Jy blaai in die argief vir pw botha.

HULLE WAS FLUKSE Kê ..ê..ê ..RELS

Maart 23, 2022 in Uncategorized

Koesisterspan: Van links is Barend se broer Attie, vier jaar jonger as hy, ongelukkig twee jaar gelede oorlede, hyself, broer Jannie, twee jaar jonger as Attie, en neef At, wat die familie “Boet” genoem het weens so baie vernoemde “Atte.

_________________

‘n Jong Barend du  Plessis het die stroopstasie beman by ‘n fyn georganiseerde koeksisterbakkery; ‘n jong FW de Klerk het van huis tot huis perskes gesmous; PW Botha het as knaap ‘n vrou help klippe kap vir ‘n kerkbouery en ‘n klein Pik Botha het tarentale en fisante in die veld gaargemaak terwyl hy skape oppas.

Sulke verkneuterende jeugbeelde van groot name uit die ou bedeling is opgeroep deur Du Plessis, oud-minister van finansies en amper-amper hoofleier van die Nasionale Party, se vertelling in ‘n kommentaar op ‘n Facebook-inskrywing oor sy ywerige deelname aan sy ma se koeksister- en melktertbedryf.

“Ek het in ‘n koeksister/SAVF-huis (SAVF is die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie) grootgeword en my ma het met koeksisters en melktert pryse op skoue gewen,” vertel hy.  “Ons het ‘n produksielyn vir ons bykans weeklikse koeksisterbakkery in ons kombuis gehad. My Ma het die deeg gemaak en die koeksisterbeentjies gesny en inmekaar gevou, nie gevleg nie. Dit was nogal ‘n kuns. As ek reg onthou, het sy hulle dan met ‘n kwassie met ‘n eiermengsel geverf.

“My neef, ‘n paar jaar ouer as my twee jonger boeties en ek, wat toe al gewerk het, het die gevaarlike werk gehad. Hy het met die Primus-stofie die koeksisters in die kokende olie gebak. Ek was die stroopstasie wat   gereeld die stroop moes aanvul en ook sorg dat die stroop yskoud bly in die bak wat in die groot bak ys en koue water gestaan het.

“Nefie het dan die koeksisters in die stroop gesit en ek moes hulle met ‘n eierspaan in die stroop gedompel hou totdat hulle hulleself lekker vol stroop gesuig het. Jy kon sien hoe dit gebeur. Dan het ek hulle op ‘n rakkie wat in ‘n pan gestaan het, gepak, totdat die stroop afgedrup het.

Barend, du Plessis, die kloeke knaap as losskakel en kaptein van sy skool se o/13-rugbyspan .

“Daarna het my twee jonger boeties hulle in bakke gepak, eers yskas toe gevat en as die plek opgeraak het, dit spens toe gesirkuleer, waar hulle onder die spierwit nette gerus het. Vroegoggend op ‘n Saterdag moes dit by die straatmark afgewer word, saam met al die ander vroue se verskeidenheid van kernye, waar gereelde klante al vroeg kom seker maak het hulle kry hulle gunsteling ietsie vir die naweek.

“Dit was pret en lekker samesyn. Mooi herinneringe.”

Van sy rol as vrugtesverkoper vertel De Klerk, oud-staatspresident, in sy biografie, Die Laaste trek – ‘n nuwe begin (Human & Rousseau 1998). Dié onderneming is bedryf van ‘n kleinhoewe van 200 akkers buite Krugersdorp waar hy vele jeugjare geslyt het. Op een tydstip het die De Klerks 1 500 vrugtebome gehad. Die meeste was perskebome maar daar was ook appelkoos- en pruimbome, asook aarbeie.

In sy laaste skooljaar en regdeur universiteit het hy vrugte gepluk en verkoop om sakgeld te verdien.  “Met die hulp van een of twee van ons plaaswerkers het ek dikwels deur Krugersdorp se strate gestap en perskes van huis tot huis verkoop. Ek het hou hiervan moeg geraak; en toe onytdek ek ‘n goudmyn – die ouetehuis op Krugersdorp. Ek het gereeld met ‘n vrag perskes soontoe gegaan en die hele klomp vinnig en sonder enige moeite verkoop.”

