Jy blaai in die argief vir die burger.

KOERANT-KAMERADE

Augustus 10, 2020 in Uncategorized

Kosbare koerantkamerade. So noem ek die Die Burger en Beeld in briewe wat Saterdag in die twee susterskoerante se briewekolomme gepubliseer is. Ek is dankbaar vir die geleentheid wat my gegun is om ook op hierdie wyse afskeid te neem van my geliefde Volksblad waar ek twee skofte van 12 jaar elk werksaam was – die laaste skof as redakteur.

Aan Beeld was ek ses jaar  verbonde: as eerste nuusredakteur en later adjunk-redakteur.

Die briewe is amper eenders, maar uit die aard van die saak nie heeltemal eenders nie.  Hier volg my briewe, en verskoon maar die noodwendige oorvleuelings: Hier volg dit:

Die Burger:

Die laaste papieruitgawe van Die Burger se susterskoerant in Bloemfontein, Volksblad, het verlede nag van die rolpers gekom.  Van Dinsdag  skuif hy huidjie en muidjie na die digitale platform Netwerk24.

‘n Ikoniese gewel verdwyn uit die galery van hoofstroomkoerante. Nooit weer sal ‘n mens ‘n knipsel uit Volksblad kan maak of vis en skyfies in hom toedraai nie.  Vir my wat bevoorreg was om 12 jaar redakteur te wees (van 1980 tot 1992) is dit ‘n somber gedagte. 

Die Burger en Volksblad was oor ‘n eeu lank in vrugbare wisselwerking; twee hegte medestryders met gedeelde kernwaardes en gemeenskaplike ideale. Die verbintenis gaan nie verlore nie, die formaat verander wel.  ‘n Era is verby; die onthou bly.

Soos Maandagoggend 4 Desember 1967.   Eensklaps het berigte van Die Burger per teleks begin instroom. In voortreflike, eksklusiewe kopie het die drama van die eerste hartoorplanting by Groote Schuur hom ontvou. Só het Die Burger met talle groot stories vir sy kleiner suster uit sy pad gegaan. Sulke koerant-kameraadskap is kosbaar.

Volksblad het hom weer as voedingsbron onderskei.  In ritse sleutelposte in die Pers was, of is steeds, Volksbladders. Vir Die Burger het die blad o.a. ‘n redakteur, ‘n top-politieke beriggewer, twee rubriekskrywers, ‘n hoofbestuurder, ‘n bemarkingsbestuurder  en twee fabrieksbestuurders opgelewer.  Op di  spannetjie is ons kennelik trots.

Nog ‘n onderskeiding is sy bydrae tot die boekewêreld. Sowat 80 redaksielede het deur die jare sowat 1 000 boeke gepubliseer. Gesogte bekronings is ingeryg.   Drie van die voorste skrywers van spanningsverhale was in die jare 80 kollegas in die Volksblad-redaksie.  Die kanse is goed dat Burger-lesers een of al drie se boeke opraap soos hulle verskyn.

Ná hierdie ietwat opportunistiese reklameflits, nog net enetjie asseblief: klik tog maar soms ook op Volksblad as u Netwerk24 besoek.  Derduisende klikke – dit gun ek my ou koerant van harte in sy digitale gedaante.     oop hy kry

Beeld:

Die laaste papieruitgawe van Beeld se susterskoerant in Bloemfontein, Volksblad, het verlede nag van die rolpers gekom.  Van Dinsdag skuif hy huidjie en muidjie na die digitale platform Netwerk24.

‘n Ikoniese gewel verdwyn uit die galery van hoofstroomkoerante. Nooit weer sal ‘n mens ‘n knipsel uit Volksblad kan maak of vis en skyfies in hom toedraai nie.  Vir my wat bevoorreg was om 12 jaar redakteur te wees (van 1980 tot 1992) is dit ‘n somber gedagte. 

Beeld en Volksblad was amper ‘n halfeeu lank in vrugbare wisselwerking; twee hegte medestryders met gedeelde kernwaardes en gemeenskaplike ideale. Die verbintenis gaan nie verlore nie, die formaat verander wel.  ‘n Era is verby; die onthou bly.

