Jy blaai in die argief vir piet henning.

PIET ROOK STEEDS DIE PYP

Mei 5, 2020 in Uncategorized

Onder die “ienks” (eerstejaars) van 1958 in Kollege-tehuis was ene Piet Henning van die plaas Sweetwaters, Louis Trichardt. Wat hom van ons gewone vaal Boertjies onderskei het, is dat hy uit die “fênsie” St. John’s College in Johannesburg by Tukkies opgedaag het.  St. John’s  het van hom ‘n fyner jintelman gemaak as die res. Ongetwyfeld. Engelse private skole maak hul merk op ‘n mens. “

Opstêrs” was “ienk” P.B. Henning egter nooit.  Inteendeel! Dié lekker ou uit die Soutpansberg was dadelik 100% “een van ons”. Hy het boonop ‘n indrukwekkende repertorium oneerbiedige rugbyliedjies geken. Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as bekendes soos “Die maan skyn so helder op my p….” en daardie klas ding wat ons Wes-Transvalers graag gesing het as ons, dikwels op ‘n oop vragmotor, van Potjiesdorp na plekke soos Klerksdorp, Lichtenburg en  Ventersdorp gereis het om op die sportveld te gaan kragte meet.

Piet se repertorium het gevorderde liedjies soos hierdie ene van St. Johns se buurskool, die meisiekool Rodean, ingesluit: “We are the girls from Rodeon High/ we take pride in our virginity/ we take precautions by having abortions/ we are the girls from Rodean High.” Veel meer gesofistikeerd as enigiets wat ons geken het, het ons gedink.

In ons tweede jaar het ek en Piet ‘n “onderskeiding” te beurt geval wat nie in elke geselskap hardop genoem kan word sonder die gevaar van veroordeling nie. Ons was naamlik lede van ‘n klub wat eufemisties as Kollege se Bierklub bekend was. Onder ons het ons sommer van die “Boozeklub” gepraat. Elke Vrydagaand was ons by Ta’ Bella  (die Hotel Belvedere) vir ‘n bietjie “tee”.  Ek plaas die foto hierbo in die oortuiging dat ons lewens sedert 1959 ons darem van ‘n ewige brandmerk behoort te vrywaar,

In 1963, toe Piet 23 was en ek 22, het hy vir my Ayn Rand se formidabele boek “The Fountainhead” present gegee – een van die beste boeke wat ek gelees het. ‘n Latere geskenk, net enkele jare gelede,  was Bill Bryson se kosbare “A really short history of nearly everything.”  Die keuse van boeke getuig van hierdie vriend van 62 jaar lank se stoffasie, meen ek.

Deur harde werk en met waagmoed en idealisme het Piet ‘n suikerbaron en ‘n voorste wildboer in Chiredzi,  Zimbabwe, geword, ‘n groot werkskepper en sterk bydraer tot die Zimbabwiese ekonomie. Die pyprokende Piet van ons studentedae het as boer die spreekwoordelikw pyp gerook dat die blou walms in die lug hang.

Vir wit boere in onse buurlandjie het dinge weens al die onbekookte grond-dramas natuurlik in die Mugabe-era maar taai geraak, bitter taai. Piet, sy vrou, Moraig, en hul seun, Greg, was van die ergste slagoffers van gewapende plundertogte deur bendes van korrupte, grondhonger oorlogsveterane, polisiemanne en soldate, asook van voortdurende viktimisasie en intimidasie deur grypsugtige politici en amptenare. Hul private wildreservaat, met “lodge”, rondawels en al, is verwoes. Duur, gesofistikeerde trekkers en swaar plaastoerusting vir die suikerboerdery is gestroop.

Die Hennings kon net magteloos toekyk hoe amper alles wat hulle opgebou het, tot niet gaan.

Vandag, 5 Mei 2020, vier Piet sy 80ste op sy plek van herkoms, Louis Trichardt, waar hy nou weer gevestig is. Ek weet hy gaan vir my tong uitsteek dat hy voor my by daardie baken kom.  Maar ek is vinnig pad, Piet. Te vinnig eintlik.  3 Januarie is om die draai.

Die laaste jare het Piet moedig aan vele fronte en in vele forums gestry vir. kompensasie vir die enome skades en verliese van miljoene der miljoene wat hulle gely het. Die resultate was maar effentjies teenoor die geld, tyd, energie en geestelike staal wat dit geverg het.