Vrugtesmous FW de Klerk, toe 16.

De Klerk se voorganger as staatspresident, PW Botha, was nie juis ‘n voorslag in die kombuis of ‘n verkoopsman nie.  Sentraal in jeugherinneringe oor die netjiese, skrander en voorbeeldige seun van die plaas Telegraaf in die distrik Paul Roux is sy verbondenheid aan sy ponie,  Tiekie,  waarmee hy skool toe gery het en sy liefde vir toesprakies en opstelle.

Sy fluksheid kom na vore in sy aandeel aan opheffingswerk Sondagmiddae in die arm woonbuurte. In Dirk en Johanna de Villiers se boek PW (Tafelberg, 1984) vertel ‘n skoolmaat, dr. Izak Steyn, ook ‘n storie oor sy betrokkenheid by ‘n klipkappery.

Dr. Steyn vertel: “Ek onthou, daar was ‘n sekere tannie, ‘n berg van ‘n vrou, sterk soos n perd. Almal was bang vir haar. Sy moet die enigste vrou in ons geskiedenis gewees het wat haar brood met klipbreek verdien het. Sy het gekapte klip gelewer vir die bou van die kerk. Van die groter seuns het verte hoe sy balhorige werkers teen die grond kon slaan.  Maar – kom ons om, so kom ons om! – het ons gaan besoek aflê. Ons was ‘n driemanskap, en ons gaan konfronteer as’t ware die leeu in haar lêplek.

n Jong PW Botha op sy poon.

“Die ontvangs was van so ‘n aard dat twee van ons nie kans gesien het om weer te gaan nie.  Maar nie Piet nie.  Hy het weer en weer gegaan, want daar was werklike nood.”

Pikkewyn Botha van Swartruggens se kontrei, die latere minister van buitelandse sake vir jare der jare,  het as kind meningitis oorwin, het amper in die Vaalrivier verdrink en is deur ‘n windpomp katswink geslaan.  Vir skool had hy so min sin dat hy die eerste dag weggeloop het, en ‘n voorliefde was om te preek en vurig te bid.

Die meningitis het sy arms en bene verswak en sy ouers wou dat hy oefening kry.  Soggens moes die trop skape aangejaag en bedags opgepas word. Dit was Pik en sy maatjies se taak, skryf  Theresa Papenfus in haar lywige biografie (amper 1 000 bladsye), Pik Botha en sy tyd (Litera, 2010).

“Ma het vir ons toebroodjies ingesit. Ons het wippe gehad wat ons van ou waringe en ogiesdraad gemaak het om tarentale en fisante te vang. En ons het hulle gaargemaak.  Die goed was maar taai.  Maar dit was opwindende jare,” het hy aan Papenfus vertel.

Saam met sy broer Chris het hy weke lank stukkies afvalbene loop en bymekaar maak. ‘n Sak vol bene is vir een sjieling verkoop, waarmee ‘n mens ‘n modelviegtuigie van Jack Lermkus se winkel in Kaapstad kon bestel – ‘n betowering wat hom lewenslank sou volg.

“Want hulle was flukse kê ..ê..ê ..rels,” sou ‘n mens hulle kon toesing.

UIT DIE HAND VAN DIE “GROOT KROKODIL”

Junie 16, 2020 in Uncategorized

In die jagveld

Een keer in my lewe het ek uit ‘n president se hand geëet. Nogal die hand van die “Groot Krokodil”, PW Botha.  Nie figuurlik uit sy hand nie maar letterlik. Wel net ‘n skyfie lemoen, maar darem.

Dit was die dag toe’n  jagvoertuig, ‘n omgeboude V8  van die wellewende Pieter Jacobs van die plaas Zuurfontein, Fauresmith  ‘met sy oes van die dag tot by sy aste in die modder wegsak.

