Jy blaai in die argief vir referendum.

REFERENDUM ‘N FW-TRIOMF

Maart 17, 2022 in Uncategorized

Die lotsbepalende referendum van 17 Maart 1992, vandag presies 30 jaar gelede, het begin met ‘n onverwagse aankondiging op die “verkeerdste tyd”. Daar was konsternasie in die NP-koukus en skok in die federale raad. FW de Klerk se skuif is beskou as ‘n enorme waagstuk in die heersende politieke klimaat.

By Die Volksblad was ons self skepties. Hoofredaksielid Jan Scholtz het die reaksie met ’n geliefkoosde uitdrukking opgesom: “Buurman, nou speel FW op Avbob se stoep.”

Waarom dan die swaarmoedigheid? Kort antwoord: die een na die ander bloedneus by die stembus, soos pas in ’n tussenverkiesing in Potchefstroom. In die Vrystaat het Virginia en selfs “veilige” munisipale wyke in Bloemfontein in KP-hande geval. Nasionaliste het grootoog begin bespiegel of meer setels as net Bloemfontein-Noord in ’n algemene verkiesing behou sou kon word. Die aptyt vir hervormingspolitiek was bra eina.

Die groot Ja-oorwinning met ‘n volslae tweederde-meerderheid het egter die stoutste verwagtinge oortref. FW se politieke intuïsie is reg bewys. Sy tydsberekening was skitterend. Vir hom was die referendum ’n persoonlike triomf. Van begin tot einde was hy die oorheersende figuur.Hy was in persoon hier, daar en oral en het mense met sy sjarme, opregtheid, logika en redenaarsvermoë saam met hom gevat. So is die regse gety nie net gestuit nie, maar omgekeer.

‘n Verbeeldingryke veldtog is gevoer. Nie die gewone stereotipe spyskaart van onpersoonlike formele vergaderings en ellelange toesprake was aan die orde nie – dié was daar ook – maar die klem het op intiemer kontak geval: huisvergaderings, blitsverskynings van FW en sy ministers op straat en in sakesentrums, deur-tot-deur-aksies, multimedia-aanbiedings, musiek, ens.

Die Nee-veldtog daarenteen het maar gesukkel om op dreef te kom. Daar was interne dwarstrekkery oor die fokus, en AWB-belhamels se onordentlike gedrag was vir die beskaafder KP-kern ’n verleentheid en ’n nadeel. Talle lelike insidente en onnodige gewelddadigheid het vervreemding veroorsaak.

Verrassend gou kon ’n positiewe ‘vibe’ aangevoel word. Uit reaksie kon jy optel dat ’n opgewondenheid aan’t opbou was om die ou juk van ’n moreel onregverdigbare en fisiek onvolhoubare bestel af te gooi.

Vir my was die referendum ’n laaste hoera as redakteur en aktiewe joernalis voordat ek Kaap toe is in ‘n bestuurspos. In my laaste verslag aan direksie oor die NP se kreeftegang in die Vrystaat het ek geskryf. “Iets is verkeerd gedoen – hoop tyd bring klarigheid”.

In die konteks was ek dubbel vasbeslote om nie op anti-klimaks my stoel oor te gee en te groet nie. Ek het myself – en my redaksie – met ywer in die veldtog ingewerp. Geen twyfel bestaan nie dat die koerant deurgaans met entoesiasme die Ja-stem bevorder het.

Die Volksblad het inderdaad met sy indringende, ontmaskerende joernalistiek ‘n deurslaggewende rol gespeel om wanvoorstellings en verdagte verkiesingsmetodes aan die kaak stel. Koerante is natuurlik toe nog wyd gelees. Die magtige internet was nog nie met ons nie.

Die vrugte van ywer is gepluk toe die Ja-stem teen die verwagting in in albei Vrystaatse stemdistrikte geseëvier het. In totaal was amper 55% van die stemme in die taai provinsie ten gunste van magsdeling met swartmense in ‘n onderhandelde nuwe grondwet. Veral die gunstige uitslag in die Kroonstad-streek was vir vriend en vyand ‘n verrassing.

In redaksionele kommentaar op 19 Maart – die laaste uit my pen – het Die Volksblad daaroor o.m. die volgende geskryf:“`Die politieke rehabilitasie van die Oranje-Vrystaat is een van die vreugdevolle subtemas van die Ja-triomf. Wat bereik is, is die resultaat van harde werk, maar klaarblyklik ook van ‘n hartsverandering by Vrystaters. Groter realisme het oor die land se werklikhede posgevat. Andersyds is regse metodes en beleidloosheid, asook die gevare wat blanke hardkoppigheid vir die land en vir hulleself inhou, verwerp.”