Jy blaai in die argief vir melkbos.

PLUIMPIE VIR ‘N POLISIEVRIEND

Julie 14, 2021 in Uncategorized

Jul 14, 2021

Kritiek reën op die polisie oor die swak vertoning rondom die die massahisterie in KwaZulu-Natal en Gauteng. Ek wil graag ‘n positiewe polisiestorie uit die 80’s in herinnering roep. Dit gaan  oor ons seun Johan wat op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer is – waarskynlik die jongste ter wêreld.

Terwyl hy in Bloemfontein gestudeer het, het hy vir sakgeld ná sy klasse by ‘n drankwinkel gewerk. Ná  sy skof in die drankwinkel was dit ‘n vinnige aandete. Daarna het hy en sy staffie, Novo, gaan draf.

Een aand het hy nie op die gewone tyd teruggekeer nie. ‘n Kragonderbreking het die noordelike stadsgebiede in ‘n pikswarte duisternis gehul en my vrou, Tokkie het skielik ‘n nare voorgevoel gekry dat iets fout is. Sy bel toe die Bayswater-polisie en meld aan dat haar kind weg is.  “Hoe lank al, mevrou?” “n Halfuur.” “Hoe oud is hy?” “Negentien”. Die polisieman was stom verbaas.

Toe Tokkie verduidelik van diabetes en insulien en insulien-reaksies wat verlies aan bewussyn kan meebring, het die polisieman dadelik gesnap dat dit nie ‘n grappie is nie. Weet  sy plus-minus waar hy gewoonlik gaan draf, wou hy weet. Sy kon die presiese roete verstrek.

Die polisieman het onverwyld tot aksie oorgegaan. “Bly jy by jou telefoon, mevrou. Ons ry dadelik.”

‘n Ruk later lui ons telefoon. Dis die polisie. Johan is opgespoor waar hy op ‘n sypaadjie omgekap het. ‘n Motor se ligte het geval op die staffie wat ontsteld by sy basie op en af spring. Toe sien die insittendes die bewustelose seun daar lệ.

Novo is aggressief en wil niemand naby Johan toelaat nie. Maar moenie bekommerd wees nie. Die ambulans is ontbied en is op pad.

Tokkie is met ‘n vaart na die toneel, het die hond gekalmeer en Johan – wie se gesig sopnat was soos die hond hom gelek het – se kake oopgebeur. Hy is vinnig met glukose volgepomp om sy bloedsuikervlak reg te kry. .Redelik gou was die drama iets van die verlede.

Novo was sy geskenk toe Johan ‘n rukkie tevore op sy nuwe nuwe Novo-insulien geplaas is. Daardie aand het Novo sy hond hom gered soos Novo die insulien elke dag. Maar natuurlik was die polisie se begrip, snelheid van reaksie en  daadwerklike ingryping ewe onontbeerlik.

Dié dat iemand wat ‘n kind met die polisie wil bang maak, vinnig met Tokkie te doen kry.  Leer kinders om op die polisie te vertrou en hulle as vriende te sien, glo sy vas tot vandag toe.

  • Johan is in September 50 – ‘n volle 49 en ‘n half jaar daarvan op insulien.

WVK – VERLORE DOKUMENT

Julie 8, 2021 in Uncategorized

Oor Afrikaanse koerante se rol in die oorgangspolitiek van die jare 80 en 90 word vurige debatte steeds veral op sosiale media gevoer. Die onwilligheid van die Nasionale Pers om by die WVK (Waarheids-en-Versoeningskommissie) van Desmond Tutu kollektief te gaan boete doen oor die “sondes” van ons koerante in die ou bedeling bly by van die jonger garde ‘n teer punt.

Op die oomblik kry ‘n TV-program gestalte waarin die kwesssie weer sterk ter sprake kom. Gesprekke word onder andere gevoer met van leiersfigure van die 127 Jong Turke om teen die wense van Ton Vosloo, van myself, wat uitvoerende hoof: koerante was, en van die Naspers-direksie wel te gaan getuig.

Ek weet ek steek my nek uit en sal daaroor opnuut getrap kan word, maar die waarheid kan tog nie ontken word nie. Die 127 se optrede, was vir my, om dit sag te stel, ‘n teleurstelling. Destyds het ek dit beskou as idealisme wat op loop gesit het. Vandag het ek meer begrip daarvoor.

In ‘n persoonlike voorlegging aan die WVK slaan ek geheel ‘n ander koers in. Die Afrikaanse koerante se sware stryd om regverdigheid en ‘n demokratiese bestel aan regse Afrikaner-gemeenskappe te “verkoop”, was my perspektief.
My standpunte daaroor was aanvanklik net vir Ton se oë bedoel terwyl gesprekke gevoer is oor hoe Naspers die WVK-turksvy moet hanteer. Ton het die gedagte uitgespreek dat dit goedskiks as ‘n selfstandige voorlegging op sy eie bene kan staan. Ek het my nie twee keer laat nooi nie. Toe pos ek dit dadelik – voordat hy of die direksie dalk anders begin dink. My sienswyses was nogal omstrede maar ek hetself het baie sterk daaroor gevoel.