Agter die wiel van die “ampsmotor”

Die voertuig, bekend as die “ampsmotor”, het dapper gebrul, maar kon niks vermag nie. Om hom uit te kry, het gevat aan die klein geselskappie wat saam met die president die veld ingekoers het.

Terwyl ons gewone burgers so swoeg (en stilletjie swets) skil  die president rustig ‘n lemoen. Toe ons die gevaarte met besmeerde hande uiteindelik uit die amperse moddergraf het, kry elkeen ‘n skyfie in die mond.

Myne kry ek met die spitsvondigheid: “Ons maak nou geskiedenis. Dis die eerste keer dat ‘n koerantman uit my hand eet!” Figuurlik uit sy hand geeet, het ek darem nooit.

Op sy mees ontspanne was Botha waarskynlik op die gereelde jagtogte van sy boesemvriend Boet Troskie elke winter in die Suid-Vrystaat, waar hy met dodelike skietvernuf altyd self ‘n paar bokkies kom plat trek het. Daar in die Vrystaatse winterveld, alleen agter ‘n miershoop of langs ‘n knetterende kampvuur, omring deur kollegas soos Chris Heunis, Pik Botha, Barend du Plessis, Kobie Coetsee, Pietie du Plessis en Gene Louw, kon hy volkome afskakel.

Dit is ook waarheen Troskie hom na sy beroerte teruggebring het om selfvertroue te herwin. Daaraan was daar geruime tyd ‘n geweldige tekort. Hierdie uithalerskut het aanvanklik gesukkel om met dom vingers te laai, onthou Troskie.

Maar sy vriende het hom alleen in die veld gelos. En toe hy die eerste keer die sneller trek, was dit ‘n kopskoot!

Verwysing: “Kroniek van ‘n koerantman” deur Hennie van Deventer. Koop die herpublikasie as e- boek by http://www.denovowebs.co.za/produk/kroniek-van-n-koerantman/ Prys: R70.

SCOOPS – EN ‘N SKANDE

Mei 30, 2017 in Uncategorized

Susters berig oor Die Volksblad se scoop.

Niks is lekkerder vir ‘n koerant as ‘n ordentlike scoop nie. Ai, die louter genot om mededingers met ‘n groot storie die loef af te steek dat hulle hik! Een van die groot scoops van my loopbaan was op 15 Februarie 1990 – onder die opskrif: “Foto’s waarvan wêreld nie geweet het nie”.

Die Volksblad was daardie dag die eerste en enigste ter wêreld (werklik) met ‘n foto van Nelson Mandela en PW Botha se historiese eerste ontmoeting in Tuynhuys op 5 Julie 1989 – die eerste fomele stap in die ontspanningspolitiek wat later tot FW de Klerk se dramatiese besluit sou lei om Mandela vry uit die tronk te laat stap.

Mnr. Mandela is die aand van 5 Julie 1989 in groot geheimhouding na die kantoor gebring waar hy, ironies, later agter die lessenaar sou sit. Die foto’s is op die ingewing van die oomblik met die instemming van albei diehooffigure deur kapt. Ters Ehlers, private sekretaris van die staatspresident, met ‘n gewone mik-en-drukkie geneem.

Die geheimpie dat sulke wêreldskuddende foto’s bestaan, is deur Niel Barnard, nasionale intelligensiehoof, in my oor gefluister. Die nuusman was dadelik op sy tone. Pres. Botha is gepols maar het gehuiwer. Mandela se toestemming sou volgens hom ook nodig wees. Daaroor gaan ek toe by Kobie Coetsee, minister van justisie – een van die ander teenwoordiges – mooipraat. Tot sy ewige krediet willig die Vrystater in om bemiddelaar te speel.

Ek wag in Bloemfontein op hete kole, maar dit duur maande voordat die groen lig uit Tuynhuys en die Victor Verster-gevangenis kom. Ek kon nie vinnig genoeg ‘n verslaggewer in die pad kry Pretoria toe nie om die waardevolle pakkie te gaan haal.

