Jy blaai in die argief vir koerante.

BEEN VOOR PAALTJIE, VINNIGE FANIE

Junie 28, 2021 in Uncategorized

In die 90’s is die beeld van Petrus Stephanus (Fanie) de Villiers deur koerante en die ander media so blink gepoets soos die Kookaburras of Dukes waarmee hy sy blitsballe afgestuur en kolwers geterroriseer het.

Veral vir Afrikaanse media was hy ‘n goue seun: die krulkop Afrikaner wat skielik in ‘n “spel vir Engelse” sy stempel met mening afdruk.   Vinnige Fanie is hy gedoop.  In hoeveel hoofopskrifte die naam Vinnige Fanie  in daardie dekade op sportblaaie geskitter het, sou ‘n interessante stukkie navorsing kon wees.

Soos Vinnige Fanie se reputasie as die suinigste blitsbouler  in toetskrieket en as hardnekkige stertkantkolwer deur hom op  die veld uitgekerf is, het  krieketjoernaliste dit in kolomme en kolomme in hul koerante help doen.  Die gesindheid  tussen speler en sportskrywers was hartlik.  Hulle het mekaar se geselskap opgesoek. ‘n Band van wedersyde vertroue was die kenmerk van ‘n konstruktiewe verhouding.

Toe, heel aan die einde van sy skitterloopbaan, skryf die Sunday Times se Colin Bryden, ‘n berig wat nie lekker in Vinnige Fanie se klere gaan sit nie.  HY voel dat hy te na gekom is deur ‘n rasse-insident  op sy brood te smeer waaraan hy onskuldig is. Wat eintlik gebeur het, is dat ‘n toeskouer vir kolwerprins  Jacques Kallis iets lelik toegesnou het.

Daardie berig wat hom so ongelukkig gemaak het, is telkens daarna deur hom opgerakel.  Nou weer in ‘n TV-gesprek met Kwêla se Hannes van Wyk in De Villiers se asemrowende herehuis wat hy uit sy krieketverdienste kon laat bou as ‘n monument vir sy gedenkwaardige loopbaan.

Van Wyk en De Villiers gesels lekker oor laasgenoemde se krieketprestasies.  De Villiers vertel (weer) die storie hoe hy Alan Donald en André Nel uit hul begeerlike hotelkamer in Pakistan probeer verdryf het deur ‘n vis in die lugversorger weg te steek. Die reuk was liederlik.  Die twee het later op die stoep gaan slaap. Maar hul kamer prysgee? Aikona.

Alles gesellig en gemoedelik. Dan buk De Villiers vorentoe . Hy kry ‘n verbete trek op sy gesig.  Afgemete begin hy vertel van Bryden se berig.  Toe sommer ‘n veeghou na alle koerante: Die berig wys presies presies hoe boos hulle kan wees.

Ek het gister na die heruitsending van Kwêla gekyk omdat ek in die ander gesprek met Gysie Pienaar graag ‘n foto wou sien wat aan die begin op die skerm flits.  Dit is van Pienaar as onder-15-kannetjie by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein.  Sy afrigter, netjies ge-pak en ge-das is niemand anders nie as my oorlede swaer, die wellewende Fanie van Wyk.

Nietemin, ek geniet toe ook die De Villiers-gesprek: tot op daardie ongelukkge moment.   Dit steek my dwars in die krop. Kan ‘n mens werklk die hope lof wat jou oor tien jaar beskore was, so goedsmoeds vergeet  en net aan een dwarsklap  bly vasklou asof dit ‘n dekadelange verhouding met die pers identifiseer?

‘n Lewe by koerante het my sinies gemaak  vir mooiweersvriende wat die ene glimlagte en skouerkloppe is waneer  berigte in hul kraam val en tot hul voordeel  is maar vinnig-vinnig hul rug op ou bondgenote keer as die wind ‘n slag teen hulle waai.  Ongelukkig is dit ‘n gewoonte van meer bekendes as Petrus Stephanus (Fanie) de Villiers om koerante so te beoordeel: nie op grond van die positiewe 99.% tot hul voordeel nie maar op grond van die 1% negatiewe tot hul nadeel.  Sulke windskewe reaksies strek die betrokkenes nie tot eer nie en vertel gewoonlik meer van hulle as van die koerante wat onverdiend in die algemeen so met ‘n teerkwas bygekom word.

Iemand kan gerus hierdie stukkie vir Vinnige Fanie stuur.   Ek hoop dat hy so vinnig soos hy veroordeel het, sal besef hoe onredelik en onbillik so ‘n veralgemening was.  ‘n Mens verwag dat hy ewe vinnig verskoning sal aanbied daardie onskuldige krieketskrywers wat saam met hom die loopbaan help bou het wat aan soveel derduisende krieketliefhebbers soveel plesier verskaf het, en waarvan hy die vrugte nou pluk.Deel dit:

NIE NET ‘N SKIL OF ‘N BLIKKIE

Junie 12, 2021 in Uncategorized

‘n Ou koerant moet ‘n mens nie op sy baadjie takseer nie. As jy klaar gelees is, gooi jy hom nie sommer weg soos ‘n nikswerd-piesangskil,  ‘n sardiensblikkie of ‘n plastieksakkie nie.