‘n Monitor-onderhoud hieroor met ‘n siedende Chris Louw van die SAUK staan my nog helder voor die gees. Volgens Louw het ek my oor die rol van Afrikaanse koerante uitermate aan “romantisering” besondig. Hy het my oor die eter so bevlieg dat in Rapport ‘n spotprentjie deur Lou Henning daaroor verskyn het. Dit hang tussen ander spotprente teen my studeerkamer. Dit is al voorheen hier gepubliseer. Maar hier is dit weer.

Hoekom ek daardie geskiedenis vandag weer oprakel? Nie omdat ek rusie soek nie. Op my oudag soek ek vrede. Sê dan maar om historiese redes. Daardie oorspronklike dokument wat ek op 25 Junie 1977 afgestuur het, was lank “iewers” , maar waar. Al waarop ek en andere kon steun, was die Sapaverslag wat op die internet beskikbaar is. Nou het kollega Tobie Wiese, een van die 127, my dokument in een van sy leggers raakgevat. Hoe dankbaar is ek nie!

Dit – en die Sapaverslag -verskyn op my webblad, www.hennievandeventer.co.za by die volgende skakel http://hennievandeventer.co.za/my-storie-by-wvk/ Gaan loer gerus as jy wil sien wat ‘n Afrikaanse redakteur van daardie era vir homself te sệ gehad het.

KRANIGE KOLLEGE-KAMPVUURSANGERS

Junie 30, 2021 in Uncategorized

n Klompie gryse Kollegemanne oefen die stembande in die bos. Van links is Piet Henning, Manie Steyn, Vos Grey, die uwe, Pierre le Roux en Cas Jacobs.

Wyle Piet Henning van Makhado/Louis Trichardt het ‘n indrukwekkende repertorium oneerbiedige rugby songs van St. John’s College in Johannesburg saamgebring na Tukkies se Kollegethuis toe waar ons in 1958 saam eerstejaars was. ‘n Lewenslange vriendskap is daar aangeknoop.

Van wyle Piet se rugby songs weerklink soms by my bosplek Tarlehoet as ‘n klompie Kollegemanne soos vanouds saamkuier. Net, nousedae gaan dit darem heelwat stigteliker! Omdat baie van die woorde in die vergetelheid geraak het, klink dit meermale soos ‘n minder harmonieuse neuriekoor.

Van die een van die liedjies het ek vanoggend op Facebook vertel n.a.v. Horatio Nelson se stoflike(?) oorskot wat in ‘n vaatjie gevul met brandewyn op ‘n lang skeepsreis bewaar is:  And when I die, and when I die, don’t bury me at all, don’t bury me at all, just pickle my bones, just pickle my bones, in alcohol, in alcohol. (Kyk: In ‘n vaatjie brandewyn)

‘n Gewilde Piet-lied, The Ball at Kerriemuir,  lui so: Four and twenty virgins came down from Inverness, and when the ball was over, there were four and twenty less… Oor daardie deel struikel die “kampvuursangers” soms.

My ervaring is egter dat hulle die akrobatiese doen en late van ene Mrs McGinty in dieselfde lied uitstekend onthou: Mrs McGinty, she was there; she kept us all in fits, by jumping off the mantle piece and bouncing off her t**s.

Nog ‘n lied met ‘n sterk vroulike dimensie handel oor die meisies van Rodean High, St. John’s se buurskool in Houghton, Johannesburg: We are the girls from Rodean High, we take pride in our virginity, we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.

Ons sing ook graag nog Way down in Arizona where the doggies shovel coal, a doggie shovels shovels up another doggie’s hole. ‘n Tweede strofe kan selfs (baie) verlangs op ‘n “bostema” aanspraak maak: Way down in Arizona where the birdies pick up grass, a birdie picks a feather from another birdie’s a**e.

Voëls maak ook hul buiging in die “koor” van die ietwat weemoedige Quarter Master Stores:  My eyes are dim, I cannot see, I haven’t brought my specs with me… …And now ladies and gentlemen, we come to the kee-kee bird … the ostrich … the ooh ah bird…  Dan word o.m. uitgewei met watter moeite elke soort haar eiers lê.

Laasgenoemde uiter na die verskriklike inspanning van die eierproduksie net “oee-aaa!”

Piet, my vriend, hoe mis ek jou nie as ek jou liedjies so in herinnering roep nie.

BEEN VOOR PAALTJIE, VINNIGE FANIE

Junie 28, 2021 in Uncategorized

In die 90’s is die beeld van Petrus Stephanus (Fanie) de Villiers deur koerante en die ander media so blink gepoets soos die Kookaburras of Dukes waarmee hy sy blitsballe afgestuur en kolwers geterroriseer het.

Veral vir Afrikaanse media was hy ‘n goue seun: die krulkop Afrikaner wat skielik in ‘n “spel vir Engelse” sy stempel met mening afdruk.   Vinnige Fanie is hy gedoop.  In hoeveel hoofopskrifte die naam Vinnige Fanie  in daardie dekade op sportblaaie geskitter het, sou ‘n interessante stukkie navorsing kon wees.

Soos Vinnige Fanie se reputasie as die suinigste blitsbouler  in toetskrieket en as hardnekkige stertkantkolwer deur hom op  die veld uitgekerf is, het  krieketjoernaliste dit in kolomme en kolomme in hul koerante help doen.  Die gesindheid  tussen speler en sportskrywers was hartlik.  Hulle het mekaar se geselskap opgesoek. ‘n Band van wedersyde vertroue was die kenmerk van ‘n konstruktiewe verhouding.

