Jy blaai in die argief vir die perdeby.

ONS ‘GEHEIME WAPEN’

Mei 2, 2020 in Uncategorized

Wat ‘n jaar was 1961 nie – vir Suid-Afrika; ook vir Die Perdeby, studentekoerant van Tuks!

Suid-Afrika word ‘n Republiek – ‘n lang Afrikanerdroom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek bande met die Statebond.  NGK-mense bots sterk oor apartheid by die Cottesloe-beraad. Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.

Hoë besoekers stroom na die kampus: Dr. Verwoerd, pres. C.R. Swart, dr. Anton Rupert, N.P. van Wyk Louw.  Elke keer is Die Perdeby op die toneel.

Komplimente vir ons koerant was volop. Die beste ‘By in sy jare op die kampus, was die mening van o.a. Piet Grobler, latere senior LV wat beroemd/berug geraak het oor sy openbare botsing met die konserwatiewe dr. A.P. Treurnicht.

Die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het op sy beurt laat hoor: “Die Perdeby het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar, ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

Natuurlik is ek trots dat ek daardie redaksie kon lei. Sy foto is een van dié uit my studentedae wat teen my studeerkamermuur hang. Links voor sit Joh Groenewald. Sien in vanoggend se Burger hy is sag heen op George. Was ook al ‘n 1939-kalwer.

Miskien is dit tyd dat ek ‘n geheimpie verklap: dat Joh – bekende filatelis van later jare – eintlik ons “geheime wapen” van daardie Perdeby was. Hy was toe al verslaggewer by Die Transvaler en ‘n knap leermeester – ook vir die redakteur.

Te laat – soos helaas dikwels maar die geval is –   wil ek graag vandag aan hom ‘n erkentlike buiging maak.  Joh Groenewald jy was in ‘n onvergeetlike jaar goud werd – vir my en vir ‘By.

BY VLIEG AL 80 JAAR

Augustus 28, 2018 in Uncategorized

By-redakteur, 1961

Die Perdeby, studentekoerant van Tukkies, vlieg vanjaar al 80 jaar lank, swaai by geleentheid die heuningkwas of deel by ander geleenthede sy goedgemikte stekies uit op die kampus. Zoem voort, liewe By – my eerste “koerant” waarvan ek in 1961 bevoorreg was om redakteur te wees.

Wat ‘n jaar was 1961 nie – Suid-Afrika word ‘n Republiek. dr. H.F. Verwoerd verbreek bande met die Statebond, kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk ….Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.

Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. Verwoerd kom kuier twee keer. Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen. Dr. Anton Rupert is die spreker op Lentedag. Hy bepleit ‘n “nuwe rassebenadering”. N. P. van Wyk Louw praat op gradedag. Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.

Op die hoofartikelblad het ‘n gereelde rubriekie verskyn, waarby ‘n tekening was van ‘n vet Meksikaan met ‘n hangsnor en ‘n rokende pistool in die hand. Hy sê: “Ek skiet jou as nie saamstem nie ….” In die uitgawe van 24 Maart moet daar eenstemmigheid wees “ dat ons nou almal Commonwealth Old Boys-kleurbaadjies kan dra!”

Die Perdeby was darem nie net politiek nie. Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het. tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Sy het mev. Gerdia Pretorius geword en het tussen Klerksdorp en Lichtenburg verongeluk.(G’n fout met die redakteur se smaak nie!)

Sosiale nuus was o.m. dat die naelloop-kampioen Sep Serfontein gekroon is tot 1961 se Mnr. Asterhof . Vir die eer moes hy daardie koshuis se ses verdiepings op en terug in minder as 46 sekondes.

Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom. Maar lof vir Die Perdeby het uit verskillende oorde opgedaag. Jan Grobler, gewese Nasionale LV wat met dr. Andries Treurnicht in sy ministersdae oorhoops geraak het, het geskryf: “Die beste ‘By in die afgelope ses jaar wat ek al hier rondlê. Baie, baie geluk.”

Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lof uitgespreek: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

In my eie laaste hoofartikel was ek half weemoedig. “’n Mens raak lief vir die ‘By. Dit is nie alleen jou verantwoordelikheid nie, maar ook jou trots. Die verskyning van elke uitgawe word ‘n persoonlike bevrediging soos ‘n kunswerk vir sy skepper.”

Die Perdeby is vanjaar 80. Dat 57 jaar intussen verloop het, stem my opnuut weemoedig.