Onder koerantpapier kan jy slaap. Jy kan dit vir honger donkies voer. Jy kan jou vis en tjips toedraai. Jy kan die hond se plassies opvee. Jy kan vuur maak en ruite was. Jy kan bevrore vleis koud hou op lang ritte.  Jy kan die papegaai se hok uitvoer.  Die nut is amper onbegrens.

Kollega Johan van Wyk het ‘n keer ‘n nogal uitvoerige studie gedoen oor waarvoor ‘n ou koerant alles deug. HY kom toe tot die insigryke gevolgtrekking dat dit op een plek werklik tot sy reg kom: “In die kleinhuisie met die boerpampoene op die dak. “Nệrens lees jy lekkerder in ‘n ou koerant as daar nie.”

Johan kon bygevoeg het: Nệrens is jy dankbaarder oor die beskikbaarheid nie as wanneer jy skielik papier op sy dringendste nodig kry en die verfynde vorm vir daardie doeleindes ontbreek. Ja-nee, die toegevoegde waarde is enorm.

Ek hoor graag van ander vindingryke idees. Hier egter drie aanwendings wat vir die uwe nuut en oorspronklik was.

Nommer een is die sogenaamde Paper House in Pigeon Cove, Massachusetts.  Die hele huis en sy inhoud bestaan uit ou koerante, hoofsaaklik uit Boston.  Sowat 100 000 eksemplare is vir die doel gevou of gerol. Die volledige takie het 20 jaar in beslag geneem.

In die woonkamer staan ‘n klavier – ‘n uitnodiging vir iemand wat kan om die klawers met Johann Strauss se wals “Oggendkoerante” te gaan tokkel. Daar is ‘n radio in ‘n outydse kabinet. ‘n Boekrak is gemaak uit buitelandse koerante  en ‘n oupastaanhorlosie uit koerante van die hoofstede van die Amerikaanse deelstate.  ‘n “Nuuswaardige” lessenaar is uit koerante met die nuus van Charles Lindberg se epiese vlug.

‘n Koerantman voel so tuis, jy wil sommer dadelik sak en pak intrek en begin lees!

In die Suid-Tiroolse vakansiestadjie in die Alpe Merano ontdek hierdie gryse koerantman toe nog ‘n nuwe nut wat aan hom onbekend was. Op ‘n straathoek pryk dit:  ‘n reuseblombak van monumentale hoogte en omvang. Die struktuur het HvD verdwerg  – en dit verg nogal ‘n struktuur van stoffasie om HvD te verdwerg!

Die foto’s is bedoel om kreatiewese te prikkel om daardie stukkie Tiroolse vindingrykheid na te aap. Laat dit ‘n uitdaging wees.

Van nader tuis is die pragtige tabberdjies wat vir die Kovsies se joolkoningin en eerste prinses aangetrek is ter viering van Die Volksblad se verskuiwing na die oggendgleuf op 4 Maart 1991. Mooier “uitgawes” was daar gewis nie in my tyd as hierdie aan die mooi lyfies van Liezel le Riche en Almie Cloete nie. By hulle is Die Volksblad se Alta Beetge wie se breinkind die mode-ding was.  (“Haar rokkie het ‘n skeurtjie in en almal kyk daarna …”)

‘N MUSEUM VIR KOERANTE

Mei 7, 2021 in Uncategorized

Vir almal wat drukkersink in die are het, ook almal wat nuuskierig is oor wat agter die papiergordyn gebeur het of steeds gebeur, en in die mense wat dit laat gebeur het of steeds laat gebeur, is die digitale mediamuseum mediamense.com die ideale inloerplek.

Gaan kyk gerus wat die skepper en kurator, prof. Johannes Froneman, en sy helper, James Kemp, reeds in die kort tyd vermag het. Dit is reeds ‘n skatkis van gesaghebbende inigting oor joernaliste, koerante, tydskrifte en die uitsaaiwese.

Nou reeds is daar al genoeg stof sodat die gedrukte media se enorme bydrae nie vergeet word nie – veral in hierdie tyd van vervlietende digitale media.

Die versameling koerantvoorblaaie is verstommend. Die geskiedenis van (Die) Volksbad word treffend en kernagtig weergegee. Vir lekkerlees is die afdeling By Nabaat sterk aan te beveel.

In By Nabaat is ‘n stuk uit pen van prof. Johannes Froneman oor my eie loopbaan. Dit is nie sonder kritiek nie.  Ek beskou dit egter as besonder ewewigtig. Gaan lees dit gerus by https://mediamense.com/hennie-van-deventer-koerantman/

Dat hy my een van die “mees energieke joernaliste” noem, sal vele kollegas seker beaam – nie almal sonder ‘n wrange herinnering of twee oor hul eie ervarings in daardie verband nie.

In Nabaat is ook ‘n grafskrif uit my pen vir Sapa wat in Maart 2016 in die Afrikaanse koerante verskyn het.

Besoek hierdie museum en beveel dit wyd by mense met harte vir die media aan.  Dis ‘n juweel wat hier tot stand kom.

ROMEINSE BACCHUSFEES

Januarie 23, 2021 in Uncategorized

Stel jou voor: ‘n Uitbundige klomp koerantmense net in lakens geklee, gevlegde blarekrone op die kop, lywe uitgestrek op rolle rooi fluweel, en met yslike goudgeverfde erdebekers vol wyn in die hand.

