Jy blaai in die argief vir gedenkdiens.

SPROKIESLEWE VAN BOET TROSKIE

Maart 21, 2022 in Uncategorized

By ‘n formele ete in Eden: Die uwe, Pik Botha en Boet.

Flambojanter het ek nie geken nie: Boet Troskie, rolprentbaas met ‘n string internasionale trefferflieks agter sy naam, skatryk sakeman, bevriend met staatsmanne en glansmense, eienaar van ‘n Lear Jet waarmee hy eiehandig kruis en dwars oor Amerika gevlieg het, rugbybaas, kanselier van ‘n universiteit, erekolonel – ook iemand wat lief is vir mooi vroue, vinnige motors, praghuise, modieuse klere en elegante skoene (glo honderde pare).

Maar dan ook verrassend plat op die aarde, ‘n nederige, dankbare en toeganklike mens, weergaloos gasvry, toonbeeld van lewensblyheid, ruimhartige filantroop, ‘n ware en lojale vriend, gesinsman, versot op sy spogduiwe waarmee hy hope internasionale pryse ingepalm het, ‘n kranige trekklavierspeler en lief vir mieliepap (darem met garnale); ‘n man wie se opdrag aan almal is: “Noem my Boet”.

Oor hom het sy wyle broer Bill geskerts dat hulle ‘n goeie verstandhouding het: Boet het die verstand en hy het die houding. ‘n Vlymskerpe verstand het Boet wel, ongetwyfeld; ook persoonlikheid, styl, ‘n fyn aanvoeling vir wat sal werk en wat nie, gesonde oordeel, selfvertroue, geesdrif, durf, waagmoed, diplomasie, vernuf, charisma en nog ‘n hele paar ander eienskappe wat van hom so  ‘n uitskieter gemaak het.

Met rolprente soos The gods must be crazyBeautiful people en Dirkie het hy in hegte vennootskap met die fliekgenie Jamie Uys die internasionale fliekmark bestorm … en (aanvanklik tot sy eie en Jamie se verbasing!) verower.  Die suksesvolste, Gods, het iets soos 11 internasionale toekennings gekry. Altesaam was daar iets soos 40 rolprente uit Boet se Mimosastal.  Hy was ‘n bekende by die filmfees in Cannes, waar hy  – gesond, fiks, energiek, ‘n afskaffer, nie-roker en gereelde drawwer – ‘n keer ‘n marathon vir rolprentmense gewen het. Net nog ‘n faset van die veelvlakkige man.

Met die miljoene wat ingerol het – seker miljarde? – het Boet ‘n sakeryk opgebou wat Bloemfontein se grootste en bekendste winkelsentrum, die weelderige Mimosa Mall, insluit. Maar as filantroop het hy ook ruim uitgedeel. By die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Bloemfontein is die Boet Troskiesentrum ‘n monument. Hy het kanselier van die SUT geword en het ‘n eredoktorsgraad daar verwerf.  Die Bloemfonteinse Kinderkoor dra eweneens ‘n Boet Troskie-etiket. Vir sy skool, De Aar, is hy ‘n weldoener soos min.

Saam met Die Volksblad het hy verskeie promosies help aanbied.  In een – na aan ons albei se harte –  is kinders se drome verwesenlik. Een kon tussen dolfyne gaan swem in die Baai. ‘n Weeskind in ‘n rolstoel het gestraal oor sy eie-eie draradio. Ons Bloemfonteinse tuiskoerant, Ons Stad,   het hom Bloemfonteiner van die Jaar gemaak – ‘n beskeie eer teenoor soveel ander hoë bekronings.  Boet het ons laat voel dis iets geweldigs.

s .

By ‘n prysoorhandiging in ons Reik na ‘n droom-promosie: Veel jonger Boet en ek.

Die gasvrye Boet se glansonthale in sy paleisagtige herewoning Eden in Millie Krauselaan, Bloemfontein, is legendaries. Presidente en amper-presidente is daar onthaal, soos PW Botha, sy hegte vriend aan wie se sy hy in elke krisis lojaal gestaan het, en Barend du Plessis; Mej. Wêrelde soos Anneline Kriel en Gina-Marie Tolleson; kunstenaars soos Dana Winner en Helmut Lotti; ministers, Springbokke, regters, rektore, joernaliste, doodgewone vriende. Net die allerbeste is altyd keurig voorgesit.  Dan het Boet sy trekklavier uitgehaal. Saam met Nico Carstens  (soms ook Ollie Viljoen) is vrolik musiek gemaak.

