Jy blaai in die argief vir hennie van deventer.

‘N BOEKIE VIR (AMPER) 80

Oktober 25, 2020 in Uncategorized

Op 3 Januarie 2021 – ‘n bietjie meer as twee maande – word ek 80.  Ietwat prematuur of nie, maak ek dit die onderwerp van vandag se blog. Hoekom, sal mettertyd duidelik word, hoop ek.

In die (amper) 80 jaar staan verskeie hoofelemente uit. Almal wat my ken, sal kan raai watter dit is. Buiten my naastes,  is daar onder meer (plus-minus chronologies) Potch-Volkies, Kollege-tehuis, Tukkies, Harvard, Bloemfontein, Randburg, Sabiepark, die Krugerwildtuin, Melkbos en skeepvaarte, waaraan ek in die later jare verslaaf geraak het.

Van al die dimensies is my koerantverbintenis ongetwyfeld die onuitwisbaarste.  Niks identifiseer my in dieselfde mate nie,  glo ek, al het 24 jaar verloop sedert ek my kantoordeur aan die Heerengracht die laaste keer agter my toegetrek het.

Middel 2020 sou die noodlot egter ingryp.  Media24 kondig ‘n ingrypende  nuwe  bedeling vir sy drukmedia aan. Ook Volksblad se ink droog op. Sy lewe as papierkoerant ruk ná 116 vrugbare jare tot stilstand.

Vir geen oomblik sou ek ooit kon droom dat hierdie trotse koerantgewel uit die hoofstroom sou verdwyn voordat ek die 80-baken bereik nie.

Die afskaling van my geliefde koerant waar ek 12 jaar redakteur was,  was nie net volslae onverwags nie.  Dit was ook ontugterend  en ‘n moeilik verteerbare skok –  ‘n sware verlies.

Vir my 80ste verskyn ‘n gedenkboekie met die titel “Koerant”.  Dit is ‘n selfpublikasie met ‘n beperkte oplaag, versorg deur Coenie Nolte se De Novoboeke. In die boekie  is die rou oor Volksblad se lot nog vars. Ek probeer nie my hartseer verbloem nie. Dit bied trouens die kapstok vir die boek.

Die rou is egter maar net die vlammetjie wat ‘n groter vuur aansteek. In ‘n stuk of 50 essays skryf ek darem nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekotes is opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor  ander koerante en die koerantwese in die algemeen.

Noem ‘n aspek van my  loopbaan –  iewers steek dit kop uit. Moet dus nie verras wees nie as selfs onverwagte name soos Dallas, Anneline Kriel en Racheltjie de Beer in die bladsye van Koerant opduik.

Onder die jongste nuuswaardighede in my boekie is die roemlose aftog van die uitgewery Tafelberg rakende die snertboek oor “die seuns van Bird Island” en sy gruwelike beswaddering van eerbare leiers in die vorige bedeling. Van die aanvanklike onboetvaardigheid uit daardie oord het niks oorgebly nie.

Die sage was ‘n stukkie pynlike Persgeskiedenis waaroor ek my uit die staanspoor nie onbetuig gelaat het nie. Oor ‘n tydperk het ek agt koerantbriewe daaroor geskryf in Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad.

Dat my radar nie verkeerd was nie, is vir my hier aan die vooraand van my 80ste ‘n bron van vreugde. Ek draai daaroor nie doekies om nie. Nie almal wat die boekie onder oë kry, sal daardie hoofstuk met welgevalle lees nie – en dalk enkele van die ander hoofstukke ook nie. Ek maak nie ‘n moordkuil van my hart nie.

Die boekie verskyn in gedrukte formaat vir naaste familie, vriende en kollegas.  Vir die grootste gros ontvangers bied ek dit as e-boek aan. Die skakel sal binnekort aan hulle bekend gemaak word.

Die aflewering is ietwat prematuur. Dit is met die oog op die einde-van-die-jaar-gewoel aan vele fronte. Dit is nog te meer die geval om my Volksblad-storie te vertel terwyl dit nog relatief vars is.

Aan al die lesers: lees die boek en klink saam ‘n glasie op 80 vervullende jare.

EEN AAND IN LONDEN

Oktober 16, 2020 in Uncategorized

Johan en sy wen-kar,.

My storie gaan oor ‘n herinnering aan my goeie kollega, vertroueling en gewaardeerde gespreksgenoot  Chris Moolman (79) wat vanoggend  oorlede is. Om by die storie te kom, moet ek eers ‘n draai maak by ’n motorwedstryd van die Vrystaatse Nasionale Party, ter viering van dié se vyf en twintigste bewindsjaar.

’n Deftige maroen 1973-Dodge SE met ’n ligbruin vinieldak was die eerste prys. Deelnemers moes ’n limeriek voltooi wat soos volg lui:

Vir vyf-en-twintig jaar ’n wakker Party
wat gereeld die Opposisie
met mening kasty –
Nasionaal is sy naam,
hy kan baie hard slaan
taradam, taradam, taradam.

Ek skryf toe in op my vrou, Tokkie,  se naam. My slotreël (namens Tokkie) was: “Soos die vuisvose Sappe met verdriet moet bely!” Dit wen vir haar die Dodge.

Met die maroen Dodge veilig in ons motorhuis in Kmdt. Senekalstraat, Bloemfontein, word ek aangestel as eerste nuusredakteur van Beeld, die te stigte Naspers-dagblad in Johannesburg. Begin April groet ek Die Volksblad en vertrek dadelik op ’n studiereis van vyf weke na Londen om my voor te berei vir my nuwe taak.

Kollega Chris verteenwoordig daardie tyd die Nasperskoerante in die Londense kantoor. Een aand het ons groot planne vir ‘n “manne-aand” by Soho se kuierplekkies. Hy daag by my in die Charing Cross-hotel op met die vreemde vraag: “Wat gaan jy met die kar doen wat jy gewen het?”

“Nee, ons ry hom al,” antwoord ek.

“Albei?”

Eers toe snap ek daar is weer goeie nuus. Dié keer was die wenmotor ’n 1974-Valiant Charger, die eerste prys in ’n wedstryd van die Vrystaatse Universiteit. Ek het op my seun Johan se naam ingeskryf.Die driejarige knaap stap toe met die tweedeur-Charger weg en op die foto (hierby) lyk hy nogal heel in sy noppies agter die stuurwiel.

