Jy blaai in die argief vir kimberley.

FLITSE UIT MY KLEINTYD

Desember 27, 2020 in Uncategorized

Volgende Sondag, 3 Januarie 2021, word ek 80. Tagtig, verbeel jou. Vandag, presies ‘n week voor bereiking van daardie ver-ver baken as jy jonk is, dwing my gedagtes terug kleintyd toe.

Van my Babanango-era op die plaas Middel-in teen die berg Spês onthou ek weinig. Ek was maar drie toe ons in 1944 noodgedwonge moes Kimberley toe met sy heilsame, droër klimaat. Op doktersadvies. Want klein Hennie sukkel chronies met ‘n kroep-borsie in die nat, mistige weer van Natal.

Die Kimberleyskof – van 1944 tot 1950 – lewer ‘n kaleidosokoop van herinneringe op. Helder beelde doem op van ons nederige ongepleisterde skakelhuisie by Diagonalstraat 10 – naby die stasie en die treinspoor, met ‘n sinkheining en ‘n kleinhuisie met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die agterplaas.

In daardie stowwerige agterplaas het klein Hennie met sy duiwe en skilpaaie geboer en met sy “vetdiere” (blikbeeste, -perde, -varke en -skape) plaas-plaas gespeel. Een gedenkwaardige agtermiddag het hy hom verbeel hy is Superman. ‘n Vliegpoging van die tuinmuurtjie af was minder geslaagd. “Superman” se regterpols was morsaf!

Die feit dat die eerste jaar in die nuwe omgewing nog oorlogstyd is, sou vir ander herinneringe sorg: van manne in uniform in die strate, petrolrantsoene, DKW-motortjies, mense in lang, ongeduldige toue vir aartappels en ander noodsaaklikhede, slegte brood en uiters karige suiker-en koffie-porsies. Rys was onverkrygbaar, die bak van wit brood was verbode – as jy daarmee betrap word, was jy in die moeilikheid, groot moeilikheid.

Voordat ek in 1947 by die Laerskool Diamantveld met die skoolbanke kon kennis maak (en in ‘n stadium toe ek tot Pa Seun se ontsteltenis nog telkens die syfer 7 vergeet as ek tot 10 moet tel), het hy op ‘n koue wintersaand op ‘n nagskof by De Beersmyn hondsiek geword. Hy het vroeg huis toe gekom, sy klere netjies opgevou en in die kas gebêre, soos altyd. Daarna het hy in die bed geklim. Daardie selfde nag is hy skielik aan sy hart oorlede. ‘n Man in sy fleur – net 35 jaar oud.

Ma Baby, die jong weduwee, moes maar uitspring en gaan werk. Ek onthou hoe sy elke dag kiertsregop op haar fiets wegry Kimberley-sentrale toe. Die blou Hillman Minxie moes verkoop word. Bekwame vrou wat sy was, het ma lewenslank verseg om te leer motor bestuur.

Oupa Herklaas en ouma Elsie Visser het daardie tyd by ons kom woon. Aan oupa se voete het ek leer Volksblad lees – min wetend dat ek drie dekades later redakteur van die koerant sou word. By ouma Elsie het ek brood met botter en tamatiesous leer eet en vol fiemies geraak oor kos. Dit het arme ma grys hare besorg. Gelukkig het ek in latere lewe my nonsens gelos. Als is vir my lekker – tot kool en pampoen. Hou net afval weg, asseblief.

In 1950 het pa Tonie Malan in ons lewens gekom. Ek en ma is terug Natal toe. Vir ‘n ruk was ons tuis by oom Martiens en tannie Dinah Maritz by die Boshoekmyn, naby Vryheid, waar hulle die winkel en slaghuis besit het. Ek het skoolgegaan op die naburige myndorpie Enyati. Soggens langs die pad gaan staan om deur ‘n steenkoolvragmotor opgelaai te word. Ai, daardie kragtige Studebakers.

Toe die twee trou, het ons na Durban verhuis. Ek het die eerste keer die see gesien. In Durban het ek opgehou om ‘n klein seuntjie te wees. Het in wind en weer met my fiets van Botanic Grove, Berea, Port Natalskool toe gery – nogal ‘n fris ent. Selfs Saterdagoggende alleen die bus gehaal Kingsmead toe vir krieket of met ‘n pak strokiesverhaal-boekies in my arms om te gaan fliek en boekies uit te ruil, soos die gebruik was.

