Jy blaai in die argief vir borg ‘n woord.

FINALE SEëL

Februarie 14, 2015 in Uncategorized

benenrina

Iets waarvoor jy lief is; waarop jy trots is; wat jy koester; wat vir jou lekker is; wat vir jou belangrik is of besonderse herinneringe oproep; waarmee jy jouself assosieer of dis-assosieer.

Dit lê vir my aan die wortel van woorde wat mense en instansies in die Woordeboek van die Afrikaanse (WAT) borg ten einde ons wonderbaarlike taal aan die lewe te help hou. So ‘n belegging in ‘n woord kos R100 per woord vir ‘n algemene borgskap of R5 000 vir ‘n eksklusiewe borgskap. Dan “behoort” daardie woord net aan die borg. Niemand anders mag as’t ware by die WAT in jou slaai kom krap nie.

Maklik 200 woorde is al eksklusief geborg. Die lysie redes wat woorde vir mense soveel betekenis gee dat hulle dit wil borg, kan sekerlik uitgebrei word. Hier is enkele voorbeelde:

Iets waarvoor jy lief is – braai (Jan Braai);

Iets waarop jy trots is – Afrikaner (die Afrikanerbond);

Iets wat jy koester – familieliefde (Andries van Zyl);

Iets wat vir jou lekker is – appelkooskonfyt (Celia Uys);

Iets wat vir jou belangrik is – burgerregte (Afriforum);

Iets wat besonderse herinneringe oproep – gevleuelde woorde (7de Laan);

Iets waarmee jy jouself assosieer – filmbaas (Boet Troskie);

Iets waarmee jy jouself dis-assosieer – apartheid (Peter Schaillie) – ek raai maar so.

Op die lys kom ook vreemde woorde voor, soos koesnaatjie (M.M. Ferreira) en jamboes (Andreas van Wyk). Daar is selfs ‘n paar kragwoorde, wat al geborg is – befok (Riël Gresse) en bliksem (Kobus Terblanche) is twee.

Ekself borg die woord koerant eksklusief. Ek is lief vir die koerant en trots op die koerant. Aan die koerant het ek my loopbaan van 35 jaar gewy; dit roep lekker herinneringe op. Ek assosieer my daarmee. Ek is, in die laaste instansie, geweldig dankbaar dat die eer my te beurt geval het om “koerant” weg te raap voor die een of ander persmaatskappy, dagblad of Sondagblad.

Natuurlik is ‘n woord allemansbesit. Jy kan nie een koop en in ‘n kluis gaan toesluit soos ‘n trustakte of ‘n aandelesertifikaat nie. Maar die borgskap laat my tog goed voel. Laat my voel ek is op ‘n manier “baas” van die woord. ‘n “Koerantbaas” in ‘n ander sin.

Ek gooi ‘n wye draai om by my eintlike storie te kom. Dit is een van die heel jongste borgskappe. Die borg is vriendin Rina van Rensburg van Stellenbosch. Sy en haar man Ben het al meermale ‘n klompie woorde geborg (in die laer prysklas) en was nog van plan om dit weer vanjaar te doen. In Desember is hy egter op 83 oorlede.

Vandeesweek het Rina ter herinnering aan Ben een van hul gunstelingwoorde eksklusief geborg. Die woord is …. liefsteliefie. Vir die twee wat twee jaar gelede getroud is, was dit ‘n baie spesiale en intieme aanspreekvorm – hul eie, unieke woord wat openbaar hoe innig hul verhouding was en hoe albei mekaar in hul senior jare op prys gestel het.

Liefsteliefie was vir my ‘n onbekende woord. Trouens, ek dink die eerste keer toe ek dit op skrif gesien het, was op Saterdag 20 Desember toe ek Rina se hartseer-SMS ontvang: “My liefsteliefie is weg.”

Van Ben, motorredakteur van faam, het ek vele herinneringe. Hy was ‘n woonstelmaat, kollega van baie jare, hegte vriend en vertroueling met baie geheimpies. Sal voortaan ook aan hom dink as die man wat die kreatiewe Rina op so ‘n treffende wyse gedenk, met die sertifikaat van die borgskap (hierby afgedruk) as die finale seël van hul te kort, immergoen liefde