Aan my en Molie (soos ek Chris genoem het) se “kuier-aand” is meteens ‘n ekstra dimensie gevoeg, ‘n Dop of twee op die Charger was sekerlik nie buite orde nie.

Om te wen, moes ’n mens die beste rede gee waarom jy graag die betrokke motor sou wou besit. Ek het (namens Johan) in rympievorm geantwoord:
Hy’s vir die oog ’n fees en so sterk soos ’n bees,
Dis waarlik ’n spogwa om trots op te wees!

In Naspers-koerante was daarna berigte met opskrifte soos: “Twee motors gewen binne ses maande!” en “Koerantman wen twee motors”. In die berigte is daarvan gewag gemaak dat die twee nuwe motors saam meer as R9 000 werd is. Goeie ou dae!

Hoe ook al, ek het nog nooit weer soveel geld vir so bietjie skryfwerk verdien nie.

Dikwels moes ek daarna hoor hoe “gelukkig” ek dan is. Nou nie juis die toonbeeld van nederigheid nie, was my respons altyd dié van Gary Player oor sy suksesse op die gholfbaan: “Hoe meer ek oefen, des te gelukkiger word ek!”

OM TE KOES VIR ‘N SOEN

Oktober 9, 2020 in Uncategorized

Hoe reageer jy as ’n dierbare vriendin, soos haar pikante Swartlandse manier is, jou gesig in haar hande toeskulp en jou met ’n klapsoen groet? Of as ’n goeie buurman onaangekondig jou voordeurklokkie lui sonder ’n masker op die gesig?

Volhard jy om “nee dankie” te sê vir die een hartlike uitnodiging op die ander na aandetes by vriende wat al hoe lank sukkel om ’n afspraak te beklink? Bly jy liefs steeds ver weg van byeenkomste van jou klub, leeskring of kerk? Vermy jy alle partytjies en was jy Braaidag maar stoksielalleen by jou vuurtjie?

Skielik maak COVID-19 vrae soos hierdie nogal relevant omdat verskillende lewenswyses spanning en onbegrip tussen vriende bring. Botsende beskouings veroorsaak verwydering, selfs tweespalt. Dit etiketteer mense, kategoriseer hulle en dryf wigte tussen verskillende kategorieë in. Dit is een van die jammerlike, onvoorsiene, gevolge van die COVID-19-regulasies wat nie op grond van grafieke geprojekteer kon word nie.

Feit is: Uiteenlopende sienswyses oor COVID-19 is uit die staanspoor al ’n werklikheid. Mense redekawel oor die erns van die bedreiging. Is daar werklik so ’n vreesaanjaende virus of is dit maar die gewone seisoenale-griep-ding in ’n ietwat ander gedaante? Soveel mense, soveel menings.

Nou verskuif die debat na vlak een wat uiteindelik, ná soveel moeite, koste en inspanning bereik is. Mense stry dat die spoeg spat. Is dit nou weer “open Sesame” soos tevore? Is dit ’n tyd om dubbel op die hoede te wees?

“Kan ons asseblief nou die nare besigheid agter ons sit en aangaan met ons lewens?”

“Moenie ophou om masker te dra, hande te was en afstande te handhaaf nie.” 

“Is daardie vervelige ou rympie regtig nog nodig?”

Ontkenning loop jy raak om elke draai – en soms waar jy dit die minste verwag. Sal ’n verantwoordelike kontrakteur willens en wetens sy werksmense toelaat om ongemasker hul pligte by vreemdes se huise gaan verrig, soos in een week drie keer by ons gebeur het? Of is dit ’n geval dat werkmense hulle eenvoudig nie aan die baas se opdragte steur nie? 

Ontkenning is natuurlik nie nuut nie. Uit die staanspoor was vrae, kritiek en botsende menings tiekie die bos. Skeptisisme, komplotteorieë en fluisterstories oor politieke bymotiewe het soos ’n stadslegende deur die land geswiep – mense wat “vertroulik” by dié of daardie sus en so gehoor het. Gewoonlik op sosiale media.

Nou, op vlak 1, is dit of hierdie verskynsel nuwe lewe kry. ’n Vriend staan ’n dag of drie gelede by Dis-Chem in die tou by die kasregister. Agter hom staan ’n groterige vrou van seker iets in die vyftig. Sy kruip al nader aan hom elke keer as hy verder weg van haar probeer staan. Haar masker is net oor haar mond en bedek nie haar neus nie.

Sy neem ’n redelik “uitdagende” houding aan en verkondig kliphard sodat almal om haar kan hoor: “Ek steur my nie aan hierdie virus nie. Niemand gaan my vertel wat ek nie mag doen nie. By die woonstel moet ek ’n masker dra as ek by die deur uitgaan, al is daar niemand op die trap nie. Ek doen dit nie.”

Dis toe dat my vriend hom vervies en rustig opmerk: “As dit almal se houding is, gaan ons almal siek raak.” Die tante wip haar vir hom en kap terug: “Nee, ons sal nie. Dis net verkoue.”

“Nee, dis nie. Ek het mense geken wat dood is van die siekte,” antwoord hy.

“Stront,” snork sy weerbarstig. Asof sy alwetend is.

’n Tipiese toneeltjie wat elke dag seker hoeveel kere in elke winkel of openbare plek afspeel. Sedert die afskaling tot vlak 1 kom dit net gereelder, vrymoediger en spontaner voor. 

Die generasiefaktor figureer natuurlik sterk. Jong, gesonde mense, maskermoeg en gefrustreerd weens die weke lange inhokkery, is bondels energie wat brand om die lewe onbelemmerd te pak. Dis te verstane, soos dit vir hulle ook te verstane behoort te wees dat bejaardes, dikwels onheilspellend oorgewig en met lywe propvol sogenaamde komorbiditeite in die algemeen huiweriger is.

Die sienswyse geniet, helaas, nie wyd simpatieke begrip nie.

Omgewingsfaktore speel natuurlik ’n rol. Nie almal het die voorreg om tuis ’n goeie, gesonde lewenswyse as tweede natuur aan te leer en om bedagsaamheid teenoor die kwesbaarder medemens as beskaafde gedrag aan te kweek nie.

Die kleurfaktor sal deur sommige ingesleep word, hoewel dit verstandig is om te waak teen stereotipes. ’n Vriend getuig: “Niemand word by ons huis toegelaat sonder ’n masker nie. Ek moet erken: Ons huishulp wat maar 50 is, gee die toon aan. Sy is absoluut gesteld daarop. Dit dwing die res van ons om ter wille van haar by die reëls te hou.”

