Jy blaai in die argief vir dakota.

22 KAALBAS REDAKTEURS

April 27, 2021 in Uncategorized

In loshande die rofste pers-uitstappie waarvan ek kennis dra, het ‘n 20-tal redakteurs en assistent-redakteurs letterlik kaal uitgekom.

Dit was ‘n besoek per Dakota aan die Unitaleier Jonas Savimbi by sy hoofkwartier, Jamba, diep in die Afrikabos in die 80’s. Die spannetjie het in ‘n tropiese storm papnat gereën. Ook hul koffers was deurweek – niks was droog nie. Bedremmeld, stroop hulle hul nat klere, en daar staan hulle toe in die Dakota terug Johannesburg toe soos natgereënde hoenders: poedelkaal, bibberend en blou van die koue. Ook uitgeput en ergerlik. .

Alles begin by ‘n besoek aan die kleurryke Savimbi deur Tertius Myburgh, redakteur van die Sunday Times (foto).  Savimbi vra in ‘n stadium: “Hoekom bring jy nie ’n volgende keer jou mede-redakteurs saam nie?”

So gesê, so gemaak.  Tertius begin toe rondvra oor ‘n huurvliegtuig en ‘n vlieënier wat sy pad Jamba toe sal kan vind. Op Wonderboom, Pretoria, loop hy ‘n ou Dakota raak wat reg lyk vir die safari.  Die vlieënier wys  die duime op; ja-nee, dis reg so.

Myburgh verneem na die koste en werk uit hoeveel dit per kop sal beloop as hy ‘n span van so 20 kan versamel. Daarna stuur hy telekse aan al die koerante in die land, Afrikaanse en Engels. Hy kry ‘n geesdriftige respons.  Enkeles wil weet hoe veilig dit is. Dink daaraan as ‘n ietwat rudimentêre Mala Mala, kom die antwoord. Tops, dan’s ons in.

Vroegoggend is die klomp op Wondeboom, uitgevat in hul khaki-bosdrag, oorgehaal vir die groot avontuur.  In die Dakota met sy parkbankies teen die sye is twee trommels vol bier op die ys en genoeg whiskey. Vyf uur lank dreun die Dakota se motore  egalig oor die Afrikakontinent met sy vrag persmense.  Onder hulle heers lughartigheid en afwagting.

Hulle word ontmoet deur Unitasoldate en word agterop twee Tsjeggiese vragmotors geboender vir die hobbelrige reis van nege uur oor primitiewe paaie Jamba toe. Die whiskey hou nog en die gees is ongedemp. Avontuur is in die lug.

‘n Dag en ‘n half kuier hulle ‘n hond uit ‘n bos saam met Savimbi.  Ná ‘n laaste aandete saam met die gulle gasheer val hulle om tienuur die aand in die pad terug.  Behoort dus  ligdag die landingstrook te haal.  Toe drie probleme: i. die whisky is op; ii. Die Tsjegge weet skynbaar nie van skokbrekers nie, en iii. ‘n magtige Tropiese storm bars los.  Dit giet. Ure lank ploeg, swaai en bokspring die gehawende voertuie sans skokbrekers  deur die nag voort terwyl die manne bibberend onder bokseile skuiling soek .   Rudimentêre Mala Mala se voet, brom hulle in ‘n koor en werp beskuldigende blikke in Myburgh se rigting.

Ligdag bereik hulle die Dakota. Dankie tog, sug die manne. Nou kan ons droë klere aantrek. Helaas. Toe hulle hul koffers optel, stroom die water uit elke skrefie. Niks – maar niks – binne het droog gebly nie.

Hulle bestyg die Dakota, nat en koud. Die motore het skaars begin brom,  toe’s hulle soos een man uit hul nat klere: 20 redakteurs op ‘n ry sonder ‘n draad aan hul lywe.  Die vliegtuig binne lyk soos ‘n wasgoeddraad met al die nat bosmonderings wat druppend aan die sye hang.

Die manne is hoendervel en dik die duiwel in. Myburgh moet net bontstaan. Alles is sy skuld. Hy gaan vra later die vlieënier of daar nie ‘n verwarmer is nie.  Dié beduie na ‘n handvatsel agter hom . Dis of vrek warm of yskoud, waarsku hy. Werk dit maar self uit. Die hele vyf uur in die lug op pad terug is Myburgh heen-en-weer. Hy sit dit op warm todat hy die sweet sien pêrel. Dan sit hy dit weer op koud.

Die uitgemergelde groepie was nog nooit blyer om op Suid-Afrikaanse bodem neer te stryk nie.

Ek was gelukkig nie  op die uitstappie nie. Seker maar ‘n “premonisie” gehad, soos my ouma Elsie Visser altyd gesê het. Toe stuur ek Willie Kühn, ‘n assistent-redakteur.  Hy was nog bleek om die kiewe toe hy in Bloemfontein aankom ná die nagmerrie-safari.

* Willie wat voor my troue my woonstelmaat was, het later redakteur van Beeld en van Huisgenoot geword. Tertius is aangestel as ambassadeur in Washington maar is aan pankreaskanker oorlede voordat hy die pos kon opneem.  Hoe jammer. Hy sou ‘n voortreflike ambassadeur gewees het: slim, sjarmant en spitsvondig. (Dankie aan Joel Mervis. Het my geheue gaan verfris in sy boek “The Fourth Estate” , Jonathan Ball, 1989).

