Jy blaai in die argief vir kollege.

KRANIGE KOLLEGE-KAMPVUURSANGERS

Junie 30, 2021 in Uncategorized

n Klompie gryse Kollegemanne oefen die stembande in die bos. Van links is Piet Henning, Manie Steyn, Vos Grey, die uwe, Pierre le Roux en Cas Jacobs.

Wyle Piet Henning van Makhado/Louis Trichardt het ‘n indrukwekkende repertorium oneerbiedige rugby songs van St. John’s College in Johannesburg saamgebring na Tukkies se Kollegethuis toe waar ons in 1958 saam eerstejaars was. ‘n Lewenslange vriendskap is daar aangeknoop.

Van wyle Piet se rugby songs weerklink soms by my bosplek Tarlehoet as ‘n klompie Kollegemanne soos vanouds saamkuier. Net, nousedae gaan dit darem heelwat stigteliker! Omdat baie van die woorde in die vergetelheid geraak het, klink dit meermale soos ‘n minder harmonieuse neuriekoor.

Van die een van die liedjies het ek vanoggend op Facebook vertel n.a.v. Horatio Nelson se stoflike(?) oorskot wat in ‘n vaatjie gevul met brandewyn op ‘n lang skeepsreis bewaar is:  And when I die, and when I die, don’t bury me at all, don’t bury me at all, just pickle my bones, just pickle my bones, in alcohol, in alcohol. (Kyk: In ‘n vaatjie brandewyn)

‘n Gewilde Piet-lied, The Ball at Kerriemuir,  lui so: Four and twenty virgins came down from Inverness, and when the ball was over, there were four and twenty less… Oor daardie deel struikel die “kampvuursangers” soms.

My ervaring is egter dat hulle die akrobatiese doen en late van ene Mrs McGinty in dieselfde lied uitstekend onthou: Mrs McGinty, she was there; she kept us all in fits, by jumping off the mantle piece and bouncing off her t**s.

Nog ‘n lied met ‘n sterk vroulike dimensie handel oor die meisies van Rodean High, St. John’s se buurskool in Houghton, Johannesburg: We are the girls from Rodean High, we take pride in our virginity, we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.

Ons sing ook graag nog Way down in Arizona where the doggies shovel coal, a doggie shovels shovels up another doggie’s hole. ‘n Tweede strofe kan selfs (baie) verlangs op ‘n “bostema” aanspraak maak: Way down in Arizona where the birdies pick up grass, a birdie picks a feather from another birdie’s a**e.

Voëls maak ook hul buiging in die “koor” van die ietwat weemoedige Quarter Master Stores:  My eyes are dim, I cannot see, I haven’t brought my specs with me… …And now ladies and gentlemen, we come to the kee-kee bird … the ostrich … the ooh ah bird…  Dan word o.m. uitgewei met watter moeite elke soort haar eiers lê.

Laasgenoemde uiter na die verskriklike inspanning van die eierproduksie net “oee-aaa!”

Piet, my vriend, hoe mis ek jou nie as ek jou liedjies so in herinnering roep nie.

A-RA-RA-RATIO! YEA TUKS!

Desember 31, 2020 in Uncategorized

Raid … Jong Tukkie … modderbad … HK-aflos

Laat elke ou Tukkie sy glasie vol maak ….Die vyfde en laaste era van my jongmensdae was die vyf goue jare in Kollegetehuis op Tukkies van 1958 tot 1962. Die heerlike era kom vandag aan die beurt in my reeksie mymeringe oor vergange tye aan die vooraand van my 80ste Sondag.    

‘n Jaar van groot nederigheid was jou eerste in die dierbare Kollege.  Maar as dit verby was, na ‘n ordentlike modderbad aan die einde, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n mooi nooi lief geword vir die plek, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus.

Party ouens het met Fisika geworstel. Ander met Romeins-Hollandse Reg. ‘n Derde groep met Toegepaste Wiskunde, en so aan. Maar ander noodsaaklike kennis is ook vroeg-vroeg aangeleer. Soos die sogenaamde “broek-raid”: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade.