Wat bejaardes dalk die meeste hoofbrekens gee, is die diverse hantering van die COVID-19-kwessie onder porture.

Groep A kruip steeds weg agter maskers; wanneer hulle die huis vir inkopies en dies meer moet verlaat, vermy hulle opeenhopings van mense sover moontlik, sonder hulle bra asosiaal by die huis af en is baie bewus van patrone in die buiteland waar nuwe aangetekende koronavirusinfeksies in hierdie week op die hoogste vlak ooit was, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie. Sterftes aan COVID-19 in Europa het op ’n weeklikse grondslag met 27% gestyg, is Dinsdag berig.

Sulke syfers wek vrese vir ’n “tweede vlaag” van infeksies waarteen so gereeld gewaarsku word, en die vooruitsig van tot 60, 70 swaarkrydae in ’n oorvol waakeenheid in ’n koma op ’n ventilator – aan die einde ’n waarskynlik eensame verhuising na beter oorde sonder ’n naaste van ’n dag oud in die nabyheid om in die laaste oomblikke jou hand ’n drukkie te gee.

Vir vriende in groep B is sulke somber gedagtes vreemd. Hulle voel ontslae van ’n sware juk en wil met alle geweld weer “normaal” lewe.

’n Goeie vriend in groep B brand om met sy vriend in groep A gesellig te verkeer. Hy wil vinnig inloer, hom/haar nooi vir ’n koffietjie of ’n glasie wyn of om, soos in die goeie ou dae, ’n broodjie saam te breek. Ou vriende van ver bel selfs om te kom oornag. Arme groep A-ers moet verleë walgooi. Hulle besef hul vriende uit groep B dink hulle is sommer verspot of hul varkies kwyt.

Deesdae het die groep A-mense ’n onvleiende etiket: Hulle “lewe in vrees”. Hulle kry gereeld SMS’e met die boodskap: “Laat jou geloof sterker wees as jou vrees.” Van besorgde leraars kom bemoediging en subtiele herinnerings aan versies soos 1 Johannes 4:18: “In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite, want vrees het te doen met straf …”

Dit laat jou intens skuldig voel; skuldig en radeloos. Want jy bly maar vrekbang vir daai ventilator. Jy weet as die virus jou beetkry, is dit nag. Die druk is enorm. Hoe hanteer ’n groep A-mens dit?

Die stuk verskyn ook op Litnet onder die titel Maskermoeg.

WINNIE EN VERWOERD-KONNEKSIE

September 30, 2020 in Uncategorized

Oor die ironiese kinkels van die geskiedenis kan ‘n mens soms in stomme ongeloof jou hande saamslaan.

Wie sou nou kon dink dat die stowwerige Vrystaatse dorpie waar die skrander Hendrik Verwoerd in 1919 gematrikuleer het – as top-matrikulant die Vrystaat bygesê– ‘n eeu later die eer te beurt sou val om as’t ware ‘n Winnie Mandela-temapark te word? Dit is presies wat nou gaan gebeur. Brandfort gaan Winnie Mandeladorp word. ‘n Standbeeld wat klaar gemaak is, gaan dan as verdere eerbewys op Winnie se dorp verrys.

Saterdag, by die herdenking van Madikizela-Mandela se 84ste verjaardag is die heuglike aankondiging gedoen – natuurlik sonder om na die ongemaklike Verwoerd-konneksie te verwys. Trouens, ‘n mens wonder hoe wyd daardie stukkie geskiedenis in die huidige generasie bekend is.

‘n Ander betekenisvolle Brandfort-konneksie is natuurlik beter bekend. Dit is dié met adv. CR Swart, eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika.

Sy plaas De Aap is net buite die dorp wat maar altyd as “Oom Black se plek” gesien is, al was hy eintlik ‘n seun van Winburg. Sedert sy aftrede in 1967 tot met sy dood op 16 Julie 1982 in Bloemfontein het hy op sy plaas gewoon,

Die Verwoerds se onwaarskynlike pad na Brandfort het in Nederland begin, van waar hulle in 1903 na Suid-Afrika geëmigreer. In Suid-Afrika het hul spore via Wynberg in die Kaap en Bulawayo in die destydse Rhodesië na Brandfort gelei.

In 1917 het Verwoerd senior kolporteur van die NG Kerk van die Vrystaat geword. Later het hy tot die boekhandel toegetree. Weens die griepepidemie kon Hendrik eers in Februarie 1919, pleks van in Desember die vorige jaar, die matrikulasie-eksamen aflê. Ondanks ‘n laat verandering in medium van onderrig behaal hy die eerste plek in die Vrystaat en vyfde plek in die land. Nie te versmaai nie.

Daarna gaan hy na die Universiteit van Stellenbosch – en ‘n briljante akademiese loopbaan begin wat hom mettertyd tot die premierskap van sy aangenome land sou lei.

Oor hoe glorieryk of nie Winnie Madikizela-Mandela se wipplanklewe lewe was – haar wisselvallige verhouding met Nelson Mandela, haar berugte uitsprake oor bevryding met vuurhoutjies en haar geheimsinnige aandeel aan die Stompie Sepei-sage – laat ek my nie uit nie.

Feit is, sy geniet sedert haar inperking op Brandfort in die jare 70 in ‘n sekere gemeenskap in daardie geweste toenemend ikoonstatus – en dit behoort in die huidige konteks van sake geen verrasssing te wees nie dat dié status op hierdie wyse in beton gegiet word.

Een genade van die hele besigheid darem: almal wat Brandfort altyd verkeerdelik Brandford gespel het, sal nou van die spook ontslae raak. Hulle moet net onthou Winnie het twee enne.

TOT SIENS, OU VOLKSBLAD

September 17, 2020 in Uncategorized

Natuurlik bêre ek ‘n laaste uitgawe van Volksblad. Die koerant van 8 Augustus 2020  – opskrifte: “Einde van ‘n era – Die laaste gedrukte uitgawe van Volksblad” – hou ek saam met ander versamelstukke in ‘n verslete aktetas van buffelvel in my studeerkamer.  Die koffertjie self is simbool van ‘n era wat verby is. Dit staan ongebruik daar sedert my aftrede einde 1997.

