Jy blaai in die argief vir pik botha.

HULLE WAS FLUKSE Kê ..ê..ê ..RELS

Maart 23, 2022 in Uncategorized

Koesisterspan: Van links is Barend se broer Attie, vier jaar jonger as hy, ongelukkig twee jaar gelede oorlede, hyself, broer Jannie, twee jaar jonger as Attie, en neef At, wat die familie “Boet” genoem het weens so baie vernoemde “Atte.

_________________

‘n Jong Barend du  Plessis het die stroopstasie beman by ‘n fyn georganiseerde koeksisterbakkery; ‘n jong FW de Klerk het van huis tot huis perskes gesmous; PW Botha het as knaap ‘n vrou help klippe kap vir ‘n kerkbouery en ‘n klein Pik Botha het tarentale en fisante in die veld gaargemaak terwyl hy skape oppas.

Sulke verkneuterende jeugbeelde van groot name uit die ou bedeling is opgeroep deur Du Plessis, oud-minister van finansies en amper-amper hoofleier van die Nasionale Party, se vertelling in ‘n kommentaar op ‘n Facebook-inskrywing oor sy ywerige deelname aan sy ma se koeksister- en melktertbedryf.

“Ek het in ‘n koeksister/SAVF-huis (SAVF is die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie) grootgeword en my ma het met koeksisters en melktert pryse op skoue gewen,” vertel hy.  “Ons het ‘n produksielyn vir ons bykans weeklikse koeksisterbakkery in ons kombuis gehad. My Ma het die deeg gemaak en die koeksisterbeentjies gesny en inmekaar gevou, nie gevleg nie. Dit was nogal ‘n kuns. As ek reg onthou, het sy hulle dan met ‘n kwassie met ‘n eiermengsel geverf.

“My neef, ‘n paar jaar ouer as my twee jonger boeties en ek, wat toe al gewerk het, het die gevaarlike werk gehad. Hy het met die Primus-stofie die koeksisters in die kokende olie gebak. Ek was die stroopstasie wat   gereeld die stroop moes aanvul en ook sorg dat die stroop yskoud bly in die bak wat in die groot bak ys en koue water gestaan het.

“Nefie het dan die koeksisters in die stroop gesit en ek moes hulle met ‘n eierspaan in die stroop gedompel hou totdat hulle hulleself lekker vol stroop gesuig het. Jy kon sien hoe dit gebeur. Dan het ek hulle op ‘n rakkie wat in ‘n pan gestaan het, gepak, totdat die stroop afgedrup het.

Barend, du Plessis, die kloeke knaap as losskakel en kaptein van sy skool se o/13-rugbyspan .

“Daarna het my twee jonger boeties hulle in bakke gepak, eers yskas toe gevat en as die plek opgeraak het, dit spens toe gesirkuleer, waar hulle onder die spierwit nette gerus het. Vroegoggend op ‘n Saterdag moes dit by die straatmark afgewer word, saam met al die ander vroue se verskeidenheid van kernye, waar gereelde klante al vroeg kom seker maak het hulle kry hulle gunsteling ietsie vir die naweek.

“Dit was pret en lekker samesyn. Mooi herinneringe.”

Van sy rol as vrugtesverkoper vertel De Klerk, oud-staatspresident, in sy biografie, Die Laaste trek – ‘n nuwe begin (Human & Rousseau 1998). Dié onderneming is bedryf van ‘n kleinhoewe van 200 akkers buite Krugersdorp waar hy vele jeugjare geslyt het. Op een tydstip het die De Klerks 1 500 vrugtebome gehad. Die meeste was perskebome maar daar was ook appelkoos- en pruimbome, asook aarbeie.

In sy laaste skooljaar en regdeur universiteit het hy vrugte gepluk en verkoop om sakgeld te verdien.  “Met die hulp van een of twee van ons plaaswerkers het ek dikwels deur Krugersdorp se strate gestap en perskes van huis tot huis verkoop. Ek het hou hiervan moeg geraak; en toe onytdek ek ‘n goudmyn – die ouetehuis op Krugersdorp. Ek het gereeld met ‘n vrag perskes soontoe gegaan en die hele klomp vinnig en sonder enige moeite verkoop.”

Vrugtesmous FW de Klerk, toe 16.

De Klerk se voorganger as staatspresident, PW Botha, was nie juis ‘n voorslag in die kombuis of ‘n verkoopsman nie.  Sentraal in jeugherinneringe oor die netjiese, skrander en voorbeeldige seun van die plaas Telegraaf in die distrik Paul Roux is sy verbondenheid aan sy ponie,  Tiekie,  waarmee hy skool toe gery het en sy liefde vir toesprakies en opstelle.

