Jy blaai in die argief vir bure van nature.

DIE HART TINTEL

Mei 26, 2021 in Uncategorized

Boekresensie: Bure van nature

 Mei 24, 2021

Louise Viljoen

Louise Viljoen

Titel: Bure van nature

Outeur: Hennie van Deventer

ISBN: 978-1-4853-1217-8

Uitgewer: Protea Boekhuis

Skuif gerus nader indien jy hou van opwindende veldstories en naelbyt-ontmoetings tussen mens en dier, want Hennie van Deventer, die outeur van sowat twintig boeke, se geboekstaafde vertellings sal jou vir ure lank vermaak. Veral in hierdie dae waar reisigers steeds skrikkerig is om té veel rond te beweeg weens die risiko’s verbonde aan covid-19, is leesstof soos Bure van nature soos manna vir die natuur-entoesias se siel. En vir iemand soos ek wat nog nooit die voorreg gehad het om die Krugerwildtuin te besoek nie, is hierdie boek ’n openbaring én ’n onvergeetlike bederf. Van Deventer en sy vrou, Tokkie, besit ’n woning in Sabiepark – ’n private natuurreservaat aan die Sabierivier, naby aan die Paul Krugerhek.

Bure van nature beslaan 192 bladsye en word opgedra aan “almal wat al met rustigheid in die hart in ’n flikkerende kampvuurtjie sit en tuur het terwyl treffende naggeluide uit die donker bos op ’n briesie van Sabierivier se kant aangesweef kom.” Die boek is opgedeel in drie temas waaronder dosyne stories gegroepeer is. Die temas is: By my voorstoep verby (40 stories), Poste restante Skukuza (7 stories) en Bobaas-buurman (11 stories). Die uitgewersbrief beskryf dié stories as “inheems soos kremetartbome, onderhoudend soos ’n kuier om ’n hardekoolvuur”. Die bekoring van Bure van nature lê in die heerlike spitsvondige en lewendige wyse waarop Van Deventer sy liefde en respek vir dier en natuur deel. Hy skryf onderhoudend en met ’n aansteeklike passie oor hulle wedervaringe.

Dis baie jammer dat daar nie foto’s is waarin lesers kan deel nie, maar Van Deventer se woordvaardigheid en sy vermoë om ’n situasie lewensgetrou te skets maak daarvoor op. Vir my as leser het dit gevoel of ek elke ontmoeting en ontdekking in die veld meemaak. Feitelike inligting wat vaardig deur die stories verweef is, maak van Bure van nature nie nét ’n lekkerleesboek nie, maar ook ’n leersame ondervinding. Ek het heerlik daaraan gelees en was spyt toe ek die boek ná die laaste bladsy toemaak. Net voordat ek Bure van nature gelees het, het ek Sir David Attenborough se A Life on Our Planet: My Witness Statement and a Vision for the Future gelees en ook baie geniet. Die twee here se passie vir diere en die natuur en hulle nalatenskap waarin hulle hul kennis en ervaringe deel, is prysenswaardig en inspirerend.

Dis baie moeilik om van die stories uit te sonder, want ek het elkeen geniet. Ek wil tog die openingsparagraaf van “Sabiepark, geboortegrond” op bladsy 104 uitlig: “Die verskeidenheid fluite, koere, krasse, kwele, kwake, roepe, tjirpe en tjanke van allerlei bontrokke, bokmakieries, janfrederiks, katakoeroes, klopkloppies, lewerikke, lysters, sterretjies, valke, vinke en wielewale is eindeloos.” Dit is heerlikhede soos dié wat ’n leser soos ek se tone laat omkrul en my aanpor om aan te hou lees – Van Deventer is ’n meesterverteller.

Meer oor die outeur: Hennie van Deventer was met sy uittrede in 1998 uitvoerende hoof van koerante van Naspers. Hy was ook vir twaalf jaar lank redakteur van Volksblad in Bloemfontein. In 1997 het hy Naspers se hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, ontvang vir “die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het”. Hy het, in sy baie suksesvolle loopbaan, vele eerbewyse van verskillende instansies gekry. Hy geniet nou al reeds langer as twintig jaar sy aftrede.

Skaf gerus jou kopie van Bure van nature hier aan.

Besoek ook Van Deventer se Facebook-blad hier waar hy meer inligting oor Bure van nature en ook foto’s deel.

KUIER OM ‘N HARDEKOOLVUUR

Mei 6, 2021 in Uncategorized

Die boekeblad van die Afrikaanse dagblaaie kondig my nuwe bosboek, “Bure van nature” soos volg aan:  

“Hierdie stories is inheems soos kremetartbome, onderhoudend soos ‘n kuier om ‘n hardekoolvuur.

“Die skrywer en sy vrou het ‘n huis in Sabiepark, ‘n private natuurreservaat aan die Sabierivier, waar wilde diere name het, soos die luiperd Vin Diesel en die vlakvark Brood. Waar ‘n hiëna vir aandete by die stoeptafel opdaag. Hulle het met die jare boekgehou van buitengewone verskynings en gebeurtenisse. Sy stories oor Sabiepark en die Wildtuin blaai die veld oop en gee ons ‘n intieme kykie op wilde diere. Dit stem tot nadenke, soos die uitstekende “Skurwe slaapmaats” waar die leser leer hoe om ‘n olifant te benader: met groot nederigheid, neergeslane oë en geknakte nek. Daar is interessante inligting, soos dat baldadige jong olifantbulle uit die trop verban word totdat hulle geleer het om hulle te gedra. Dat olifantkalwe 100 tot 120 kg kan weeg.

“Die stories word gekenmerk deur fyn waarneming, ‘n droë humorsin en buitengewone woordvaardigheid.”

Die ou man is nogal in sy skik hiermee.

 “Bure” behoort beskikbaar te wees by elke boekwinkel van betekenis. Anders moet hulle hom bestel. ISBN is 978-1-4853-1217-8.  Kos R250. 

HIER’S HY: MY NUWE BOEK

Januarie 3, 2021 in Uncategorized

Loutere vreugde om vanoggend, 3 Januarie 2021, op my 80ste die omslag van “Bure van nature” te wys – my 21ste en seker laaste boek. “Bure” verskyn in Mei by Protea Boekhuis.

Die omslag – voorbladfoto deur die wakker Organ Ongeni van Sabiepark se piekniekplek  – en ‘n lusmakertjie van die  keurige  inhoudontwerp  laat my opgewonde hande vrywe. (Die foto op die agterblad is deur Tokkie van Deventer. Die vuurtjie flikker in ons lapa.)

.

“Bure” is in meer as een opsig ‘n “Buurman van die wildtuin (Tarlehoet, 2004) Merk II” – maar met hope splinternuwe Sabiepark- en wildtuinstories.  Sestien jaar het immers tussenin verloop.

Volgens  die agterblad is my pennevrug  “propvol veldstories  en naelbyt-ontmoetings tussen mens en dier”. Die subtitel is nie verniet nie: “Waar mens en natuur skouers skuur”.

Ek klink graag ‘n glasie “Wild Africa”-likeur op Deborah Steinmair, redakteur, en Hanli Deysel, ontwerper. Die twee kranige dames het uit hul pad gegaan om betyds vir my verjaardag die piekfyn omslag afgerond voor my neer te sit.

Die voorsmaak van hul arbeid laat my tintel van plesier. Watter groter geskenk kan ‘n mens vra – veral op my gryse jare?