‘n Romeinse Bacchusfees so uit die boek.

Dit was die toneel met die inwyding van SA se eerste Holiday Inn in die laat 60’s/begin 70’s op Mtubatuba  naby St. Lucia aan die Natalse noordkus.

Holiday Inn het persmense vanoor die land na die okkasie genooi.  Ons is per SAL na Johannesburg gevlieg en van daar af met ‘n verslete Dakota na Mtubatuba.  Op pad met die jolige vrag, het die Rand Daily Mail se man, ‘n oud-vlieënier, die mikrofoon gegryp en gemaak-ernstig aangekondig: “Ladies and gentlemen, in the case of any extra oxygen being needed … we are all buggered.”

Die lagbui wat deur die Dakota gespoel het, had tog ‘n ‘n element van senuweeagtigheid as onderbou.

Na bewering het die grapjas later agter die stuurstang ingeskuif. Daar was selfs ‘n bewering dat hy die ou rammelkas op Mtutatuba neergesit het. Glo dit darem nie. IN elk geval, op die lughawe was nie trapstelle op wiele soos in moderner tye nie. ‘n Leer moes op ‘n vragmotor se bak staangemaak word om die passasiers op die grond te kry.

In ‘n skielike windvlagie het rokkies hoog gewapper. Die helpers wat aan die onderpunt van die leer gestasioneer was om ‘n helpende hand te verleen, het vir hul moeite allerlei bonus-waarnemings te beurt geval.

Die aand se verrigtinge is ná ‘n halfeeu steeds in die ou man se geheue ingegrif. Die kleredrag was eenvormig: net ‘n laken en ‘n gordel.  Vir groter posture en posture wat ruim met kurwes bedeeld was, was dit nogal ‘n uitdaging om te bedek wat ter wille van die goeie sedes alles bedek behoort te wees.

So sonder sakke was bykomende toerusting soos pakkies sigarette en lipstiffies ‘n oorlas waarvan net op een manier ontslae geraak kon word. Dit is in onderbroeke, amperbroekies en bra’s ingeprop (ek meen ons het destyds nog van buustelyfies of vormdrag gepraat). Die uithaal was meermale ietwat onelegant. Veral as dit ‘n pakkie 30’s was, soos my Rembrandt Van Rijns.

Die wyn het nie opgeraak nie. Die yslike goudgeverfde glase was nooit leeg nie. Die ontspanne gees wat die verrigtinge gekenmerk het, het al hoe meer ontspanne geraak. Dames, meesal darem getroudes, het later op hul metgeselle se skote beland. en al hoe meer been het verleidelik onder die lakens uitgesteek.

Oor die komplikasies by die geriewe vir mans sal ek nie uitwei nie.   OOr die komplikasies by die geriewe vir vroue kan ek natuurlik nie uit eerstehandse kennis uitwei nie. Tokkie het wel in my oor gefluister dat dit ’n “gedoente” was.

Die volgende oggend is ons op wildritte die pragreservaat Hluhluwe binne, waar die vrolikheid van die vorige aand ondanks ‘n suwwe gevoel in die kranium onverpoosd voortgesit is. Gelukkig was ons nie in lakens geklee nie, maar in ‘n verskeidenheid velddrag volgens eie smaak.

Te laat was ons almal terug in die Dakota vir die terugvlug. Nog op pad Goudstad toe het die donkerte toegesak. Ons was nog nie naby Grand Central-lughawe nie toe die laaste SAL-vlug van die dag Bloemfontein toe opstyg. SAL was toe nog die enigste opsie. G’n Kululas, Mango’s, Safairs en die klas ding nie.

Wat nou? Ek en Roland Solomon van The Friend was taamlik gespanne omdat ons teenwoordigheid op kantoor die volgende dag nie onderhandelbaar was nie. Holiday Inn bied toe soos goeie gashere gul aan om ons in ‘n klein Piper Vrystaat toe te vlieg.

Die ongetroude Roland se reaksie was ‘n gilletjie. Hy het Tokkie – wat hy Klokkie genoem het – aan die arm gegryp en gepleit dat hulle twee ‘n verenigde drukgroep vorm om die onheil af te weer. Haar eggenoot was egter onversetlik.

Uiteindelik is ons in die kleine Piper: die vlieënier en die forsgeboude Claude Cawood (fotgraaf) voor; ek, “Klokkie” en Roland agter ingeprop. Toe ons by die huis in die bad klim, sien ek hoe het Roland haar op onbehoorlike plekke pimpel en pers geknyp.  Siestog, hy was baie bang.

Laat my bely dat ekself in stadiums bra benoud was as die klein goggatjie met die woerende skroef bokant die donker Vrystaatse vlaktes so heen en weer kantel.  Maar ‘n uitstappie om te onthou, was dit gewis.

Van toe af ‘n stoere Holiday Inn-man gewees.

RYK GEUR VAN MARLBORO

Januarie 21, 2021 in Uncategorized

“Come to where the flavour is”, het die cowboy met sy diep stem verleidelik genooi terwyl hy behaaglik aan sy Marlboro teug. Het die mense dan nie gekom nie! Of dit nog so is, weet ek nie, maar in ‘n stadium toe rook nog die inding was, was Marlboro met sy “ryk Virginiese tabak” die beste verkoper ter wereld. 