Oor waar die heel laaste Volksblad beland het, wonder ek. Het iemand op die gesogte eksemplaar beslag gelê om hom as kleinood te bewaar? Gaan hy in ‘n glaskas  teen ‘n muur kom? Is hy doodgewoon in ‘n pakkie saam met ander koerante gebind en by ‘n winkel of kafee vir R10,20 aan ‘n onwetende koper verkoop?  As ek in Bloemfontein was – nie 1 000 kilometer ver op Melkbosstrand nie – sou ek graag my hande op hom wou lê.

Ek sou graag in die drukkery wou wees terwyl die digitale meter van die massiewe litografiese Goss-pers die laaste eksemplare aftel en die werklikheid by al die teenwoordiges insink: “As hy nou stop, dan stop hy.”

Dit sou ‘n somber oomblik gewees het; ‘n oomblik van tasbare stilte en skielike doodsheid – toe die weë skei van die Goss en die koerant waarvoor hy in beter dae spesiaal gekoop is sodat hy sy beeld van “Vaal Boertjie” kon afskud en met moderne volkleur-mededingers in voorkoms saamgesels.

Ek, dosyne huidige en gewese Volksbladders oral oor die land en ‘n menigte verknogte lesers sluk maar swaar aan die einde van die papierkoerant. Nà 116 jaar – hoeveel uitgawes, hoeveel rolle papier, hoeveel konkas ink? – het die gedrukte Volksblad meteens ‘n gister-ding geword. ‘n Ander toekoms wink. Die era van nuus op die slimfoon, tablet en rekenaarskerm het aangebreek vir baie wat nie daarvoor lus of gereed is nie.

‘n Vriend van baie jare, Andrew Murray, het die teenwoordigheid van gees gehad om nog ‘n element van die slothoofstuk van ons Volksblad soos ons hom geken het, te verewig.  Toe die koerant oudergewoonte vroegoggend in Albrechtstraat, Bloemfontein, deur die hek op sy motorpad beland, is hy gewapen met sy kamera by die voordeur uit.

Op die geplaveide oprit het die klein bondeltjie, netjies opgevou en met ‘n toutjie vasgebind, soos elke ander oggend gewag.  Al verskil: dit was nie net nog ‘n oggend nie.  Dit was die laaste een. Andrew se kamera het geklik. Oomblikke later het ek, aangedaan, die e-pos op my rekenaar oopgemaak.

Die eensaamheid van die klein koerant op die groot motorpad was ‘n neerdrukkende beeld.  “Verlorenheid” sou jy die foto kon noem as jy daarvoor ‘n naam sou soek soos vir ‘n kunswerk.

Ek het die foto op ‘n paar plekke op sosiale media gelaai – tog ironies, die rol van die nuwe tegnologie in die proses om oor oue te rou.  “Bekyk die toneeltjie goed. Dit is iets wat jy nooit weer sal sien nie,” het ek met stygende bewoënheid by die foto geskryf.

Verder: “Die hartseer-toneeltjie het ‘n knop in Andrew se keel en ‘n traan in sy oog gebring, skryf hy. Ook in myne hier op die verre Melkbosstrand”

Nie net vir die redaksie, produksiepan, bemarkers en lesers was die uitgawe van 8 Augustus 2020 ‘n totsiens-koerant nie. Natuurlik ook vir die knape wat vroeg opstaan om die nuus vroegdag by intekenare se hekkie of op die voorstoep te besorg.

Koerantverkopers by verkeersligte in Bloemfontein, Kimberley, Welkom en elders was die oggend vir oulaas op hul pos. Daarna het hulle stil-stil verdwyn, elkeen in sy eie rigting. Nuusplakkate, so lankal ‘n permanente faset van die stedelike landskap, het tegelyk van die lamppale verdwyn en saam met die gedrukte koerant museum toe verhuis. Relieke van ‘n tyd wat verby is.

Plek-plek is daardie laaste oggend by verkooppunte lang trane gestort. Soos by die boeremark. Die rapport wat afleweraars en verkopers met hul vaste klandisie opgebou het, was in baie gevalle ‘n hegte een, en vir sommige was die afskeid soos van eie familie.

“Afskeid is ‘hartseer en aaklig’” was die voorbladopskrif van die gedenkuitgawe wat op Vrydag 7 Augustus verskyn het, en wat vanselfsprekend ook ‘n plek in my aktetas met spesiale memorabilia vind.

Hóé hartseer en hóé aaklig.

Aan die ses oud-redakteurs wat nog in lewe is,  is die geleentheid gebied om in die gedenkuitgawe ‘n afskeidsboodskap te skryf. Myne eindig ek met die woorde: “Laat Heer U seën steeds op hom daal.”

Ryke seën van Bo  – dit is my innige en opregte wens vir Volksblad in sy nuwe digitale gedaante op die Netwerk24-platform.

AMPER ‘N MOERSLEUTEL

Augustus 17, 2020 in Uncategorized

In die wêreld van die koerant leer ’n mens allerlei fyn kunsies. Een is vernuftige voetwerk. Só vernuftig dat die uwe ná 35 jaar met genoeg spanning, konfrontasie en stryd kan sê: Hennie van Deventer het verdien om gedonner te word, maar is nooit gedonner nie – hoekom nie is ’n raaisel. Nie dat daar nie ’n paar near misses was nie!

’n Moerige setteryvoorman, Rod Preston, het ’n moersleutel teen ’n veeleisende jong subredakteur by Die Volksblad gelig. By Beeld moes wyle Johan Parreira, ’n bokser, weer een nag vir ’n verskrikte assistent-redakteur lyfwag speel: teen ’n bladplakker met ’n skerp mes in sy hand en moord in sy hart.

Wat presies die kollegas met die gevaarlike wapens in die hand se humeure so laat opvlam het, kan ek nie presies onthou nie,  In eersgenoemde geval wil ek my herinner aan ‘n puntenerigheid oor iets wat vet (swart) geset moes gewees het en nie was nie. In die tweede geval herinner ek my aan ‘n irritasie oor wat die vakman as onnodige rondskuiwery van berigte tussen die eerste en tweede uitgawes beskou is.

Kollegas het my ’n kompulsiewe koerantman genoem. Gewag is ook meermale gemaak van my entoesiasme.  Die twee kan ’n giftige kombinasie maak. Helaas.

