Jy blaai in die argief vir fw de klerk.

HULLE WAS FLUKSE Kê ..ê..ê ..RELS

Maart 23, 2022 in Uncategorized

Koesisterspan: Van links is Barend se broer Attie, vier jaar jonger as hy, ongelukkig twee jaar gelede oorlede, hyself, broer Jannie, twee jaar jonger as Attie, en neef At, wat die familie “Boet” genoem het weens so baie vernoemde “Atte.

_________________

‘n Jong Barend du  Plessis het die stroopstasie beman by ‘n fyn georganiseerde koeksisterbakkery; ‘n jong FW de Klerk het van huis tot huis perskes gesmous; PW Botha het as knaap ‘n vrou help klippe kap vir ‘n kerkbouery en ‘n klein Pik Botha het tarentale en fisante in die veld gaargemaak terwyl hy skape oppas.

Sulke verkneuterende jeugbeelde van groot name uit die ou bedeling is opgeroep deur Du Plessis, oud-minister van finansies en amper-amper hoofleier van die Nasionale Party, se vertelling in ‘n kommentaar op ‘n Facebook-inskrywing oor sy ywerige deelname aan sy ma se koeksister- en melktertbedryf.

“Ek het in ‘n koeksister/SAVF-huis (SAVF is die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie) grootgeword en my ma het met koeksisters en melktert pryse op skoue gewen,” vertel hy.  “Ons het ‘n produksielyn vir ons bykans weeklikse koeksisterbakkery in ons kombuis gehad. My Ma het die deeg gemaak en die koeksisterbeentjies gesny en inmekaar gevou, nie gevleg nie. Dit was nogal ‘n kuns. As ek reg onthou, het sy hulle dan met ‘n kwassie met ‘n eiermengsel geverf.

“My neef, ‘n paar jaar ouer as my twee jonger boeties en ek, wat toe al gewerk het, het die gevaarlike werk gehad. Hy het met die Primus-stofie die koeksisters in die kokende olie gebak. Ek was die stroopstasie wat   gereeld die stroop moes aanvul en ook sorg dat die stroop yskoud bly in die bak wat in die groot bak ys en koue water gestaan het.

“Nefie het dan die koeksisters in die stroop gesit en ek moes hulle met ‘n eierspaan in die stroop gedompel hou totdat hulle hulleself lekker vol stroop gesuig het. Jy kon sien hoe dit gebeur. Dan het ek hulle op ‘n rakkie wat in ‘n pan gestaan het, gepak, totdat die stroop afgedrup het.

Barend, du Plessis, die kloeke knaap as losskakel en kaptein van sy skool se o/13-rugbyspan .

“Daarna het my twee jonger boeties hulle in bakke gepak, eers yskas toe gevat en as die plek opgeraak het, dit spens toe gesirkuleer, waar hulle onder die spierwit nette gerus het. Vroegoggend op ‘n Saterdag moes dit by die straatmark afgewer word, saam met al die ander vroue se verskeidenheid van kernye, waar gereelde klante al vroeg kom seker maak het hulle kry hulle gunsteling ietsie vir die naweek.

“Dit was pret en lekker samesyn. Mooi herinneringe.”

Van sy rol as vrugtesverkoper vertel De Klerk, oud-staatspresident, in sy biografie, Die Laaste trek – ‘n nuwe begin (Human & Rousseau 1998). Dié onderneming is bedryf van ‘n kleinhoewe van 200 akkers buite Krugersdorp waar hy vele jeugjare geslyt het. Op een tydstip het die De Klerks 1 500 vrugtebome gehad. Die meeste was perskebome maar daar was ook appelkoos- en pruimbome, asook aarbeie.

In sy laaste skooljaar en regdeur universiteit het hy vrugte gepluk en verkoop om sakgeld te verdien.  “Met die hulp van een of twee van ons plaaswerkers het ek dikwels deur Krugersdorp se strate gestap en perskes van huis tot huis verkoop. Ek het hou hiervan moeg geraak; en toe onytdek ek ‘n goudmyn – die ouetehuis op Krugersdorp. Ek het gereeld met ‘n vrag perskes soontoe gegaan en die hele klomp vinnig en sonder enige moeite verkoop.”

