Jy blaai in die argief vir huise se name.

BUFFELSBAAI, GELIEFDE GROND

Februarie 25, 2015 in Uncategorized

IMG_3430

Waar sy Johan vier dekades gelede geleer vissies skep het, leer ouma Tokkie vir Migael van Buffelsbaai se poeletjies.

Van Februarie 1971 toe die Van Deventers Buffelsbaai ontdek tot Februarie 2014 toe ons die soveelste keer die geliefde kusdorpie aan die Tuinroete binnery, het die tyd nie stilgestaan nie. Kastele het verrys … ‘n mens kan die voorspoed amper saam met die prikkelende seelug op jou lippe proe.

Buffelsbaai het verander maar ook NIE verander nie. Die manjifieke seevistas is onaangetas. Die bekende reuk van gekneusde renosterbossie stu steeds in die neusgate op. Dieselfde lui, spekvet seemeeue – so lyk dit altans – luier om die rotse en die braaiplekke rond. Dieselfde eeue-oue rotse weerstaan steeds die getye. Die seesand van die uitgestrekte strande – weliswaar gespikkel met kleurryke vlieërs – is nog dieselfde sagte kastaiingbruin.

IMG_3443

Kastaiingbruin strande gespikkel met kleurryke vliëers.

‘n Wandeling bultjie op en bultjie af verg meer inspanning as vier dekades gelede. Ook jy het helaas verander – die veerkrag in jou tred het met die jare maar sleg afgeslyt. Die asem brand, maar die wandeling neem jou steeds verby huise met name wat, soos nêrens elders nie, die humorsin, vindingrykheid en oorspronklikheid van die eienaars weerspieël.

Ons was vir die naweek vir ‘n heen-en-weertjie saam met die Van Deventerkinders van George in die wit hoekhuise, Heen-en-Weertjie met teen sy woonkamermuur ‘n nogal vernuftige aaneenwewery van allerlei oulike name in storievorm. Dit vertel van iemand wat Na die oes Moeggeploeg vir ‘n Luilekker kuiertjie in hierdie Hemel-op-aarde opdaag.

Dit word ‘n ‘n heerlike tyd van Stokkiesdraai, Boordjie-Af, Skuinslê, Pyp en Pantoffels en Son en Saffier in ‘n huis wat Nooit-Te- Vol is nie. Die anonieme outeur bou ook ander bekende Buffelsbaainame in sy/haar storie in wat van welbehae getuig; name soos Woelwaters, Drie Swaers, Kop-bo-Water, Yt-rat-yt en dies meer. Net teleurgesteld dat “ons huis”, Kammarus, waar ons dosyne vakansies deurgebering het, nie die paal gehaal het nie. By dié, terloops, kom blykbaar ‘n groot brekery en bouery. Was daarom nie beskikbaar nie.

IMG_3482

Vir ‘n heen-en-weertjie in Heen-en-Weertjie

Van dié romantiese ou name name het voor die onstuitbare opmars van ontwikkeling en vooruitgang gesneuwel. Allerlei villas so-en-so en casas dit-en-dat het in die plek gekom. Maar ek voel steeds tuis as ek tussen die opgestapelde huise in daardie knus straatjies loop. Ek tel steeds die ure totdat die vuurtjie kan begin flikker, en ervaar steeds verlies as die tyd vir oppak aanbreek. Dis weemoed-tyd wanneer die motor verby die Goukamma sy koers kry op pad huis toe. Die serigheid is nie minder swaar as doerie jare nie.

Een nuwigheid het met pynlike impak getref. Dis egter nie net ‘n storie van Buffelsbaai nie; wel een van die donker temas van die Suid-Afrika waarin ons in die jaar 2015 leef. As die sekuriteitsfirma se bakkie (nommer 9) ‘n dosyn keer by ons huisie verby is in die naweek, is dit min. Op ‘n keer het ek selfs ‘n huisalarm dringend hoor loei …

TARENTAAL VAN ANDER KLEUR

Junie 12, 2013 in Uncategorized

Ek weet van ‘n Tarentaalkraal by Greyton, ‘n Villa Tarentaal by Tulbagh en ‘n selfsorgplek Tarentaal by Struisbaai. Goeie vriende, Ben en Rina van Rensburg, woon in Tarentaalstraat 1, Onder-Papegaaiberg, Stellenbosch.

