Jy blaai in die argief vir melkbosstrand.

November 2, 2021 in Uncategorized

HERRIE OOR BEELDE (2)

Tienie Pritchard (“’KAAL BEELDE SOEK WEER ‘N TUISTE, 31/10) was nie die eerste beeldhouer wat in die Jakarandastad die wind van voor gekry het nie. Daardie eer behoort aan ‘n voorganger op die toneel, Moses Kottler, in 1957. Ook in die geval was ‘n staatsgebou betrokke. Daar is ook ander sinonieme.

In daardie jaar, ná voltooiing van die Bevolkingsregister se gebou op die hoek van Van der Walt- en Schoemanstraat (destydse name), is ‘n reliëfwerk van Kottler teen die westelike muur aangebring. Die eerste reaksie was positief. Die publiek was nogal ingenome dat ‘n kunswerk op ‘n stugge staatsgebou pryk.

Die koerant Die Transvaler het so ’n verbeeldingryke stap nuuswaardig geag. ‘n Fotograaf, Corrie Roux, is gestuur om ‘n foto te neem. Hy het gewag dat die son net reg vale n die sluiter gedruk. Dit was ‘n voortreflike foto.Een komplikasie: Die reliëf, bestaande uit ‘n halfnaakte man en vrou met die man se hand half stouterig op haar hand wat op haar bors rus en met albei se lendene net met ‘n drapeersel bedek, was baie eksplisieter op die foto sigbaar as vir die voetganger op straat, aangesien die kleur van die reliëf teen die gebou met sy agtergrond saamgesmelt het,

Roux se foto is as voorbladfoto oorweeg, maar die nuusredakteur indertyd, Fritz Potgieter, het gemeen dit sou verstandiger wees om dit op ‘n binneblad te plaas. Wat die koerant betref, was dit fluit-sluit die storie is uit.

Sowat ‘n week later kom die eerste aanmaning van ‘n moontlike agteropskop. ‘n Leser van die Wes-Rand betuig sy onbehae oor so ‘n onbetaamlike beeld teen ‘n staatsgebou. Nog briewe volg. Later nog. Dit word ‘n dik stroom.Soos dit in die koerantwệreld gaan, begin ander koerante ook aan die storie krap. Nog foto’s word geplaas en onderhoude gevoer. Kerkinstansies tree toe tot die toe al taamlike vurige gesprek. Afvaardigings word na die minister van openbare werke, sen. Jan de Klerk – vader van FW de Klerk – gestuur.

Sen De Klerk kondig toe aan dat die kabinet die saak sal oorweeg en dat hy daarna ‘n verklaring sal uitreik. Die Transvaler se redakteur besluit in daardie stadium om die briefwisseling te sluit. Die ander koerante het nie die voorbeeld gevolg nie. Die druk het dag vir dag in momentum toegeneem.

Uiteindelik het De Klerk aangekondig: die beeld moet af. Te midde van groot openbare belangstelling is ‘n hyskraan gestuur om die bron van aanstoot te verwyder. Maande, indien nie jare nie, is dit iewers in ‘n donker hoek weggesteek. Later het dit onverwags sy verskyning gemaak aan ‘n muur in die binneplein van die William Humphreys-kunsmuseum in die Diamantstad, Kimberley.

Kunsliefhebbers was dankbaar dat die beeld ‘n wreder lot gespaar is. Party, ook doodgewone nuuskieriges, het tussen Pretoria en Kaapstad spesiaal Kimberley langs gery om die beeld te besigtig.