By my afskeid van Naspers in 1999 het ek die volgende woorde kwytgeraak: “Ek kies die uitweg van die lafaard, met een enkele kollektiewe apologie, hetsy vir ongevoeligheid, onnadenkendheid, ongedurigheid of onreg wat gepleeg is. Daar was ongelukkig te veel van elk hiervan.” Die boetvaardigheid geld steeds.

Omgekraptheid oor my manier van doen was nie altyd net intern nie.

Later, in my redakteursdae, glo ek dat PW Botha my ná ’n verbale aanslag graag fisiek te lyf sou wou gaan oor ’n verwaanderige ope brief op die voorblad van Volksblad. My ongewaardeerde raad aan hom was dat ’n afgetredene sy mond oor die politiek moet hou. Gelukkig het 800 km se telefoondraad ons geskei.

In 1989 – kort nadat ek in die destydse tydskrif Insig geskryf het ‘n sterk suspisie leef voort, ook in die buiteland, dat die Weermag ná die Verdrag van Nkomati met Renamo bly konkel –  daag  Wynand Breytenbach, adjunk-minister van verdediging, duidelik ongemaklik by my kantoor op.

Magnus Malan, sy minister, het hom gestuur om “Hennie van Deventer op te donder”.

“En?”

“`Ek het vir hom gesê ek donder nie my vriende op nie.”

Gerusstellend gewees om dit van ‘n gereelde snoekermaat te hoor!

KOERANT-KAMERADE

Augustus 10, 2020 in Uncategorized

Kosbare koerantkamerade. So noem ek die Die Burger en Beeld in briewe wat Saterdag in die twee susterskoerante se briewekolomme gepubliseer is. Ek is dankbaar vir die geleentheid wat my gegun is om ook op hierdie wyse afskeid te neem van my geliefde Volksblad waar ek twee skofte van 12 jaar elk werksaam was – die laaste skof as redakteur.

Aan Beeld was ek ses jaar  verbonde: as eerste nuusredakteur en later adjunk-redakteur.

Die briewe is amper eenders, maar uit die aard van die saak nie heeltemal eenders nie.  Hier volg my briewe, en verskoon maar die noodwendige oorvleuelings: Hier volg dit:

Die Burger:

Die laaste papieruitgawe van Die Burger se susterskoerant in Bloemfontein, Volksblad, het verlede nag van die rolpers gekom.  Van Dinsdag  skuif hy huidjie en muidjie na die digitale platform Netwerk24.

‘n Ikoniese gewel verdwyn uit die galery van hoofstroomkoerante. Nooit weer sal ‘n mens ‘n knipsel uit Volksblad kan maak of vis en skyfies in hom toedraai nie.  Vir my wat bevoorreg was om 12 jaar redakteur te wees (van 1980 tot 1992) is dit ‘n somber gedagte. 

Die Burger en Volksblad was oor ‘n eeu lank in vrugbare wisselwerking; twee hegte medestryders met gedeelde kernwaardes en gemeenskaplike ideale. Die verbintenis gaan nie verlore nie, die formaat verander wel.  ‘n Era is verby; die onthou bly.

Soos Maandagoggend 4 Desember 1967.   Eensklaps het berigte van Die Burger per teleks begin instroom. In voortreflike, eksklusiewe kopie het die drama van die eerste hartoorplanting by Groote Schuur hom ontvou. Só het Die Burger met talle groot stories vir sy kleiner suster uit sy pad gegaan. Sulke koerant-kameraadskap is kosbaar.

Volksblad het hom weer as voedingsbron onderskei.  In ritse sleutelposte in die Pers was, of is steeds, Volksbladders. Vir Die Burger het die blad o.a. ‘n redakteur, ‘n top-politieke beriggewer, twee rubriekskrywers, ‘n hoofbestuurder, ‘n bemarkingsbestuurder  en twee fabrieksbestuurders opgelewer.  Op di  spannetjie is ons kennelik trots.

Nog ‘n onderskeiding is sy bydrae tot die boekewêreld. Sowat 80 redaksielede het deur die jare sowat 1 000 boeke gepubliseer. Gesogte bekronings is ingeryg.   Drie van die voorste skrywers van spanningsverhale was in die jare 80 kollegas in die Volksblad-redaksie.  Die kanse is goed dat Burger-lesers een of al drie se boeke opraap soos hulle verskyn.

Ná hierdie ietwat opportunistiese reklameflits, nog net enetjie asseblief: klik tog maar soms ook op Volksblad as u Netwerk24 besoek.  Derduisende klikke – dit gun ek my ou koerant van harte in sy digitale gedaante.     oop hy kry

Beeld:

Die laaste papieruitgawe van Beeld se susterskoerant in Bloemfontein, Volksblad, het verlede nag van die rolpers gekom.  Van Dinsdag skuif hy huidjie en muidjie na die digitale platform Netwerk24.

‘n Ikoniese gewel verdwyn uit die galery van hoofstroomkoerante. Nooit weer sal ‘n mens ‘n knipsel uit Volksblad kan maak of vis en skyfies in hom toedraai nie.  Vir my wat bevoorreg was om 12 jaar redakteur te wees (van 1980 tot 1992) is dit ‘n somber gedagte. 

Beeld en Volksblad was amper ‘n halfeeu lank in vrugbare wisselwerking; twee hegte medestryders met gedeelde kernwaardes en gemeenskaplike ideale. Die verbintenis gaan nie verlore nie, die formaat verander wel.  ‘n Era is verby; die onthou bly.

Beeld se bydrae tot Volksblad se inhoud was oor die jare van onskatbare waarde. Met groot nuusstories soos die Pretoriabom, die Westdenebusramp, die rugby-wêreldbeker, die Smitmoorde, die Gert van Rooyen-sage  en vele meer het Beeld uit sy pad gegaan om vir sy kleiner suster die beste diens te lewer.  Sulke koerant-kameraadskap is kosbaar.

Volksblad het hom weer as voedingsbron onderskei.  In Beeld se stigtersredaksie  was ‘n dosyn Volksblad-gesigte. Deur die jare is drie redakteurs, twee assistent-redakteurs, twee nuusredakteurs, ‘n sportredakteur, motorredakteur en rubriekskrywer opgelewer.  Om nie van die nimlike “Quintus van Blouen”  te vergeet nie!

Aan bestuuskant het ‘n hoofbestuurder, advertensiebestuurder, bemarkingsbestuurder en  administratiewe bestuurder die Vaalrivier oorgesteek.  Op di  spannetjies is ons kennelik trots.