Vrugtesmous FW de Klerk, toe 16.

De Klerk se voorganger as staatspresident, PW Botha, was nie juis ‘n voorslag in die kombuis of ‘n verkoopsman nie.  Sentraal in jeugherinneringe oor die netjiese, skrander en voorbeeldige seun van die plaas Telegraaf in die distrik Paul Roux is sy verbondenheid aan sy ponie,  Tiekie,  waarmee hy skool toe gery het en sy liefde vir toesprakies en opstelle.

Sy fluksheid kom na vore in sy aandeel aan opheffingswerk Sondagmiddae in die arm woonbuurte. In Dirk en Johanna de Villiers se boek PW (Tafelberg, 1984) vertel ‘n skoolmaat, dr. Izak Steyn, ook ‘n storie oor sy betrokkenheid by ‘n klipkappery.

Dr. Steyn vertel: “Ek onthou, daar was ‘n sekere tannie, ‘n berg van ‘n vrou, sterk soos n perd. Almal was bang vir haar. Sy moet die enigste vrou in ons geskiedenis gewees het wat haar brood met klipbreek verdien het. Sy het gekapte klip gelewer vir die bou van die kerk. Van die groter seuns het verte hoe sy balhorige werkers teen die grond kon slaan.  Maar – kom ons om, so kom ons om! – het ons gaan besoek aflê. Ons was ‘n driemanskap, en ons gaan konfronteer as’t ware die leeu in haar lêplek.

n Jong PW Botha op sy poon.

“Die ontvangs was van so ‘n aard dat twee van ons nie kans gesien het om weer te gaan nie.  Maar nie Piet nie.  Hy het weer en weer gegaan, want daar was werklike nood.”

Pikkewyn Botha van Swartruggens se kontrei, die latere minister van buitelandse sake vir jare der jare,  het as kind meningitis oorwin, het amper in die Vaalrivier verdrink en is deur ‘n windpomp katswink geslaan.  Vir skool had hy so min sin dat hy die eerste dag weggeloop het, en ‘n voorliefde was om te preek en vurig te bid.

Die meningitis het sy arms en bene verswak en sy ouers wou dat hy oefening kry.  Soggens moes die trop skape aangejaag en bedags opgepas word. Dit was Pik en sy maatjies se taak, skryf  Theresa Papenfus in haar lywige biografie (amper 1 000 bladsye), Pik Botha en sy tyd (Litera, 2010).

“Ma het vir ons toebroodjies ingesit. Ons het wippe gehad wat ons van ou waringe en ogiesdraad gemaak het om tarentale en fisante te vang. En ons het hulle gaargemaak.  Die goed was maar taai.  Maar dit was opwindende jare,” het hy aan Papenfus vertel.

Saam met sy broer Chris het hy weke lank stukkies afvalbene loop en bymekaar maak. ‘n Sak vol bene is vir een sjieling verkoop, waarmee ‘n mens ‘n modelviegtuigie van Jack Lermkus se winkel in Kaapstad kon bestel – ‘n betowering wat hom lewenslank sou volg.

“Want hulle was flukse kê ..ê..ê ..rels,” sou ‘n mens hulle kon toesing.

REFERENDUM ‘N FW-TRIOMF

Maart 17, 2022 in Uncategorized

Die lotsbepalende referendum van 17 Maart 1992, vandag presies 30 jaar gelede, het begin met ‘n onverwagse aankondiging op die “verkeerdste tyd”. Daar was konsternasie in die NP-koukus en skok in die federale raad. FW de Klerk se skuif is beskou as ‘n enorme waagstuk in die heersende politieke klimaat.