Pres.Nelson Mandela het Mimosa-films se 30ste verjaardagparty in die Boet Troskiesaal by die SUT bygewoon. By sy gesogte jagtogte in die Suid-Vrystaat was die gastelys ook altyd ‘n mini-Who’s Who met veral talle kabinetslede in die geledere van die jagters.  Daarheen het hy ook vir PW Botha teruggevat ná sy beroerte om geweer teen die skouer sy selfvertroue te herwin.

Hoe oud is Boet? Min mense weet dit. Wat ek wel weet, is dat hy in November verjaar en dat hy ‘n raps ouer is as ek.  Ná ’n glanslewe wat hom gevoer het van Bloemfontein na Beverly Hills in Los Angeles, St. Francisbaai, Constantia en Fancourt op George is hy terug in die stad waar alles begin het; in sy geliefde Cheetahland waar hy ‘n rugbybaas was. Ongelukkig eis die jare by almal ‘n tol. Ook op ander terreine is terugslae ervaar. Selfs die onstuitbare Boet moet nou maar hanou.

Waarop Cornelis Abraham Troskie egter kan terugkyk, is ‘n sprokieslewe.  Hy wat arm grootgeword het as een van ses kinders van ‘n sweiser-pa, het in sy 80 plus jare soveel drome uitgeleef en soveel glinsterende kruine bereik dat die towerglans ‘n mens laat duisel.  Bowenal het hy ‘n mens-mens gebly; ‘n man wie se wellewendheid, grasie en algemene voorbeeld vir sy skare waarderende vriende steeds ‘n rigsnoer is.

Ek wou lankal oor Boet skryf – is dit inderdaad aan hom verskuldig – en is bly ek het nou so ver gekom, al is 800 woorde te min om aan so ‘n unieke mens reg te laat geskied. Uniek, sê ek. Ja, met vrymoedigheid. Elke generasie kan net een Boet Troskie lewer.

ONVERGEETLIKE VRIEND

April 16, 2021 in Uncategorized

In die koerantwêreld het ons gepraat van die “angle” of die “hoek” van ‘n storie.  Dis die kapstok waaraan jy jou storie ophang: die enkele stuk inligting met die sterkste trefkrag.  Om vandag hier by sy gedenkdiens die Sakkie Bruwer-storie  te “skryf “, is nogal ‘n uitdaging. Soveel “angles” of “hoeke” bied hulleself aan dat jy amper magteloos staan voor die rykdom van keuses.

Kies jy sy weergalose entoesiasme vir sport – veral vir rugby?

Sy legendariese braaivernuf?  Sy rol as verbeeldingryke sosiale kommandant van die Probusklub en al die heerlike uitstappies wat hy gereël het?  Sy dae as potjiekoskoning by kerkbasaars in die goeie ou tyd toe die wyntent nog langs die vuurtjies opgeslaan was?

Sy liefde om by Food Lover’s Market te gaan snuffel en met die keurige bestanddele fynproewergeregte te berei?

Sy integriteit en sterk standpunte oor reg en verkeerd, hetsy in die politiek, sport of kerk – en sy uitgesprokenheid oor wat hy dink?

Sy trotse loopbaan in die versekeringsbedryf by Guardian en sy lewenslange kundigheid met syfers?

Sy menswees?  Sy uiterste hulpvaardigheid en daar wees vir sy vriende, sy gasvryheid, gemoedelikheid en humorsin?

Sy blymoedigheid, veral ook nadat sy gesondheid begin kwyn het, en sy versiendheid om die regte skuiwe betyds te maak?

Oor elke aspek van hierdie veelkantige mens – groot van gestalte en groot van gees – kan jy ‘n selfstandige storie maak. Om in een huldeblyk aan die hele spektrum reg te laat geskied, is klaarblyklik onmoontlik.  Dan sou ek moes vra dat almal asseblief hul horlosies afhaal en wegbêre.  Vergeef dus maar die gate as ek net op enkele spitspunte fokus.

