Jy blaai in die argief vir covid-19.

OM TE KOES VIR ‘N SOEN

Oktober 9, 2020 in Uncategorized

Hoe reageer jy as ’n dierbare vriendin, soos haar pikante Swartlandse manier is, jou gesig in haar hande toeskulp en jou met ’n klapsoen groet? Of as ’n goeie buurman onaangekondig jou voordeurklokkie lui sonder ’n masker op die gesig?

Volhard jy om “nee dankie” te sê vir die een hartlike uitnodiging op die ander na aandetes by vriende wat al hoe lank sukkel om ’n afspraak te beklink? Bly jy liefs steeds ver weg van byeenkomste van jou klub, leeskring of kerk? Vermy jy alle partytjies en was jy Braaidag maar stoksielalleen by jou vuurtjie?

Skielik maak COVID-19 vrae soos hierdie nogal relevant omdat verskillende lewenswyses spanning en onbegrip tussen vriende bring. Botsende beskouings veroorsaak verwydering, selfs tweespalt. Dit etiketteer mense, kategoriseer hulle en dryf wigte tussen verskillende kategorieë in. Dit is een van die jammerlike, onvoorsiene, gevolge van die COVID-19-regulasies wat nie op grond van grafieke geprojekteer kon word nie.

Feit is: Uiteenlopende sienswyses oor COVID-19 is uit die staanspoor al ’n werklikheid. Mense redekawel oor die erns van die bedreiging. Is daar werklik so ’n vreesaanjaende virus of is dit maar die gewone seisoenale-griep-ding in ’n ietwat ander gedaante? Soveel mense, soveel menings.

Nou verskuif die debat na vlak een wat uiteindelik, ná soveel moeite, koste en inspanning bereik is. Mense stry dat die spoeg spat. Is dit nou weer “open Sesame” soos tevore? Is dit ’n tyd om dubbel op die hoede te wees?

“Kan ons asseblief nou die nare besigheid agter ons sit en aangaan met ons lewens?”

“Moenie ophou om masker te dra, hande te was en afstande te handhaaf nie.” 

“Is daardie vervelige ou rympie regtig nog nodig?”

Ontkenning loop jy raak om elke draai – en soms waar jy dit die minste verwag. Sal ’n verantwoordelike kontrakteur willens en wetens sy werksmense toelaat om ongemasker hul pligte by vreemdes se huise gaan verrig, soos in een week drie keer by ons gebeur het? Of is dit ’n geval dat werkmense hulle eenvoudig nie aan die baas se opdragte steur nie? 

Ontkenning is natuurlik nie nuut nie. Uit die staanspoor was vrae, kritiek en botsende menings tiekie die bos. Skeptisisme, komplotteorieë en fluisterstories oor politieke bymotiewe het soos ’n stadslegende deur die land geswiep – mense wat “vertroulik” by dié of daardie sus en so gehoor het. Gewoonlik op sosiale media.

Nou, op vlak 1, is dit of hierdie verskynsel nuwe lewe kry. ’n Vriend staan ’n dag of drie gelede by Dis-Chem in die tou by die kasregister. Agter hom staan ’n groterige vrou van seker iets in die vyftig. Sy kruip al nader aan hom elke keer as hy verder weg van haar probeer staan. Haar masker is net oor haar mond en bedek nie haar neus nie.

Sy neem ’n redelik “uitdagende” houding aan en verkondig kliphard sodat almal om haar kan hoor: “Ek steur my nie aan hierdie virus nie. Niemand gaan my vertel wat ek nie mag doen nie. By die woonstel moet ek ’n masker dra as ek by die deur uitgaan, al is daar niemand op die trap nie. Ek doen dit nie.”

Dis toe dat my vriend hom vervies en rustig opmerk: “As dit almal se houding is, gaan ons almal siek raak.” Die tante wip haar vir hom en kap terug: “Nee, ons sal nie. Dis net verkoue.”

“Nee, dis nie. Ek het mense geken wat dood is van die siekte,” antwoord hy.

“Stront,” snork sy weerbarstig. Asof sy alwetend is.