By Die Volksblad was ons self skepties. Hoofredaksielid Jan Scholtz het die reaksie met ’n geliefkoosde uitdrukking opgesom: “Buurman, nou speel FW op Avbob se stoep.”

Waarom dan die swaarmoedigheid? Kort antwoord: die een na die ander bloedneus by die stembus, soos pas in ’n tussenverkiesing in Potchefstroom. In die Vrystaat het Virginia en selfs “veilige” munisipale wyke in Bloemfontein in KP-hande geval. Nasionaliste het grootoog begin bespiegel of meer setels as net Bloemfontein-Noord in ’n algemene verkiesing behou sou kon word. Die aptyt vir hervormingspolitiek was bra eina.

Die groot Ja-oorwinning met ‘n volslae tweederde-meerderheid het egter die stoutste verwagtinge oortref. FW se politieke intuïsie is reg bewys. Sy tydsberekening was skitterend. Vir hom was die referendum ’n persoonlike triomf. Van begin tot einde was hy die oorheersende figuur.Hy was in persoon hier, daar en oral en het mense met sy sjarme, opregtheid, logika en redenaarsvermoë saam met hom gevat. So is die regse gety nie net gestuit nie, maar omgekeer.

‘n Verbeeldingryke veldtog is gevoer. Nie die gewone stereotipe spyskaart van onpersoonlike formele vergaderings en ellelange toesprake was aan die orde nie – dié was daar ook – maar die klem het op intiemer kontak geval: huisvergaderings, blitsverskynings van FW en sy ministers op straat en in sakesentrums, deur-tot-deur-aksies, multimedia-aanbiedings, musiek, ens.

Die Nee-veldtog daarenteen het maar gesukkel om op dreef te kom. Daar was interne dwarstrekkery oor die fokus, en AWB-belhamels se onordentlike gedrag was vir die beskaafder KP-kern ’n verleentheid en ’n nadeel. Talle lelike insidente en onnodige gewelddadigheid het vervreemding veroorsaak.

Verrassend gou kon ’n positiewe ‘vibe’ aangevoel word. Uit reaksie kon jy optel dat ’n opgewondenheid aan’t opbou was om die ou juk van ’n moreel onregverdigbare en fisiek onvolhoubare bestel af te gooi.

Vir my was die referendum ’n laaste hoera as redakteur en aktiewe joernalis voordat ek Kaap toe is in ‘n bestuurspos. In my laaste verslag aan direksie oor die NP se kreeftegang in die Vrystaat het ek geskryf. “Iets is verkeerd gedoen – hoop tyd bring klarigheid”.

In die konteks was ek dubbel vasbeslote om nie op anti-klimaks my stoel oor te gee en te groet nie. Ek het myself – en my redaksie – met ywer in die veldtog ingewerp. Geen twyfel bestaan nie dat die koerant deurgaans met entoesiasme die Ja-stem bevorder het.

Die Volksblad het inderdaad met sy indringende, ontmaskerende joernalistiek ‘n deurslaggewende rol gespeel om wanvoorstellings en verdagte verkiesingsmetodes aan die kaak stel. Koerante is natuurlik toe nog wyd gelees. Die magtige internet was nog nie met ons nie.

Die vrugte van ywer is gepluk toe die Ja-stem teen die verwagting in in albei Vrystaatse stemdistrikte geseëvier het. In totaal was amper 55% van die stemme in die taai provinsie ten gunste van magsdeling met swartmense in ‘n onderhandelde nuwe grondwet. Veral die gunstige uitslag in die Kroonstad-streek was vir vriend en vyand ‘n verrassing.

In redaksionele kommentaar op 19 Maart – die laaste uit my pen – het Die Volksblad daaroor o.m. die volgende geskryf:“`Die politieke rehabilitasie van die Oranje-Vrystaat is een van die vreugdevolle subtemas van die Ja-triomf. Wat bereik is, is die resultaat van harde werk, maar klaarblyklik ook van ‘n hartsverandering by Vrystaters. Groter realisme het oor die land se werklikhede posgevat. Andersyds is regse metodes en beleidloosheid, asook die gevare wat blanke hardkoppigheid vir die land en vir hulleself inhou, verwerp.”