In Rusland was die wit en rooi van ’n pakkie Marlboro as’t ware die paspoort wat vir jou allerlei toe deure oopgemaak het. ‘n Hardekwas Rus se gesindheid kon darmee maklik positief geswaai word. Die wenk het kollega Tertius Myburgh van die Sunday Times my gegee toe ek in 1990 – nog die Gorbatsjof-era – ‘n besoek agter die Ystergordyn sou bring. 

Ek vertrek toe uit Bloem met ‘n karton Marlboros in my koffer op die eerste skof van die reis na Londen waar ‘n visum vir die destyds nog seldsame, selfs misterieuse, besoek op my sou wag. My “gasheer” was die Sowjet-nuusagentskap “Nowosti”. Naspers moes egter vir als opdok.

Igor, my gids en beskermheer, het my darem na sy en sy vrou, Anna, se woonstel genooi vir middagete in ‘n knapperige kombuisie in ‘n siellose, grou woonstelgebou. Ek onthou die blokkiespatroon van die tafeldoek en die koolsop soos gister. Ook al die ander identiese blokke woonstelle voor, agter en aan alle kante. En die verwarrende netwerk van treinspore by die voorstedelike stasie. 

Ek was in een van my periodieke ophou-rook-fases. Tydens my oorslaap in Londen gaan kuier ek egter ‘n aand by ds. Henno Cronje in Wimbledon. Hy was leraar by die groot Afrikaanse gemeente in die stad. Henno haal ‘n vergete pakkie Rembrandt Van Rijn uit ‘n laai en ons steek oor ‘n Engelse bier of wat ‘n paar entjies aan. 

Volgende oggend staan ek op met daardie hond-in-die-mond-gevoel. Net ‘n sigaret kan red. Wel in my koffer onder die kooi is ‘n hele karton. ‘n Sielestryd soos min ontvlam. Sal ek toegee of sal ek verbete my belofte aan gade Tokkie probeer gestand doen? Seker ‘n halfuur lank staan ek verskeurd. Toe borsel ek my tande ‘n tweede keer en gaan eet ‘n stywe Engelse brekfis.

Die Marlboros is saam op Aeroflot (Aerovrot?) se Toepolef Moskou toe. En Tertius se wenk het gewerk soos ‘n bom. Veral etenstye wanneer die Russe aanvanklik nie gretig was om die verlore siel in hul vol restaurants te verwelkom nie. Hoekom nie? Slaan my dood. Koppigheid was net ‘n Russiese ding doerie tyd. 

Van rook gepraat. In Bloemfontein was in die 80’s ‘n dr. Ann Hiemstra wat oor die stad se gesondheid moes waak. ‘n Belangrike gesagsamp by die munisipaliteit beklee. Dr. Hiemstra was nie lief vir sigarette nie. Sy skryf toe aan Die Volksblad ‘n brief waarin sy drie van die stad se grootste rook-rampokkers by die naam noem: Louis Botha, administrateur, Barnie Human, motormagnaat, en Hennie van Deventer, redakteur van Die Volksblad. 

My kollega by die brieweblad het gewonder of hy so ‘n sensitiewe briefie moet plaas of liewer nie,Ek het nie lank gedink nie. Net vir my ‘n Van Rijntjie opgesteek. Toe ek die eerste wolkie rook behaaglik in die lug blaas, spreek ek die oorwoë oordeel uit: sit hom in. 

Dr. Ann is uit vele oorde gelukgewens. Ook uit my eie huis. Ek het my egter nie deur die “misipaal” (kollega Johan van Wyk, ‘n kwarteeu lank die skrywer van die rubriek “Stop van myne”, se woord) laat voorskryf nie! Ook nie Louis nie. Ook nie Oom Barnie nie  Oom Barnie het hoeka verkondig om op te hou rook, is die maklikste ding. Hy het dit al 12 keer reggekry!

DOMINEE, KYK MY EINA!

Januarie 19, 2021 in Uncategorized

Dominees wat die kansel vir ‘n redakteurskap verruil het, tref reuseverskille in hul nuwe nerings aan – ook ‘n klompie ooreenkomste. Hulle skryf o.a. steeds preke – heelwat korter maar elke dag pleks van een of twee per week.

Dit was die wysheid van Gerrit Velthuysen wat aan die einde van die 80’s ‘n ruk lank redakteur by Die Transvaler (toe ‘n Pretoriase koerant) was. Hy is later na ‘n bemarkingspos geskuif. Voor sy skof by Die Transvaler was hy ‘n Hervormde leraar in Centurion en hoogleraar in Teologie by Tukkies. 

Sy naam ontbreek op Die Transvaler se Wikipedia. Wonder hoekom? Dat my geheue my nie in die steek laat nie, het ek egter by twee gesaghebbende bronne bevestig. 

Trouens, hoe sou ek Gerrit kon vergeet? Geen ander redakteur wat ek geken het, het so ‘n melodieuse stem gehad nie. Kon my verluister aan die man. Geen ander een het ook sulke klonte aan sy ringvingers gedra nie. 

