Jy blaai in die argief vir renosters.

‘N KOPPIE VIR KUIER

Augustus 31, 2021 in Uncategorized

Knus teen die koue.

Op die granokoppie Mathekenyani, 10 kilometer suid van Skukuza op die H1-1, gebeure vele dinge. Leeus en luiperds loop hier. Soms ‘n energieke olifant. Mense raak in stringe hier verloof, hulle trou selfs. Ander kom strooi die assies van ‘n geliefde.  Intieme kerk- en ander byeenkomste vind plaas. Dis ook ‘n voortreflike plek vir ‘n skemer-geselligheid.

So omring deur die wydse Krugerwildtuin ver benede is die sonsondergang ‘n strelende prentjie. Met die komplimente van die gasvrye Jimmy en Lida Pressly van Skukuza kon die Van Deventers, asook Corrrie en Corrie du Plessis van Potchefstroom – die een is Corrie-Adam en die ander Corrie-Eva –  ‘n geluksalige uurtjie of twee op die yslike rotsplaat deurbring met ‘n eet- en ‘n drinkdingetjie in die hand.

Later het die kundige Jimmy vir ons die sterre identifiseer: van die prominente Aandster tot Scorpio. Op pad huis toe in die donkerte kon ek en Tokkie van harte met mekaar saamstem: ‘n Goeie tyd saam  met goeie vriende op ‘n goeie plek is goud werd.

Met renosters wat weens stropery en hervestiging in ‘n groot gebied van die Krugerwildtuin bitter skaars geraak het, word die Vyf Grotes deesdae nie sommer in ‘n japtrap afgetik nie.  Ek en Tokkie is al vyf weke in Sabiepark en het die vakansie al iets soos tien Wildtuinbesoeke agter die rug. Leeus baie gesien, ook olifante en buffels.  Luiperds nie soveel nie maar tog wel.  Renosters?  Niks. Toe skielik, op pad huis toe ná die kuiertjie op die koppie (‘n seldsame nagrit vir ons): Stadig stap in die donker pad, hier kom ‘n renosterma en haar kalf van voor in die teerpad aangedrentel; ongestoord of elke geknor van ‘n voertuig-enjin nie vir hulle potensiële onheil inhou nie.

Hulle poseer as ‘t ware vir foto’s. Dankie, julle. Sou maar sleg gewees het om in die Kaap aan die kleinkinders te gaan rapporteer dat ons in die Vyf Grotes-mekka was sonder om die Vyf Grotes almal te sien.

Tot die galery van sneeufoto’s van oraloor op allerlei webblaaie kan ek uit Sabiepark natuurlik geen bydrae lewer nie. Dit het hier nie gesneeu nie en slegs ‘n paar druppels het geval. Maar dit was deksels koel, hoor. Hier is my weerfoto: twee sebras wat Sondag skuiling soek teen die snerpende winterwindjie in ‘n knus hoekie by Tarlehoet. Toe ons omstreeks een-uur by die huis kom (wasdag gewees), het die twee hulle stewig ingeplant op die Honda se staanplek,  en was hulle erg ongretig om die “verowerde gebied” prys te gee. Taamlike oortuiging geverg.  Sulke merries!

Die stoelkussings op die vloer is nie vir hul gerief nie. Dis deur die wind daar gedeponeer

Ek raai die koue is nou verby. Lente is in die lug. Oral slaan groen blaartjies uit.  Die sambokpeule staan geel in die blom of spog reeds met ‘n groen blaredos.  ‘n Vreugde by Tarlehoet is die pienk impalaletjies.

Wild bly skaars maar voëls is aktief.  Een oggend was daar tegelyk ‘n spookvoël, swarthelms, withelms, ‘n speg en kakelaars. Hope sysies kom drink.

‘n Kommer is of die teenwoordigheid van ‘n likkewaan op die stoep en ‘n gegor-gor in/op die dak verwant is.

Die “hoofstraat” van die Wildtuin, die Skukuza-Onder-Sabie-pad, bly maar die vrugbaarste.  Ons het drie ritte daarop onderneem – twee keer na Nkuhlu insake buffelspasteie – en al drie keer leeus gekry, ook hope olifante, buffels, kameelperde, koedoes, ens. Luilekker is leeulekker. ‘n Maanhaar en ses wyfies het hulle o.m. langs die uitgestrek vir ‘n la-a-a-a-ng middagslapie.  (OOr die buffelspasteie. Hulle is baie lekker en kos R45 elk. ‘n Mens kan hulle ook gevries koop. Reël met Natie.)

Naskrif:  Presies 20 jaar gelede het 12 Probuslede en hul gades van Melkbos, 2 000 km ver, oorgekom vir ‘n braai. ‘n Hele konvooi het opgeruk. By die Gariepdam en Badplaas is langs die pad oorgeslaap. Daardie aand is op tipiese Bosveld-manier behoorlik vleis gebraai. Agter die huis was ’n ramkatvuur vir die skaaptjops en die wors (en die stywe pap in ’n swart driepootpot). Voor was ’n nog ysliker een vir kuier. ’n Vrag hardekool, rooiboswilg en sekelbos is in vlamme op. Genoeg vir ’n maand se gewone kampvure. Maar ’n bobaas-Bosveldfees was dit bepaald.