Ek en Tokkie is nie oormore na een van bogenoemde op pad nie. Kulula vat ons vroegoggend Johannesburg toe en die ou Honda wag daar vir die laaste skof via Nelspruit en Hazyview na Sabiepark … en Tarlehoet by Wildevy 154. 

As dit ‘n vervelige stukkie nikswerd-inligting is, is ek jammer, maar in die lig van navrae oor my vorige twee blogs – wat is die naam nou weer, Tarentaal; wat beteken Tarlehoet, nou weer? – moet ek tog maar oor die naam van ons bosplek weer die ou (bos-)paadjie bewandel.

Kom ons begin by Sabiepark se naamgee-kultuur.  Die foto hierby van ‘n verskeidenheid naamborde beduie hoe die wind daar waai.  Toe ons Tarlehoet einde 1997 koop, was sy naam Ukuthula (Vrede van Binne). Ons het gemeen ‘n Van Deventer-stempel op ons nuwe kuierplek vereis ook ‘n nuwe naam.     

Sonder veel kopkrap het ons Tarlehoet gekies – moontlik ietwat raaiselagtig vir oningewydes, toegegee, maar ‘n naam uit die Van Deventer-geskiedenis. Dit kom via die naam van ons huis van langer as ‘n dekade op die hoek van Van Schoor – en Kmdt. Senekalstrate in Bloemfontein, wat dit weer gekry het van ‘n Boesmantjie in een van Elizabeth Vermeulen se verhale oor die Noordweste.

Die Noordweste was die eerste eienaar, wyle Bontie Bonthuys, se kontrei en Elizabeth Vermeulen was sy gunsteling-skrywer. 

Tarlehoet (‘n Tarentaal van ‘n ander kleur!) het mettertyd diep in die Van D-kultuur nesgeskrop. Dit is o.m. ook die naam van my private uitgewerytjie, wat verskeie boeke op sy kerfstok het. Vir ons beteken dit sommer kortweg: ‘n Plek waar ons lank en gelukkig gewoon het.

As ek nou ‘n ander naam vir die plek sou moes oorweeg, sou ek die oorspronklike Ukuthula tog in die hoed sit. By Tarlehoet ervaar ons heerlike vrede van binne.  Op my laaste skof streef ek na nog groter vrede; wil konflik vermy waar ek kan. .

Baie bepaald ook in daardie hoed sal wees Kumbaya of Kumbayah, ‘n Kreoolse spirituele lied wat die Goeie Vader nooi: “Come by here, my Lord” – “Kom hierlangs”. Ons het dit op ‘n CD, soos uitgevoer deur Placido Domingo en Vriende. Hemelse musiek.

Soos ek voorheen hier geskryf het, sou ek graag by my kampvuurtjie wil sit en neurie: Kumbaya, my Lord, Kumbaya. “Here, U is hier, ek voel dit. Kom asseblief, altyd weer.” Ek sou ook met die naam vir my vriende.wil nooi: Kom hierlangs. Kom in. Kom geniet ‘n wyntjie! Trouens, ek sou my plek wel ook Kelkiewynkannoem – soos vriende se vakansiehuis op Kleinmond.

Vraag is, sou ek nie maar elke keer ook moes verduidelik wat Ukuthula of Kumbaya beteken nie?  Of moes bontstaan om te verduidelik dat ek nie die naam Kelkiewyn by Salie en Lisa de Swardt gegaps het nie?

(Naskrif:  Gegroet, bloglesers. Vrydagaand is ek hopelik by ‘n vuurtjie by Tarlehoet. Dalk sal ek van daar af blog, dalk nie. Tyd sal leer.)