Onvergeetlikste rede? Hy het in Oktober 1989 op ‘n uitstappie na die ou Suidwes aan die vooraand van die Namibiese onafhanklikheidwording Glenfiddich-enkelmout, 12 jaar oud, aan my bekend gestel. Suiwer engeltjiepiepie, klas goud. 

Drie Gerrit-stories steek in my kop vas: een uit sy koerantdae, een uit sy domineedae en die ander ‘n lekker grappie wat hy ‘n keer in ‘n rubriek vertel het. Die het ek so geniet dat ek dit in een van my humorboekies van die 90’s opgeneem het. 

Die koerantstorie kom aan die begindae van sy redakteurskap – voordat hy gewoond geraak het aan die bokkerops wat om elke hoek skuil. Ek loop hom by ‘n redakteursbyeenkoms raak, en hy is stomend. ‘n Senior kollega het in ‘n hoofartikel van die “Kaiingsmerk” geskryf pleks van die “Kainsmerk”. ‘n Ander senior kollega het die glipsie misgelees. Dit staan toe in die koerant. En die redakteur is veronderstel om sy Bybel te ken.  

Hy  wou hulle braai. Ek kon hom gerus stel dat erger dinge vorentoe met hom sal gebeur. 

Die storie uit sy leraarsdae was oor ‘n jongerige gemeentesuster wat geopereer is. Soos die gebruik is, gaan besoek hy haar waar sy tuis aansterk. Hulle gesels nog so oor koeitjies en kalfies toe sy skielik verbete aankondig: “Ek wil vir dominee my wond wys.” 

Gerrit keer die kant toe en daardie kant toe maar die suster – jongerig en aantreklik – laat haar nie van stryk bring nie. Toe die dominee hom weer kom kry, lig sy die laken tot doer bo. Daar sien hy toe nie net die nare wond volledig nie, maar ook die res van haar ongeskonde lyf in al sy naakte glorie onthul. Hy moes sluk om teenwoordigheid van gees te behou. 

“Wat sệ jy toe vir haar?” por ek nuuskierig. 

“Net:’Sjoe dis ‘n kwaai wond.’ Tou vou ek die laken netjies toe, maak keel skoon en onthou skielik van ‘n belangrike ander afspraak.” 

Die grappie: 

Iemand – sệ maar Gerrit self – ry boontoe in ’n propvol hysbak. Op die eerste verdieping gaan die deur oop – en ’n sekuriteitswag, uniform en al, wurm hom in. Met skouers en elmboë beur hy ’n staanplekkie oop. Die bak sit sy opwaartse reis voort met die vername kêrel breed voor die deure, bene wyd geplant, keps op die kop en “walkie-talkie” in die hand.

Hy kyk elke medereisiger vas in die oë. Toe bring hy die “walkie-talkie” na sy lippe, druk ’n knoppie en sê gewigtig: “Kom in, Bravo Drie. Bravo Drie kom in. Oor!” Almal in die hysbak wag saam met hom. Niks gebeur nie. Hy vroetel weer aan sy praat-apparaat. “Bravo Drie, kan jy my hoor, Bravo Drie? Kom in, Bravo Drie. Oor.”

Steeds doodse stilte. Hy druk daai knoppie dat dit sou traan as dit kon, byt op sy tande en sis dit behoorlik uit: “Waar is jy, Bravo Drie? Het jy moeilikheid, Bravo Drie? Hoekom kom jy nie in nie, Bravo Drie? Oor.” 

Stadig en afgemete kom ’n diep stem oor die luidsprekertjie: “Jy is Bravo Drie, jou dom dônner!” 

FOTO: SWA, 1989. Links: Gerrit saam met Piet Steyn, LV vir Winburg, en Ritsema de la Bat van die KWV. Regs: Gerrit by een van ons twee klein vliegtuigies.

MYLPAAL IN JOERNALISTIEK

Januarie 19, 2021 in Uncategorized

Vrymoedigheid by koerante om vorige taboe-woorde stelselmatig in hul kolomme bestaansreg te gee, het as’t ware ‘n hupstoot gekry met die dure verlies van ene John Wayne Bobbitt in 1993. ‘n Mens sou dit ook ‘n mylpaal in joernalistieke openhartigheid kon noem.

Wat gebeur het, is genoeg om elke man koue rillings te gee. John se gade, Lorena, het naamlik in Manassas, Virginia, terwyl hy slaap, ‘n vleismes gegryp en op zijn goeie Engels die “unkindest cut” toegedien. Morsaf. Die voorwerp van haar wrewel is daarna minagtend by haar motor se venster uitgewerp.

Haar woede is ontketen deur ‘n beweerde seksuele aanranding vroeër die aand – iets wat in hul stormagtige huwelik van vier jaar glo meermale die vonke laat spat het. (Later darem weer aangewerk nadat sy in ‘n bedagsame oomblik 911 gebel het. Die nooddienste het die afgesnyde orgaan met die nodige sorgsaamheid uit die veld herwin.)

Oor die sage het koerante wệreldwyd letterlik miljoene woorde geskryf. Die woord “penis” het oornag woerts van diskrete vermeldings in mediese rubrieke tot voorblad-respektabelheid gevorder. Die ontwikkelingsgang sluit woorde in soos “skaamdeel”, “stuk van die onderlyf” en “deel van die anatomie”.

