Jy blaai in die argief vir nagapies.

O HIER IS MY APIES, MY APIES …

Augustus 11, 2021 in Uncategorized

Week drie van die wintervakansie breek aan met die blye nuus van die nagapies se lank afgewagte herverskyning op Tarlehoet se stoep.

Presies om 18:10 Maandagaand land die eerste  Drie minute later land nommer twee. Eerste keer dat ons 14 dae moes wag. Die opgewondenheid was groot.  Helaas te laat gewees vir ‘n foto.

Albei besoekertjies het taamlik verskrik voorgekom. Eerste ou het vinnig ‘n skyfie opgeraap en laat vat. Die tweede het darem twee keer teruggekom. Wonder wat hulle so laat skrik het dat hulle so sku en op hul senuwees is. Ons hou  maar duim vas dat hulle weer ‘n instelling gaan word.

Drie bloukuifloeries het blykbaar in die katjiepiering by die voorstoep ingetrek. Hulle is heeldag hier rond.  Sebras en bosbokkies het vir mooi foto’s by die watergat gesorg.  ‘n  Hiëna laat gereeld Tokkie se gorillaligte aangaan.  Paradysvlieëvangers maak ook meermale hul opwagting.

By Philip en Nance van Rensburg se huis (“Ons Plasie”, 62) het ons ‘n nuwe stukkie sebrakennis opgedoen: hoe lief die nasie  vir die soetdoring se heldergeel poeierkwasblommetjie is. Hulle eet verbete.

Lente breek vroeg aan. Die drolpere staan in sierwit “bruidsgewaad”, die knoppiesdoring is ‘n see van geel en onder die worsbome lê die rooi trompette dig. Wonder darem hoekom so ‘n sierlike boom so ‘n onwelriekende naam gekry het.

Van die lekkerste aktiwiteite bly maar elke aand se vuurtjie maak vir die braai.  Die ou man se houtgebruik is minder konserwatief as tevore.  Nou die aand die gloeiende kole benut deur agterna soos kinders malvalekkers op stokkies te braai.

Ons mis steeds ons koerant – ook by die vensterwassery.  Ons mis ook die kerk – maar bly lugtig vir “byeenkomste”.  Die mense van Mpumalanga blink juis nie uit in die dra van maskers nie – selfs in Sabiepark.  Wat ons nie mis nie, is die bobbejane. Hulle hou hulle  skaars, skaarser as ooit, en ons is in die wolke daaroor.

‘n Aanwins op ons boekrak is Ron Dulek van Alabama se “Sitting with elephants” (kyk die hoofstuk “Skurwe slaapmaats “ in “Bure van nature”).  ‘n Boeiende en insiggewende boek oor sy toenadering tot en uiteindelike vriendskap met ‘n tamaaie matriarg .   Sy vrygewigheid met fooitjies laat net die oë rek – tot R500 vir die drie hekwagte elk wanneer hy padgee.  Dink ek moet ook my keps by 286 gaan hou.

O WAAR IS MY APIES, MY APIES ….

Augustus 1, 2021 in Uncategorized

Waar is ons nagapies heen? Soos Marlene Dietrich in haar liedjie “Where have all the flowers gone?” treurig wonder oor die verdwyning van blomme treur die Van Deventers oor hul nagapies .

Oor jare het ons bederf geraak: Sodra dit sterk skemer is, het die oulike nagdiertjies uit alle oorde vir ‘n “vingerete” in die bos aangesweef gekom. Party het soos lede van 1 Valskermbataljon bo uit die nok neergedaal; ander het uit die ooste op ‘n vasgestelde roete ge-arriveer. Soms het een of twee ons om die suidwestelike hoek van die huis verras.

Drie rekords is weer en weer verbeter:  hoeveel opdaag, hoe lank dit huller vat om die piesangtafel skoon te maak en hoeveel piesangs in ‘n aand verorber word. Die rekord-opkoms is tien, die tyd ‘n blitsige tien minute en die getal piesangs twee en ‘n stukkie.

Die betroubaargheid van die galado moholi’s was onoortreflik. So betroubaar soos ‘n Japanse Bullet-trein, het Tokkie gemeen.