In die laat jare vyftig was “Tant Bella” (die lang ontslape Hotel Belvedere in Kerkstraat) se “tee” ‘n gewilde verversing onder Kollegemanne. In aansluiting daarby was in die koshuis selfs ‘n sogenaamde boozeklub” — eufemisties bierklub genoem — met die leuse: “Tee verdra geen onreg nie”.  Ek verskyn links in die voorste ry van die klub se 1959-span.

Vir die jaarlikse ienksport is aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur die een jaar pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Hulle verskyn op die baan in sulke enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is — en hulle wen ver. My val die eer te beurt om met ‘n wapperende bloemer die lint te breek – die tweede jaar in ‘n ry.

Rugby  was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Ek wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman.

In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis. Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”

“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”

“Nou hoekom wys jy hy was oor?”

“Omdat hy amper oor was!”

In 1961 word ek vir die tweede keer in my lewe redakteur: nou van Die Perdeby, die studentekoerant.

Wat ‘n jaar word dit nie! Suid-Afrika word ‘n Republiek — ‘n droom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek Suid-Afrika se bande met die Statebond. Kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk.  Oor  al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam. Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. H.F. Verwoerd kom kuier twee keer.   Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen.

Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.

Die Perdeby was darem nie net politiek nie.  Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het en by wie  die redakteur in ‘n stadium knaend flikkers gegooi het,  tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Dit is seker ‘n rekord in nepotisme, maar het ongetwyfeld die koerant  versier.

Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom.  Maar lof vir Die Perdeby het  uit verskillende oorde opgedaag.  Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lofuitend van hom laat hoor: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

Hoofsaaklik seker maar vir my bedrywighede aan die joernalistieke front, meer bepaald Die Perdeby, is Dux -erekleure einde van 1961 aan my toegeken – ‘n hoogs gewaardeerde belonging.

By Die Volksblad was toe al ‘n sekere grimmigheid oor die beurshouer wat eenvoudig nie genoeg kan kry van student-wees nie.  Laat 1962 net eers verbygaan, het ek gepleit, want die huisvoorsitterskap van Kollege het vir my voorgelê — die hoogste vorm van lewe volgens my voorkeure van daardie tyd!

Toe kom boonop sommer ook die kans vir ‘n bietjie akademiese rehabilitasie. Oor die bietjie regskennis wat ek in LL.B 1 opgedoen het en oor daardie ekstra jaar in die algemeen  was ek  nooit spyt nie.  In 1963 het ek by Die Volksblad ingeval.  Van toe af moes ek my eie potjie krap tot einde 1997 toe ek in die Perssentrum aan die Heerengracht in Kaapstad my kantoordeur vir oulaas agter my toegetrek het.

Die finale era – die Melkbos-era van toe af tot nou  – duur reeds reeds 32 jaar. Wat ‘n wonderlike voorreg. Om die voorreg nog saliger te maak, was Sabiepark van die begin af deel daarvan.  Hoe lief is ek nie vir daardie bosplekkie van my langs die Sabierivier nie!  Maar dis ‘n ander storie. Lees gerus “Bure van nature” wat in Mei 2021 by Protea Boekhuis verskyn.

DURENDE VREUGDE

Junie 24, 2018 in Uncategorized

Sestig jaar nadat hulle as onsekere eerstejaars in 1958 opgedaag het by Kollegetehuis – toe nog op Tukkies se hoofkampus, ‘n klipgooi van die statige Ou Letteregebou – het ‘n groepie veteraan-Kollegemane op ‘n nostalgiese safari van 17 tot 20 Junie in die knusse wildtuinkampie Orpen saamgetrek.

Die agt Kollegemanne van weleer – almal 75-plussers, party bles, party grys, party al ietwat skeef en krom, maar almal met harte wat nog warm klop vir hul koshuis – het met groot vure en ‘n heildronkie of twee hul liefde vir Kollege betuig. Die stories, slimmighede, anekdotes en kwinksklae uit hul studentejare het van ‘n onuitwisbare kameraderie getuig.

Tussen die heildronkies het die Kollegelied, “Aan het oewer van de Schelftzee”, welluidend onder die Laeveldse naghemel opklink. Rondom die kampvure het die gedagtes hul loop geneem na die die “goeie ou dae”, toe ontgroening nog respektabel was.