Wat een bloeddorstige Eva darem nie met ‘n skerp mes kan vermag nie!

Vir die hofsaak – met Lorena in die beskuldigdebank weens die diepe leed haar stomme eggenoot aangedoen – het meer as 30 media-organisasies, ook uit die buiteland, die “plattelandse hofsaak van die eeu” in Manassas bygewoon. “The case of the unkindest cut” was voorbladnuus.

Ná ‘n daelange ontboeseming van die intiemste slaapkamersake is Lorena deur ‘n jurie onskuldig bevind op grond van tydelike kranksinnigheid wat gelei het tot ‘n onweerstaanbare impuls om haar man ‘n seksuele bloedneus te gee, by wyse van spreke. Hy is in ‘n ander verhoor op sy beurt onskuldig bevind aan verkragting.

Die twee – wat eers ‘n stuk of vier jaar later finaal geskei is – is afsonderlik derduisende dollars aangebied deur TV-stasies, poniekoerante en tydskrifte wat tou gestaan het om hul kleurryke kooistories op te dis.

Die gesaghebbende New York Times het ‘n volblad afgestaan aan die sensitiewe hegting, kompleet met diagramme. Die Washington Times het ‘n spesiale bylae van 24 bladsye gepubliseer met die opskrif “The Bobbitts across America”. Die kollig is laat val op al die Amerikaanse mans wat aan die hand van hul vroue of jaloerse minnaars sulke gewelddadige amputasies te beurt geval het.

Op een TV-kanaal kon kykers sien hoe ‘n ingenome John die gehoor inlig dat sy aangewerkte bate hom nog beter bedeeld sou maak. Hy het gespog dat hy reeds ‘n nuwe vriendin het, en foto’s uit sy binnesak gehaal – nie van die vriendin nie. Meisies in die gehoor het geskreeu soos hulle lag.

Op ‘n ander kanaal het die eksentrieke aanbieder verklap dat hy John byna $5 000 dollar aangebied het om uit te haal en te wys. John, ‘n fris nagklub-uitsmyter met ‘n seunsgesig, het ná oorweging die gulle aanbod van die hand gewys.Die opspraakwekkende verhoor het tot ‘n hele nuwe bedryf gelei. T-hempies is verkoop met bewoordings soos “A cut above the rest”, “Love hurts” and “Slice of life”. Daarby was afbeeldings van ‘n bebloede vleismes.

‘n Restaurant naby die hof, The Courthouse Deli” het ‘n spesiale middagete aangebied: ‘n worsbroodjie van agt duim – die lengte van die lem! Bykomende kelners en kokke was nodig.

John, wat lank ‘n soort sterstatus geniet het, het intussen in die tronk beland weens aanranding op ‘n ander vrou. Ná sy vrylating het hy voortgegaan om geld uit sy ontbering te maak. Hy het o.m. in minstens twee pornoflieks gespeel. Hy het hom ook as ‘n spreker van faam ontpop.

In New York was hy seremoniemeester by die bekendstelling van ‘n sogenaamde “Bobbit penis protector”. Dit is ‘n kombuismesbestande toestel gemaak van ‘n akrielmateriaal en sou, volgens aanspraak, die draer van ‘n goeie nagrus verseker.

O ja, een van die pornoprente het heet gepas geheet “John Wayne Bobbitt: Uncut”.

TE VINNIG MET DIE NUUS

Januarie 16, 2021 in Uncategorized

Christine Keeler in 1963

Hoe varser des te beter.  Dit geld nie net vir vrugte, groente, melk, brood en eiers nie; gewis ook vir nuus.

‘n Koerant wat skitter met sprankelvars nuus – dit is die ideaal.

Pas egter op vir “te vars”. Die enigste goeie “te” is die “te” in “tevrede”, soos my ouma Elsie altyd vermaan het.

‘n Minsame kollega het ‘n slag ‘n stel afgetrap met nuus wat “te vars” was. Dit was die tyd van die mooi Britse foonsnol Christine Keeler (foto) en ‘n rondslaap-minister, lord John Profumo. Profumo en ‘n Russiese vlootattaché het albei by die skone Christine gekuier. Toe dit uitlek, het vrae ontstaan oor die gevaar wat die indiskrete oorvleueling vir Britse veiligheid inhou.

‘n Osteopaat, dr. Stephen Ward, wat me. Keeler  as’t ware ontdek, die verhewe sosiale lewe ingelei en later “bestuur” het, het midde-in die skandaal ‘n oordosis pille gedrink. Dit was kort nadat nadat hy in Londen in die hof verskyn het op aanklag dat hy uit die opbrengs van onsedelikheid leef.

Ook in Suid-Afrika was ‘n lewendige belangstelling in die stoutighede in hoë kringe. Toe die kollega die oggend van Saterdag 3 Augustus 1963 in Bloemfontein in die hoofsub se inmandjie ‘n flitsberig optel dat dr. Ward gesterf het, het verligting oor hom gespoel. Daar had hy sy vars plakkaatstorie vir die dag, iets wat Saterdae soms hoofbrekens gegee het.