Ek het verwys na Probus, ‘n hegte klub vir afgetredenes waaraan Sakkie my ook in 1998 bekend gestel het. Die klub het ‘n spesiale ere-toekenning, die Honoris-oorkonde, waarmee hy baie suinig is.  Net drie is na my wete nog toegeken.  Die standaarde is dus hoog. Dit sal niemand verras nie dat een van daardie drie aan Sakkie en Helmien gegaan het.

Dit is in 2007 toegeken vir “voortreflike diens en ‘n uitsonderlike bydrae tot die kameraderie en vreugdevolle samesyn van Probuslede en hul gades oor baie jare.”

Kameraderie en vreugdevolle samesyn. Dit is die sleutelwoorde.  Waar Sakkie was, was kameraderie. Waar hy was, is vreugdevol saam verkeer. Of dit nou op Melkbos was – ai, die Jan se Gat darem – of op Montagu; in die Cederberge of Swartriet (foto): kuier was koning.  Onder aanvoering van braaimeester Sakkie is ramkatvure gebou en berge skaaptjoppies en wors perfek gebraai.

Oor twee dinge was Sakkie adamant: i. hy – uitsoekerige vleiskenner wat hy was – gaan koop die vleis en ii. jy hou jou hande tuis. Dit was SY vleis en SY vuur. HY braai en vlieg jy in jou maai as jy wil kom slimstories maak.

Ons ander het, op sy bevel, minder verantwoordelike handlangertakies verrig soos om die hout aan te dra, speserye aan te gee of die glasies vol te hou.

Wat is die verste wat vir so ‘n spanbraai gery is?  Honderd kilometer? Vyfhonderd kilometer? Nee, 2 000 kilometer. Daardie braai was op 11 Augustus 2001 in Sabiepark by die Krugerwildtuin. ‘n Groep van 24 Melkbosse vriende het “oorgekom vir ‘n Bosveldbraai”. In ‘n konvooi het hulle daarheen opgeruk.  Vriend Sakkie het soos ‘n Voortrekkerleier van ouds die trek na die verre noorde gelei.

Ja-nee, met Sakkie aan stuur van sake het die klub hom nie geografies laat vaspen nie. Afstande het die lede nie afgeskrik nie.  Swakopmund aan die soom van die Namib was die tweede verste – iets soos 1 800 km – maar hierdie keer het ons het darem gevlieg. Kgalagdi wat 1037 km ver in die ou Kalari is, lê op nommer drie. Sakkie het groot gedink.

Sakkie se rugbyverbintenis strek terug tot sy jong dae toe hy – bekend as Tiny, hoe anders?  – ‘n kranige slot vir die klubs Noordelikes, Unie en Valsbaai was.  Die beroemde Hennie, “Windhond”, Muller was afrigter en Springboksenter Colin Greenwood ‘n spanmaat.  Groot wedstryde is op Nuweland en elders gespeel teen ysters soos Jan “Boel” Pickard en kwiksilwer Dawie de Villiers.

Appels is toe nog lustig geswaai. ‘n Saterdagaand is die Bruwers inry toe met Sakkie skuins op die agterste sitplek met ‘n stuk steak op sy potblou oog.  ‘n Keer is ‘n rammetjie-uitnek Matie-agtsteman goed reggesien.  Jare later daag Sakkie by die KWV op om sy besigheid te werf, en wie is die hoofbestuurder? Die nimlike agtsteman.  Het Sakkie die besigheid gekry? Ja.

Hy was ‘n stoere WP-man – lank met sy eie losie op Nuweland. Wen die streeptruie, nooi hy sommer almal vir ‘n Sondagbraai.. As Helmien haar oë uitvee, dam die onverwagte gaste by die voordeur op.  Dan moes vinnig gespring word om vleis te ontdooi en wyn koud te kry.

