Jy blaai in die argief vir die transvaler.

DOMINEE, KYK MY EINA!

Januarie 19, 2021 in Uncategorized

Dominees wat die kansel vir ‘n redakteurskap verruil het, tref reuseverskille in hul nuwe nerings aan – ook ‘n klompie ooreenkomste. Hulle skryf o.a. steeds preke – heelwat korter maar elke dag pleks van een of twee per week.

Dit was die wysheid van Gerrit Velthuysen wat aan die einde van die 80’s ‘n ruk lank redakteur by Die Transvaler (toe ‘n Pretoriase koerant) was. Hy is later na ‘n bemarkingspos geskuif. Voor sy skof by Die Transvaler was hy ‘n Hervormde leraar in Centurion en hoogleraar in Teologie by Tukkies. 

Sy naam ontbreek op Die Transvaler se Wikipedia. Wonder hoekom? Dat my geheue my nie in die steek laat nie, het ek egter by twee gesaghebbende bronne bevestig. 

Trouens, hoe sou ek Gerrit kon vergeet? Geen ander redakteur wat ek geken het, het so ‘n melodieuse stem gehad nie. Kon my verluister aan die man. Geen ander een het ook sulke klonte aan sy ringvingers gedra nie. 

Onvergeetlikste rede? Hy het in Oktober 1989 op ‘n uitstappie na die ou Suidwes aan die vooraand van die Namibiese onafhanklikheidwording Glenfiddich-enkelmout, 12 jaar oud, aan my bekend gestel. Suiwer engeltjiepiepie, klas goud. 

Drie Gerrit-stories steek in my kop vas: een uit sy koerantdae, een uit sy domineedae en die ander ‘n lekker grappie wat hy ‘n keer in ‘n rubriek vertel het. Die het ek so geniet dat ek dit in een van my humorboekies van die 90’s opgeneem het. 

Die koerantstorie kom aan die begindae van sy redakteurskap – voordat hy gewoond geraak het aan die bokkerops wat om elke hoek skuil. Ek loop hom by ‘n redakteursbyeenkoms raak, en hy is stomend. ‘n Senior kollega het in ‘n hoofartikel van die “Kaiingsmerk” geskryf pleks van die “Kainsmerk”. ‘n Ander senior kollega het die glipsie misgelees. Dit staan toe in die koerant. En die redakteur is veronderstel om sy Bybel te ken.  

Hy  wou hulle braai. Ek kon hom gerus stel dat erger dinge vorentoe met hom sal gebeur. 

Die storie uit sy leraarsdae was oor ‘n jongerige gemeentesuster wat geopereer is. Soos die gebruik is, gaan besoek hy haar waar sy tuis aansterk. Hulle gesels nog so oor koeitjies en kalfies toe sy skielik verbete aankondig: “Ek wil vir dominee my wond wys.” 

Gerrit keer die kant toe en daardie kant toe maar die suster – jongerig en aantreklik – laat haar nie van stryk bring nie. Toe die dominee hom weer kom kry, lig sy die laken tot doer bo. Daar sien hy toe nie net die nare wond volledig nie, maar ook die res van haar ongeskonde lyf in al sy naakte glorie onthul. Hy moes sluk om teenwoordigheid van gees te behou. 

“Wat sệ jy toe vir haar?” por ek nuuskierig. 

“Net:’Sjoe dis ‘n kwaai wond.’ Tou vou ek die laken netjies toe, maak keel skoon en onthou skielik van ‘n belangrike ander afspraak.” 

Die grappie: 

Iemand – sệ maar Gerrit self – ry boontoe in ’n propvol hysbak. Op die eerste verdieping gaan die deur oop – en ’n sekuriteitswag, uniform en al, wurm hom in. Met skouers en elmboë beur hy ’n staanplekkie oop. Die bak sit sy opwaartse reis voort met die vername kêrel breed voor die deure, bene wyd geplant, keps op die kop en “walkie-talkie” in die hand.

Hy kyk elke medereisiger vas in die oë. Toe bring hy die “walkie-talkie” na sy lippe, druk ’n knoppie en sê gewigtig: “Kom in, Bravo Drie. Bravo Drie kom in. Oor!” Almal in die hysbak wag saam met hom. Niks gebeur nie. Hy vroetel weer aan sy praat-apparaat. “Bravo Drie, kan jy my hoor, Bravo Drie? Kom in, Bravo Drie. Oor.”

Steeds doodse stilte. Hy druk daai knoppie dat dit sou traan as dit kon, byt op sy tande en sis dit behoorlik uit: “Waar is jy, Bravo Drie? Het jy moeilikheid, Bravo Drie? Hoekom kom jy nie in nie, Bravo Drie? Oor.” 

Stadig en afgemete kom ’n diep stem oor die luidsprekertjie: “Jy is Bravo Drie, jou dom dônner!” 

FOTO: SWA, 1989. Links: Gerrit saam met Piet Steyn, LV vir Winburg, en Ritsema de la Bat van die KWV. Regs: Gerrit by een van ons twee klein vliegtuigies.