Jy blaai in die argief vir jakkalsbessie.

BOME VAN STATUUR

Maart 30, 2022 in Uncategorized

Een, twee, drie jakkalsbessies tel ek op die werf van Tarlehoet by Wildevy 154, Sabiepark. Oornag het hierdie bome van statuur ‘n nuwe status verwerf.

Jakkalsbessies is een van vier nuwe spesies op SA se lys van beskermde bome. Bewaar jou as jy hulle sommer net gaan verniel of met minagting behandel.

Prominentste boom by Tarlehoet is waarskynlik die gedugte maroela (links op die foto) teenaan die voorstoep en braailapa met sy sware takke wat sambreel maak oor die dak. Die laaste jare beur ‘n parmantige jong jakkalsbessie (regs op die foto) styf teenaan die ou heer se gryserige stam boontoe. Hy kom, hy kom. Gaan hy nog die oorhand kry?

Uit Wildevy lei ‘n kronkelende groen oprit van sowat 120 meter na die huis. Langs hierdie laning – dit moet een van die mooiste in Sabiepark wees, spog ek onbeskroomd – staan ‘n erewag van pragbome wat twee opgeskote jakkalsbessies insluit. Hulle gaan nog groot bome word, Salute, julle.

Wat die jakkalsbessie vir ons ekstra spesiaal maak, is dat dit die boomnaam is wat kleinseun Thomas by die WAT borg, (Jacob borg die blinkblaar-wag-‘n-bietjie en Christopher die wildevy).

Dan is ‘n gunsteling-besoekpunt op elke Sabieparkvakansie die reuse-jakkalsbessie met sy drie boomhuise by die Proteahotel by die Krugerbrug. Daar gaan ons bepaald in Junie weer saam met die drie seuns “roomys in die boomhuis” eet.

Vanaand drink ek ‘n eerste heildronk op ons bome van statuur met hul nuwe status. Oor twee weke, op 7 April, arriveer die Van Deventers in Sabiepark vir hul jaarlikse lang staning – nou weer moontlik na die Covid-onderbreking. Daardie aand drink ons op ons bome ‘n tweede heildronk op die stoep van Sabiepark – dalk in die teenwoordigheid van ‘n paar nagapies of ‘n bosnagaap of twee in die nimlike jakkalsbessie