Later het TV sy rugbygrense verskuif.  HY het ure voor die TV deurgebring om na wedstryde te kyk. Elke moontlike oorsese kompetisie – van die Sesnasies en die Heinekenbeker tot die Pro-14 en die Ranfurlyskild  – het hy intens gevolg. Hy het elke span geken, asook die spelers, met vaste insigte oor wie goed is en wie nie so goed is nie.  Die minder goeies in sy oë het  ‘n paar bekende Springbokke ingesluit.

As jy Sakkie smoorkwaad wou maak, moes jy hom ontydig bel op ‘n kritieke oomblik in ’n kritieke wedstryd.  Die vriendelike, gemoedelike ou vriend was skielik amper bruusk.

Ook vir bofbal, sagtebal, krieket, fietsry en rolbal was Sakkie baie lief – as deelnemer of toeskouer. Hoe ver en hoe dikwels gery is om na wedstryde te gaan kyk,  sal sy gesin weldeeglik onthou.

‘n Minder bekende voorliefde was renperde.  Hy was in die 70’s die  trotse eienaar van drie met kleurryke name: “Sweet Lady”, “Volcanic Noise” en “Every Night”. Dit was die eienaar beskore om meermale ‘n wenner by die wenkampie in te lei. Vir die doel het hy ‘n lang swart jas met ‘n rooi voering gekoop – baie gedistingeerd en deftig. Aitsa, mnr. Bruwer!

‘n Gewilde daguitstappie van Probus in ‘n stadium was dan ook na die Kenilworth-perdewedrenbaan waar ‘n geldjie op ‘n perdjie of wat gewaag is en waar die tafels gekreun het van die kos.

Al die voortreflikhede van hierdie soliede, standvastige mens-mens gaan ek nie probeer opnoem nie. Ware vriendskap – veral in tye van nood – is egter hoog op die lys.  Danie Grundlingh en Hennie Jonker was maar twee vriende wat in swaar tye sy oop hart en helpende hand eerstehands beleef het. As hulle vandag hier kon wees, sou hulle dit van harte beaam het.

Niks was ooit vir hom te veel moeite nie. In my kop is ‘n prentjie van die groot lyf plat op die vloer voor my TV-stel in die slaapkamer om ‘n haakplek uit te sorteer.  As jy ongemaklik wou raak om net gedurig aan die ontvangkant te wees, het hy jou besware met ‘n wuif van die hand afgemaak.

Sakkie was ‘n welwillende, toeganklike mens, maar hy kon ook ysterklou in die grond slaan.  Wat verkeerd was in sy oë was verkeerd, en hy het nie geskroom om dit hard en duidelik van sy hart te kry.  Ongeduld kon nogal deurslaan as dinge hom nie aangestaan het nie. Of hoe, Helmien?

Kwynende gesondheid het in die laaste jare sy vlerke geknip. Die afnemende kragte en onafhanklikheid het hy stoïsyns aanvaar en met blymoedigheid sy pad bly loop.

Dat daardie pad uiteindelik weg van sy geliefde Melkbos na Vredekloof gelei het, was tekenend van sy realisme, gesonde verstand, versiendheid en onselfsugtige fokus op die beste belange van diegene die naaste aan hom.

Daar was maar een soos hy –  ‘n onvergeetlike eggenoot vir Helmien, ‘n onvergeetlike pa vir Johan en Sandra, ‘n onvergeetlike oupa vir Jean-Marie en Le Roux en ‘n onvergeetlike vriend.  Baie mense se harte is vandag baie seer oor liewe ou Sakkie.

Foto: Grootste en kleinste in Probusgeledere: wyle Sakkie en wyle Andries Brewis.

GOUE SEUN NIC BOJE

Maart 26, 2021 in Uncategorized

Elke keer as ‘n bohaai iewers oor studentemoleste ontstaan, gee my gedagtes ‘n groot sprong die verlede in. Kollege-tehuis toe – 60 jaar gelede.  Die Kovsies en die Maties sal dit nou nie weet nie, maar in Tukkieland was Kollege ‘n gedugte plek. Die jare 60 was ‘n glansryke era en Nic was een van die goue seuns.

Kollege se reputasie is gerespekteer of afgekeur.  As daar moles was, kon jy maar weet Kollege is in die episentrum. Soos een aand toe ‘n serenade by Karadyn ietwat te luidrugtig geraak het. Die polisie het die hele Kollegekoor na die Brooklyn-polisiekantoor gemarsjeer. Ek sien nou nog hoe Nic en sy vriende die konstabel in die aanklagkantoor se pet onder mekaar aangee. .