Sy fluksheid kom na vore in sy aandeel aan opheffingswerk Sondagmiddae in die arm woonbuurte. In Dirk en Johanna de Villiers se boek PW (Tafelberg, 1984) vertel ‘n skoolmaat, dr. Izak Steyn, ook ‘n storie oor sy betrokkenheid by ‘n klipkappery.

Dr. Steyn vertel: “Ek onthou, daar was ‘n sekere tannie, ‘n berg van ‘n vrou, sterk soos n perd. Almal was bang vir haar. Sy moet die enigste vrou in ons geskiedenis gewees het wat haar brood met klipbreek verdien het. Sy het gekapte klip gelewer vir die bou van die kerk. Van die groter seuns het verte hoe sy balhorige werkers teen die grond kon slaan.  Maar – kom ons om, so kom ons om! – het ons gaan besoek aflê. Ons was ‘n driemanskap, en ons gaan konfronteer as’t ware die leeu in haar lêplek.

n Jong PW Botha op sy poon.

“Die ontvangs was van so ‘n aard dat twee van ons nie kans gesien het om weer te gaan nie.  Maar nie Piet nie.  Hy het weer en weer gegaan, want daar was werklike nood.”

Pikkewyn Botha van Swartruggens se kontrei, die latere minister van buitelandse sake vir jare der jare,  het as kind meningitis oorwin, het amper in die Vaalrivier verdrink en is deur ‘n windpomp katswink geslaan.  Vir skool had hy so min sin dat hy die eerste dag weggeloop het, en ‘n voorliefde was om te preek en vurig te bid.

Die meningitis het sy arms en bene verswak en sy ouers wou dat hy oefening kry.  Soggens moes die trop skape aangejaag en bedags opgepas word. Dit was Pik en sy maatjies se taak, skryf  Theresa Papenfus in haar lywige biografie (amper 1 000 bladsye), Pik Botha en sy tyd (Litera, 2010).

“Ma het vir ons toebroodjies ingesit. Ons het wippe gehad wat ons van ou waringe en ogiesdraad gemaak het om tarentale en fisante te vang. En ons het hulle gaargemaak.  Die goed was maar taai.  Maar dit was opwindende jare,” het hy aan Papenfus vertel.

Saam met sy broer Chris het hy weke lank stukkies afvalbene loop en bymekaar maak. ‘n Sak vol bene is vir een sjieling verkoop, waarmee ‘n mens ‘n modelviegtuigie van Jack Lermkus se winkel in Kaapstad kon bestel – ‘n betowering wat hom lewenslank sou volg.

“Want hulle was flukse kê ..ê..ê ..rels,” sou ‘n mens hulle kon toesing.

‘N STER VERSKIET – ‘N BLINK BOOG

Oktober 12, 2018 in Uncategorized

Ter ere van Pik Botha (86) wat vanoggend oorlede is – ‘n uittreksel uit die hoofstuk “Pikante kant van Pik” in my jongste boek, “Laatoes – Kykweer van ‘n Kanniedood-koerantman” wat ook by Naledi aanlyn bestel kan word.

‘n Dinee by Boet Troskie: die uwe, Pik Botha en Boet.

Die diep spore wat die legendariese minister in sy loopbaan getrap het, is geskiedenis. Hy was ’n beroepsdiplomaat, ambassadeur en die langsdienenende minister van buitelandse sake in die wêreld; iemand wie se plek in die geskiedenis onder meer oopgekerf is deur sy deurslaggewende rol as die dryfkrag in die proses wat tot Namibië se onafhanklikheid gelei het.

Min mense kan, soos hy, daarop aanspraak maak dat sy biografie, insluitend die bronnelys, eindnota’s en register, amper 1 000 bladsye beslaan; ’n ware “magnum opus” waarvoor die geskiedenis die biograaf, Theresa Papenfus, volgens een resensent, “’n guns verskuldig is”.

My gesprek as koerantman met sy eerste vrou, Helena, in die jare 70 was meer oor die mens Pik, die man wat sy liefhet: die terggees met die aansteeklike humorsin, die geesdriftige veerpyltjiespeler, die musiekliefhebber, die romantikus, die harde werker.