Toe, heel aan die einde van sy skitterloopbaan, skryf die Sunday Times se Colin Bryden, ‘n berig wat nie lekker in Vinnige Fanie se klere gaan sit nie.  HY voel dat hy te na gekom is deur ‘n rasse-insident  op sy brood te smeer waaraan hy onskuldig is. Wat eintlik gebeur het, is dat ‘n toeskouer vir kolwerprins  Jacques Kallis iets lelik toegesnou het.

Daardie berig wat hom so ongelukkig gemaak het, is telkens daarna deur hom opgerakel.  Nou weer in ‘n TV-gesprek met Kwêla se Hannes van Wyk in De Villiers se asemrowende herehuis wat hy uit sy krieketverdienste kon laat bou as ‘n monument vir sy gedenkwaardige loopbaan.

Van Wyk en De Villiers gesels lekker oor laasgenoemde se krieketprestasies.  De Villiers vertel (weer) die storie hoe hy Alan Donald en André Nel uit hul begeerlike hotelkamer in Pakistan probeer verdryf het deur ‘n vis in die lugversorger weg te steek. Die reuk was liederlik.  Die twee het later op die stoep gaan slaap. Maar hul kamer prysgee? Aikona.

Alles gesellig en gemoedelik. Dan buk De Villiers vorentoe . Hy kry ‘n verbete trek op sy gesig.  Afgemete begin hy vertel van Bryden se berig.  Toe sommer ‘n veeghou na alle koerante: Die berig wys presies presies hoe boos hulle kan wees.

Ek het gister na die heruitsending van Kwêla gekyk omdat ek in die ander gesprek met Gysie Pienaar graag ‘n foto wou sien wat aan die begin op die skerm flits.  Dit is van Pienaar as onder-15-kannetjie by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein.  Sy afrigter, netjies ge-pak en ge-das is niemand anders nie as my oorlede swaer, die wellewende Fanie van Wyk.

Nietemin, ek geniet toe ook die De Villiers-gesprek: tot op daardie ongelukkge moment.   Dit steek my dwars in die krop. Kan ‘n mens werklk die hope lof wat jou oor tien jaar beskore was, so goedsmoeds vergeet  en net aan een dwarsklap  bly vasklou asof dit ‘n dekadelange verhouding met die pers identifiseer?

‘n Lewe by koerante het my sinies gemaak  vir mooiweersvriende wat die ene glimlagte en skouerkloppe is waneer  berigte in hul kraam val en tot hul voordeel  is maar vinnig-vinnig hul rug op ou bondgenote keer as die wind ‘n slag teen hulle waai.  Ongelukkig is dit ‘n gewoonte van meer bekendes as Petrus Stephanus (Fanie) de Villiers om koerante so te beoordeel: nie op grond van die positiewe 99.% tot hul voordeel nie maar op grond van die 1% negatiewe tot hul nadeel.  Sulke windskewe reaksies strek die betrokkenes nie tot eer nie en vertel gewoonlik meer van hulle as van die koerante wat onverdiend in die algemeen so met ‘n teerkwas bygekom word.

Iemand kan gerus hierdie stukkie vir Vinnige Fanie stuur.   Ek hoop dat hy so vinnig soos hy veroordeel het, sal besef hoe onredelik en onbillik so ‘n veralgemening was.  ‘n Mens verwag dat hy ewe vinnig verskoning sal aanbied daardie onskuldige krieketskrywers wat saam met hom die loopbaan help bou het wat aan soveel derduisende krieketliefhebbers soveel plesier verskaf het, en waarvan hy die vrugte nou pluk.Deel dit:

HIËNAS OM ‘N GEKWESTE BOK

Junie 20, 2021 in Uncategorized

In  ‘n onthutsende hoofstuk in sy e-boek, Kannie is (lankal) dood, lig  kollega Piet Theron, veteraan-joernalis van die Vrystaat, die sluier oor hoe sy seun, Pieta, ná  breinskade weens ‘n onverskillige operasie deur gewetenloses uitgebuit is. Watter skok vir sy eienaars toe hulle uit die mond van ‘n prostituut moet verneem dat ‘n “belegging in ‘n meubelfabriek” weens ‘n gekonkel in ‘n bordeel gestort is.

In ‘n skrynende hoofstuk met die veelseggende titel Hiënas om ‘n gekweste bok ontmasker Piet ‘n hele reeks mooiweersvriende en opportuniste se verbysterende wandade jeens die goed vertrouende Pieta.  Erge professionele argeloosheid en agtelosigheid kom aan die lig.

Kannie is (lankal) dood is Piet  se memoires van ‘n veelbewoë lewe. Veral drie hoofelemente kom sterk na vore: die beproewende tog met Pieta, ‘n harde plaaslewe in die Wes-Vrystaat wat die Theron-familie gestaal het – onder meer in ‘n nare potjie met builespes –  en sy kleurryke loopbaan as Volksblad-joernalis met top-stories op sy kerfstok.

‘n Hoofstuk Ongeluksvoëls, vertel van ‘n rits ongelukke, teenspoede en terugslae wat oorkom moes word. Die ergste dal waardeur hulle is, was ongetwyfeld die ontsettende lyding van Pieta nadat n doodgewone blindedermoperasie weens mediese onbeholpenheid skeefgeloop het. Pieta het ‘n ernstige epilepsielyer geword wat later n valhelm moes dra om hom teen kopbeserings te beskerm wanneer hy val. Tot veertien keer op ‘n dag het die stuiptrekkings hom platgetrek.