’n Tipiese toneeltjie wat elke dag seker hoeveel kere in elke winkel of openbare plek afspeel. Sedert die afskaling tot vlak 1 kom dit net gereelder, vrymoediger en spontaner voor. 

Die generasiefaktor figureer natuurlik sterk. Jong, gesonde mense, maskermoeg en gefrustreerd weens die weke lange inhokkery, is bondels energie wat brand om die lewe onbelemmerd te pak. Dis te verstane, soos dit vir hulle ook te verstane behoort te wees dat bejaardes, dikwels onheilspellend oorgewig en met lywe propvol sogenaamde komorbiditeite in die algemeen huiweriger is.

Die sienswyse geniet, helaas, nie wyd simpatieke begrip nie.

Omgewingsfaktore speel natuurlik ’n rol. Nie almal het die voorreg om tuis ’n goeie, gesonde lewenswyse as tweede natuur aan te leer en om bedagsaamheid teenoor die kwesbaarder medemens as beskaafde gedrag aan te kweek nie.

Die kleurfaktor sal deur sommige ingesleep word, hoewel dit verstandig is om te waak teen stereotipes. ’n Vriend getuig: “Niemand word by ons huis toegelaat sonder ’n masker nie. Ek moet erken: Ons huishulp wat maar 50 is, gee die toon aan. Sy is absoluut gesteld daarop. Dit dwing die res van ons om ter wille van haar by die reëls te hou.”

Wat bejaardes dalk die meeste hoofbrekens gee, is die diverse hantering van die COVID-19-kwessie onder porture.

Groep A kruip steeds weg agter maskers; wanneer hulle die huis vir inkopies en dies meer moet verlaat, vermy hulle opeenhopings van mense sover moontlik, sonder hulle bra asosiaal by die huis af en is baie bewus van patrone in die buiteland waar nuwe aangetekende koronavirusinfeksies in hierdie week op die hoogste vlak ooit was, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie. Sterftes aan COVID-19 in Europa het op ’n weeklikse grondslag met 27% gestyg, is Dinsdag berig.

Sulke syfers wek vrese vir ’n “tweede vlaag” van infeksies waarteen so gereeld gewaarsku word, en die vooruitsig van tot 60, 70 swaarkrydae in ’n oorvol waakeenheid in ’n koma op ’n ventilator – aan die einde ’n waarskynlik eensame verhuising na beter oorde sonder ’n naaste van ’n dag oud in die nabyheid om in die laaste oomblikke jou hand ’n drukkie te gee.

Vir vriende in groep B is sulke somber gedagtes vreemd. Hulle voel ontslae van ’n sware juk en wil met alle geweld weer “normaal” lewe.

’n Goeie vriend in groep B brand om met sy vriend in groep A gesellig te verkeer. Hy wil vinnig inloer, hom/haar nooi vir ’n koffietjie of ’n glasie wyn of om, soos in die goeie ou dae, ’n broodjie saam te breek. Ou vriende van ver bel selfs om te kom oornag. Arme groep A-ers moet verleë walgooi. Hulle besef hul vriende uit groep B dink hulle is sommer verspot of hul varkies kwyt.

Deesdae het die groep A-mense ’n onvleiende etiket: Hulle “lewe in vrees”. Hulle kry gereeld SMS’e met die boodskap: “Laat jou geloof sterker wees as jou vrees.” Van besorgde leraars kom bemoediging en subtiele herinnerings aan versies soos 1 Johannes 4:18: “In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite, want vrees het te doen met straf …”

Dit laat jou intens skuldig voel; skuldig en radeloos. Want jy bly maar vrekbang vir daai ventilator. Jy weet as die virus jou beetkry, is dit nag. Die druk is enorm. Hoe hanteer ’n groep A-mens dit?

Die stuk verskyn ook op Litnet onder die titel Maskermoeg.

