Jy blaai in die argief vir piet theron.

HIËNAS OM ‘N GEKWESTE BOK

Junie 20, 2021 in Uncategorized

In  ‘n onthutsende hoofstuk in sy e-boek, Kannie is (lankal) dood, lig  kollega Piet Theron, veteraan-joernalis van die Vrystaat, die sluier oor hoe sy seun, Pieta, ná  breinskade weens ‘n onverskillige operasie deur gewetenloses uitgebuit is. Watter skok vir sy eienaars toe hulle uit die mond van ‘n prostituut moet verneem dat ‘n “belegging in ‘n meubelfabriek” weens ‘n gekonkel in ‘n bordeel gestort is.

In ‘n skrynende hoofstuk met die veelseggende titel Hiënas om ‘n gekweste bok ontmasker Piet ‘n hele reeks mooiweersvriende en opportuniste se verbysterende wandade jeens die goed vertrouende Pieta.  Erge professionele argeloosheid en agtelosigheid kom aan die lig.

Kannie is (lankal) dood is Piet  se memoires van ‘n veelbewoë lewe. Veral drie hoofelemente kom sterk na vore: die beproewende tog met Pieta, ‘n harde plaaslewe in die Wes-Vrystaat wat die Theron-familie gestaal het – onder meer in ‘n nare potjie met builespes –  en sy kleurryke loopbaan as Volksblad-joernalis met top-stories op sy kerfstok.

‘n Hoofstuk Ongeluksvoëls, vertel van ‘n rits ongelukke, teenspoede en terugslae wat oorkom moes word. Die ergste dal waardeur hulle is, was ongetwyfeld die ontsettende lyding van Pieta nadat n doodgewone blindedermoperasie weens mediese onbeholpenheid skeefgeloop het. Pieta het ‘n ernstige epilepsielyer geword wat later n valhelm moes dra om hom teen kopbeserings te beskerm wanneer hy val. Tot veertien keer op ‘n dag het die stuiptrekkings hom platgetrek.

Hy het sy werk verloor, sy huwelik, sy kinders, mettertyd al hoe meer ook sy spraak en uiteindelik ook sy onafhanklikheid. Hy kon nie meer motor bestuur of in enige opsig die normale lewe van n man van sy jare lei nie. Pieta, die vader van twee, was skielik weer Piet en Petro se “groot baba” totdat hy op 38 oorlede is.

Die skuldige dokters moes ruim skadevergoeding betaal. Niks kon Pieta en sy ouers, Piet en Petro, egter vergoed vir die dekade van  hel wat daarna vir hulle aangebreek het nie. Om die verhaal met al sy kronkelweë te volg, kan nie anders as om die leser ‘n beklemming om die hart te gee maar ook met groot deernis en bewondering te vervul nie.

Piet se loopbaan by Die Volksblad het half terloops begin. Hy – die amper onwaarskynlike joernalis – het tot topposte gevorder en as assistent-redakteur afgetree.  Hy sonder as hoogtepunte uit: die Duiwelspiekramp tydens die Republiekfees in Mei 1971,  die ineenstorting van die woonstelgebou Tempest  in  Welkom in 1976, die terreuraanval op Sasol in 1980 en die sogenaamde Brugberaad op die Zambezi in 1975.

Piet was daar, op die toneel of intens betrokke in die hitte van die stryd.  Sy boeiende vertellings sal die drukkersink in die are van elke joernalis of oud-joernalis opnuut laat tintel.

HvD en Piet Theron, studentemaats, woonstelmaats en kollegas, op Melkbos se stoep.

In Kannie is (lankal) dood is ook verskeie juweeltjies en kamees, soos oor die ongewone blitsromanse met die spogatleet Petro du Plessis wat sy vrou geword het. Plek-plek in die boek lyk Piet soos ‘n bakleier; hy was klaarblyklik ook ‘n bobaas-vryer!

Bestel die e-boek by De Novo Boeke by die volgende skakel:

http://www.denovowebs.co.za/product/kannie-is-lankal-dood/  Dit kos R80.Deel dit:

KAN NIE IS DOOD

Julie 19, 2018 in Uncategorized

Ek en Piet op Melkbos se stoep.

Piet Theron, Volksblad-kollega wat op 27 Julie 80 word, se motto is “kan nie is dood” – ‘n rigtingwyser wat by sy ouers gekry het. Van daardie 80 jaar ken ek hom amper 60; het hom in 1960 as 21-jarige in Kollegetehuis by Tukkies leer ken.

Op die lang pad wat ons amper ses dekades saamgestap het, van ons Kollegedae tot ons Volksblad-dae, van jong woonstelmaats tot lewenslange vriende wat tot vandag toe in Bloemfontein, op Melkbos en in Sabiepark graag saamkuier, het hy dit oor en oor bewys: Kan nie is inderdaad dood.