Hy het sy werk verloor, sy huwelik, sy kinders, mettertyd al hoe meer ook sy spraak en uiteindelik ook sy onafhanklikheid. Hy kon nie meer motor bestuur of in enige opsig die normale lewe van n man van sy jare lei nie. Pieta, die vader van twee, was skielik weer Piet en Petro se “groot baba” totdat hy op 38 oorlede is.

Die skuldige dokters moes ruim skadevergoeding betaal. Niks kon Pieta en sy ouers, Piet en Petro, egter vergoed vir die dekade van  hel wat daarna vir hulle aangebreek het nie. Om die verhaal met al sy kronkelweë te volg, kan nie anders as om die leser ‘n beklemming om die hart te gee maar ook met groot deernis en bewondering te vervul nie.

Piet se loopbaan by Die Volksblad het half terloops begin. Hy – die amper onwaarskynlike joernalis – het tot topposte gevorder en as assistent-redakteur afgetree.  Hy sonder as hoogtepunte uit: die Duiwelspiekramp tydens die Republiekfees in Mei 1971,  die ineenstorting van die woonstelgebou Tempest  in  Welkom in 1976, die terreuraanval op Sasol in 1980 en die sogenaamde Brugberaad op die Zambezi in 1975.

Piet was daar, op die toneel of intens betrokke in die hitte van die stryd.  Sy boeiende vertellings sal die drukkersink in die are van elke joernalis of oud-joernalis opnuut laat tintel.

HvD en Piet Theron, studentemaats, woonstelmaats en kollegas, op Melkbos se stoep.

In Kannie is (lankal) dood is ook verskeie juweeltjies en kamees, soos oor die ongewone blitsromanse met die spogatleet Petro du Plessis wat sy vrou geword het. Plek-plek in die boek lyk Piet soos ‘n bakleier; hy was klaarblyklik ook ‘n bobaas-vryer!

Bestel die e-boek by De Novo Boeke by die volgende skakel:

http://www.denovowebs.co.za/product/kannie-is-lankal-dood/  Dit kos R80.Deel dit:

TRETCHIKOFF – KONING VAN ADJEKTIEF

Junie 19, 2021 in Uncategorized

Vladimir Ttretchikoff, sogenaamde “Koning van kitsch”, was as kunstenaar geliefd by die publiek en ongereken by kunsresensente. Ek onthou hom ook as die koning van die byvoeglike naamwoord. Hy kon die adjektiewe inryg soos aan ‘n sosatiestokkie.

As iets nie “fantasties” of “geweldig” was nie, was dit “vreeslik”. “Fantasties” het ek tydens ‘n onderhoud vir my rubriek “Onder Vier Oë in Beeld in die jare 70 ‘n stuk of ‘n dosyn kere getel; toe word ek moeg van boekhou.

Hy was ook lief om met ‘n dubbelloop te skiet. Hou Afrikaanssprekendes besonder van sy werk, sou jy hom byvoorbeeld vra. “Geweldig,” sou Tretchi antwoord. “Dis fantasties, fantasties!”

Ek het hom oor sy gevoel jeens kunskritici gepols. Tretchi het sy arms teatraal in die lug gegooi. Toe sak hy terug in sy stoel en gryp sy kop vas. “Kunskritici? Wie de duiwel is die kunskritici? Krap aan die oppervlak en wat kry jy? ‘n Verydelde kunstenaar!”

Dit was so ongeveer sy geloofsbelydenis. Kritici het hom afgekraak as ‘n prul-kunstenaar, ‘n goeie verkoopman wat die massas met goedkoop sentimentaliteit verlei. Maar hy het geglo: “Dit is nie my kuns wat hulle kritiseer nie, dit is my sukses.”

Met ‘n meewarige laggie. “Jy weet, toe ek nog gesukkel het, was die kritici tevrede met my werk. Toe ek begin geld maak, toe’s dit skielik nikswerd.”Nie dat dit eintlik saak gemaak het nie, as jy Tretchi kon glo. “Dit maak my nie seer nie en dit maak nie my sukses seer nie.” Die Chinese meisie – bekend as die Mona Lisa van kitsch – is “beroemder as Tretchikoff,” het hy gemaak verontwaardig bygevoeg. Dan het sy oë geskitter van trots.

Buiten die Chinese meisie was immergroen gunstelinge onder meer die Verlore orgidee, die Sterwende swaan, die Wenende roos, onthou u? Hulle is almal lank na sy dood nog springlewendig. Trouens, sedert die millenium begin die pryse eers klim! In Amerika, Kanada, Brittanje, Australië, die Verre Ooste … selfs Ciprus – die mense hou net nie op om te koop nie.

Die Chinese meisie dateer uit 1952 en het een van die bekendste kunsreproduksies van die twintigste eeu geword.[ Die skildery vertoon ‘n Chinese meisie met ‘n ongewone blougroen veltoon, wat die skildery die bynaam The Green Lady gegee het. Die oorspronklike is op 20 Maart 2013 by Bonhams-veilinghuis in Londen vir byna $3.5 miljoen (Amerikaanse dollar, nie rand nie) verkoop. Dit is deur die Britse juwelier Laurence Graff opgeraap.