Beeld se bydrae tot Volksblad se inhoud was oor die jare van onskatbare waarde. Met groot nuusstories soos die Pretoriabom, die Westdenebusramp, die rugby-wêreldbeker, die Smitmoorde, die Gert van Rooyen-sage  en vele meer het Beeld uit sy pad gegaan om vir sy kleiner suster die beste diens te lewer.  Sulke koerant-kameraadskap is kosbaar.

Volksblad het hom weer as voedingsbron onderskei.  In Beeld se stigtersredaksie  was ‘n dosyn Volksblad-gesigte. Deur die jare is drie redakteurs, twee assistent-redakteurs, twee nuusredakteurs, ‘n sportredakteur, motorredakteur en rubriekskrywer opgelewer.  Om nie van die nimlike “Quintus van Blouen”  te vergeet nie!

Aan bestuuskant het ‘n hoofbestuurder, advertensiebestuurder, bemarkingsbestuurder en  administratiewe bestuurder die Vaalrivier oorgesteek.  Op di  spannetjies is ons kennelik trots.

Nog ‘n onderskeiding is sy bydrae tot die boekewêreld. Sowat 80 redaksielede het deur die jare sowat 1 000 boeke gepubliseer. Gesogte bekronings is ingeryg.   Drie van die voorste skrywers van spanningsverhale was in die jare 80 kollegas in die Volksblad-redaksie.  Die kanse is goed dat Beeld-lesers een of al drie se boeke opraap soos hulle verskyn.

Ná hierdie ietwat opportunistiese reklameflits, nog net enetjie asseblief: klik tog maar soms ook op Volksblad as u Netwerk24 besoek.  Derduisende klikke – dit gun ek my ou koerant van harte in sy digitale gedaante.     oop hy kry

Naskrif: Die drie gewilde skrywers na wie ek verwys,  is Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg.  Ek het hul name nie ingesit nie, o.m. weens ruimtebeperkings en ook weens die vraag: wie se name noem jy en wie s’n nie? Beeld het die name bygevoeg maar toe per abuis Chris Karsten weggelaat en Karin Brynard bygevoeg. Sy is nie ‘n Volksblad-produk nie.  Die fout is op Netwerk24 regggestel. Dit sal ook in Beeld reggestel word.

INK IN DIE ARE

Maart 20, 2019 in Uncategorized

Die drukkersink het soos lanklaas in my are gebruis toe ek en Tokkie die Claassens-kleinseuns, Jacob, Thomas en Christopher, gister met die binnewerkinge van ‘n reuse-drukkery laat kennis maak het.

Ons was by Paarl Coldset in Paardeneiland – ou tuiste, in my koerantedae, van Die Burger se fabriek. Ons is deur Irette de Waal, ‘n produksiebestuurder, stap vir stap deur die proses geneem tot die hoogtepunt: toe die pers begin rol om die TygerBurger teen 40 000 eksemplare per uur uit te spoeg.

Die kinders was in verwondering oor die enorme inktenks, die massiewe bale papier, die monstermasjiene en die fyn rekenaartegnologie agter hul volkleur-oggendkoerant. Vir my alte heerlik gewees om – al was dit met ‘n kierie – deur bekende hoekies en gangetjies te loop, trappies op en trappies af, en al die reuke en geluide te herken.

‘n Verrassing gewees om deur een van die jonger garde van destyds, Jerome Gurley, in die plaatmaak-afdeling herken te word. Nog ‘n verrassing: die Mondipapier waarop Die Burger gedruk word, word deesdae uit Rusland ingevoer!

En daardie slim Ferag-masjien wat die koerant met ‘n ingewikkelde lugbrug van die pers na die invoegers en ander bestemmings bring – ek het soos ‘n peetpa gevoel. Die stelsel dateer uit my tyd. Het ‘n mooi foto in my album van my, Ton Vosloo en Jean le Roux, destyds hoofbestuurder van Die Burger, by die inwyding van die Ferag (al drie sowaar nog in donker pakke!).

Op die foto’s is die kinders met en sonder Irette de Waal op ons boeiende toertjie. Dankie, Irette.