Nog ‘n onderskeiding is sy bydrae tot die boekewêreld. Sowat 80 redaksielede het deur die jare sowat 1 000 boeke gepubliseer. Gesogte bekronings is ingeryg.   Drie van die voorste skrywers van spanningsverhale was in die jare 80 kollegas in die Volksblad-redaksie.  Die kanse is goed dat Beeld-lesers een of al drie se boeke opraap soos hulle verskyn.

Ná hierdie ietwat opportunistiese reklameflits, nog net enetjie asseblief: klik tog maar soms ook op Volksblad as u Netwerk24 besoek.  Derduisende klikke – dit gun ek my ou koerant van harte in sy digitale gedaante.     oop hy kry

Naskrif: Die drie gewilde skrywers na wie ek verwys,  is Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg.  Ek het hul name nie ingesit nie, o.m. weens ruimtebeperkings en ook weens die vraag: wie se name noem jy en wie s’n nie? Beeld het die name bygevoeg maar toe per abuis Chris Karsten weggelaat en Karin Brynard bygevoeg. Sy is nie ‘n Volksblad-produk nie.  Die fout is op Netwerk24 regggestel. Dit sal ook in Beeld reggestel word.

LAAT HEER U SEeN STEEDS OP HOM DAAL

Augustus 7, 2020 in Uncategorized

My afskeidsgroet vanoggend in die gedenkuitgawe van Volksblad:

Die ou Pers-leuse van “Het daghet overal” (die dag breek) sal moet verander tot “Digitaal is overal”. Só is onder ons ouer garde in die “Pers” geskerts toe die nuwe gonswoord “digitaal” so drie dekades gelede die joernalistieke jargon binnedring.

Skeptisisme kan ons vergewe word. Ons koerante was op die kruin van die golf: uitskieters met rekordsirkulasies, rekordwinste, ‘n miljoen lesers en ‘n beker in die kas vir die beste prestasie in die Nasionale Pers. Geen rede om bedreig te voel nie.

Ons het ons ietwat misgis.  ‘n Era van innovasie was net anderkant die bult.  ‘n Omvattender tegnologiese revolusie reeds op die horison. Vir ‘n nuwe geslag entrepreneurs was die tekens glashelder.  Hulle het waagmoedig ingespring om nuwe velde te ontgin.

Verbruikerspatrone het begin verander. ‘n Digitale leefwyse het wortel geskiet. Politieke omwentelinge en ekonomiese insinkings het hul tol geëis. Strome tradisionele lesers het land-uit pad gevat.

“Ou media” het begin spartel.  Die snoeiskêr is ingesteek;  koste tot op die been gesny.  Minder en jong junior mense moes die steeds swaarder vrag dra.  Eksperimentele nuwe modelle is uitgedink en verfyn.

Toe, vroeg in 2020, verrys die verwoestende koronamonster met bose tentakels wat oral inwurm. ‘n Verdwaasde wêreld tas vervaard na reddingsboeie.  Magtige damwalle kraak,

Gouer as verwag, beland Media24 saam met porture by ‘n kantelpunt. Swart Dinsdag – prof. Lizette Rabe van Stellenbosch se woordvonds – breek. aan.  Die snoeiskêr word  ‘n slagtersmes.

Ons eie geliefde koerant, die oudste in Afrikaans, wat so lank sy man in elke geselskap kon staan – nasionaal hoog geag onder vriend en vyand  –  word uit die hoofstroom verwyder.   Hy skuif na ‘n digitale syspoor en staan voor ‘n vreemde, ongekarteerde ontdekkingstog.

Om ‘n afskeidswoord in die laaste papieruitgawe van hierdie ikoon te skryf, is uitdagend, Hoe word jy ‘n stem vir sovele duisende wat Volksblad as kleinood koester:  toegewyde personeel wat steen vir steen help messel het om die bastion te bou, lojale adverteerders, ‘n verknogte leserskorps?  Almal met verslaendheid, vrae en dalk verwyte in die hart.

Een opsie is bal die vuis en protesteer. Nee. So ‘n reaksie sou ontrou wees aan die koerant se karakter; ‘n miskenning van die staal wat hy al 11 dekades prysenswaardig demonstreer. Ook   indruis teen die gees van sy lesers wat elke dag moet leer om die eise van ‘n al hoe taaier leefwệreld  te trotseer.

Adam Small dig in sy vers “Die Here het gaskommel”:

“Die dice het vekeerd gaval vi’ ons

Daai’s ma al.”

Uiteindelik is die “val van die dobbelsteentjies” van ‘n rondomtalie-wệreld waarskynlik die juiste diagnose vir die huidige media-dilemma.  Aanvaar jy die werklikheid, hou jy op om slim antwoorde op elke kwelvraag te soek. Jou hartseer is steeds intens.  Maar die aanslag van jou groetwoord verander.  Doelbewus skuif jou fokus na die positiewe sy.

Jy kyk terug met trots. Volksblad het niks om oor skaam of beskeie te voel nie oor sy sovele baanbreker-bakens sedert stigter Hendrik de Graaf met sy rolpers op ‘n ossewa uit Potchefstroom na Bloemfontein uitgewyk het.  Tot die uitbou van Afrikaans, die Afrikaanse kultuur, die demokrasie, die politiek, die ekonomie, ‘n lewenskragtige gemeenskap, sport – deurgaans was sy bydrae uitnemend.  Dikwels deurslaggewend.

Ons koerant is steeds invloedryk. Daarby is hy beginselvas, gesaghebbend, ewewigtig en geloofwaardig.  Dienslewering weeg by hom swaar. Om ‘n ingeligte openbare mening.te skep, span hy hom elke dag in. Teen magsvergrype, uitbuiting en onreg is hy ‘n waaksame waghond.

Of enige ander dagblad bestaan met so ‘n hegte band met sy gemeenskap val te betwyfel. In sy eeufeesboek word hierdie verbintenis treffend verwoord: “ …. oor tien dekades (nou al oor elf) het Volksblad saam met sy lesers, vir sy lesers en namens sy lesers gejuig, gehuil, gelag, gestry, gekasty, gewonder, gebid, getwyfel, gefouteer, rigting, aangedui – geleef. En só het hy een van hulle geword en hulle deel van hom.”