Selfs in Suid-Afrika het versamelaars groot geld vir Tretchi-werke uitgehaal. Op 27 Mei 2008 het sy Vrugte van Bali op ‘n veiling in Kaapstad ‘n (destydse) rekordprys (vir hom) van R3,74 miljoen behaal. Tretchi het daarmee o.m. stof in Irma Stern se oë geskop. Haar Kaapstad se hawe (vooraf die groot trekpleister) is vir (net!) R2,2 miljoen van die hand gesit.

Vyf ander werke van Tretchi het saam R1,452 miljoen opgelewer. Beleggers in kunswerk was geskok en die afslaer het die prys vir Vrugte van Bali as “ongelooflik” bestempel.

Buiten die kritici was daar nog iets wat Tretchi gekwel het: die persepsie dat hy – hy was toe “iets in die sestig” – jong meisietjies ateljee toe jaag en hulle so vinnig moontlik uit hul klere kry om hulle te skilder. “Soos ‘n seksmaniak,” het Tretchi gekla.

Die waarheid, volgens hom, was dat hy in 20, 25 jaar net vier halfnaakte meisies geskilder het. Die boodskap van een van daardie skilderye is: “Jy mag nie egbreek nie.” Die meisie – ‘n Afrikaanse nooi, Brenda, met ‘n “pragtige figuur” – wek die indruk dat sy aan die verbode vrug lê en dink, of dit dalk pas klaar gepluk het, aldus Tretchi.Soos die man geskilder het, het hy gepraat. Soos hy gepraat en geskilder het, so was die man.

Flambojant en emosioneel. Geen ander woorde kan hom beter beskryf nie. Vladimir Tretchikoff is op 26/8/2006 oorlede

TOE SKUD JAMIE SOOS HY LAG

Junie 5, 2021 in Uncategorized

Elkeen uit die Jamie Uys-era het ‘n gunstelingtoneeltjie uit ‘n Jamie-rolprent wat hom die lekkerste laat lag het. Vir party is dit iets uit sy eerste, Daar doer in die Bosveld; vir party uit sy laaste en grootste sukses, ook internasionaal, The gods must be crazy.

Wat het die veteraan-rolprentmaker – wat einde Mei 100 jaar oud sou geword het – se eie lagspiere die meeste geprikkel? Die vraag het ek hom in ‘n onderhoud vir my “Onder vier oë”-rubriek in Beeld gestel. Dit het hom geen oomblik laat twyfel nie.

Dit was in Funny people: die toneel van ‘n man se gespartel om ‘n klomp glibberige ballonne te verpak. Die papier was te klein en die tou te kort. Maar onderkry was min. Met toewyding en konsentrasie het hy deurgedruk totdat die spulletjie netjies toegewikkel was.

Net toe verskyn Jamie se skoonseun met ‘n stempel. So ver soos hy stempel, hoor jy net ballonne bars. Die pakker het hierdie onverwagte verwikkeling onbegrypend betrag. Maar toe ‘n balhorige ballon uit die pakkie peul, was hy rats by om dit op te raap en terug te dwing – net om ook aan flarde gestempel te word.

In sy versteekte kas het Jamie so gelag dat die kamera geruk het. Die pakker het nooit ‘n woord gesê nie, maar net die manier waarop sy oë dan op, dan af geflits het, het sy eie storie vertel.Jamie, ‘n oud-onderwyser, was drie jaar lank boer.

In 1950 kry hy die bevlieging om ‘n rolprent te maak: Daar doer in die Bosveld. Hy het gedink dit sal sommer kinderspeletjies wees – binne twee weke is alles kant en klaar. Maar toe duur dit twee jaar. Hy het alles wat hy besit, daarin gestort. “Toe moes ek maar aangaan.”The gods must be crazy het die miljoene laat inrol. Beautiful people het ook sy merk gemaak. Maar, snaaks genoeg, het Funny people wat eintlik net gemaak was vir die plaaslike mark, in sommige lande nog beter as Beautiful people geloop. Jamie was verras. Hy het nie gedink dit sal in die buiteland slaag nie omdat buitelanders candid camera al lank op televisie het.

Sy lekkerste rol was in Lord Oom Piet. Miskien was dit veral omdat hy ‘n baard gedra het; so het hy ‘n lang grimeringsproses elke oggend vrygespring. ‘n Ander lekker rol was dié van die Rus in All the way to Paris, die internasionale variasie van die gewilde Hans en die Rooinek.‘n Suid-Afrikaanse Rus, George Korelin, moes hand bysit om Jamie die regte aksent te leer. Dit was darem nie te moeilik nie. “’n Boer se aksent en ‘n Rus se aksent wanneer hulle Engels praat, verskil nie so baie nie.”

Sou hy ‘n Suid-Afrikaanse prent van iemand anders graag gemaak het? Ja, Emil Nofal se Wild season met Gert van den Bergh. Dit was ‘n lekker prent, die hele stemming, die hele aanslag.

Sy swakste prent was Geld Soos Bossies, volgens Jamie. Hy het pas sy eie maatskappy gestig en geld was skaars. Daarom was dit so ‘n “haastige prentjie”. Die eerste twintig minute was baie bevredigend, maar daarna “kon jy sien dit is afgerammel”.

 Jamie Uys is op 29/1/1996 oorlede.Deel dit:

‘N MILJOENệR IN BLINKERTJIES

Mei 20, 2021 in Uncategorized

Boswell, Pagel, Wilkie – wie die sirkus in die laaste helfte van die vorige eeu geken het, het Francesco, die witgesig-nar geken. Amper vyf dekades lank het hy geslag na geslag in die Groot Tent met sy manewales laat skater.