In ‘n geleentheidstuk het ek na Piet verwys as ‘n S-man: ‘n staatmaker oor ‘n breë terrein. Op Tukkies was sy bynaam nie verniet Piet Sportie nie. Hy was nie net self ‘n bruikbare losskakel nie, maar Kollege se toegewyde rugbybaas.
Hy was ook ‘n Piet Skêr – ‘n haarkapper van formaat. Baie ouens wat later bekend geword het, het op Tukkies met Piet Theron-haarkapsels gespog.

By Die Volksblad het hy o.m. as Piet Sportredakteur diep spore getrap. Tuis is hy al 50 jaar Piet Saaier. Daar is altyd groente. Sy pampoene is legendaries. Sy amarillas blom feestelik in ‘n reuse-beeskrip wat as blombak. Sy tuin is, in sy woorde, sy gimnasium waar hy kan spit, skoffel, plant, bewerk en oes. Dit is “salf vir sy siel”.
Hy is Piet Snoeier wat ‘n ongetemde boord vinnig kan kafdraf. Hy is Piet Slagter wat weet hoe om ‘n bees te bewerk.

Hy is Piet Sjef wat lekker kan kosmaak. Sy sappige steaks bewys sy stoffasie as baasbraaier.

Ná sy aftrede het hy hom as ‘n bedrywige Piet Skrywer ontpop. Hy was redakteur van ‘n insiggewende boek oor die omstrede Belhar-belydenis, en het allerlei hoogs interessante private publikasies op sy kerfstok. As iets hom pla (wat nogal nie ongereeld gebeur nie!) skryf hy aan die koerant. Hy steek bepaald nie sy sentimente onder ‘n maatemmer weg nie! Sy weldeurdagte briewe word wyd gewaardeer

By nadenke is hy egter dalk eerder ‘n D-man as ‘n S-man.

Piet Donnerwetter sal ek hom liefs nie noem nie, al het die tweemanskap Van Deventer en Theron soms bra sakke growwerige sout saam opgeeet. Ja, ons twee oues het in vuriger dae ons kwota konflik gehad. By twee sulke hardekoppe is dit seker onvermydelik!

Hy is by uitstek Piet Doener. Na ‘n uitnemende loopbaan van 35 jaar het hy afgetree as assistent-redakteur. Hy was ook nuuredakteur en hoofsub. Een van sy kragvertonings as verslaggewer was toe drie Mercuriusvliegtuie van die Lugmag in Mei 1972 met die Republiekfees in Kaapstad tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en bemanningslede het omgekom. Piet het die stories uitgeryg.

In 1988 was hy die eerste wenner van die Hennie van Deventertrofee – ‘n stuk stinkhout in die vorm van ‘n opgerolde Volksblad. Die Laura Rautenbach-skepping word toegeken vir ondernemingsgees, dryfkrag, skeppingsvermoë, leierskap, volharding, kundigheid, geesdrif, goeie oordeel en algemene bekwaamheid.

Piet Dienaar noem ek hom vrymoediglik. Hy is ‘n dienaar wat hom veral op die geestelike heil van sy (NG) gemeente en die politieke heil van die groter Bloemfonteinse gemeenskap toespits. Hy was op 48 leier-ouderling en was (of is dalk steeds) redakteur van ‘n lewendige kerkblad. Hy was (of is dalk steeds) en voorsitter van die D.A. se kandidatekomitee wat nie onsin van kabouters verdra

In sy matriekjaar aan Oos-Moot in Pretoria het die Nederlandse voorgeskrewe boek Duikelaartje deur G. van Nes-Uylkens hom diep getref. ‘n Duikelaartjie is ‘n poppie met lood in die voete, wat telkens regop spring as dit omgestamp word. Einste die vegter Piet. Noem hom gerus ook Piet Duikelaar.

In uitdagende en beproewende omstandighede soos hul onderskeie ernstige operasies en kinder-teenspoede was Piet Petro se anker en omgekeerd. Toe hul oudste seun, Dawie, in ‘n veldbrand sleg verbrand het, was hulle vir hom daar. Toe nekbeserings die tweede, Jannie, se belowende rugbyloopbaan verongeluk, was hulle vir hom daar. Toe die jongste, Pieta, na ‘n operasie wat sleg skeefgeloop het, in ‘n lang lyding gedompel is, was hulle vir hom daar.

Hulle is ook vir vir hul kleinkinders daar – ‘n wonderlike, opofferende oupa en ouma..

Piet is vir Petro ‘n eggenoot duisend. Vir sy kinders is hy ‘n pa duisend. Vir sy kleinkinders is hy ‘n oupa duisend. Vir sy kollegas is hy ‘n kollega duisend. Vir sy vriende is hy ‘n vriend duisend.
Piet is waarlik ‘n man duisend.