ORAL NEE VIR SWERWERS TER SEE

Maart 21, 2020 in Uncategorized

Die Prediker het, verstandiglik, al gewaarsku dat daar ‘n tyd is om te omhels en ‘n tyd om weg te bly van omhelsing af.  Die kneukelgroet en die elmboog-groet is waarskynlik die beste moontlike voorbeelde van wat hy bedoel het.  Natuurlik ook die een-meter-reël, hoewel ‘n mens wonder hoeveel jonges hulle aan hierdie dinge gaan steur. Dit daarby gelaat.

In aansluiting by die Prediker se motto dat elke ding sy vaste tyd het, wil ek graag ‘n eie straaltjie byvoeg. Dit is: daar is ‘n tyd om “na verre hawens” te vaar. Daar is ook ‘n tyd om ver van “verre hawens” weg bly. Nou is klaarblyklik so ‘n tyd.

Meen: In watter hawe waar kan ‘n mens met vrymoedigheid aankom met net jou paspoort en, indien nodig, visum in jou sak, dan’s alles piekfyn. Deesdae is op feitlik elke hawe ‘n kennisgewing opgesit: “Gesluit vir die Covid-19-seisoen”.

‘n Matriekmaat van Tokkie van Bultfontein se dae, Carien Weyers, bevind haar op die oomblik in so ‘n oral-onwelkom-penarie op die Middellandse see. Haar klasmaats word per whatsapp deel van die drama.  Carien en haar man, prof. Almero Weyers, afgetrede hoogleraar in sielkunde aan die Vrystaatse Universiteit,  bevind hulle ter see op die Costa Pacfica (meen ek) wat op 3 Maart uit Buenos Aires vertrek het na Barcelona in Spanje. Daar is 168 Suid-Afrikners op die skip.

Van toe af vaar hulle, vaar hulle, vaar hulle. Nêrens, by geen hawe,  is die skip welkom sodat hulle ’n bietjie kan rondkyk  en bene op vaste aarde rek nie.

Gister laat weet sy eers hulle mik nou maar Marseilles omdat Barcelona ontoeganklik is. Later hoor ons: net Duitsers, Amerikaners,  Kanadese en Franse is toegelaat om die skip te verlaat. Teen 13:00 is  ankers gelig en het die Costa weer begin begin vaar omdat hulle skynbaar “onwettig” in Marseilles was. Waarheen weet g’n mens. Die wat weet. wil nie sê nie.  Is dit  Savona in Italië . Is dit Genoa?

Die passasiers wat Engels kan praat of verstaan het blykbaar bande gesmee.  Hulle sou uit hul geledere ‘n komitee kies om vir die kaptein te gaan sê hulle gaan sowaar nie in Genoa afklim nie, kom wat wil. Daardie Italiaanse hawe lê omtrent in die episentrum van die huidige rooiste van rooi gebiede.   Hoop vir Almero en Carien en die ander se onthalwe hul pleidooi val nie op dowe ore nie, maar die wind waai frisserig wes.

Op die webblad Friends of the MSC was gister ‘n noodoproep van ene Tozelle Kohlmeyer dat iemand tog haar ouers te hulp moet snel. Hulle is onder die 168  Suid –Afrikaners wat weier om in Genoa af   te klim.  Volgens Tozelle word hulle met inhegtenisneming gedreig as hulle sou weier om te gehoorsaam.  Onder hulle heers blykbaar ontsteltenis, selfs paniek.

Op ‘n ander Costaskip,  die Costa Luminosa is die passasiers sedert Sondag in hul kajuite in kwarantyn nadat vier passasiers positief vir Covid- 19 getoets is. Op die skip is 36 Suid-Afrikaners.  Die vier koronalyers het intussen die skip verlaat. Die skip het op 24 Februarie Fort Lauderdale verlaat en is ook nou in Italianse waters, blykbaar op koers Savona of  … behoede dit .. Genoa toe.

(Die Costastories herinner ook aan ‘n ander Bybelse woord, nie waar nie, dat jy, as jy oud is, na plekke geneem sal word waar jy nie wil wees nie!)

NASKRIF: Skip het laat vanoggend (Saterdag) in Genoa vasgemeer. Wat nou? Niemand weet nie. Wag blykbaar op die ambassade in Rome. En dis naweek.