Oor waar hierdie goeie ou Kollegemaat die geestelike stamina kry om so hardnekkig te bly vasbyt, het ek al dikwels gewonder.  Andere sou al lankal tou opgegooi en op ‘n hopie gaan sit het. Maar Piet is een van daardie bewonderenswaardige mense wat ligstraaltjies gewaar waar ander net duisternis sien,

Hy rook nie regtig meer pyp nie, soos ek al lank nie meer sigarette rook nie. Hy volhard egter steeds om aan daardie spreekwoordelike pyp te suie deur so waardig en blymoedig teen die aanslae staande te bly. Simbolies is Piet nog altyd ‘n pyproker van formaat. En nog altyd dieselfde  kwaliteitsmens van dieselfde staal wat 62 jaar gelede by Kollege aangekom het.  Geluk, Piet. Hamba kahle.

KO LAT ONS SING …

November 8, 2014 in Uncategorized

Die liedjies wt ons gesing het toe ons nog jonk was.  Van die heel bekendste is liedjies soos You are my sunshine, She’ll be coming round the mountain when se comes,  She stepped into the water and so got her ankles wet  en so aan. Meesal met vindingryk aangepaste woorde.

Herinneringe oor die sentimentele onderwerp is die afgelope paar dae op Facebook opgediep.  Steve Botha het die bal aan die rol gesit. Ek en andere het daar saamgesels.  Wil graag hier uitvoeriger doen. Ek het op FB geskryf:  Dink ek aan liedjies, dink ek dadelik aan my vriend Piet Henning van Louis Trichardt (voorheen Makhado) wat in 1958 met ‘n besonderse liedjieskat van St. John’s College in Johannesburg af in Kollegetehuis. Tuks, opgedaag het.  Ons was saam ienks of eerstejaars.

Liedjieboer Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as Die maan skyn so helder op my p…. en so aan voort  wat ons Wes-Transvalers gesing het as ons van Potjiesdorp na plekke soos Klerksdorp, Lichtenburg en, ja, Ventersdorp reis om op die sportveld kragte te meet. (Ons het ook gesing Valencia, wie de hel het jou vertel die Jood se neus (sic) het nie ‘n vel… en Tekkies laat jou voete stink, Brasso laat jou stêre blink op die maat van Pale Toe – taamlik “voorstedelik en banaal”, in Paula se woorde. )

Daarteenoor het Piet se repertorium gesofistikeerde liedjies soos hierdie ene van St. John’s se buurskool, die meisiekool Rodean, ingesluit: “We are the girls from Rodeon High, we take pride in our virginity; we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.”  Van Piet se liedjies weerklink soms nog by Tarlehoet as ’n klompie Kollegemanne soos vanouds saamkuier. Net, nousedae gaan dit darem heelwat stigteliker! Omdat baie van die woorde in die vergetelheid geraak het, klink dit meermale soos ’n minder harmonieuse neuriekoor.

Een Piet-lied wat voorleef, The Ball at Kerriemuir, lui so: Four and twenty virgins came down from Inverness, and when the ball was over, there were four and twenty less. . . . Oor daardie deel struikel die “kampvuursangers” soms. My ervaring is dat hulle die akrobatiese doen en late van ene Mrs McGinty in dieselfde lied egter  uitstekend onthou: Mrs McGinty, she was there; she kept us all in fits, by jumping off the mantlepiece and bouncing off her t**s. Ons sing ook graag nog Way down in Arizona where the doggies shovel coal, a doggie shovels shovels up another doggie’s hole.

’n Tweede strofe kan selfs (baie) verlangs op ’n “bostema” aanspraak maak: Way down in Arizona where the birdies pick up grass, a birdie picks a feather from another birdie’s a**e.

Voëls maak ook hul buiging in die “koor” van die ietwat weemoedige Quarter Master Stores: My eyes are dim, I cannot see, I haven’t brought my specs with me . . . Later word uitgewei berei met watter moeite elke sort voël  haar eiers lê And now ladies and gentlemen, we come to the kee-kee bird . . . the ostrich . . . the ooh ah bird. . . . Laasgenoemde uiter na die verskriklike inspanning van die eierproduksie net ‘n verligte oe –aaa.

Gaudeamus igitur ….