Later, toe die eerste uitgawe al uit was, begin dit hom hinder dat, anders as gewoonlik, net die kort middernagtelike flitsberiggie opgedaag het, niks meer nie. HY gaan deel sy ongemak oor die vreemde toedrag van sake met die nuusredakteur.  Dié bel bekommerd die Londense verteenwoordiger. Nee, hy weet van niks. Kyk juis nou na die BBC se oggendbulletin.

Die ontredderende werklikheid daal skielik op almal wat die oggend in Voortrekkerstraat 79 werk: dr. Ward is nie dood nie.  Dit was daardie wrede oomblik wat elke koerant vrees: dat hy ‘n bogstorie prominent op sy voorblad – en op die plakkaat op elke tweede lamppaal – die wệreld ingestuur het. Berge bedek jou.

Maar waar kom die geheimsinnige flitsberig dan vandaan? Indringende navrae bring aan die lig dat die vorige nag by Die Burger ‘n “natsteen” gehou is; ‘n tradisionele feestelikheid van die nagpersoneel nadat die laaste uitgawe van die week gesak het.

‘n Platjie wou die ontspanne hoofsubredakteur ‘n poets bak.  Hy gaan tik toe die vals flitsberig op die teleksmasjien.

Wat hy nie besef het nie, is dat die beriggie ( “fopnuus” van die eerste water) ook by Die Volksblad ontvang sou word. Hoe sou daardie Burgerman in elk geval ooit kon raai dat ‘n onervare man die oggend by die Vrystaatse suster in die hoofsubstoel sou waarneem, en makliker as ‘n gesoute hand in so ‘n strik sou trap?

Gedane sake het geen keer. Al wat gedoen kon word, is om die voorblad vir die volgende uitgawe ingrypend te verander. Die uitgawe verskyn met die nuus dat dr. Ward steeds sterwende is. Uit iets anders word ‘n  plakkaat opgetower.

Die poetsbakker het natuurlik ‘n kwaai skrobbering gekry, en goed so, maar – soos dinge nou soms maar onverklaarbaar gebeur – had die storie ‘n byna verbluffende kinkel in die stert.

Want terwyl die vragmotors die koerant met die verraderlike poets op die voorblad nog oop en toe na die verre platteland toe dra, blaas dr. Ward ewe bedagsaam in sy Londense hospitaalbed sy laaste asem uit.

So al of die poetsbakker, en die waarnemende hoofsub van daardie oggend, ‘n voorbode gehad het – ‘n “premonisie” soos ouma Elsie dit genoem het.

Heimlik was die waarnemende hoofsub dalk agterna ietwat spyt dat hy die nuusredakteur oor die situasie gaan inlig het.

Anders was ‘n wệreldrekord vir die vinnigste publikasie van ‘n regte, egte scoop-berig dalk agter sy naam!

LIEWE HEUNIS EN ANDER MISTYKIES

Januarie 6, 2021 in Uncategorized

‘n Vergissing waaroor ‘n ruk gelede op die blad Nagkantoor geglimlag is, was dié van ‘n jong verslaggewer wat in Pretoria se Mootgebied ‘n foto van ‘n slagoffer van die bosoorlog by sy ouers moes gaan haal.

‘n Familielid keer hom toe voor en beduie hy moenie nou pla nie, want “the minister is praying with the family”.“The minister from the defence force?” “Yes”. Hy het natuurlik bedoel die kapelaan.

Die volgende oggend staan egter in Beeld: “Die Minister van Verdediging, mnr. PW Botha, het twee uur saam met die bedroefde ouers gebid.”.

Hiermee enkele ander vergissings in nuuskantore: 

Rex Gibson, oud-redakteur van die Rand Daily Mail, het ook ‘n juweeltjie oor ‘n mistasting met ‘n minister vertel.

’n Groentjie-verslaggewer het opdrag gekry het om Chris Heunis, die minister, te bel vir sy kommentaar op die een of ander verwikkeling. Die jong man raadpleeg toe die telefoongids, kry daar C.J. Heunis en skakel.

“Nee,” antwoord dié, “van daardie saak weet hy bokkerol” (hy’t ’n sterker woord gebruik). Vir impak voeg hy sommer ’n paar ander minagtende kragwoorde by wat almal hul weg tot in die RDM se kolomme vind.

Toe die minister boos bel en kla dat hy nooit sulke dinge kwytgeraak het nie, bring ’n vinnige ondersoek aan die lig daar was inderdaad ’n “ligte mistykie”. Die verslaggewer het C.J. Heunis die loodgieter gebel!

‘n Berig in Die Burger oor ‘n vlieënde kondoom wat met ‘n sierlike boog in ‘n swembad op Stellenbosch beland het, het die Cape Times waarskynlik laat wens Simonsberg wil hom bedek.

Die kondoom, gebruik en daarna gevul met water, het uit die bure se erf tot in prof. BH en mev. Eva Marie Koeppen se swemad getrek. Vir die egpaar was dit die laaste strooi in ‘n jarelange buretwis. Hulle is hof toe.

Die volgende dag berig die Times toe ook oor die insident. Onder die opskrif “Prof is mad over condom” haal hy ‘n vies prof. Koeppen self aan. Dié vertel in kleur n geur.