In 1951, terwyl Basil Kenyon en Hennie Muller se Springbokke in Brittanje amok maak – onthou Murrayfield! – het ek in Durban tien jaar oud geword. ‘n Groot seun!

Hemel, dit was 70 jaar gelede. Tempus fugit – het die tyd nie gevlieg nie!

ONDER EEN DAK

Junie 24, 2016 in Uncategorized

Voorstoepie se trap   pies, Diagonalstraat 10.  Ek speel met my Dinky Toy-karretjies.

Voorstoepie se trappies, Diagonalstraat 10. Ek speel met my Dinky Toy-karretjies.

Kort nadat ek in 1980 van Beeld af Die Volksblad in Bloemfontein toe is, het ek my ou tuisstad Kimberley besoek. Ek het Tokkie Diagonaalstraat 10 gaan wys waar ek van 1944 tot 1950 gewoon het, waar my pa in 1946 oorlede is en waaruit ek in 1947 by die Laerskool Diamantveld begin skoolgaan het.

Natuurlik het ek gewonder: wie sou nou in daardie huisie woon?

Wel, 35 jaar later, weet ek. Dit was ‘n jong paartjie met die van Malan – interessant genoeg ook die nuwe van my ma, Baby, nadat sy in 1951 met Tony Malan van Durban getroud is. Hy het my Pa Malan geword en ons verhouding was so goed soos dit tussen ‘n stiefpa en ‘n seun kon wees. Dink dikwels met deernis aan hom.

Hannes Malan het uit Boskburg ‘n e-pos gestuur nadat hy in By van die Van Deventers se Kimberleyjare gelees het in my Vadersdagartikel oor Pa Seun – die pa wat ek nie geken het nie weens sy te vroeë dood.

Hannes skryf:

“Ek het jou artikel in die By van 18 Junie met belangstelling gelees.
Jou onthou het ook my en my vrou se onthou geword. Die skakelhuisie in Diagonalstraat 10 was ons eerste huisie nadat ons getroud is.

“Ons was die eienaars vanaf 1977 tot 1982.Jou artikel het goeie herinneringe terug gebring.Om een of ander rede het die huisie my altyd laat dink as dit kon praat, watter stories als daar sou kon uitkom. Wel hier is een.

“Ek kom nog van tyd tot tyd in Kimberley en sal graag vir jou n foto van die huisie stuur indien jy sou belangstel.”

Natuurlik het ek geesdriftig die aanbod aanvaar.

Eers die briefie van Trienette de Beer wat in Diagonalstraat 5 gewoon het en toe die briefie van Hannes. Ons was as’t ware onder een dak – al was dit dekades uitmekaar. Ek kon my oe nie glo nie. Wonder of die sinkpplaatheining in 1977 nog daar was – en die peperboom in die agterplaas waaronder die kleinhuisie met sy lang houtbank en emmer was.

Ook uit die stad Deventer in die provinsie Overijssel in Nederland – die stad van my vadere – het ek – al is dit onregstreeks – gehoor.

Jaap van Lille het laat weet:

“My skoonsuster (my vrou se suster) woon al ‘n hele klompie jare in Nederland en ons het al ‘n hele paar kere vir hulle gaan kuier. Hulle was eers in Brummen, het toe vir ‘n paar jaar in Groningen gewoon en is nou weer terug in Zevenaar wat digby Arnhem is. Toe hulle in Brummen was, het ons gereeld Deventer besoek, want dit is die grootste plek daar naby en het ook die Lebuïnuskerk besoek.

“Jou artikel gaan oor ons wortels en dit was vir my so wonderlik om daar in die Lebuïnuskerk teen die mure in oud- Nederlands (wat verstommend naby aan ons eie taal Afrikaans is) tekste uit die Bybel en die Apostoliese Geloofsbelydenis te kon lees.

“Een jaar met ‘n winterreis na Nederland, het ons ‘n uitvoering van Kersliedere deur ‘n koor in die Lebuïnuskerk bygewoon wat ‘n blywende indruk op my gemaak het. Dit is indrukke soos hierdie wat vir ons, wat die gene van die Europeërs in ons dra, maar in Afrika woon, herinner waar ons vandaan kom en waarom dit vir ons moeilik is om die kulture van Afrika te aanvaar.

“My eie stamvader, Jakob van Lill(e), het in 1803 per skip van Rotterdam aan die Kaap geland, eintlik op pad na Batavia, maar op versoek in die Kaap gebly. Dit is heelwat later as jou stamvader.” (My stamvader, Gerrit Jansz het in 1687 na die Kaap gekom.)