ROMEINSE BACCHUSFEES

Januarie 23, 2021 in Uncategorized

Stel jou voor: ‘n Uitbundige klomp koerantmense net in lakens geklee, gevlegde blarekrone op die kop, lywe uitgestrek op rolle rooi fluweel, en met yslike goudgeverfde erdebekers vol wyn in die hand.

‘n Romeinse Bacchusfees so uit die boek.

Dit was die toneel met die inwyding van SA se eerste Holiday Inn in die laat 60’s/begin 70’s op Mtubatuba  naby St. Lucia aan die Natalse noordkus.

Holiday Inn het persmense vanoor die land na die okkasie genooi.  Ons is per SAL na Johannesburg gevlieg en van daar af met ‘n verslete Dakota na Mtubatuba.  Op pad met die jolige vrag, het die Rand Daily Mail se man, ‘n oud-vlieënier, die mikrofoon gegryp en gemaak-ernstig aangekondig: “Ladies and gentlemen, in the case of any extra oxygen being needed … we are all buggered.”

Die lagbui wat deur die Dakota gespoel het, had tog ‘n ‘n element van senuweeagtigheid as onderbou.

Na bewering het die grapjas later agter die stuurstang ingeskuif. Daar was selfs ‘n bewering dat hy die ou rammelkas op Mtutatuba neergesit het. Glo dit darem nie. IN elk geval, op die lughawe was nie trapstelle op wiele soos in moderner tye nie. ‘n Leer moes op ‘n vragmotor se bak staangemaak word om die passasiers op die grond te kry.

In ‘n skielike windvlagie het rokkies hoog gewapper. Die helpers wat aan die onderpunt van die leer gestasioneer was om ‘n helpende hand te verleen, het vir hul moeite allerlei bonus-waarnemings te beurt geval.

Die aand se verrigtinge is ná ‘n halfeeu steeds in die ou man se geheue ingegrif. Die kleredrag was eenvormig: net ‘n laken en ‘n gordel.  Vir groter posture en posture wat ruim met kurwes bedeeld was, was dit nogal ‘n uitdaging om te bedek wat ter wille van die goeie sedes alles bedek behoort te wees.

So sonder sakke was bykomende toerusting soos pakkies sigarette en lipstiffies ‘n oorlas waarvan net op een manier ontslae geraak kon word. Dit is in onderbroeke, amperbroekies en bra’s ingeprop (ek meen ons het destyds nog van buustelyfies of vormdrag gepraat). Die uithaal was meermale ietwat onelegant. Veral as dit ‘n pakkie 30’s was, soos my Rembrandt Van Rijns.

Die wyn het nie opgeraak nie. Die yslike goudgeverfde glase was nooit leeg nie. Die ontspanne gees wat die verrigtinge gekenmerk het, het al hoe meer ontspanne geraak. Dames, meesal darem getroudes, het later op hul metgeselle se skote beland. en al hoe meer been het verleidelik onder die lakens uitgesteek.

Oor die komplikasies by die geriewe vir mans sal ek nie uitwei nie.   OOr die komplikasies by die geriewe vir vroue kan ek natuurlik nie uit eerstehandse kennis uitwei nie. Tokkie het wel in my oor gefluister dat dit ’n “gedoente” was.

Die volgende oggend is ons op wildritte die pragreservaat Hluhluwe binne, waar die vrolikheid van die vorige aand ondanks ‘n suwwe gevoel in die kranium onverpoosd voortgesit is. Gelukkig was ons nie in lakens geklee nie, maar in ‘n verskeidenheid velddrag volgens eie smaak.

Te laat was ons almal terug in die Dakota vir die terugvlug. Nog op pad Goudstad toe het die donkerte toegesak. Ons was nog nie naby Grand Central-lughawe nie toe die laaste SAL-vlug van die dag Bloemfontein toe opstyg. SAL was toe nog die enigste opsie. G’n Kululas, Mango’s, Safairs en die klas ding nie.

Wat nou? Ek en Roland Solomon van The Friend was taamlik gespanne omdat ons teenwoordigheid op kantoor die volgende dag nie onderhandelbaar was nie. Holiday Inn bied toe soos goeie gashere gul aan om ons in ‘n klein Piper Vrystaat toe te vlieg.

Die ongetroude Roland se reaksie was ‘n gilletjie. Hy het Tokkie – wat hy Klokkie genoem het – aan die arm gegryp en gepleit dat hulle twee ‘n verenigde drukgroep vorm om die onheil af te weer. Haar eggenoot was egter onversetlik.

Uiteindelik is ons in die kleine Piper: die vlieënier en die forsgeboude Claude Cawood (fotgraaf) voor; ek, “Klokkie” en Roland agter ingeprop. Toe ons by die huis in die bad klim, sien ek hoe het Roland haar op onbehoorlike plekke pimpel en pers geknyp.  Siestog, hy was baie bang.

Laat my bely dat ekself in stadiums bra benoud was as die klein goggatjie met die woerende skroef bokant die donker Vrystaatse vlaktes so heen en weer kantel.  Maar ‘n uitstappie om te onthou, was dit gewis.

Van toe af ‘n stoere Holiday Inn-man gewees.