Jy blaai in die argief vir leon visser.

LEON VISSER – NET EEN SOOS HY

Oktober 2, 2014 in Uncategorized

Leon Visser (regs voor) en sewe van sy kallers van 1958. Voor is Vossie Grey en ekself. Agter staan Giel de Swardt, Piet Henning, Cas Jacobs, Leon Engela en wyle Mornay du Plessis.

Leon Visser (regs voor) en sewe van sy kallers van 1958. Voor is Vossie Grey en ekself. Agter staan Giel de Swardt, Piet Henning, Cas Jacobs, Leon Engela en wyle Mornay du Plessis.

Van die Suid-Kaap tot in Mpumalanga, van die Vrystaat tot in Limpopo – oral is ‘n groepie manne  van so 73, 74  jaar pas weer pynlik  herinner aan die Bybelse woord van “sewentig jaar en as jy baie sterk is tagtig”…

Hulle was die kallers van 1958 in Kollegetehuis op Tukkies.  Hul huisvoorsitter was die minsame, wellewende Leon Visser. wat verlede week in Huis Herfsblaar in Pretoria  oorlede is – ‘n verlies wat ons almal aanraak.  Of enige ander voorsitter van enige universiteitskoshuis al so deur sy eerstejaars bewonder en gerespekteer is soos  hierdie Suidwester deur ons klomp “ienks” twyfel ek sterk.

Ons het Leon leer ken as iemand wat nie juis sy stem verhef nie. Hy was ‘n saggeaarde senior wat nie nodig gehad het om grootmeneer te speel nie. ‘n Afkeurende blik uit daardie vriendelike gesig met die immer teenwoordige glimlag was genoeg om jou die rillings te gee.  Hy het deur voorbeeld gelei en nie deur vrees in te boesem nie.

Leon het later professor in Tukkies se landboufakulteit geword en sy studente – in mikrobiologie, meen ek –  had, soos ons, vir hom net die hoogste agting. So het ek uit verskeie bronne gehoor.

Toe ons rou uit matriek in Kollege opdaag, was die gewraakte ontgroening nog in volle gang. Ons het geel lapelknopies gedra om ons lae status in te vryf,  ons moes styf teen die mure in die gange afsluip, ons moes menere se sokkies was, ons het “waterpaarties” en ‘n “modderbad” deurloop, ons het “die pil” gesluk … ons moes selfs vir een bepaalde meneer op koue oggende die toiletbank gaan warm sit.

Begryp my lugtigheid toe “ienk Van Deventer” sommer in die eerste week al na die huisvoorsiter se kamer ontbied word.  Wat sou ek gesondig het, het ek angstig gewonder.  Maar toe soek “meneer Visser” net ‘n bietjie geselskap: Waar kom ek vandaan, wat kom ek “swot”, wat wil ek word, speel ek rugby, het ek ‘n meisie …

Ek moes koffie maak,  ook ‘n bekertjie vir myself, en het heerlik aan die beskuit  gesmul waarvan hy skynbaar ‘n onuitputlike voorraad uit Suidwes saamgebring het.

Ek moes in my kamer ‘n foto van my meisie gaan haal wat ek op Volkies op Potchefstroom agtergelaat het, en hy het vir my ‘n foto gewys van die mooie Ebbie Visser (korrek) met wie hy later sou trou.  “My meisie is tog mooier as joune!” (By die huisdinee, einde van die jaar, is van Leon afskeid geneem met die volgende versie:  Leon Visser – die baas van ons huis- is met ‘n astertjie, Ebbie, gekys. ‘As ons tweetjies trou, se hierdie man, verwissel my vroulief nie eens van ‘n van!’)

Daardie aand het  Leon Visser my sy lojale slaaf gemaak sonder om my soos sy slaaf te behandel.  Ek sou daarna vir hom deur die vuur loop. Van die vele herinneringe wat ek aan hom het, is dit een wat steeds uitstaan.

My oomblikke van glorie op die rugbyveld was maar min – was ‘n vinnig-rige vleueltjie  maar vrekbang op die verdediging.  Een oomblik van glorie was toe ek vir Kollege drie keer die doellyn oorsteek in ‘n wedstryd teen Buitemuurs – met my direkte teenstander  nogal een van my eie dosente.  By nadenke moet alle eer Leon Visser toekom.  Hy was ‘n ratse skrumskakel en het twee keer vlymskerp steelkant om gebreek.  Ek moes net raakvat en oorsuiker.  Sy lof vir my lopies was egter soet.

Ons groepie Kollegemanne uit daardie era vertroetel al amper 55 jaar  ‘n besonderse hegtheid en gehegtheid,   wat so ses van ons o.m. uitleef deur elke jaar in die primitiewe boskampie Balule in die Krugerwildtuin  saam te trek vir drie dae  van meesleurende nostalgie. Dat Leon Visser ons huisvoorsitter was, dra in my oordeel enorm by tot ons groepskohesie

en ons liefde vir Kollege wat oor die dekades heen ongeblus voortleef.