KOEKSISTER: SOET EN SUUR

Februarie 25, 2022 in Uncategorized

Die tradisionele koeksister – daai gevlegde soetigheidjie wat só welaangenaam die smaakkliere van soettande kan kielie – is g’n hierjy-ding in die Afrikaanse leefwêreld nie.

As jy vir koeksister ‘n lofsang wil aanhef, sal jy dit met die gelui van kerkklokke en jubelende orreltone kan opluister. Hoeveel gemeentes se susters het nie met eindelose bakke koeksisters kerktorings en orrelgalerye of noodsaaklike opknappings aan kerkgeboue gefinansier nie?

Watter basaar, boerebasaar, kerkbasaar, skoolbasaar, is werklik basaar as ‘n lang tafel ontbreek waar jy in die tou kan gaan inval vir hierdie verleidelike, bros versnapering wat so drup van die stroop en wat kraak as mens dit byt voordat jy by die salige, sagte binnekant kom.In hoeveel kombuise kom die baksels koeksister nie al van vroegdag uit die oond om die plate tuisnywerhede oral in die land se koeksister-rakke vol te hou en is die ekstra inkomste wat dit inbring nie noodsaaklik om ‘n kind deur skool of universiteit te help nie?‘

n Monument vir die koeksister (foto) toring al jare lank twee meter hoog in Orania langs die dorpswembad. Dit is die breinkind van die uitsonderlike Afrikanergebied se Kaalvoetvrou-organisasie wat sy naam kry uit die beroemde woorde van Susanna Smit dat sy liewer kaalvoet oor die Drakensberg sal loop as om onder Britse juk te staan.

Orania se koeksistermonument is as tong-in-die-kies projek begin, maar het tog ʼn baie ernstige boodskap. Die monument is nie net vir die soethappie wat so eie aan die Afrikaner is self nie, maar ook ʼn verering van die Afrikanervrou en die geld wat deur die jare vir die bou van kerke , outehuise, skole en wat nog met die bak van koeksisters ingesamel is.Ook oor Orania se regte egte koeksisters, word hoog opgegee. Orania se koeksisters is glo groter en brosser en soeter as enige ander koeksisters wat ‘n mens enige ander plek kry. So hoor ek maar.

Praat jy oor koeksisters moet jy een fout vermy: om die oorspronklike Afrikaanse koeksister (foto) en die Maleise koesister te verwar. Die gevlegte koeksister word van ’n stywe deeg gemaak wat in olie gebak word en dan in yskoue stroop gegooi word. Die koesister daarenteen is ‘n spesiale ovaalvormige oliebol. Dit word ook in olie gebak, maar dan in warm stroop gegooi voordar dit met klapper bestrooi word. Dit kan met allerlei speserye opgekikker word en is baie donkerder as die koeksister.

Hoe ook al, as ‘n gasvrou koekisters of koesisters voorsit, beteken dit om bederf te word. Nie dat dit altyd ‘n seker resep vir ‘n vlot gesprek is nie. In een nogal vername geval het die koeksister, helaas, nie sy ding gedoen nie. Dit was in die dae van die WVK. FW de Klerk, nuwe president, is na sy voorganger, PW Botha, in die Wildernis oor die moontlikheid om hom by die voorlegging van die Nasionale Party te betrek. Daarvan wou Botha niks weet nie. HY wou wel iets bespreek: De Klerk se lidmaatskap van, soos hy dit genoem het, die “Nuwe Wêreldorde”.

Sy beskuldiging was dat Pik Botha lid van ‘n bose komplot is en dat De Klerk hom toegelaat het om hom te manipuleer om ook deel daarvan te word, skryf De Klerk in sy biografie. In die verband het Botha (PW) verwys na De Klerk se besoek aan die VSA en die gesamentlike perskonferensie met pres, George Bush in die Withuis se roostuin. Volgens hom was Bush ‘n leidende figuur in die Nuwe Werêldorde en het hy De Klerk ingebind. Botha het daarop sy besoeker toe met “aggressiewe vrae” begin bestook.