Waarlik, hoe klein is die ou wêreld nie!

KOUE VOETE

Junie 21, 2016 in Uncategorized

Sinkheining in Diagonalstraat.Klein Hennie met 'n vrslete buiteband.

Sinkheining in Diagonalstraat.Klein Hennie met ‘n verslete buiteband.

Oorstelpende reaksie gekry op my stuk oor Pa Seun wat vandag 70 jaar gelede dood is, veral nadat dit in By, naeeekbylae van Die Burger, en op Netwerk24 gepubliseer is. Wonderlik dat my herineringe ook ander mense se herinneringe geword het. Hieronder volg ‘n briefie van ‘n buurmeisie as’t ware.

Darem nie heeltemal nie. Hoewel Trienette Muller (nou De Beer) in Diagonalstraat 5, Kimberley, grootgeword het, was dit jare na my. Toe sy in 1954 in sub A by die Laerskool Diamantveld kom, was die uwe al in st. 7 aan Volkies op Potchefstroom.

Van haar wonderlike herinneringe aan die Avbob-oom en sy lykwa weet ek niks!

Weet wel van die “creamery” en onthou die geratel van die treintrokke. Het elke dag daar verbygestap skool toe en graag die steil afdraande aangedurf met my fietsie. Het ook self gereeld ‘n pennie se “drop” (lang swart likories) by die winkeltjie/kafee op die hoek gekoop. By ‘n losieshuis verbygestap waar ‘n asemrowende 1948 Chev Fleetline met witwalbande geparkeer was.

Trienette skryf:

“Jou artikel, In Pa seun se voetspore, in By van 18 Junie het my totaal nostalgies gehad! Sien ek het my laerskooljare op Diamantveld deurgebring. Ons het in Diagonalstraat 5 gewoon. Die skoolhoof was eers mnr Roux met sy glasoog en toe mnr MWH Smit met sy wye broeke met turn ups, sy baie groot Amerikaanse motor en sy mooi vrou.

“Ek was in sub A in 1954. (Die uwe is sewe jaar tevore in 1947 al skool toe.)

“My pa was die sendeling eerw Piet Müller. Ek onthou nog duidelik die geratel van die treintrokke en stoomloko wat by die ’çreamery’ gestop het.

“As jong dogtertjie onthou ek die volgende mense van die straat:

“Die Van der Merwes drie huise van die spoor af – die AVBOB-oom wat dikwels met sy lykswa met lyk en al kom middagete eet het nadat hy ‘n lyk ver moes gaan haal. Ons kinders het grootoog deur die ruit geloer het na die voete wat uitsteek! En dan weggehardloop het dat die vonke spat vir die spook! Hul dogter was Sibel. (Sou ongetwyfeld self ook koue voete gekry het vir die koue voete!);

“Die Louwgesin met hul nege kinders regoor ons;

“In een van die die skakelhuise waarvan jy praat, het Binghams gewoon wat met so ‘n outydse regop-motortjie gery het. Die kinders het altyd hul neuse teen die agterruit gedruk wanneer hulle wegtrek.

“Ek onthou jou nie. Maar lei af dat jy ouer is as ek. Ek is 68. (Natuurlik sou sy my onthou het, maar ek is 75 en ons is weg uit Kimberley in 1950, toe ek nege was!)

“Dan op die hoek van die straat waar mens afgedraai het na ou Valla se winkel verderaan waar mens die wit Hillstoffies kon koop, die Engelse met die seuns wat baie grend was met hulle resiesfietse!

“Dan het Ockert Fourie en sy sussie Diana- hulle net om die draai van die ander straat gewoon (agter die van der Merwe- lykbesorger). Dis die straat wat deurgeloop het na Transvaalweg. Het die naam vergeet. (My Oom Willie en tant Minnie Smith het in Transvaalweg 1 gewoon.)

“Ek onthou die warm somers toe my pa ons almal se matrasse in die voortuin gesleep het sodat ons buite kon slaap om af te koel; die donderweer met blitse; die sinkplate wat die huise se tuine afgewerk het as heinings; die rooi sinkdakke wat trom geslaan het as dit reën. Ek is vandag nog dol oor sinkargitektuur!

“Mense met wie ek nog kontak het: Claudette Ferreira, Lydia de Waal, Fonnie du Plooy (was in my klas), Johan van Huyssteen – ouer as ek.

“‘n Paar jaar gelede was ons in Kimberley want ek wou weer in daardie straat kom, maar helaas dis weg en die omgewing totaal verander. Net herinneringe bly.