VURIG EN PLESIERIG

September 24, 2021 in Uncategorized

Met die sanger Gé Korsten, ‘n boorling van Rotterdam, se vurigheid as Afrikaner het niks geskort nie. Hy was aan ‘n Engelse skool, maar sy hart was so anti-Brits dat hy uit die bioskoop gestap het as God Save The King speel. Smiddae is hy Die Voortrekkers toe by ‘n Afrikaanse skool. Hy het selfs spanleier geword.
Die grootste Suid-Afrikaner vir hom was dr. H.F. Verwoerd – “’n eerlike, onberispelike siener”. Dit is hoegenaamd nie omdat hulle albei van Nederland af gekom het nie, het Gé in ‘n onderhoud vir my rubriek Onder Vier Oë in Beeld nadruklik verklaar, sommer seergemaak dat ek oor so ‘n ernstige saak ‘n grappie kon waag.
Toe deel hy ‘n geheimpie: dat hy selfs lid van die Afrikaner-Broederbond was. En voeg hy skalks by: Hoewel sommige Broers sy rooi baadjie en wit broek van onberispelike snit as ietwat onortodokse kleredrag ervaar het, was hulle gou oortuig ‘n goeie Afrikanerhart klop in daardie wit broek.
Dat Gé ‘n voorste Afrikaanse sanger van ligte liedjies geword het, het, volgens hom, “eintlik net gebeur”. Dit was in 1966 rond (toevallig die jaar toe Verwoerd vermoor is). Gé was ‘n suksesvolle sakeman wat deeltyds in opera gesing het. Sy skoonvader, die bekende ds. A.J.V. Burger, stel toe voor dat hy ‘n plaat ten bate van die Abraham Kriel-kinderhuis opneem. In die Oos-kerk in Pretoria het hy en die Cantare-sangers vinnig-vinnig ‘n plaat van die bekendste Psalms, Gesange en Halleluja-liedere gemaak.
Albie Venter van Brigadiers het dit opgeneem, en sê toe vir Gé: “Wil jy nie vir ons ‘n plaat maak nie?” Só gesê, só gedaan. Hulle het vir Dean Herrick voor die orrel gekry en Gé het gewilde ou ballades soos Granada en Because gesing.
Toe kom die FAK en sê vir Brigadiers: “Kry vir Gé Korsten om ‘n plaat te maak waarop hy Afrikaanse liedjies sing, maar met ‘n goeie orkes sodat ons kan wegkom van die konsertina en dinge.” Op die plaat was liedjies soos My Hart Verlang na die Boland, My Vader is ‘n Musikant… en Erika.
Van dié liedjies het Fanus Rautenbach baie gehou. Keer op keer het hy dit oor sy destydse oggendprogram, Flink uit die vere, gespeel, en toe Gé hom weer kom kry, sit hy met ‘n treffer.
Die volgende stap was Afrikaanse rolprente. Kavaliers het besluit om van Gé se liedjies by die rolprent Krugermiljoene in te sluit. Hulle vra hom later om sommer self die rol te kom speel. “Ons is toe Blyderivier toe en ek is op ‘n perd en op ‘n ossewa en ek sing.”
Sy eie gunsteling was Liefling. Dit het mooi woorde wat deur Heine Toerien geskryf is, ‘n goeie wysie en groot trefkrag, aldus Gé. Op ‘n dag laai sy vrou ‘n ryloper op en toe hy agterkom wie sy is, sê hy vir haar: “Tannie weet, daardie woorde van Liefling is darem so mooi. Dis net soos die lewe is vir mense wat verlief is.”
Ja, was Gé se kommentaar, dit wys dat die woorde ‘n boodskap het vir elkeen wat ‘n bietjie liefdesprobleme het – en sulke probleme het elke mens maar die een of ander tyd.
Gé het ook sukkeldae geken toe hy as rou sanger soms in moedelose trane uitgebars het wanneer hy die hoë note nie kon bykom nie. Een so ‘n keer was toe Anton Hartman hom gevra het om die opera La Boheme in die laat jare 50 in Afrikaans te sing. Hy het traag ingewillig, want, hy het nog nie “reg vir die ding” gevoel nie.
Hulle het begin oefen en dit het nie goed gegaan nie. Gé kon kwalik ‘n G haal, wat nog te sê van ‘n C. Op ‘n dag kon hy die trane nie keer nie. Hy het die boek neergesmyt en uitgeroep dat hy dit nooit sal kan doen nie. Nellie du Toit, vir wie hy groot bewondering gehad het, het teenoor hom gesing. Sy het haar dadelik oor hom ontferm en ‘n bietjie raad gegee. En net daar het dinge begin verander.
Dié La Boheme sou hy nooit vergeet nie; ook nie die brief wat op die openingsaand in sy kleedkamer op hom gewag het nie. “Gé Korsten, who the hell do you think you are that you can sing La Boheme?” wou die skrywer weet. “You can never sing La Boheme in your life. You shouldn’t even go on stage tonight.”
In sy operaloopbaan was ‘n “paar moeilike insidente”. ‘n Keer het hy saam met ‘n besonder vurige Carmen uit Frankryk opgetree. Tydens die Blommelied, net voor die swaardgeveg, ontstaan ‘n woordewisseling, gryp Carmen die swaard en smyt dit neer. Dié nooi het dit egter geslinger dat dit doer van die verhoog af trek.
Toe die hoofoffisier, Carmen se kêrel, op die toneel kom en baklei soek, is Gé sonder sy swaard. Al wat hy kon doen, is om die ou stewig aan sy bors te vat en in sy oor te fluister: “My swaard is weg – veg!” Met dié smyt Gé die offisier se swaard ook weg en daar pak die twee mekaar kaalvuis!
Met die openingsaand van Fledermaus in die Aula in Pretoria het Gé se opgeplakte snor hom begin hinder. Nie lank nie of dit hang so skuinsweg oor sy mond. Hy pluk hom toe maar af en gooi hom weg.
Op een plek moet sy karakter ‘n bietjie oefeninge doen voordat hy tronk toe gaan. Dan kom Rosalinda in en vra: Wat maak jy nou? Toe Rosalinda (in dié geval Mimi Coertse) met hom begin praat, kom hy agter sy kyk so na die middel van sy lyf en wys-wys.
Sy hele rits was gapend oop; die wit van sy hemp was al wat hy gesien het. Dit was ‘n bietjie ongemaklik so op ‘n openingsaand, volgens Gé, maar gelukkig is dit ‘n grapperige opera. Hy het doodluiters sy rug gedraai en gewys hy maak nou toe. Toe bars die hele saal uit van die lag.

 Gé Korsten is op 29/9/1999 aan ‘n skietwond oorlede. Die vuurwapen was in sy eie hand.