De Klerk het hom vervies, die aantyging verwerp en verklaar dat hy nie gekom het om beledig te word nie. Hy voel dat hy sleg behandel is.Skieilik het Botha se houding verander. Hy het afgehaal gelyk en sê toe dat dit onregverdig is om van swak behandeling te praat, want sy vrou het dan koffie en koeksisters voorgesit. Hy het byna van sy “stoel afgeval”, skryf De Klerk.

HY het opgestaan en gesê hy moet nou gaan. Botha het sy vrou geroep en weer gesê: “Mamma, mnr. De Klerk sê ons het hom sleg behandel, en ons het hom nogal koffie en koeksisters gegee.” De Klerk meld nie of dit lekker koeksisters was nie, maar ek glo darem so, al het nie een van die twee presidente soet herinneringe aan die gesprek oorgehou nie.

ENGEL GABRIEL EN DIE ANC

Desember 12, 2021 in Uncategorized

Die vraag of Gerrit Viljoen – as hy nie siek geword het nie – Pik Botha, of wie ook al, in 1994 ‘n beter “deal” vir witmense met die ANC sou kon beding het as Roelf Meyer is een van daardie debatspunte wat gedurig opduik.

My Melkbosse vriend Jacko Maree, oud-politikus en betrokkene by die onderhandelinge, spreek die vraag uitvoerig aan in sy nuwe selfpublikasie “Kwessies”* en kom tot die gevolgtrekking – darem nie in soveel woorde nie, maar as ek sy strekking reg verstaan – dat selfs die engel Gabriël maar sou gesukkel het.

Toe die beginsel van groepregte vroeg sneuwel, was FW de Klerk se wigte en teenwigte daarmee heen, betoog hy. Met die aanvaarding van die beginsel van een mens, een stem was dit verby met Doris Day as’t ware. Vir Gerrit Viljoen het dit die einde van die pad beteken. Die geweldige druk waaronder hy verkeer het om namens die Nasionale regering ‘n eensame alleenstryd vir groepregte te voer (geen ander party het dit gesteun nie), het sy tol geëis. Die wyse, ervare man het ineengestort en Roelf Meyer is toe verrassend in sy plek as hoofonderhandelaar aangewys.

Jacko reken die ANC is tot beduidende toegewings gedwing oor kwessies soos ‘n regstaat met ‘n goeie grondwet teenoor die gewone Afrikapatroon waar die parlement die hoogste gesag is en die kapitalisme teenoor ‘n sosialistiese diktatuur. Maar daar het die ANC vasgeskop, en die ganse wệreld was aan sy kant. In sy hand was die troewe van die internasionale druk op die regering, die swart getalsoorwig en die gevaar dat die ANC hom tot onbeheerbare straatgeweld sou wend om sy sin te kry.

Die vraag voor die NP was uiters gewigtig: Skop hy die onderhandelinge op, sou hy ‘n revolusie in die gesig staar en afstand doen van die voordele wat wel beding is (regstaat, vrye ekonomie, ens.) By Jacko bestaan geen twyfel nie: “Eerder as om (oor een mens, een stem) toegewings te maak. Sou die ANC oorgeslaan het na volskaalse geweld. Revolusie en anargie sou ons voorland gewees het en ‘n gewelddadige oorname van mag deur die ANC sou onvermydelik gevolg het.”

Hy haal vir Tertius Delport aan wat rug wou styfmaak: “Thank God I didn’t get it my own way …. So maybe, thank God FW didn’t listen to me”.