“Hennie dankie vir jou lekker artikel Wou net sê dit met my so laat verlang na die tyd toe ons kinders saans tot laat buite gespeel het, sonder gevaar wat dreig en sonder diefwering teen die vensters.

“Diagonalstraat- groete

“Trienette de Beer (gebore Müller)”.

BABANANGO TOT MELKBOS

Desember 31, 2014 in Uncategorized

Vandag, net ‘n asemteugie voor die betreding van my 75ste jaar op Saterdag  3 Januarie 2015, blaai ek die vergeelde bladsye van my eie geskiedenisboek ver-ver terug.

IMG_0003

 

 

 

 

 

 

My ouers was Johannes Cornelius (Seun) van Deventer van Babanango en Maria Petronella (Baby) Visser van Paardeberg (foto bo).    Twee mooi mense gewees!

IMG_0002-001

 

 

 

 

Ná hul huwelik het die jong paartjie hulle op die plaas Middel-in aan die voet van die berg Spês in die wuiwende graslande van die distrik Babanango gevestig (foto bo). Middel-in was deel van die familieplaas Rondspring.

IMG_0004-001

 

 

 

 

 

 

Op 3 Januarie 1941, ‘n dag voor my pa se 30ste verjaardag, is hul oudste (en enigste) seun, Jakob Hendrik, in Sister Gilbert se Nursing Home op Dundee  gebore.  My ma was ‘n bloedjong 21.  Op die foto is die eerste foto van die uwe. Die mannetjie was toe twee maande oud. Sy stootwa lyk na ‘n heel netjiese 1941-model.

IMG-001

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Jakob Hendrik kom van oupa Van Deventer,  hier op die foto saam met ouma, Maria Catherina van den Berg. Oupa Jakob was 30  jaar ouer as pa Seun, nes pa Seun 30 jaar ouer was as ek, en ek 30 jaar ouers is as Johan.   Die grootvader en grootmoeder is in die familiebegraafplaas op die plaas Rondspring begrawe.  Het ‘n klompie jare gelede ‘n pelgrimstog daarheen onderneem.,

IMG-001

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Buiten vir die foto in die stootwaentjie, het ek ook babafoto’s (bo) waar my pa my vashou (op 4 maande) en waar ek op sy skoot sit langs die huis (op ses maande).   Let daarop dat hy, die jong boer, op albei foto’s baadjies aan het. Ongelukkig had die kleine Van Deventer ‘n kroep borsie, wat toenemend minder lekker geakkordeer het met die klam, mistigheid van die Natalse weer.

hvd0161

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Op hul seuntjie se tenger ouderdom van drie moes die Van Deventers op doktersadvies die groen heuwels van Noord-Natal groet  en na Kimberley verhuis. Pa wat nie ander opleiding gehad het nie, het by De Beers werk gekry as sekuriteitsbeampte.  Ons huis was ‘n skakelhuisie in Diagonalstraat (nommer 10) met ‘n peperboom en ‘n kleinhuisie in die agterplaas.  Die foto bo, op die voorstoep, is in 1946 geneem.  Kon nie lank voor pa se skielike dood gewees het nie.

IMG_0009-001

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Op 21 Junie 1946 het pa by die werk siek geword, op sy fiets huis toe gery, soos sy gewoonte was, sy klere netjies opgevou en in die kas weggebêre.  Kort daarna  is hy in sy slaap aan ‘n bloedklont deur die hart oorlede. Hy is begrawe in Kimberley se begraafplaas , blok q, ry 12, graf 7.   Dis die weeskindjie Hennie wat hierbo, netjiese gebaadjie en gedas en pet in die hand, by die grafsteen staan.

Scan10076

 

 

 

 

 

 

Ma Baby en ek was alleen (totdat sy in 1950 met Tony Malan getroud is – so goed vir my soos ‘n eie pa).  Sy het in die Kimberleyse sentrale gaan werk waarheen sy elke dag met haar fiets gery,  My Tant Minnie het my in 1947 die eerste dag skool toe geneem …. ‘n verlore skapie.

 

10685471_1035197449829115_8014127872224826142_n

 

 

 

 

 

 

 

Maar die kleine Hennie het fluks geleer en het, ondanks die borsie, ‘n gesonde man van 74 geword, al 48 jaar gelukkig getroud met Tokkie en al 18 jaar afgetree hier op Melkbos,.  Die Here was vir my goed. Hoe dankbaar moet ‘n mens nie wees nie!

* Tot siens 2014. Glimlagjaar elke leser toegewens.