’n “Ienk” (eerstejaar) is behoorlik gedril. Letterlik ook. Ons 1958-modelle moes gereeld voor die eetsaal in gelid aantree. Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.

Maar toe die ontgroening verby was, het ons behoort. Ons het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus.

Daardie verbintenis leef tot vandag. Sewe jaar gelede al, in 2012, is daaruit ‘n eietydse tradisie gebore. Die ses rondawels van die primitiewe Balulekampie, naby Olifants, is vir die eerste veterane-saamtrek gehuur. Van 2012 af tot 2016 was elke winter ‘n Balule-“bosberaad” wat oor drie dae gestrek het.

Dalk die spesiaalste okkasie was in 2015 – Kollege se eeufees. Op die “Republiek van Kollegetehuis” is ‘n heildronk gedrink uit ‘n botteltjie feeswyn van 1990 toe Kollege feestelik sy 75ste verjaardag gevier het.

In 2017 is ons Orpen toe. ‘n Spesiale Kollegekoek is laat bak. Op die gewone wit vanieljekoek in A4-formaat uit baasbakster Kristie Thompson van Skukuza se oond, was die beeltenis van Sarge Bourke, gedugte gelukbringer van Kollege.

Die besnorde polisieman wat 250 kilogram weeg, is in 1942 al deur ‘n vorige generasie waaghalsig geskaai uit ‘n voortuin in Gezina, Pretoria, halfpad tussen die hospitaal en die wonderboom. Die beeld het langs ‘n tuinhek op aandag gestaan: die bewaker oor ‘n menigte beeldjies en figuurtjies van diertjies, dwergies en selfs ‘n helderkleurige Hollandse miniatuur-windpompie.

‘n Kamee wat ons van die kennismaking met Orpen nie sal vergeet nie, is die nagtelike besoeke van die kolonie ratels wat kom aas het onder ons wildtuinkos. Twee-twee of alleen het die woelgeeste – met hul formidabele voorkloue van tot 5 cm lank en komplement van 32 dodelike tande – doelgerig en volhardend hul strooptogte op die ys-en koskaste geloods; gewoonlik in die nanag.

‘n Duitse toeris wou glo ná een so ‘n onderonsie weet of die liewe klein “honigdach” op Afrikaans dalk ’n “bliksem” heet. Sy buurman se verontwaardigde krete oor sy verlore biltong was met die b-woordjie deurspek! Die “liewe bliksempies” was vanjaar so bedrywig soo verlede jaar. Een is deur ‘n “akrobatiese” fotograaf afgeneem met ‘n boks Ultra-Mel onder ‘n motor!

By die uiters informele AJV (algemene jaarvergadering) langs twee lekker vuurtjies is gewonder of die jaarlikse heerlikheid volhoubaar is. Die beweeglikheid van die span pioniers is as ‘n moontlike struikelblok geopper. Ons gemiddelde ouderdom is minstens 77. ‘n Mislukte droom is egter verkieslik bo geen droom nie, soos my vrou, Tokkie, tereg herinner. Ons gaan vir seker probeer…

Ek wil byvoeg: Die durendheid van studentevriendskappe is een van die vele onverdiende vreugdes wat in my 77 jaar oor my pad gekom het. Watter voorreg om dit vanjaar weer in Orpen te kon voorsit – boonop vir die viering van ‘n leeftyd van onvergeetlike Kollegemanskap.

‘N IENK IN 1958

Januarie 28, 2018 in Uncategorized

By die begin van die nuwe akademiese jaar 2018 aan ons universiteite gaan die gedagtes van hierdie Tukkie-kalwer van 1958 ver terug: na die dae van ienk-wees in die “goeie ou dae”, toe ontgroening nog respektabel was.

Kollegetehuis was toe nog op die hoofkampus, ‘n klipgooi van die statige Ou Letteregebou. Al die meisies moes daar verbystap klas toe. Spitsvondige kommentare het nie uitgbly oor al die vietse en minder vietse lyfies lyfies wat deur ‘n waarderende gehoor waargeneem is nie.