Oor die verwyt dat FW sonder plan sou onderhandel het – “soos vir ‘n gebruikte motor” beweer een grondwetkenner – skryf hy: “ Die NP was, toe die onderhandelings begin het, beter voorbereid as enige ander party.” Hy noem dat die NP goeie huiswerk gedoen het en ‘n konsepgrondwet opgestel het waaraan ure bestee is.

‘n Ander vraag wat hy behandel , is: Het Ramaphosa vir Roelf ore aangesit? Hy redeneer tot die teendeel. Volgens hom is wel geslaag om “talle suksesvolle buffers” in te bou. Maar hy erken tekortkominge in die grondwet wat al hoe meer “ondeugdelik” word.

Hy bespreek ook moontlik uitweë uit huidige ellendes.Om ingelig saam te gesels, of jy nou hartlik saamstem of ernstig verskil, is “Kwessies” ‘n nuttige uitbreiding tot elkeen se verwysingsraamwerk, en nie net oor die groot politiek nie. Jacko wat lid was van die raad van die Universiteit van Stelenbosch, pak in ‘n ander afdeling die ondergrawing van Afrikaans in Matieland. Hy lig veral die rol uit van die driemanskap Chris Brink, Anton van Niekerk en Edwin Hertzog in die onheuglike geskiedenis, en spaar die roede nie. Uit die binnekring ontvou ‘n verstommende verhaal van taalstroping wat die universiteit en die Afrikaanse taalgemeenskap in die hart gewond het.

* Koop die boek aanlyn vir R300 by jwmaree.co.za

BROEDERLIKE BEROERING

November 12, 2021 in Uncategorized

Net ‘n week ná FW de Klerk se groot oomblik op 2 Februarie 1990 maak die dinamiese nuwe leier toe weer groot nuus – hierdie keer met ‘n aankondiging oor die vrylating van Nelson Mandela. Weer kom Die Volksblad met ‘n scoop –  maar ene wat roeringe veroorsaak en die redakteur laat bontstaan.

Saterdag 10 Februarie is koorsagtig agter die skerms gewerk om al die los drade vir die aankondiging vas te knoop. Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond was in sessie op ‘n plaas buite Stellenbosch, ietwat afgehaal omdat De Klerk wat die hoofdis op die program sou wees, deur “ander, belangrike” sake weggehou word.

Maar terwyl die Broers die aand sesuur die aankondiging oor Mandela op die TV-skerm volg, wie stap skielik daar in? Die Man van die Oomblik, Broer FW on lewende lywe! Die atmosfeer was tintelend. KWV se Roodeberg en Chenin Blanc is uitgehaal om feesvierende glasies te klink.

Later bel pres. George Bush die De Klerk-woning en laat ‘n boodskap. De Klerk bel terug uit die sitkamer van die manjifieke plaasopstal met sy swaar geelhoutbalke. Hy word o.m. deur ‘n dankbare Bush na die Wit Huis genooi.

Die gesprek het presies 11 minute lank geduur, deel hy die huisbaas, Piet Carinus, later met ‘n bree glimlag mee, maar die moenie bekommerd wees nie; sy kantoor sal kom regmaak. Nee, kap die terug, die geld soek hy nie; net die tjek – as ‘n aandenking van ‘n gedenkwaardige aand.

Die Sondag terug in Bloemfontein, nadat ek lank gewik en geweeg het, besluit ek dit is ‘n storie wat te goed is om nie geskryf te word nie. Ek gaan wel uit my pad om vertroulikheid te eerbiedig; noem glad nie die AB of die plaas of die eienaar se naam nie, praat net van “vriende” by wie De Klerk was.

Maar klaarblyklik was ek nie versigtig genoeg nie. Die Maandag vroeg is die vet in die vuur. Die AB is ontsteld. Die President is in die verleentheid gestel. Prof. Pieter de Lange, voorsitter, raai aan dat ek liewer self Tuynhuys toe bel.

Wat ek toe dadelik doen, taamlik bedug oor die gesprek wat voorlệ.

Maar nee wat, sê De Klerk, al was ek ‘n bietjie stout, is geen skade gely nie. Hy het nie slapelose nagte oor die berig nie; ek hoef ook nie te hệ nie.

