Jy blaai in die argief vir harvest culture eatery.

UIT ‘N SOET FONTEINTJIE

Oktober 11, 2021 in Uncategorized

‘n Stukkie van ons “tent van samekoms”, ‘n stukkie van Dale se huis en ‘n stukkie van Tafelberg.

Fonteintjie, uit jou drink die Van Deventers (en hul nasate) graag oor en oor; jou water is soet.  My verwysing is  na buurman Dale Schreuder se restaurant(-e).

In 2011 is my 70ste by sy Black Angus-restaurant in die Paddocks-sentrum in MIlnerton gevier.  In 2016 het ons op ons gras voor Penguin Place 11 tent opgeslaan vir ‘n driebakenfees: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons twee se  goue bruilof. Dale het uit die Black Angus se kombuis die spyseniering gedoen.  Sy en Iris se huis langsaan was ‘n uitstekende “bedieningspunt”.

Vandag, 11 Oktober 2021, vier skoonseun, Brent Claassens, sy 50ste. Hy en Marisa begin ‘n rukkie gelede uitkyk vir ‘n plek om ‘n paar vriende te onthaal.  Hulle hoor net goeie dinge van die nuwe bistro Harvest Culture Eaterie in die Tygerbergse Waterfront.

Op ‘n verkenningstog dag sy sy herken die blok van ‘n man wat daar sit. Sy stap nader … dis Dale. Lang storie kort: Dis waar Brent se 50ste gevier gaan word. Die ou-ou verbintenis duur voort. ‘n Nuwe skakel word in die ketting gevoeg.

Marisa se storie jaag my na ou foto-albums toe.

Dale en Koos in 2011.

In 2011  het 130 vriende uit amper al die fases in ons lewe  – onder andere skoolmaats, studentemaats en  kollegas – binne en buite Dale se restaurant aangesit. Die kos was voortreflik. Dit was almal eens.

Een ongeluk: ek en Dale is daardie dag  – 11 Januarie 2011 – blykbaar nooit saam afgeneem nie. Ek het wel ‘n foto van Dale en Koos Myburgh, die twee stewigste manne teenwoordig! (My verjaardag is 3 Januarie.)

‘n Ander skok: hoeveel van die gaste reeds heen is.  Ek roep Tokkie en wys vir haar en ons kyk kopskuddend na hoe die “landskap” in ‘n enkele dekade verander het. Selfs egpare is eenvoudig net weg.

By die tentfees op 26 Maart 2016 is ‘n foto wel geneem waarop ek en Dale pryk saam met sy vrou, Iris, Tokkie en vriendin Hildegard Martin wat die kaartjies, spyskaarte en wat als ontwerp het.  Ongelukkig het die lig sleg geval.  Nietemin.

Iris, Dale, HvD, Tokkie en Hildegard Martin in 2016. 

Van die 100 gaste in ons “tent van samekoms” (Johan van Wyk se betiteling) is ook al ‘n aardige klompie heen, verklap die foto’s van die okkasie. Soos gras is ons dae …

Met Dale se restaurant het ek al tevore kennis gemaak: in die laat 90’s.  Danie Grundlingh van Bloubergstrand (later Melkbos) het my genooi om “die beste steak in die Kaap” te kom proe.  Hy het my beduie na ‘n restaurant in Boubergweg met die naam Dale’s Place.

Die Van Deventers en die Schreuders is van 2004 af bure. Trap nie mekaar se dumpels deur nie maar ons weet wat ons aan mekaar het. Een ding weet ek vir seker: Die Claassense en hul gaste gaan op die hande gedra word en heerlik eet. Dis Dale Schreuder se mantra.