In Kollege is ’n ienk toentertyd behoorlik gedril. Letterlik ook. Ons moes gereeld voor die eetsaal (lankal die slagoffer van vooruitgang) in gelid aantree.

Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.

Sarge Bourke – hier in versiersuiker op ‘n koek.

Dit was die tyd van modderbaddens, die “pil” (’n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” – elkeen ’n verskrikking op sy eie, veral as die doel was om ’n element van weerbarstigheid te tem!

Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

‘n Ienk moes maar weet: vir ‘n jaar lank is hy lyfeiene vir ‘n veeleisende senior. Jy het honderde pare sweterige sokkies gewas. Een senior het selfs geverg dat ‘n ienk op ‘n koue wintersoggend vir hom die toiletbril gaan warm sit.

Die arme ienk sou ‘n paar keer moes inpak en trek (met al sy klere, al sy koffers, al sy boeke) en “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot met die ontheffing as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom.

Tot daardie welaangename dag het jy ‘n geel knopie op die bors gedra met die letter “K”. Nogal snaaks gewees toe daar vroeg die jaar een Sondagaand ‘n kerksleep was saam met Asterhof. Daar sit ons toe in Pretoria-Oos se kerkbanke: Kollegeman (K), Asterhoffer (A), Kollegeman (K), Asterhoffer (A) ……

‘n Jaar van enorme nederigheid was dit. Maar ons het oorleef, het seniors geword en op ons beurt die pyn uitgedeel. Hopelik ook die liefde vir Kollege aan ons opvolgers oorgedra.

Van die tradisies het ses dekades bly voortleef, verneem ek dankbaar. Die gelukbringer, Sarge Bourke, ’n beton-polisieman wat by ’n huis in Gezina geskaai is, bestaan steeds. Nuwes tradisies het bygekom. Party bo hierdie begrip. Tye verander.

In Junie trek nege Kollege-tydgenote uit daardie era weer saam in die Orpenkamp in die Krugerwildtuin – ‘n wonderlike tradisie wat nuut posgevat het. Ons sal vir seker ‘n heildronkie of twee geniet op die 60 jaar wat sedert 1958 verloop het.

Helaas sal dit maar met al die skete en so aan sukkel-sukkel gaan om te “haaitjokkelorum, haasbekpatrollum ….”

Deel dit:

O KOEK, SARGE BOURKE!

Junie 30, 2017 in Uncategorized

Toe die agt Kollegemanne – kalwers van 1958 en 1959 – die week in die knusse wildtuinkampie Orpen die Kollegelied met dieselfde passie as toentertyd aanhef, kon jy sweer Sarge Bourke was self teenwoordig.

Die besnorde polisieman-gelukbringer was inderdaad – nou nie in sy betongedaante nie, dié weeg iets soos 250 kg – maar spoggerig in versiersuiker op ‘n ontwerperskoek uit die kombuis van bobaas-bakster Kristie Thompson uit Skukuza.

Met die simboliese sny van die koek (meer daaroor later) is Orpen 1 ingelui nadat die span die vorige vyf jaar in Balule, by Olifantskamp, saamgetrek het. ‘n Nuwe tradisie is saam met al die ou en geliefde tradisies gevestig van ‘n koshuis wat, heel gepas, in die jaar van die rebellie in 1914 begin het toe Kollege as derde gebou op die Tuks-kampus verrys het.

Die verhaal van die verbintenis met Sarge Bourke begin in 1942, ‘n driekwarteeu gelede. Kollegemanne het hom lank bespied waar hy in Gezina, Pretoria, halfpad tussen die hospitaal en die wonderboom, langs ‘n tuinhek op aandag gestaan het: die bewaker oor ‘n menigte beeldjies en figuurtjies van diertjies, dwergies en selfs ‘n helderkleurige Hollandse miniatuur-windpompie.

Een aand na ‘n mislukte “raid” op Damestehuis (die “Fant”) se gelukbringer is besluit om gekneusde Kollege-ego’s te salf deur ‘n eie gelukbringer te bekom. Die polisieman in Gezina het hom in verbeeldingryke gedagtes opgedring.

