem? “Van Wyk het ’n aand met Anneline Kriel (19), vars gekroon as Mej. Wêreld, gedans. Agterna sê sy toe: ‘Dankie, oom. Dit was lekker.’”

Teen die einde van sy loopbaan word Hennie hoof van koerante in Kaapstad. Hy erken dat finansies ’n gedugte taak vir hom as oudredakteur was, hy “wat tot vandag toe nie ’n balansstaat behoorlik kan lees nie”. Maar toe kom Naspers se “prins van syfermense” tot sy redding: finansiële direkteur Eric Wiese. Eric Wiese is op 4 Augustus 2017 vermoor. Hennie huldig hom en beeld Eric ook as gesinsmens uit en gee voorbeelde van Eric se wyse mensekennis en sy spitsvondigheid.

Hennie vertel: “Een aand, in sy jongmansdae, maar reeds getroud, kuier Eric en ’n klomp ouens iewers, aan die kaart speel tot vroeg in die oggend. Toe hy die oggend vyfuur by die huis kom en saggies by die kamer probeer insluip, word Sannie, sy vrou, wakker en vra: ‘En waar kom jy nou vandaan?’ Waarop hy antwoord: ‘Nee, ek is op pad werk toe. Ek het vreeslik baie om te doen.’ En so is hy reguit terug kantoor toe, nog in die vorige dag se klere.”

Hennie van Deventer skrywe oor sport, bv. oor die verskil tussen ou Gerrie Seerhandjies Coetzee en Kallie Knoetze die Bek van Boomstraat; oor motors en veral oor ervarings in sy geliefde Sabie-wildtuin. Kyk hoe gee Hennie ’n beskrywing van ’n ratel. Hy is lief om enumerasies te gebruik; dit skep iets dramaties en versnel die verteltempo. Jy moet ‘n ratel nie net taai noem nie, maar in alfbetiese volgorde: “aggressief, dapper, humeurig, manhaftig, meedoënloos, onvoorspelbaar, strydlustig, vasbeslote, verbeeldingryk, vreesloos en volhardend. ’n Ware ‘doodkry is min’ van die diereryk.”

En toe kom ek ’n gedeelte teë wat my bewoë gemaak het. Hy beskryf die NG Kerk op Philadelphia, hoe hy en sy vrou Tokkie ’n geestelike tuiste daar vind. Hulle ry vanaf hulle huis in Melkbos daarheen.

“Die kerk is ’n waardige huis van die Here. Dit het ’n hoë plafon, Oregondenbanke, plankvloere wat kraak onder jou voete, ornate vensters en ’n outydse preekstoel. Die liturgiese ruimte is skoon en oop — ongeskend deur allerlei ‘orkesverhoë’ en ander nuwerwetsighede. Jy voel die gewydheid aan as jy instap. Dis die soort kerk waar ek tuis voel.” ( Ek sekondeer.)

Laatoes: Kykweer van ’n kanniedood-koerantman deur Hennie van Deventer word uitgegee deur Naledi.