Maar vanaand is al aand  …   van die lank verwagte wintervakansie van 2021. Geen van die gewone “tsjak-tsjak” wat hul koms aankondig nie. Geen beweging in die knoppiesdoring skuins voor die huis nie. Geen beweging in die sekelbos, die Transvaalse katjiepiering, die groot maroela teenaan die stoep of in hul laaste stasie voor die kostafel, die ietwat gehawende ou pendoring, nie.

Verlangend tuur ons aand vir aand na die alternatiewe roete om die hoek via ‘n haak-en-steek met sy gevaarlike dorings. Uit hom is dit net een substansiële sprong tot in die maroela. In ‘n avontuurlustige bui het om-die-hoek-sluipers soms op die swembadmuur na die pendoring aangehupppel gekom. Ook daar gebeur tot dusver niks.

Die groter variant die bosaap (galado crassicaudatus) was sommer die tweede aand al hier.  Toe ons Vrydagaand in die agterste lapa braai, was hy gou om dit te ontdek.  Ook die vrugtevlermuise skeer heen en weer laag oor die skyfies piesang wat spesiaal uitgesit is. Maar dis al aktwiteit.

Dat dit nie net by Tarlehoet is dat die welkome besoekertjies eenvoudig tussen neus en ore verdwyn het nie, hoor ons  by ander Sabieparkvriende wat hulle ook ten seerste mis.  Waarheen het hulle dan pad gevat?  Waarom?

Dalk uitgeboender deur die groter, sterker en aggressiewe bosnagaap wat eintlik oewerbewoners is? Dalk te veel grootooguile in die kontrei? Ons sou bittergraag wou weet.

Intussen eet ek maar elke oggend ‘n paar skyfies piesang by my brekfiskos. En bly hoop dat die afwesigheid net tydelik is.  

NAGAPIES

Oktober 27, 2013 in Uncategorized

Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder? nagapie-001Wat is ‘n Sabieparkstoep sonder sy nagapies?

APIE MY SKAPIE

Februarie 18, 2013 in Uncategorized

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Apie uit die nes

As dit waar is dat klein goedjies mense met min grysstof amuseer, is die wisseling van boodskappe hieronder op Facebook en per SMS seker verdoemend vir die betrokkenes.  As dit aan die ander kant waar is dat deernis vir alle diere (en diertjies) ‘n goeie inbors openbaar, deel ek dit met vreugde mee.

 Die storie vertel homself, en word afgeskop met ‘n mededeling van Caroline Pols-Dykstra van Nederland  (op die oomblik met vakansie by hul huis in Gwarrieboslaan,Sabiepark) Saterdagmiddag om 16:03 oor ‘n teenspoedjie daar :

 “Weer ‘n nagapie uit die nes geval. Hoop hy gaan oorleef! Ma het hom nog nie kom haal nie. ”

 Daarna verloop die kommunikasie soos volg:

 16:12 – Hennie van Deventer:  Hou hom maar warm onder ‘n kombersie op ‘n sagte kussing. Ma sal hom kom haal sodra dit donker is.

 416:38 – Caroline Pols-Dijkstra: Het vir hom suikerwater gegee, sal hom nou gaan toemaak en duimvashou.

 16: 44 – Hennie Van Deventer:  Enetjie – omtrent ewe groot – het by ons nie die val oorleef nie. Ma het nie betyds gekom nie. Die ander is almal deur mamma opgepik en verwyder.

 16: 44- Caroline Pols-Dijkstra:  Ma het gekyk, en verder geslaap. Sal jou op hoogte hou.

 16:46 – Mariza van Deventer (skkoondogter van George):  Ek onthou in 1998 tydens ons 1ste Sabieparkvakansie het enetjie ook uit die dak geval. Ek en ma Tokkie het 19:00 die aand gejaag vir hulp. Ons het gedink dis ‘n krisis! Nou weet ons…wag maar en kyk!

 18:29:- Caroline Pols-Dijkstra:  Op advies van Hennie Van Deventer het ek hom toegemaak onder n lappie. Ek het seker gemaak Ma weet waar hy is deur piesangs voor die apie neer te sit. Piesangs en nagapie is weg.

 20:01 – Caroline Pols-Dykstra per SMS:  Ma het baba kom haal. 

 20:02 – Hennie van Deventer per SMS: Verligting allerweë.

 20:09 – Caroline-Pols Dykstra per SMS: Ja, het piesangs langs hom gelê. Gedink dit sal Ma lok.  Lekker reëntjie hier nou. 

Finis.