Met ‘n Chev-tweesitplekmotor met sy ruim kattebak is die konstabel in die nagtelik ure gaan haal. In doodse stilte is die tuin binnegesluip. Die ongeoorloofde verwydering het voorspoedig verloop hoewel ‘n paar manne effens in die hek vasgesit het. Die nagstilte is weens die onvoorsiene gebeure met allerlei krete en uitroepe versteur. Die eienaars was gelukkig vaste slapers.

Die ou was langer en swaarder as vermoed en die Chev se agterstel het omtrent op die grond gesleep. Ligdag het hy sy intrek in Kollege geneem. Hy het langs die omstrede “bank” voor die hoofgebou (met sy onbelemmerde uitsig op verbygaande asters) ‘n ere-staanplek gevind om van toe af ‘n wakende oog oor die tehuis se inwoners te hou.

Sy geskiedenis het allerlei kinkels. In 1946 is die polisieman – toe al bevorder tot die rang van sersant en weens onbekende redes die van Bourke toegeken – deur die Witsies kom steel. Hy is leedvermakerig op ‘n klein balkon op die eerste verdieping van College House op die Witskampus uitgestal.

In 1950 het vier Kollegemanne besluit: tot hiertoe en nie verder nie. ‘n Omvattende operasie is van stapel laat loop om Sarge Bouke te gaan ontset. Dit het o.m. ingesluit ‘n minder geslaagde fondsinsameling vir petrolgeld en die “leen” van ‘n vriend se pa se ruim Cadillac – danksy die welwillende medewerking van die vriend se liefdevolle moeder. Die Caddie was mooi groot genoeg. Dit kon boonop laat waai as dit moet.

Drie betroubare ienks is opgekommandeer en die sewestuks is oor Wits toe: ses om Sarge Bourke te dra en een om die Witsies se voertuie onkapabel te stel deur die vonkpropdrade uit te trek of die wiele af te blaas.

Die ses is op hul sokkies College House binne. Die deur na die balkon was gelukkig nie gesluit nie en Sarge ook nie deur die Witsies ge-elektrifiseer, soos die legende was nie. Hy is versigtig op handdoeke omgekeer en skuifelend die gang afgedra. Brandasem van moegheid en vrees, is hulle met die gewigtige vrag die trappe af. Die laaste entjie voordeur toe is die ou selfs skouerhoog gedra.

Skielik was daar amper moles. ‘n Baie vaak Witsie verskyn in sy kamerdeur, skynbaar op pad badkamer toe. Een van die Kollegemanne beveel met groot gesag: Go to bed, you Fresher – en hy gehoorsaam. Met hul laaste kragte, maar met pompende adrenalien, kon hulle die waardevolle buit in die Cadillac laai en Pretoria toe laat waai.

Vieruur die Saterdagoggend sit hulle die ou toe in die voorportaal van Kollege neer, maak kringetjie om hom en bulder die Tukkiekreet: A-ra-ra-ratio-Roera! Die kamerdeure vlieg oop. Kollege juig. Sarge Bourke is terug, Sarge Bourke is terug …!

Daar in Ou Kollege op die kampus het ons klomp hom 60 jaar gelede aangetref en altyd aan hom die nodige eer betoon. Toe ons in 1960 Proefplaas toe trek, is hy saam. By die nuwe tuiste het hy allerhande maatjies bygekry. Die “sarges” staan in ‘n gedenkboek van 1985 vyf in ‘n ry!

Maar vir ons generasie is die snorreman soos Bart Nel. Hy is nog hy. Hy leef in ons elkeen se hart. Daarom die koek en die seremonie waarvan ek mettertyd meer hier sal meedeel. Hou hierdie ruimte dop.

SIEN JY DAARDIE KOLLEGEMAN?

September 1, 2015 in Uncategorized

1-1-60-IMG_3225-001Die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre en die kikvorse het ophou kik. Dit was vir die Kollegelied wat welluidend onder die Laeveldse naghemel opklink.

Ses Kollegemanne van weleer – party bles, party grys, party al ietwat skeef en krom, maar almal met harte wat nog warm klop vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.