Die Pik met die klein hartjie wat homself amper verongeluk het om ’n verkleurmannetjie te red; wat in die middel van die nag sou opstaan om hom na die sterfbed van ’n mindere amptenaar te haas; die vrolike een wat die gesin soggens lewenslustig wakker sing met “Opstaan, opstaan, dis ’n lieflike dag …”

Sy gaan haal toe ’n plakboek uit ’n donker eikehoutkas: ’n onbekende literêre skat. Haar eiesoortige man se eiesoortige kortverhale. Oor dié pikante kant van Pik kon jy die koerantman met ’n veertjie omtik. Dit blyk by die deurblaai dat 21 kortverhale uit sy pen in die gesinstydskrif Huisgenoot en die destydse Die Byvoegsel (gewilde naweekbylae tot Nasionale Pers se dagblaaie) verskyn het; gemiddeld amper een per maand. Vir die Perskor-publikasie Avontuur en Liefde het hy vier bydraes gelewer en vir die koerant Die Nataller een. In die plakboek is verskeie briewe van verhaleredakteurs. Hulle pleit vir meer stories van die talentvolle jong skrywer.

Op 14 Julie 1955 skryf WA Boozaaier van Huisgenoot namens die redakteur: “Hoekom was u so lank stil? Ons betaal deesdae beter vir goeie kortverhale en hoop om somaar binnekort weer van u te hoor.”

Net een Pik Botha-storie het nooit verskyn nie, sy heel eerste. Daarin het hy die Russiese leier Joseph Stalin ’n hartoorplanting laat ondergaan. Dit was in 1954. Eers dertien jaar later, in 1967, het daardie verbeeldingvlug ’n werklikheid geword. Prof. Chris Barnard het in die Groote Schuurhospitaal, Kaapstad, die sterwende Louis Washkansky se siek, ou hart uitgeslag en met die springlewendige hart van ’n jong ongelukslagoffer, Denise Darvall, vervang.

“Darem te fantasties en onwerklik,” was Die Byvoegsel se oordeel oor die verhaal, “Die waarde van ’n hart”. As troos is darem bygevoeg: “U het ’n lekker styl … kan net ’n bietjie meer ter sake wees.” Wonder wat die redakteur se kommentaar in 1967 sou wees. Of hy toe nog met ons was, weet ek nie.

Die kadet-diplomaat los toe maar die wetenskapfiksie en wend sy “lekker styl” aan vir smeulende liefdesverhale, oorlogstories en moordrillers; almal uit te ken aan sy kort, kragtige verteltrant en die verrassende kinkels. Pik hou nie van “happy” of onrealistiese eindes nie, het mev. Botha opgemerk.

Een verhaal wat treurig eindig, is “La Golondrina” (Die Byvoegsel, 9 Oktober 1954) oor ’n terugkerende soldaat wie se gedagtes deur daardie mooi lied teruggevoer word na sy ontmoeting met ’n Italiaanse sangeres, Sideritta Pella, wat kort daarna in ’n bomaanval sterf.

Die verhaal wat die skrywer self, volgens mev. Botha, uit ’n taaloogpunt as sy beste beskou het, is “Oorsaak en Gevolg” (Huisgenoot, 5 Maart 1956). Dit is die storie van ’n prokureur wat ’n boemelaar word nadat sy jong vrou met haar baas ’n verhouding aangeknoop het. Aan die einde sterf die boemelaar, en die jong Pik beskryf dit byna tasbaar soos volg:

“Dan verdof sy denke stadig. Die pyn word minder. ’n Magtige iets het hom beet en voer hom weg, verder en verder … ’n Ster verskiet – ‘n blink boog. Dan is alles verby. ‘n Wens is vervul.” .”

Verreweg sy langste storie, “Loftus Versfeld en Daarna” (Huisgenoot, 14 November 1955), is ’n speurverhaal oor ’n Tukkiedosent se betrokkenheid by ’n sinistere uraanprojek en die dood van ’n knap jong student wat daarby ingesleep word.

Die pragtige studentenooi wat in die verhaal sterf, Madelein Hechter, vriendin van die skurk, lok die speurder uit totdat hy op haar verlief raak. ’n Romantiese oomblik tussen haar en die speurder word soos volg beskryf:

“Sy het op my skouer geleun. Haar liggaam was warm tussen my hande, en ek het verlore gevoel toe ek in haar oë die sterre sien wat nog altyd vir my onbereikbare spikkels was, ver teen die donker, vreemde ewigheid van die nag, en toe was haar lippe voor my, vol diep geheimenisse, soos ’n verre see wat al die leemtes in my lewe, al die verlange vir ewig sou stilmaak.”

“Vintage” Pik Botha