As dié taksering deur twee onafhanklike geskiedskrywers die breë gemeenskapsgevoel  weerspieel  – en kyk maar na die solidariteit sedert Swart Dinsdag – wek dit by elkeen wat ‘n entjie met Volksblad kon saamloop, net dankbaarheid. Dit is ‘n voorreg om die eerbare verbintenis op jou CV te vermeld. Watter lewensverrykende ervaring was jou Volksblad-skof nie!

Van die handjievol pioniers gaan die oorgang uitsonderlike durf en daadkrag verg.   Uitdagings wag soos aan vorige generasies onbekend was. Slegs een reuse-taak: om die koerant in getransformeerde gedaante steeds volledig in sy gemeenskap te laat funksioneer. Kreatiwiteit gaan vereis word om sy uitsonderlike binding met lesers –  daardie trotse Volksblad-handelsmerk  –  lewendig te hou.

Aan die Gideonsbende se opgewassenheid twyfel ons nie. Die onbekende hoef nie aangepak te word met hoop wat op oppervlakkige optimisme of vae wensdenkery gegrond is nie. Dit staan op die soliede pilare van wat Volksblad nog altyd was, is en sal wees.

Laat Heer U seën steeds op hom daal.

RAAISEL VAN ‘N ‘RAMP’

Julie 28, 2020 in Uncategorized

Op Dinsdag 23 Februarie 1988 het ‘n gerug deur Bloemfontein geswiep.  Stortreën van tot 100 mm per uur kan uitsak. Kantore, banke en skole het vroeg gesluit. Angsbevange mense het op vlug geslaan om skuiling te soek.

‘n Yslike  “vals  alarm” was dit toe.  Geen swaar reën het daardie middag geval nie.  Sondebokke is gesoek – en Volksblad (toe nog Die Volksblad en ‘n middagkoerant)  moes self ook onverdiende slae verduur.  Dit was nie die eerste en enigste  keer in sy bestaan van 116 jaar nie.

Tot vandag spook die raaisel steeds by my wie vir daardie paniek moet pa staan.

Dat die publiek met ‘n “vals alarm” so op loop gejaag kon word, klink by nabaat dalk dik vir ‘n daalder. Maar ná die Saterdag, en veral die Sondag se stortreën en vloede in die Midde- en Suid-Vrystaat, asook die Noord-Kaapland, kon ‘n mens se senuwees maklik op hol raak.

Die Saterdag het dit begin sous. In Bloemfontein is 88 mm gemeet – elders waarskynlik meer.  Die Sondag het grou aangebreek.  Terwyl die uwe in die NG kerk Berg-en-Dal die nagmaalsdiens bywoon, het die water in ‘n digte gordyn bly neerstort. “Ek moet by die kantoor kom, “ het ek vir my vrou, Tokkie, gefluister. Ons het by ‘n sydeur uitgeglip en het sopnat gereën die entjie na die motor toe. By die huis het die reënmeter al oorgeloop. Dit was ernstige sake.

By die kantoor was enkele kollegas reeds kliphard aan die bel en organiseer hoe om met verslaggewers en fotograwe by sekere brandpunte te kom waar riviere in vloed besig was om als wat voorkom uit hul pad te vee. Hoofredaksielid Jan Scholtz (reeds oorlede) en nuusredakteur Philip van Rensburg was die eerste gesigte wat ek gesien het.  Philip is kort daarna in gietende reën vort om self verslag te gaan doen, en het vir skouspelagtige foto’ en aangrypende berigte gesorg.

Daardie Sondag is in Bloemfontein 142,2 mm aangeteken – ‘n goeie maand se reën in een dag!

“Ramp der rampe” het die banier op Maandag 22 Januarie  gelui. Onder die opskrif  “Die ‘see’ se naam is Vrystaat  –  vlaktes word mere” is twee fotoblaaie van die rampgebied gepubliseer. Dit was ‘n koerant wat ek met voldoening  onthou. Ons het behoorlik “skouers oopgemaak”, soos ‘n goeie koerant met ‘n groot storie behoort te doen.  Hoofsubredakteur Nols Nieman (ook al oorlede)  kón soos min ander met tipografiese aanbieding “skouers oopmaak”.

Die volgende dag was die koerant se hoofberig oor honderde mense wat op die platteland ylings uit hul huise gevlug het en magteloos op die verwoestende vloedwater wag. Die opskrif was “Paniekvlug”. By die hoofstorie was die berig wat agterna heelwat reperkussies gehad het. Dit het verskyn onder die opskrif: “Dringende waarskuwing: tot 100 mm per uur verwag”.

Daarvolgens het ‘n Gesamentlike Beplanningsentrum aan mense in die Midde- en Suid-Vrystaat ’n dringende boodskap uitgereik dat ‘n voggordel oor die gebied begin vorm en dat geweldige swaar neerslae verwag word.

Toe die koerant op straat kom, was ‘n ongekende uittog uit die middestad reeds in volle gang.  In sommige kringe is die skuld vir die paniek toe op Volksblad gepak.  Die hoofopskrif ,“Paniekvlug”, was in daardie sondeboksoekers se oë die bron van die kwaad – hoewel die plattelandse “vlug” in die hoofberig en die Bloemfonteinse “vlug” natuurlik ten enemale nie een en dieselfde ding was nie.

Mnr. Brian Long, hoof van die Bloemfonteinse Weerkantoor, was een wat sy mes vir Volksblad  ingehad het.  Hy het oor radio Oranje ‘n skerp aanval op die koerant gedoen en gese dat “snert” gepubliseer is wat nie van die Weerburo afkomstig was nie.(Ironies genoeg, het Radio Oranje egter self in ‘n vroeër nuusuitsending die spesiale waarskuwing uitgesaai.)

Volksblad was verontwaardig en het het sterk beswaar by die betrokke minister aangeteken oor die hoë amptenaar se aanval. In ‘n hoofartikel het die koerant geskryf dat die aanval op hom “venynig en ongegrond” was .

Ons kon daarop wys dat Volksblad eers op straat verskyn het nadat noodmaatreëls al op plekke getref is en honderde mense reeds huis toe was. Hoe verklaar jy dit? Dit was ook onduidelik wie die provinsiale administrasie, universiteit, banke, skole en kleuterskole reeds van 13:00 af geskakel en gewaarsku het – lank voordat die rolpers nog begin draai het.  Die polisie kon nie lig werp nie. Honderde mense het Parkweg ook gebel met die nuus dat die Weerburo sou gewaarsku dat ‘n groot storm op pad is .

