Jy blaai in die argief vir msc musica.

‘N OPPIWATER-STORIE

Maart 18, 2020 in Uncategorized

Die Oppiwaterkunstefees verskuif tot 25 -30 Januarie 2021 op die MSC Musica. Vir die VanD’s is dit ‘n skip met vele herinneringe. Ons is op hom langs Oos-Afrika op terug na Europa in 2019, al langs die Somaliese kus met sy seerowergevaar. En deur die Suezkanaal. Wat ‘n ervaring!

Waar die Adriatiese kus van Montenegro en Kroasië ons voete op die vaart met sy natuurskoon onder ons uitgeslaan het, het die weldaad van twee wildvreemde Britte dit met hul ruimhartigheid gedoen.  Ons het langs die swembad, een van drie, oor ‘n koppie tee met die twee, Garry en Christine Cornell van Hayling Island, Hampshire, aan die gesels geraak. Ek bekla toe my lot oor ‘n selfoon wat, ondanks voorsorg en die beloftes van die diensverskaffer, geen sein wou optel nie.

Ek bemerk Garry loer vir Christine en Christine loer vir Garry. Die volgende oomblik verras die twee my met hul gulle aanbod.  ‘n Internetdiens is deel van hul toerpakket maar hulle gebruik dit nie. Ek kan dit met plesier kry as ek wil. Vinnig-vinnig is die MSCMusicahotspot gevind en verbind. Van daardie oomblik is my alias Garry Cornell. Skakel ek die rekenaar aan, groet Google my met ‘n “Hello, Hennie”.  Gaan ek na die Musica-toep is dit: “Hello, Garry”.

Later stel ons vas dit is die dag, Donderdag 2 Mei,  Christine se verjaardag. Aan wyn sit die twee Cornells nie hul monde nie, maar ons het die verjaardag darem met sterk Italiaanse cappucinno gevier. Cappucinno met die Cornells het ‘n instelling geword.  Gewoonlik is dit die een wat verjaar wat die geskenk kry. Die ander kry koffie en koek. Hier het dit net mooi andersom gewerk – tot ewigdurende voordeel vir die ontvanger se lewenslange sug na kommunikasie met die buitewệreld.  Hoop Christine sal die Bybelse woord oorvloedig beleef dat dit beter is om te gee as om te ontvang!

Vir haar volgende verjaardag het ek vir Christine ’n eksemplaar van my reisboek “Na verre hawens” Hampshire toe gepos met ‘n vertaling van die relevante paragrawe. Soos dinge sooms onverklarbaar uitwerk, kry ek net gister van Garry uit die bloute ‘n  Facebook-boodskap: die boek is daar. Met die komplimente van die SA Poskantoor en UK Mail. Enkele ure later kom die nuus dat die Oppiwaterfees nou Musica toe verskuif.  Is dit nou nie toeval nie!

VREESLIKE VRYDAG

Januarie 31, 2019 in Uncategorized

Die MSC Musica was seker al in Mosambiek en terug, sy Kaapse sage vergete. As ek en Tokkie op die laaste dag van Januarie 2019 terugkyk op die gebeurtenisvolle maand is die Musica se rol egter geweldig. Ons sou immers self ook – DV (Deo Volente) – verlede week onder die verontriefde passasiers gewees het wat 48 uur geduldig moes wag om op te klim.

Ons sou – DV – in kajuit 9107 op die Intermezzodek gewees het – die eerste keer in al die jare dat ons onsself met ‘n balkonkajuit sou bederf. Die kaartjies was al gekoop, betaal en veilig in die kluis toe ‘n ongemaklikheid by sy naeltjie die uwe dokter toe dryf.

Toe ek my oë uitvee, was ‘n hernia-operasie vir Dinsdag 22 Januarie geskeduleer. Moenie waag om op die skip te gaan nie, het die arts gewaarsku. As ter see fout kom, bestaan die nodige gespesialiseerde mediese dienste vir ‘n noodoperasie nie. Ons plekke is noodgedwonge gekanselleer. Tot siens kajuit 9107 met balkon en al!

‘n Mens wil nie te veel oor jou sorge uitwei nie. Ek skram ook liewer daarvan weg om triskaidekafobies te klink. Vrydag 26 Januarie kon egter regtig, wat die Van Deventers betref, ‘n Vrydag die 13de gewees het. Terwyl die Musica oorkant Seepunt voor anker lệ en die Suidooster om die hoeke huil, besluit die internetmense Octotel om ons straatjie se sypaadjies om te dolwe vir hul veselkabel met die oog op vinniger internet – ook die Van Deventers se geplaveide sypaadjie en motoroprit in Penguin Place, Melkbosstrand. Die ongelukkige tydsberekening bring kruiwaens sand tot teenaan ons voordeur gewaai. Lyk soos ‘n miserabele Namib-toneel. Pure hoenderverdriet.

‘n Lastige warm, rooi kol in die wond-area bo my naeltjie lyk ook nie soos dit behoort nie. Ons bel die dokter. Hy sệ: “Kom”. Gelukkig raak die sterk antibiotika vinnig van die ontsteking ontslae.

Wat nie so vinnig gaan opklaar nie, is die lek in die badkamer wat ons op pad na die dokter ontdek. Ongelukkig is die plas nie beperk tot die teëlvloer nie. Met ons nog salig onbewus van die dreigende moles, het die stroompie water al sterk begin deursyfer na aangrensende vertrekke waar die gelamineerde hout op die vloere stadig maar seker begin skewebek trek.

Wind, sand, wond, water op een vreeslike dag – wat ‘n gruwelstorie!