Jy blaai in die argief vir litnet.

VIR MY 80: LITNET-GESPREK

Desember 24, 2020 in Uncategorized

Koerant deur Hennie van Deventer: ’n lesersindruk en gesprek

Sarel VenterHennie van DeventerSkrywersonderhoude2020-12-22

Titel: Koerant
Outeur: Hennie van Deventer
Uitgewer: De Novo Boeke,  Langebaan

Nadat hy 20 boeke sedert sy aftrede as koerantman geskryf het – en seker miljoene woorde in sy lang loopbaan in die perswese – gee skryf en kommunikeer vir Hennie van Deventer sin in die lewe. Skryf bly vir hom ’n passie en daarsonder sal hy opgeskeep wees met homself, het hy aan Sarel Venter, ’n oudkollega, gesê.

Aan die vooraand van sy 80ste verjaardag het nog ’n boek van Van Deventer verskyn. Dit sy twintigste in die byna 24 jaar sedert sy aftrede as hoof: koerante van Naspers, en nadat hy onder meer 12 jaar redakteur van Volksblad was.

Sy boeke handel oor ’n verskeidenheid temas: van outobiografiese werk en koerantsake tot mense, humor, diere en reiservarings.

Om saam te val met sy naderende verjaardag (3 Januarie 2021) verskyn ’n gedenkboek, Koerant. Dit is ’n selfpublikasie met voorlopig ’n beperkte oplaag, versorg deur De Novo Boeke, wat dit ook as e-boek aanbied.

In die boek van 215 bladsye is die rou oor Volksbladse lot – die einde daarvan as gedrukte koerant – nog vars. Hy probeer nie sy hartseer verbloem nie. Dit bied die kapstok vir die boek. Die rou is ’n vlammetjie wat ’n groter vuur aansteek. In sowat 50 essays skryf hy nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekdotes is in hierdie terugblik opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor mense, kollegas, ander koerante en die koerantwese in die algemeen.

Hoekom woel hy nog so op 80?

Eenvoudig omdat “kommunikeer” die lewe vir my sin gee. Ek sit maklik agt uur per dag voor die rekenaar. Ek skryf twee blogs, deel gedagtes op Facebook, werk tussenin aan artikels en boeke. Wat anders? Daarsonder sal ek opgeskeep wees met myself. Ek pak nie veel ander dinge aan nie. My hande is dom. Maar my geprese “geesdrif” soek ’n uitlaatklep. Daardie uitlaatklep is skryf, debatteer, saamgesels, tred hou met die nuus, kommentaar lewer …

’n Fokus in hierdie boek?

My groot passie en eerste liefde: die koerant in al sy dinamiese fasette. Ook onvergeetlike karakters agter die skerms. En hope humor. Sonder ’n sin vir humor sal ’n koerantmens moeilik oorleef.

Geliefkoosde nuusonderwerpe?

Alles wat nuus is. Versot op politiek, op sport (buiten skopboks), op menslike stories (“human interest”), en op elke ander nuusonderwerp.

Sy hebbelikhede?

Ander moet liewer oordeel. Ek self is bewus van ’n kort lont. Altyd agterna jammer en verleë as ek ’n vloermoer gegooi het. Lief vir humor/kwinkslae/rympies.

Sy voorliefdes?

Ek het drie groot passies: koerant, die bos, reis (veral vaar). Ek borg die woord “koerant” eksklusief by die WAT. Minstens vyf van my boeke het koerantonderwerpe.

Die bos?

Ek is gek na Sabiepark, waar ek ’n boshuis net langs die Krugerwildtuin het. Verkies selfs – tot die verbystering van vriende – die hitte van die somerbos (Desember–Januarie) bo die “Kaapse Dokter”. My nuwe bosboek (Mei 2021) sal die sesde oor dié onderwerp wees.

Reis?

’n Interessante reis was in Rusland in Gorbatsjof se tyd. In my Niemanjaar by Harvard het ons Amerika platgery. In die laaste jare het ek verslaaf geraak aan vaar. Onvergeetlike vaarte was met die Queen Mary ll na Sydney en met die MSC Musica langs die ooskus van Afrika tot in Venesië. (Dis alles in my boek Na verre hawens. Jare gelede het ek ook ’n humorboek oor reis geskryf: Oos, Wes – Reismoles).

Hy het ’n vierde voorliefde: musiek, alle musiek, buiten kletsrym en Afrikaanse oornag-treffers (“bokkie,sokkie,frokkie”). Tien jaar lank het hy vir vriende vir Kersfees CD’s geskenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, ens. Hy en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.

Sy renonse?

Ek haat moderne brabbel-Afrikaans, en kastige “ondersoekende joernaliste” wat ’n “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” uit hul duime suig. Moet ook nie dink ek sal afval eet en simpel TV-sepies en -storietjies kyk nie.

Hoogtepunte in sy lewe?

Die redakteurskap van Volksblad op 39 in 1980. Dit het ’n ambisie verwesenlik wat ek van my eerste dag by die koerant gehad het.

  • Nieman Fellowship aan Harvard 1976/77 – ’n plek wat drup van tradisie en karakter.
  • Phil Weber-prys, Naspers se hoogste eerbewys, in 1997.
  • My bydrae om die beswaddering oop te vlek van ministers Magnus Malan, Barend du Plessis en John Wiley in Tafelberg se prulboek The lost boys of Bird Island met agt kritiese briewe in koerante.
  • Drukmedia SA se lewenslange Genootskap (Fellowship) – die eerste aan ’n Afrikaanse mediamens in 1998.