‘n Foto van my met daardie spesiale koerant in my hande sou sou ‘n gesogte besitting wees. Maar het ons foto’s geneem toe die koerant vuurwarm van die pers kom? Kan dit kwalik glo, maar die antwoord is nee. Helaas. Die vloot-offisier Ters Ehlers het die aand in Tuynhuys groter nuus-instink geopenbaar as die uwe en sy redaksiespan op 15 Februarie 1990.

Die waardevolle uitgawe is natuurlik darem nie verlore nie. Dit is in argiewe en by Ineg in Bloemfontein beskikbaar – ook in my eie dokumenteversameling daar. Terwyl ek foto’s uit 1990 uit my albums haal vir die Facebookblad “Volksbladfoto’s” ontdek ek egter al wat ek in my eie albums van daardie heuglike dag het, is knipsels uit ons susterskoerante, Beeld en Die Burger, die volgende dag oor ons scoops der scoops van daardie jaar.

Skande, Piketberg!

Van ‘n ander “wêreldscoop” het ek wel ‘n foto. Dit was oor Zola Budd daardie skraal, stil, kaalvoet-Vrystatertjie, wat van haar skoolmeisiedae kon hôl soos g’n ander nie. Ek en Naas du Preez (nuusredakteur) is tot barstens toe trots by die rolpers afgeneem met ons “eksklusiewe” Zola-koerant. Opskrif: “Ek bly, sê Zola.”

Die “scoop” wat nie ‘n scoop was nie.

Die “scoop” het sy oorsprong by ‘n Britse konneksie weens haar oupa aan vaderskant. Dit het haar ‘n kandidaat vir Britse burgerskap gemaak. In ‘n stadium is sy toe ook vort Engeland toe waar sy internasionaal kon meeding terwyl Suid-Afrika hom in die woestyn van politieke isolasie bevind. Sy sou selfs onder ‘n nuwe vlag aan die Olimpiade kon deelneem. “God save the queen” en so aan.

Terwyl almal bespiegel oor die vraag: bly sy of gly sy (dalk permanent), het Zol in haar eie handskrif Die Volksblad meegedeel dat sy Suid-Afrika kies. Groot nuus! Nie lank na ons “scoop” nie (let op die aanhalingstekens deurgaans in hierdie geval), gly Zola egter. Voordat jy kon sê mes was sy weer as aangenome Brit in Brittanje op die baan.

Dit was maar ‘n bitter pil. Suiker was daar darem soos dat Die Volksblad die dag ná haar oorhaastige aankondiging in The Citizen se hoofberig iets soos tien keer genoem is — ‘n joernalistieke rariteit.
‘n Ware scoopmasjien was die kranige politieke beriggewer Alf Ries. Vir Die Volksblad – waar sy loopbaan in 1953 begin het – het hy in my redakteurstyd veral vir een gedenkwaardige scoop gesorg. Die koerant (wat toe nog ‘n middagkoerant was) het selde beter reg laat geskied aan die motto “vandag se nuus vandag” as met die verkiesing van FW de Klerk as nuwe hoofleier van die NP in die plek van PW Botha daardie oggend – alles danksy Ries se “politieke neus”.

Die onverwagte verkiesing het in groot geheimhouding plaasgevind. Ries het snuf in die neus gekry dat iets betekenisvols aan die gang is. Hy het die berig losgewikkel en daardie middag was dit ons voorblad vol. Toe die Vrystaatse LV Piet Steyn ‘n Bloemfonteinse vriend, prof. Kallie Strydom, bel om hom “vertroulik” in te lig, kon hy op sy rug val toe hy hoor: “Hier staan dit alles in Die Volksblad!”

Met die vliegongeluk van Samora Machel was dit weer die nimlike Ries wat sy mededingers getroef het; weer was Die Volksblad dieselfde dag losvoor met ‘n scoop. Alf en Pik Botha was maats wat saam in ‘n tent was op hul militêre diens. Sulke kontakte help nogal!