Lank voordat kapings en ontvoerings en die klas ding in Suid-Afrika alledaags geword het, het Nic en sy maats van die berugte tweede verdieping ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend  uit die H.F. Verwoerd te gaan haal vir ‘n nagtelike Fonteineparty. In ‘n stadium word hy die slagoffer van ‘n onverwagte laagvat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery.

Die pasiënt is ‘n uur of wat  later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp. Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat Jas in die middel van die nag uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

Ons  geliefde Kollege was ‘n uiters mededingende plek. Ons het nie gehou van tweede kom nie.  Nic en sy skakelmaat, Propie Goosen, was in die opsig ysters.  Op die rugby- en die krieketveld was hulle staatmakers. Ek onthou met verkneukeling ‘n wedstryd teen Sonop.  Die eerste bal van Sonop se selfvoldane snelbouler, die SR-voorsitter, lig NIc oor die skerpbygrens vir n sierlike ses.  Die volgende een dryf hy deur die dekke vir vier. Die arme man was verslae.

Koning Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic,   Proppie , Jan Tromp, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels. Nic was ons eintlike angel. Hy kon sy agterlyn blitsig wegstuur. HY kon pale toe korrel soos ‘n skerpskutter – selfs sekuurder as Naas Botha.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith, Nic se tuisdorp.  Op ‘n groot rugbydag op Ladysmith wen ons, ‘n derdeligapan in Pretoria, die eersteligabeker.  Nic skop weer nie mis nie. Ek is die dag vlagman.  As hy met sy aanloop begin, lig ek al die vlag.

Toe ons ons oë uitvee, kom haal die Tukkiekeurders ons losskakel-held kort daarna  uit Kollege se span eerste span toe. Hy en Proppie Goosen, ook ‘n Kollegeman, word ‘n gedugte skakelpaar.  Die dag toe Nic sy eerste wedstryd vir die eerstes speel, sit ons Kollegemanne op Lofrus bankvas agter die pale.  Ons bulder soos een man vir ons maat instruksies: “Nic, skop die bal. Nic gee uit.”  In ‘n stadium kyk hy direk in ons rigting en gee ‘n teken dat ons ons bekke moet hou. Ons was daarna effens stiller.

“Ta’ Bella”, die ou Belvedere-hotel in Kerskstraat, was ‘n gewilde kuierplek om “tee” te gaan geniet.  Voor Nic se eerste wedstryd vir Tukkies teen die Bobbies besoek ‘n klompie Kollegemanne die Vrydagaand vir Ta’ Bella om die senuwees te laaf. Bobbies het ‘n uitblinkers soos Mof Myburgh  en Piet Uys . Ons beduie vir Nic hy sal die volgende dag sekuur moet korrel.

Hy stel ons gerus: “Boje ‘drop’ en die Bobbies huil.” Toe demonstreer hy, tot die verbasing van die ander klante, hoe hy die skepskoppe elegant pale toe gaan jaag. Die Saterdag op Loftus ‘drop’ Boje twee keer. Albei kere seil die bal oor die dwarslat. Die tweede beklink die sege. “Boje ‘drop’ en die Bobbies huil.” So was dit toe. Baie ander spanne sou nog huil as hy hulle flenters skop.

Vandag huil nie sy teenstanders nie, wel sy spanmaats: al die Kollegemanne van daardie era wat nog oor is, die ganse rugbygemeenskap van Suid-Afrika en sy naastes wat vir hom lief was en op hom trots was.  Soos ek op Facebook geskryf het: Ons huil nie omdat ons ‘n wedstryd verloor het nie maar ‘n “wedstrydwenner” wat die spel van die lewe soos ‘n kampioen gespeel het.

(Die volledige weergawe van ‘n huldeblyk vir NIc se gedenkdiens gister in die rugbymuseum by Stellenbosch. ‘n Ietwat verkorte weergawe is deur sy seun Louis voorgelees. Ek was weens Covid-19-protokolle tot my spyt afwesig. )