Teleurstellings

Die keldering van Volksblad as gedrukte koerant. (In Koerant brei ek uit op die tema). Nog ’n teleurstelling was die latere besluit om Volksblad se Kunsmark nek-om te draai.

Ten slotte ’n paar dinge waarvan hy die vader is

Pendoringprys vir Afrikaanse advertensies die hoog aangeskrewe Nat Nakasa-prys vir joernaliste (toegeken aan joernaliste wat oor COVID-19 geskryf het); die Matrieknooiwedstryd, die Kunsmark en die Bloemfonteiner van die Jaar-wedstryd.

Drukmedia SA het sy verering van Van Deventer so gemotiveer: “Hennie van Deventer holds a reputation of great stature both within the local industry and within the newspaper publishing fraternity across the globe. He is recognised for his wisdom, his diplomacy and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years.”

HERMAN EN HENNIE

Februarie 9, 2018 in Uncategorized

Laatoes is ʼn versameling indrukke en profielstukke deur die oudkoerantman Hennie van Deventer. In die voorwoord skryf die digter en teksredakteur Louis Esterhuizen: “Wat ons voor ons het, is in wese die lewenservaring van iemand wat nie net geskakeerd geleef het nie, maar ook dit wat die lewe in sy pad geplaas het – hetsy persone óf gebeure – met toepaslike begrip en waardering onder pen gebring het.”

Herman Lategan het die boek gelees en geniet, en vra ʼn paar kort vrae daaroor en oor ander sake van die dag.

So lui die inleiding tot ‘n uitvoerige gesprek tussen my en Herman Lategan op Litnet. Ek verwys o.m. na die rol van Afrikaanse koerante in die vorige bedeling en praat oor die toekoms van die media.

Die volledige onderhoud is by die volgende skakel:

’n Kanniedood-koerantman: ’n onderhoud met Hennie van Deventer

KANNIEDOOD VOORWAAR

November 30, 2017 in Uncategorized

Smaak my die oud-koerantman Hennie van Deventer ervaar die verlede en hede soms in een teug. Afgetree is hy wel reeds twee dekades, maar sy skryfstem weet nie van swyg nie. So skryf die joernalis AJ Opperman in ‘n resensie van Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman op Litnet.

Opperman skryf: In Laatoes spring hy tussen hede en verlede, gebeure en ontmoetings wat hy ervaar het, wat waarskynlik ’n indruk op enigiemand sou gemaak het. Dit klink eintlik so lekker, want hy kyk terug met genoegdoening – natuurlik kom groet heimwee en nostalgie ook – maar terselfdertyd bly hy nuwe goed ervaar. En hy het steeds die lewenslus en belangstelling.

Van Deventer ken baie mense en onderneem nog gereeld reise – alles kry oplaas uiting in sy skryfwerk, hetsy op sy blog of enige ander skryfsel met sy naam op.Die woorde “kanniedood-koerantman” is nogal gepas, want die opteken van gebeure en ervarings doen hy slaafs. Met baie omsigtigheid op die koop toe. Onder die titel van elke hoofstuk verskyn ook dikwels ’n datum.

Hy en sy vrou, Tokkie, woon op Melkbosstrand, maar hulle klink nie soos kluisenaars nie.

Van Deventer sit die werk voort wat hy in sy vorige boek Kroniek van ’n koerantman begin het.

In Laatoes vertel hy van afsterwes, maar ook ontmoetings, nuusgebeure lank gelede en meer onlangs. Jy kom inligting teë wat jy nie verwag het nie, daar is net soveel interessante goed wat opduik.

Synde self ’n joernalis, het ek aanklank gevind by baie van sy media-stories en hoogtepunte uit sy loopbaan. Hy skryf onder meer oor die geskiedenis en ontstaan van die einste gebou waarin ek vandag werk, Media Park, in Auckland Park, Johannesburg. Hy was een van die rolspelers destyds met die Nasionale Pers se se soektog na ’n nuwe perseel in Johannesburg.

Selfs al werk jy glad nie in die mediabedryf werk nie, sal jy ook iets uit hierdie vertellings kry.

Jy sal vir seker begin dink aan ’n besoek of herbesoek aan die Krugerwildtuin – daar is nou vir jou inligting en staaltjies. Gepraat daarvan, soveel nuwe inligting oor dié nasionale park sal jy ook hier kry, maar in ’n baie lekker verteltrant. Trouens, jy bekom baie inligting oor gebeure of mense wat jy glad nie verwag het jy sou nie.

Hoe klink die bywoning van ’n geleentheid met Suid-Afrika se voormalige Eerste Minister dr HF Verwoerd of sy kuier by die bokser Gerrie Coetzee in 1978 en die moontlikheid van ’n boksgeveg tussen Kallie Knoetze en die Amerikaner Joe Frazier?

Sy dae by Die Volksblad (vandag Volksblad), sy kollegas, die bekendstelling van Johan van Wyk se bundel koerantrubrieke, Só is dit nou, die dood van sy goeie vriend Jan Scholtz. Dit is steeds ’n vol lewe.

Die kerkie in die Krugerwildtuin, ’n besoek aan die kamp Orpen in die Krugerwildtuin, begrafnisse en verjaardae. Van Deventer leef die afgetrede lewe wat enige afgetrede joernalis stellig wil ervaar – om steeds aan te (kan) hou skryf. En natuurlik legio avonture, hoe gering ook al, en dies meer te ervaar wat juis stof vir nuwe skrywes skep.

Jy hoef natuurlik nie afgetree te wees om hierdie soort goed te kan doen nie, maar dit is lekker om daaraan herinner te word dat inspirasie jou wragtig enige dag of uur kan beetpak.