Die oorstromings het uiteindelik sowat R554 miljoen skade in die Vrystaat en Noord-Kaapland aangerig.  Reeds voordat die groot waters afgeloop was, het Die Volksblad  op 24 Februarie saam met M-Net ‘n spesiale vloedrampfonds begin wat die koerant met ‘n bydrae van R10 000 geopen het.

Die geld het ingestroom in ‘n tempo wat Volksblad “indrukwekkend en ongeëwenaard” genoem het. Geld is uit elke ondenkbare oord ontvang:  kinders, wit en swart, het van hul sakgeld gegee of  sentleggings gehou; bejaardes het van hul pensioengeldjies afgeknyp. Veral die onderwysdepartement met ‘n tamaaie R170 000 van leerlinge, onderwysers en amptenare, en die Vrystaatse NG kerk met R300 000 het spiere gebult. Die Afrikaner-Broederbond  het R75 000 geskenk. Altesaam R1,3 miljoen (baie geld in  1988) is ingesamel – die grootste bydrae deur ‘n koerant tot die Sentrale Rampfonds.

Nadat R1 miljoen ingesamel is, het Volksblad  geskryf dat met die stroom bydraes die “pragtige en intieme band tussen die koerant en die gemeenskap ” opnuut bevstig is.

Naskrif:  Volksblad se dekking van daardie ramp, en die omvang van die rampfonds, is ná amper 30 jaar vir die outeur hiervan steeds stof tot dankbaarheid.  Die vals verwyte oor Bloemfontein se onnodige groot skrik laat egter ‘n suur smaak.  Die enigste slotsom is seker dat dit, in die moderne idioom,  sogenaamde “fopnuus” was.  Maar wie het gelieg en hoekom?  Die antwoord op die geheim sal ons seker nooit weet nie, tensy  die skuldige nou na vore wil kom.)

SIEN JOU IN SKUKUZA!

Julie 27, 2020 in Uncategorized

Met Skukuza wat gisteraand aangewys is as “Kwela” se Dorp-van-die-Jaar-finalis vir Mpumalanga plaas ek graag weer ‘n bloggie wat al voorheen verskyn het – ook in die tydskrif “Weg”. My stuk is natuurlik meer op toeriste gemik. Vir Kwela se kompetisie is ‘n sterk elemengt ‘n dorp se leefkwaliteit vir sy inwoners.

Nietemin, met die persoonlike ode aan Skukuza betoon ek dan graag my solidariteit aan “my dorp” die tye datr ek in Sabiepark is.

Skukuza is verreweg die grootste kamp en die slagaar van die Kruger-wildtuin. Al die fasette van ‘n omvangryke infra-struktuur is daar saamgeknoop. Soek jy ‘n dokter, ‘n poskantoor, ‘n noodhersteldiens vir jou motor, noem op – Skukuza is die regte adres.

Nie alle Wildtuinbesoekers is egter versot op Skukuza nie. Te besig, sê baie. Hulle oornag net in die kamp as laaste toevlug – indien die ander kampe tjok en blok is. Vir diegene het ek nuus. Hier is my lysie van vyf sleutels tot die hart van Skukuza – en tot ‘n kuiertjie wat deur en deur die moeite werd sal wees.

1.Twee ure van betowering

Vat ‘n fles koffie of wyn en gaan sit minstens twee ure by die voëlskuiling Lake Panic. Watervoëls is gek na die pragtige plek. Jy sien sierlike bosbokkies en njalas, hope seekoeie, krokodille en skilpadjies. Ons het olifante raakgeloop wat hul kinders “swemlesse” gee. Wees geduldig, net agt motors word toegelaat. Moet nie jou kamera, verkyker en voëlboek vergeet nie. Bring jou la-a-a-ngste lens. Beter foto-geleenthede duik min op.

  1. Bospiekniek

Pak ‘n piekniekmandjie en soek ‘n afgesonderde plekkie uit diep in die bos by Skukuza se afsaalplek vir dagbesoekers aan die Sabierivier. Huur ‘n braaiskottel. Dit word agter jou aangepiekel. Oorkant die rivier is baie wildpaadjies en ‘n gewilde drinkplek. Loer maar af en toe soontoe. Alternatief: As jy tyd en lus het om verder te ry, vat ‘n halfdag-uitstappie na Nhlanguleni wes van Tshokwane. Dis werklik bos, heerlik aards en primitief met silwerskoons toilette.

  1. ‘n Potjie avontuurlike gholf

By Skukuza se gholfbaan moet elkeen ‘n vrywaringsvorm teken. Oral is waarskuwings soos: “Pas op vir leeus.” Word jy “aangeval, gegaffel of verskeur”, dis vir jou rekening! Verwag vars seekoeispore of stomende olifantmis op die setperke. ‘n Leeu het al by die eerste putjie aan buffelvleis gesmul. Die ruim grasdak-klubhuis is beroemd vir sy ontbyte – groot porsies, smaaklik, niks duur nie. Die kroeg is altyd oop … en die uitsig oor die setperk op die meer is hemels.

  1. Gaan kerk toe

Gaan kerk toe. Vakansiedrag is doodreg. Die rustigigheid in die intieme kerkie in die personeeldorp spoel verheffend deur jou gemoed. Ds. Carl Louwrens het altyd ‘n boodskap wat tref, en die hegte klein Skukuza-gemeenskappie is gasvry verby. Kyk uit vir die knoetsige hardekool van die kerkklok en doopvont. Veral spesiaal is ‘n stilte-nagmaal op ‘n weekmiddag terwyl vlakvarke die grasperk omdolwe en voëls in die reuse-koorsboom hul eie koorsang aanhef. Sondagdienste begin om 08:30.

  1. Boeiend en ontroerend

By die Stevenson Hamilton-gedenkbiblioteek herroep boeiende uitstallings die Wildtuin se romantiese geskiedenis. Jy kan die kosbare natuurboeke deurblaai en koerant lees (gewoonlik net ‘n dag oud) of by die hondebegraafplasie onder ‘n koelteboom talm: ‘n kolletjie ontroerende “heilige grond”. Elke klipstapeltjie of eenvoudige steentjie vertel ‘n storie van die band tussen ‘n veldwagter en ‘n getroue vierbeen-vriend wat baie kampvure en avonture gedeel het. ‘n Mens voel om jou hoed vir almal te lig.

Sien jou in Skukuza!