“Watter wonderlike gawes kom nie uit U vaderhand nie?” kon ek dankbaar bid toe ek onder die sterre die seën vra. Die volgende oggend is hulle vort Wildtuin toe. Weens stertftes en verhuisings is van daardie 12 net twee nog lede van die klub: Henri van Biljon en Frans Ellis

REënNBOOGRENOSTERS

Maart 31, 2014 in Uncategorized

 

Renosters1-001Renosters, renosters, net waar jy kyk.

Pas meer swartrenosters in twee dae in Sydney gesien as in al die jare in die Krugerwildtuin.  Enkele verskille: Sydney se renosters staan op stadspleine. Hulle leef nie in die bos nie.  Hul horings is niks werd nie.  Hulle is ook nie swart nie maar alle kleure van die reënboog.

By die eerste tien of wat het ek en Tokkie beurte gemaak om vir foto’s te poseer:  Voor die Operagebou; met Sydney se beroemde hawebrug in die agtergrond; in die botaniese tuine; voor die stadhuis in George Street; by die skilderagtige Queen Victoriagebou met sy ritse deftige restaurante en boetiekwinkels, by die beroemde Manly Beach (waarheen ons per veerboot is). 

Later het ons gehoor daar is iets soos 55 sulke renosters oor die stad heen versprei.  Plus nog 70 kalwers van kleiner formaat.  ‘n Onbegonne taak om by almal uit te kom en af te neem, al ry jy die ganse stad en omstreke in die rooi bus plat.

Die groter renosters is deur van Australië se bekendste kunstenaars versier:  vrolik bont in ‘n wilde verskeidenheid van kleure en patrone – blokkies, strepe, driehoeke, blommetjies, sterre… Verbeeldings is werklik vrye teuels gegee. Die versiering van die kalwers is die werk van skole, van Wagga tot Wenona. Elkeen het alles in die stryd gewerp het om hul mededingers in oorspronklikheid en kreatiwiteit te troef.

Alles is deel van ‘n reuse-bewusmakingsprogram, gedryf deur daardie land se bekende Taronga Zoo in Dubbo, wat self met iets soos 15 renosters spog, swartes en wittes. Die veldtog word aan die uitwissing van renosters in hul natuurlike habitat soos in Suid-Afrika se wildtuine en natuurreservate gekoppel.   Al die geld wat ingesamel word, is bestem vir die wêreldwye red-die-renoster-program. 

Hierdie verbeeldingryke “renoster”-seisoen duur nog tot 28 April. Dan word ‘n reuse-veiling gehou. 

manly-001

Raak aan ‘n renoster in Manly Beach.

 

By Manly Beach het ek oor ‘n roomyshorinkie ‘n ma en haar dogtertjie dopgehou wat nadergestaan het na die kleurryke renoster aan die strandfront se kant toe.  Die ma het die kind aangemoedig om aan die beeld te vat, wat sy aanvanklik bra sku, maar later met al hoe meer selfvertroue en vreugde op haar gesiggie gedoen het.

 Taronga se idée om deur middel van die koppeling van die wildlewe en kuns die renosterboodskap ver buite sy eie grense aan mense van alle ouderdomme oor te dra,  het in daardie geval uitstekend gewerk. Oordeel gerus self aan die foto wat ek byvoeg.

 Die Australiërs is ons klaarbyklik een voor met hul red-die-renoster-kampanje.  Ook nie net in Sydney en Nieu-Suid-Wallis nie.

 Op ons laaste stop voor Sydney was ons ‘n dag lank in Melbourne, bekend as die “Parys van Australasië” Op die boomryke stad se karaktervolle stadsplein, Fed Square, het ons drie koperrenosters aangetref. Mense het tougestaan om by en op die diere afgeneem te word.

IMG_0819-001IMG_0820

Ryperd! Renbosterbeelde in Melbourne.

 

 Die naam van die pragtige, lewensgetroue uitstalling is ‘Run for your Life’. Die beelde nooi die publiek om deel te word van renosters se stryd om vryheid en lewe. Hulle sou in Maart verwyder word – weet nie waarheen nie, maar wens iemand was so ondernemend om hulle na Suid-Afrika te bring. Sou ‘n aanwins wees vir die Kruger-wildtuin … of selfs die Kaapse Waterfront.  

 Trouens, moet ons nie maar die hele Australiese veldtog huitjie en muitjie oorneem nie?  Die uwe weet die spreekwoord lui: “Imitation is the greatest form of flattery,” en op die sportveld vind hy dit maar swaar om die spelers van Doer Onder te bewonder of te vlei.  Maar vir hierdie renosterpoging van daardie ietwat anderster nasie lig ek my hoed hoog in alle erkentlikheid terwyl ek “Waltzing Matilda” voor my rekenaar sit en neurie.

RAAKVAT VIR RENOSTERS

September 23, 2013 in Uncategorized

 IMG_9448-001                                                                                                      

Raakvat vir renosters. Twee 11-jariges van Melkbosstrand, Amure Palm en Jamie Bower, het vanoggend die skoolvakansie nuttig begin deur hul deeltjie vir die Red-die-Renoster-veldtog by te dra. Die twee, albei leerlinge van die Laerskool Van Riebeeckstrand, het langs die skool in Charles Hoffestraat ‘n kraampie opgeslaan. Daar het hulle goeie sake gedoen met hul kolwyntjires (uit ma se kombuis) en koue limonade. Sappige kolwyntjies gewees boonop!