Die plek? Die primitiewe boskampie Balule aan die Olifantsrivier, naby die Olifantskamp in die KNP. Die geleentheid: die vierde jaarlikse saamtrek van ‘n span 70-plussers wat in die jare rondom 1960 saam aangesit het vir die Kollegekos wat deur onder andere die wellewende Piet April in die eetsaal bedien is.

Vanjaar se saamtrek was spesiaal so op die vooraand van die “Republiek van Kollegetehuis” se eeufees later die maand op die Tukkiekampus. Daarop is ‘n heildronk gedrink uit ‘n botteltjie feeswyn van 1990 toe Kollege feestelik sy 75ste verjaardag gevier het.
Die “medisyne” is deur Proppie Goosen met sy ou kamermaat Pierre le Roux uit George saamgestuur. Proppie sou ook vanjaar Balule toe kom, maar ongelukkig moes Lettie ‘n rugoperasie ondergaan.

Die 25 jaar wat verloop het, het nie almal van ons ewe goed behandel nie, maar vir die wyn was dit net wins. Niks fout met die “neus” nie – en pure fluweel op die verhemelte.

Om dit uit die boks te haal, te ontkurk en te skink was ‘n hele ritueel. Die vername taak is aan Vos Grey opgedra. Hy was in 1961 en weer in 1963 huisvoorsitter, die oudste lewende lid van daardie spesie. (HvD, 1962, is die naasoudste. Rowwe gedagte!)

 

Vos Grey en HvD met die bottel "medisyne" uit George.

Vos Grey en HvD met die bottel “medisyne” uit George.

Tussen die braai van die wors en die tjops die laaste aand is die glasies gelig en die Kollegelied uit volle bors rondom Pierre se gloeiende kole in die braaidrom aangehef. Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam ….

In die donkerte kon ‘n mens nie die trane op die oues se wange raaksien nie – darem ook nie op die amptelike foto’s van die okkasie wat Tokkie uit alle hoeke geneem het nie. Die foto is hierbo. Van links is Piet Henning van Louis Trichardt, Manie Steyn van Krugersdorp, Vos Grey van Ermelo, HvD van Melkbos, Pierre le Roux van Mosselbaai en Cas Jacobs van Centurion.

Dit was drie dae van enorme vure, groot ure en dik plesiere. Van die koningskos het ingesluit Cas Jacobs se fynproewersfilet met sampioensous en Nella se keurige bratkartoffeln, beetslaai en wat nog, afgerond met flambéperskes en vla. Benewens die stompe uit Sabiepark in HvD se Honda, het Piet Henning ’n kartdondoos vol sskelbos en ander braaihout uit die Soutpansberg gebring. In daardie doos was sweerlik voorheen minstens ‘n hangkas.

Enorme vure, dik plesiere.

Enorme vure, dik plesiere.

Soos die seekoeie tot eerbiedige stilswye gesing is, het die kosmakery op die oop vure die respekte van die kontrei se hi-enas afgedwing. Veral die bedrywigheid met Vos en Magdaleen se beesstertpot en potbrood op die kole het die gulsige diere skynbaar allemintig geïnteresseer. Nie minder nie as drie het in ‘n stadium teenaan die kampdraad saamgedrom om die aktiwiteite te betrag.
Wonder of Clover se direksie weet hoe bekwaam hul oud-voorsitter met ‘n graaf die kole kan rondskuif vir ‘n beesstertpotjie en potbrood a la Magdaleen.

Wat is in daai nyslike pot?

Wat is in daai nyslike pot?

Daardie yslike pot – ‘n nommer agt as ek nie mistas nie – het ‘n simbool van die Balulespan se onderskeie fiksheidsgrade geword. Dit vat sterk manne om dit te dra. Hierdie keer was dit Vos en Cas wat die spiere laat bult het. Almal het hulle bewonder.
Vir 2016 – ja, natuurlik sal daar dan ‘n Balule V wees – het die twee kieriemanne, Manie Steyn en die uwe, stilletjies ‘n verbintenis aangegaan. Dan dra hulle hom!