Dankie, antwoord ek, ek wou ‘n mooi rubriek oor hom skryf, nou sal ek dit nog mooier maak. Moenie, skerts hy terug, as hy dit lees, sal hy weet ek bedoel dit nie opreg nie; daar is ‘n bymotief. Einde van daardie episode.  Wel tog ‘n lekker voorbladstorie gewees, ook in Die Burger en Beeld.

Foto: Aandpak-geleentheid in Bloemfontein in die 90’s.  Lyk na ‘n ernstige gesprek.

VUURWARM SCOOP OOR FW

November 11, 2021 in Uncategorized

Met die dood van FW de Klerk is een van die helder herinneringe wat by my opkom, daardie dramatiese dag 2 Februarie 1989 toe hy uit die bloute leier van die NP geword het.

Die hoofberig in Die Volksblad met die kraakvars nuus oor sy verkiesing tot hoofleier in die plek van die siek PW Botha was ‘n scoop soos elke joernalis van droom.   Die Volksblad was toe nog ‘n middagblad.  Geen ander middagblad in die land kon daardie middag by hom kers vashou nie.

P.W. Botha bedank skielik. F.W. klop Barend du Plessis, Chris Heunis en Pik Botha om die leierskap. Dit was die sleutelelemente van die berig.  FW nuwe leier, was die banier.  Wen teen Barend met 69 -61 was die tweede opskrif.

Alf Ries, gesoute politieke beriggewer van Die Burger en oud-Volksblad-man, het voor 11:00 die eerste keer opgewonde gebel om te waarsku dat iets groots klaarblyklik aan die gebeur is. Soos so dikwels in sy uitsonderlike loopbaan was Ries op presies die regte tyd op presies die regte plek. (‘n Ander Ries-scoop vir Die Volksblad was Samora Machel se dood in ‘n vliegtuigongeluk in 1986. Geen ander middagkoerant het dieselfde dag nog daardie berig gehad nie.)

Die oggend van die historiese NP-koukus het Ries  ‘n vreemde aktiwiteit bespeur, wat sy sensors geaktiveer het. Hy het dadelik gedink aan Die Volksblad, wat toe nog ‘n middagblad was. Geen ander joernalis het in daardie stadium eens snuf in die neus gehad van die drama wat hom in die koukus afspeel nie.

Teen 12:20 het Die Volksblad se Francois Lötter (later van Die Burger) gebel met die nuus dat die koukus vir ‘n nuwe hoofleier stem. Om 12:40 was daar weer ‘n oproep van hom om te sệ: Die nuwe leier is F.W. de Klerk.

Die redaksionele wiele het volstoom begin draai. Foto’s is geselekteer vir ‘n fotoblad en ‘n lewenskets is vinnig afgerond. In die subkantoor is koorsagtig bladsye verander — en die produk was ‘n treffer, met ‘n Alf Ries-hoofberig wat lesers soos ‘n elektriese stroom regop laat sit het.

Daardie middag bel Piet Steyn, LV vir Winburg, sy vriend prof. Kallie Strydom in Bloemfontein oor die groot dinge wat die oggend gebeur het. Hy kon op sy rug val toe Strydom hom meedeel: “Ek het dit nou net alles in Die Volksblad gelees.”

Die storie eindig ongelukkig op ‘n pynlike noot. ‘n Kis KWV-Roodeberg  bestem vir kollega Alf het op die Bloemfonteinse lughawe (toe nog JBM Hertzog) van die waentjie getuimel. Net ses bottels van die dankie-geskenk het heel in die Kaap aangekom!

Foto: Buiteblad van my loopbaanboek “Kroniek van ‘n Koerantman” (Tarlehoet. 1998). ‘n Dowwe relief van daardie gedenkwaardige voorblad is vir die ontwerp ingespan.

  • Later deel ek nog FW de Klerk-herinneringe.