Francesco het in my hart gekruip in Augustus 1978 toe ons ure onder vier oë vir die rubriek Onder Vier Oë in die dagblad Beeld gesels het. Gestroop van sy wit poeier-masker en peperduur Paryse kostuums, was Gilyan Francesco ‘n fyn mens-mens, het ek ontdek.Francesco het ‘n tweede keer in my hart gekruip toe hy my 20 jaar later, einde 1997, uit die bloute in die Kaap bel. Hy sien in die koerant dat ek gaan aftree. Waarom? “Jy is dan nog so jonk.” Weer het die mens agter die narremasker my verras.

Dié Johannesburgse pruikmaker, skilder en filosoof was ‘n groot geselser met hande wat nooit tot rus kom nie – soos blare wat grond toe fladder, het ‘n resensent hulle beskryf. Ons onderhoud was ‘n fees.Francesco was Suid-Afrika se enigste witgesig-nar: “die aristokraat van die sirkus; die heer van die narre; die man wat die antwoorde ken en die praatwerk doen”. In die wêreld was in daardie stadium net vyf ware narre. Van die vyf was hy die enigste akteur. Om ‘n witgesig te word, moes hy kursusse volg in ballet, drama, perdry en musiekwaardering.

Alles het een aand op Colenso begin toe die legendariese Madame Pagel vir hom sê: “Jy gaan ‘n witgesig word. Gaan maak vir jou ‘n kostuum.”Hy het gehoorsaam – die kostuum en die naaimasjientjie waarop hy dit gemaak is, is later in ‘n spesiale Francescokamer in NALN (Nasionale Letterkundige Museum) in Bloemfontein uitgestal – maar later het hy in verset gekom en die kostuum in haar woonwa geslinger. “Ek wil nie ‘n witgesig wees nie: ek haat dit,” het hy weerbarstig uitgeroep. Sy het net gelag en hy het haar hoor sê: “Hy sal regkom”. Sy het gelyk gehad. Hy het … en hy was nooit spyt nie.

Ten tye van ons onderhoud het Francesco 52 kostuums besit, almal “volledige kunswerke” met blinkers en pêrels, en gemaak deur die beroemde Madame Viccairre in Parys, die Dior van die sirkuswêreld. Elkeen het daardie tyd sowat R1 000 gekos, wat Francesco met ‘n vonkeling laat opmerk het: “Ek is ‘n miljoenêr … in blinkertjies!”

Die Francesco’s kom van Italië. Sy ouers – akrobate en sweefstof-artieste – en sy grootouers was ook sirkusmense. Hyself is na ‘n leeftyd by die sirkus weg, omdat hy “moeg geword het om net as hanswors beskou te word”.Hy was ook gesteurd dat sirkusbase enigiemand met ‘n geverfde gesig in die ring stuur om die mense te laat lag. Hy wou “die mooi tradisie van die nar” beskerm. In sy sierlike kostuum, en agter sy verf, wou Francesco hê dat die nar, buiten lawwe grapjas, ook ‘n realistiese karakter moet wees – iemand wat met die wisselvallighede van die lewe worstel, wat gedurig val, maar telkens weer opstaan om verder te stry. Hy het besef hy wil mense ook iets gee om oor na te dink.

Eers toe hy ‘n eie groep op die been gebring het, het sy nar-wees vir hom “werklik sin en betekenis gekry”. Die groep het oral lof ingeoes. Hy is, dalk die eerste keer, as volwaardige arties in eie reg erken en waardeer – ‘n nar in die klassieke sin van die woord. Daarna het hy ‘n narklub met 75 000 lede vir kinders begin. Een goeie daad per dag was die voorwaarde vir lidmaatskap. “Ek het ‘n sterk geloof, ek glo ek is God se nar en dat as jy God agter jou het, jy nie verkeerd kan gaan nie. Dit is wat ek my kinders leer.”

Hy wou graag as ‘n “leermeester-filosoof” brûe tussen rasse help bou – ‘n ideaal wat grootliks onverwesenlik gebly het omdat die ouderdom hom ingehaal het.

Sy grootste skrik in die sirkus het Francesco vroeg in sy loopbaan gehad. Die leeus se vertoning was pas klaar en die narre moes oudergewoonte ring toe om die publiek se aandag van die gewerskaf met die tralies af te trek. Francesco was net binne toe hy bemerk die tonnel is nie toe nie, en daar kom leeu se kind. Met sy yslike stewels het hy die tralies gestorm en – tot groot vermaak van die gehoor – vergeefs probeer om uit te klouter. Die leeu het hom net ‘n kyk gegee en weggedraf.“

Hy’t seker gedink: ‘Jou eenvoudige ou gek’”, het Francesco gelag.

Vir die dwerg Tickey het hy ‘n sagte plekkie gehad. “Hy is my held. As hy ’n normale man was, sou hy sonder twyfel ons heel grootste akteur gewees het.”ÊÊIn die sewentigs het Francesco ‘n aanloklike aanbod uit Australië ontvang, maar “hene mens, ek is ‘n Suid-Afrikaner. ‘n Trotse een. As ek moet padgee, wie bly oor? Dis net ek en Tickey.”