Ongelukkig vir die Engelse mededinger verskyn in Die Burger die volgende opvolgberig : “Mev. Eva Maria Koeppen, die klaer, het daarop gewys dat haar huidige man nie prof. BH van Koepen is soos n.a.v. die telefoongids berig is nie. Pof. Koepen is 10 jaar gelede oorlede. Mev. Koeppen is weer getroud maar het haar vorige van behou. Die stomme Times het sleg in ‘n slaggat getrap.

Sout is in die wonde gevryf toe ‘n Burgerman die Times bel en doodonskuldig vra wat prof. Koeppen se telefoonnommer dan is. Hy soek hom al tien jaar lank.

‘n Keer wat Die Burger bloedrooi moes bloos, was in 1958 toe die jong Jurie Gryffenberg, latere ambassadeur, opdrag kry om verslag te gaan doen oor ‘n rugbywedstryd: Bellville teen die toerspan van die Tukkies.

Hy (wat nie ‘n rugbyskrywer) is die enigste siel in die persbank. Hy vra sommer gou vir ‘n toeskouer watter span is watter een. Die volgende dag verskyn sy verslag, onderteken deur JG, op die sportblad. Die opskrif lui: “Bellville wen; heelagter kry 15 punte.”

O wee, dit was die Tukkies wat 24-6 gewen het. Dit was die Tukkie-heelagter, Charlie Meyer, wat 15 punte aangeteken het. Dit blyk dat JG die volle 70 minute lank die spanne met mekaar verwar het. Sy verslag was ‘n presiese spieëlbeeld van die werklikheid.

Dieselfde berig, in verkorte vorm, verskyn ingevolge ‘n ruilooreenkoms ook in die Times. Die korreksies in albei gevalle was heelwat langer as JG se oorspronklike agterstevoor-berig!

KOERANTE VRA EKSKUUS

Maart 12, 2020 in Uncategorized

….

Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020) mbt Die seuns van Bird Island, via LitNet:

Verklarings van Media24:

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke “The Lost Boys of Bird Island” en “Die Seuns van Bird Island” asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.

….

Terwyl in die base se kantore by my ou werkplek, Naspers, seker op hierdie moment kwaai kopgekrap word oor die dodelike ope brief van prokureur Johan Victor, oor die Bird Island-gedoente, kan twee ligter storietjies oor Pers-verleenthede en die flinke reaksie daarop nie kwaad doen nie, meen ek.

Die eerste raak mev. Maria Malan, tweede eggenote, van dr. D.F. Malan wat in 1948 premier geword (en 31 jaar jonger as wat hy was). Ockie Geyser noem haar in sy boek oor die vroue agter vorige leiers , amper eufemisties, “nie ‘n maklik mens nie”. Seker die dat Die Burger ‘n motor vol senior redakteurs so onverwyld Groote Schuur toe gestuur het om te gaan ekskuus vra oor ‘n”ligte mistykie” in die koerant ná die egpaar se eerste ampsreis na die buiteland in 1949. Die reis het Parys ingesluit.

Oorsese reise was in die jare 40 nog ver van doodgewoon en die gebruik van koerante was om na elke reis van ‘n bekende oor sy of haar indrukke van die vreemde te gaan voer. Ook mev. Malan is om ‘n onderhoud genader. Sy word toe gevra wat sy van die modes in die modehoofstad Parys gedink het. Mev, Malan se antwoord was saaklik: sy het nie juis na die modes opgelet nie. Sy stel nie eintlik belang in modes nie, want sy het so grootgeword.

‘n Oorywerige subredakteur verander die “grootgeword” in “groot geword” (twee woorde). Die puntenerige hoofsubredakteur lees die geredigeerde berig en plaas toe ook sy stempel daarop. Hy verander die “groot geword” tot “geset geword”.

Volgens koerantoorleweringe was die premiersvrou nie geamuseerd nie. Sy het wel darem eindelik die verskoning (plus ‘n duur ruiker) uit die redakteur, destyds Phil Weber, se hand aanvaar.

By (Die) Volksblad  is weer ‘n slag skeefgetrap met die Olimpiese hoogspringkampioen Esther Brand.  Dit was in die dae toe berigte nog in warm lood  deur vakmmanne geset is. By ‘n berig oor haar buitengewone atletiese vermoëns oor die dwarsbalk voeg ‘n ondeunde setter toe by: “En dan is sy boonop ‘n virgin”.

Die proeflesers lees dit mis. Die eerste uitgawe verskyn. Iemand in die sportkantoor lees die naskriffie en maak alarm. Maar te laat. Die vragmotor met die koerante vir Kimberley –  waar die waardige mev. Brand en haar man, Jan, destyds gewoon het, is reeds vort.

Selle storie as by Die Burger. ‘n Deputasie swaargewigte by die koerant word vinnig in ‘n motor gedompel en laat vat Kimberley toe. Skuins voor Dealesville sny hulle by die vragmotor met die gewraakte koerante verby.

Uiteindelik was hulle betyds om haar voor te berei op die skok en nederig om verskoning te vra.  Sy was inskiklik. Eggenoot Jan was egter erg gesteurd – soos enige viriele man in sulke omstandighede seker sou wees.

Wie daardie setter was, weet niemand tot vandag toe nie.  Sy fabriekskollegas en vakbond het soos oesters toegeslaan.