Nou is Francesco en Tickey albei intussen weg. Ja, wie bly oor?

 Gilyan Francesco is op 15/7/2001 oorlede

SONORE STEM EN HONENDE HUMOR

Mei 19, 2021 in Uncategorized

Soos vele ander egpare was John en Tini Vorster in geaardheid glad nie karperde nie. Tini (oor wie ek ‘n paar dae gelede ‘n blog geplaas het) had die sagte hart van ‘n maatskaplike werkster. John was die mededingende regsgeleerde, altyd oorgehaal om ‘n opponent kliphard aan te vat. Die begaafdse redenaar was geseënd met ‘n ingebore spitsvondigheid wat vernietigend kon wees.

As John Vorster die politikus met die sonore stem en vlymskerpe kwinkslae eers met sy een voet op sy groen leerbank in die volksraad gaan staan het en die opposisie met sy honende humor begin opkeil, was van sy kant van die raad galmende lagbuie van genot.

Ek was die aand in die Bloemfonteinse stadsaal toe die premier onder dawerende toejuiging aankondig Suid-Afrika sal nie die gekleurde Basil D’Oliveira as lid van ‘n MCC-krieketspan aanvaar nie. Tot vandag glo ek hy kon met presies die teenoorgestelde standpunt dieselfde toejuiging uitgelok het. Hy het oor die statuur beskik om mense om die pinkie te draai en die redenaarskuns om hulle in enige rigting mee te voer. Dalk het hy nie sy mag in daardie opsig nie ten volle besef nie.

Die gedugte Vorster het my vroeg in my loopbaan as verslaggewer by Die Volksblad laat stamel. Dit was by Philpstown se eeufees of iets waar hy – toe nog minister van justisie – die spreker was. Ek wou asseblief ‘n afskrif van sy toespraak hê.

Hy het my met onbehae deur ruie wenkbroue betrag. “Vriend,” het hy afgemete, sonder ‘n sweem van ‘n glimlag geantwoord: “As ek afskrifte van toesprake begin saamdra, daardie dag tree ek uit die politiek.” Ek het gou geleer ‘n John Vorster-toespraak bestaan uit ‘n paar kriptiese notas agter op ‘n pakkie Rembrandt ongekurk 30.

Kort nadat hy HF Verwoerd in 1966 opgevolg het, het hy Koffiefontein besoek. Dit het ‘n draai ingesluit by die Interneringskamp waar hy in die Tweede Wereldoorlog agter doringdraad was. Ek sou nie weer om ‘n afskrif van ‘n toespraak aanklop nie!

Die besoek aan die Interneringskamp het wel vir een van my gunstelingfoto’s uit my vroeë loopbaan gesorg. Daardie skraal swartkopmannetjie met die dikraambril en die notaboek links van mnr. Vorster, dis ek!

Mettertyd het ek in die jare 70 by die nuwe dagblad Beeld kennis gemaak met die nogal warm stoel van die nagredakteur – die man wat die volgende dag alles moet kan verduidelik. Een van die aande wat ek nie lig sal vergeet nie was nadat die premier op ‘n jagtog in die private Sabie-Sand-reservaat ‘n leeu geskiet het.

Die aand nadat die storie (plus kleurfoto) op die voorblad verskyn het, het die uwe diens gedoen. Die eerste uitgawe was afgehandel. Ek het net behaaglik teruggeleun. Skielik lui die telefoon. Die fors stem kondig afgemete aan hy wil met die redakteur praat. “Goeienaand, mnr. Vorster – praat maar, ek is die nagredakteur.”

Verslaggewers wat ooggetuies was, het later vertel ek het ligrooi geword, en amper versteend op aandag geruk. Die premier was woedend. In die gewraakte onderskrif het gestaan Vorster het die leeu by Skukuza platgetrek, dus in die nasionale Krugerwildtuin, wat nie die geval was nie. Na verduidelikings en verskonings wou hy nie juis luister nie. Wat, wou hy weet, moet die wêreld van Suid-Afrika dink as die pers sy premiers sulke onbesonne dinge laat aanvang!

Impertinente persfotograwe is ook deur die leier met die stugge bloedhondgesig laat bontstaan. Pogings om hom vir die kamera te laat glimlag, het vir twee wat ek ken, glad nie voorspoedig verloop nie. “Maar ek glimlag dan klaar,” het hy een getroef. “As jy tande wil sien, moet jy Jimmy Carter gaan afneem,” het hy nommer twee kortgevat.

‘n Keer dat hy wel breed vir ‘n fotograaf geglimlag het was op ‘n foto op Huisgenoot se voorblad van hom in sy baaikostuum saam met sy kleinkinders op sy geliefde vakansieplek Oubos. “Oupa Nam-Nam” – so is hy by die foto genoem – was die toonbeeld van ‘n liefdevolle oupa.

John Vorster se latere presidentskap was kortstondig en misplaas – ‘n kunsmatige manier om sy politieke loopbaan te probeer verleng nadat hy kort tevore deur sy kollegas versoek is om weens swak gesondheid die tuig as premier neer te lệ. Al wat dit hom in die sak gebring het, is dat hy gedwing is om in die openbaar die verantwoordelikheid op hom te neem vir die “katnes” van die Inligtingskandaal wat deur regter Rudolph Erasmus finaal oopgekrap is. Dit was treurig dat die formidabele man se loopbaan so op ‘n laagtepunt moes eindig.

22 KAALBAS REDAKTEURS

April 27, 2021 in Uncategorized

In loshande die rofste pers-uitstappie waarvan ek kennis dra, het ‘n 20-tal redakteurs en assistent-redakteurs letterlik kaal uitgekom.

Dit was ‘n besoek per Dakota aan die Unitaleier Jonas Savimbi by sy hoofkwartier, Jamba, diep in die Afrikabos in die 80’s. Die spannetjie het in ‘n tropiese storm papnat gereën. Ook hul koffers was deurweek – niks was droog nie. Bedremmeld, stroop hulle hul nat klere, en daar staan hulle toe in die Dakota terug Johannesburg toe soos natgereënde hoenders: poedelkaal, bibberend en blou van die koue. Ook uitgeput en ergerlik. .

Alles begin by ‘n besoek aan die kleurryke Savimbi deur Tertius Myburgh, redakteur van die Sunday Times (foto).  Savimbi vra in ‘n stadium: “Hoekom bring jy nie ’n volgende keer jou mede-redakteurs saam nie?”

So gesê, so gemaak.  Tertius begin toe rondvra oor ‘n huurvliegtuig en ‘n vlieënier wat sy pad Jamba toe sal kan vind. Op Wonderboom, Pretoria, loop hy ‘n ou Dakota raak wat reg lyk vir die safari.  Die vlieënier wys  die duime op; ja-nee, dis reg so.

Myburgh verneem na die koste en werk uit hoeveel dit per kop sal beloop as hy ‘n span van so 20 kan versamel. Daarna stuur hy telekse aan al die koerante in die land, Afrikaanse en Engels. Hy kry ‘n geesdriftige respons.  Enkeles wil weet hoe veilig dit is. Dink daaraan as ‘n ietwat rudimentêre Mala Mala, kom die antwoord. Tops, dan’s ons in.

Vroegoggend is die klomp op Wondeboom, uitgevat in hul khaki-bosdrag, oorgehaal vir die groot avontuur.  In die Dakota met sy parkbankies teen die sye is twee trommels vol bier op die ys en genoeg whiskey. Vyf uur lank dreun die Dakota se motore  egalig oor die Afrikakontinent met sy vrag persmense.  Onder hulle heers lughartigheid en afwagting.

Hulle word ontmoet deur Unitasoldate en word agterop twee Tsjeggiese vragmotors geboender vir die hobbelrige reis van nege uur oor primitiewe paaie Jamba toe. Die whiskey hou nog en die gees is ongedemp. Avontuur is in die lug.

‘n Dag en ‘n half kuier hulle ‘n hond uit ‘n bos saam met Savimbi.  Ná ‘n laaste aandete saam met die gulle gasheer val hulle om tienuur die aand in die pad terug.  Behoort dus  ligdag die landingstrook te haal.  Toe drie probleme: i. die whisky is op; ii. Die Tsjegge weet skynbaar nie van skokbrekers nie, en iii. ‘n magtige Tropiese storm bars los.  Dit giet. Ure lank ploeg, swaai en bokspring die gehawende voertuie sans skokbrekers  deur die nag voort terwyl die manne bibberend onder bokseile skuiling soek .   Rudimentêre Mala Mala se voet, brom hulle in ‘n koor en werp beskuldigende blikke in Myburgh se rigting.

Ligdag bereik hulle die Dakota. Dankie tog, sug die manne. Nou kan ons droë klere aantrek. Helaas. Toe hulle hul koffers optel, stroom die water uit elke skrefie. Niks – maar niks – binne het droog gebly nie.

Hulle bestyg die Dakota, nat en koud. Die motore het skaars begin brom,  toe’s hulle soos een man uit hul nat klere: 20 redakteurs op ‘n ry sonder ‘n draad aan hul lywe.  Die vliegtuig binne lyk soos ‘n wasgoeddraad met al die nat bosmonderings wat druppend aan die sye hang.

Die manne is hoendervel en dik die duiwel in. Myburgh moet net bontstaan. Alles is sy skuld. Hy gaan vra later die vlieënier of daar nie ‘n verwarmer is nie.  Dié beduie na ‘n handvatsel agter hom . Dis of vrek warm of yskoud, waarsku hy. Werk dit maar self uit. Die hele vyf uur in die lug op pad terug is Myburgh heen-en-weer. Hy sit dit op warm todat hy die sweet sien pêrel. Dan sit hy dit weer op koud.

Die uitgemergelde groepie was nog nooit blyer om op Suid-Afrikaanse bodem neer te stryk nie.

Ek was gelukkig nie  op die uitstappie nie. Seker maar ‘n “premonisie” gehad, soos my ouma Elsie Visser altyd gesê het. Toe stuur ek Willie Kühn, ‘n assistent-redakteur.  Hy was nog bleek om die kiewe toe hy in Bloemfontein aankom ná die nagmerrie-safari.

* Willie wat voor my troue my woonstelmaat was, het later redakteur van Beeld en van Huisgenoot geword. Tertius is aangestel as ambassadeur in Washington maar is aan pankreaskanker oorlede voordat hy die pos kon opneem.  Hoe jammer. Hy sou ‘n voortreflike ambassadeur gewees het: slim, sjarmant en spitsvondig. (Dankie aan Joel Mervis. Het my geheue gaan verfris in sy boek “The Fourth Estate” , Jonathan Ball, 1989).