Jy blaai in die argief vir bloemfontein.

SPROKIESLEWE VAN BOET TROSKIE

Maart 21, 2022 in Uncategorized

By ‘n formele ete in Eden: Die uwe, Pik Botha en Boet.

Flambojanter het ek nie geken nie: Boet Troskie, rolprentbaas met ‘n string internasionale trefferflieks agter sy naam, skatryk sakeman, bevriend met staatsmanne en glansmense, eienaar van ‘n Lear Jet waarmee hy eiehandig kruis en dwars oor Amerika gevlieg het, rugbybaas, kanselier van ‘n universiteit, erekolonel – ook iemand wat lief is vir mooi vroue, vinnige motors, praghuise, modieuse klere en elegante skoene (glo honderde pare).

Maar dan ook verrassend plat op die aarde, ‘n nederige, dankbare en toeganklike mens, weergaloos gasvry, toonbeeld van lewensblyheid, ruimhartige filantroop, ‘n ware en lojale vriend, gesinsman, versot op sy spogduiwe waarmee hy hope internasionale pryse ingepalm het, ‘n kranige trekklavierspeler en lief vir mieliepap (darem met garnale); ‘n man wie se opdrag aan almal is: “Noem my Boet”.

Oor hom het sy wyle broer Bill geskerts dat hulle ‘n goeie verstandhouding het: Boet het die verstand en hy het die houding. ‘n Vlymskerpe verstand het Boet wel, ongetwyfeld; ook persoonlikheid, styl, ‘n fyn aanvoeling vir wat sal werk en wat nie, gesonde oordeel, selfvertroue, geesdrif, durf, waagmoed, diplomasie, vernuf, charisma en nog ‘n hele paar ander eienskappe wat van hom so  ‘n uitskieter gemaak het.

Met rolprente soos The gods must be crazyBeautiful people en Dirkie het hy in hegte vennootskap met die fliekgenie Jamie Uys die internasionale fliekmark bestorm … en (aanvanklik tot sy eie en Jamie se verbasing!) verower.  Die suksesvolste, Gods, het iets soos 11 internasionale toekennings gekry. Altesaam was daar iets soos 40 rolprente uit Boet se Mimosastal.  Hy was ‘n bekende by die filmfees in Cannes, waar hy  – gesond, fiks, energiek, ‘n afskaffer, nie-roker en gereelde drawwer – ‘n keer ‘n marathon vir rolprentmense gewen het. Net nog ‘n faset van die veelvlakkige man.

Met die miljoene wat ingerol het – seker miljarde? – het Boet ‘n sakeryk opgebou wat Bloemfontein se grootste en bekendste winkelsentrum, die weelderige Mimosa Mall, insluit. Maar as filantroop het hy ook ruim uitgedeel. By die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Bloemfontein is die Boet Troskiesentrum ‘n monument. Hy het kanselier van die SUT geword en het ‘n eredoktorsgraad daar verwerf.  Die Bloemfonteinse Kinderkoor dra eweneens ‘n Boet Troskie-etiket. Vir sy skool, De Aar, is hy ‘n weldoener soos min.

Saam met Die Volksblad het hy verskeie promosies help aanbied.  In een – na aan ons albei se harte –  is kinders se drome verwesenlik. Een kon tussen dolfyne gaan swem in die Baai. ‘n Weeskind in ‘n rolstoel het gestraal oor sy eie-eie draradio. Ons Bloemfonteinse tuiskoerant, Ons Stad,   het hom Bloemfonteiner van die Jaar gemaak – ‘n beskeie eer teenoor soveel ander hoë bekronings.  Boet het ons laat voel dis iets geweldigs.

s .

By ‘n prysoorhandiging in ons Reik na ‘n droom-promosie: Veel jonger Boet en ek.

Die gasvrye Boet se glansonthale in sy paleisagtige herewoning Eden in Millie Krauselaan, Bloemfontein, is legendaries. Presidente en amper-presidente is daar onthaal, soos PW Botha, sy hegte vriend aan wie se sy hy in elke krisis lojaal gestaan het, en Barend du Plessis; Mej. Wêrelde soos Anneline Kriel en Gina-Marie Tolleson; kunstenaars soos Dana Winner en Helmut Lotti; ministers, Springbokke, regters, rektore, joernaliste, doodgewone vriende. Net die allerbeste is altyd keurig voorgesit.  Dan het Boet sy trekklavier uitgehaal. Saam met Nico Carstens  (soms ook Ollie Viljoen) is vrolik musiek gemaak.

Pres.Nelson Mandela het Mimosa-films se 30ste verjaardagparty in die Boet Troskiesaal by die SUT bygewoon. By sy gesogte jagtogte in die Suid-Vrystaat was die gastelys ook altyd ‘n mini-Who’s Who met veral talle kabinetslede in die geledere van die jagters.  Daarheen het hy ook vir PW Botha teruggevat ná sy beroerte om geweer teen die skouer sy selfvertroue te herwin.

Hoe oud is Boet? Min mense weet dit. Wat ek wel weet, is dat hy in November verjaar en dat hy ‘n raps ouer is as ek.  Ná ’n glanslewe wat hom gevoer het van Bloemfontein na Beverly Hills in Los Angeles, St. Francisbaai, Constantia en Fancourt op George is hy terug in die stad waar alles begin het; in sy geliefde Cheetahland waar hy ‘n rugbybaas was. Ongelukkig eis die jare by almal ‘n tol. Ook op ander terreine is terugslae ervaar. Selfs die onstuitbare Boet moet nou maar hanou.

Waarop Cornelis Abraham Troskie egter kan terugkyk, is ‘n sprokieslewe.  Hy wat arm grootgeword het as een van ses kinders van ‘n sweiser-pa, het in sy 80 plus jare soveel drome uitgeleef en soveel glinsterende kruine bereik dat die towerglans ‘n mens laat duisel.  Bowenal het hy ‘n mens-mens gebly; ‘n man wie se wellewendheid, grasie en algemene voorbeeld vir sy skare waarderende vriende steeds ‘n rigsnoer is.

Ek wou lankal oor Boet skryf – is dit inderdaad aan hom verskuldig – en is bly ek het nou so ver gekom, al is 800 woorde te min om aan so ‘n unieke mens reg te laat geskied. Uniek, sê ek. Ja, met vrymoedigheid. Elke generasie kan net een Boet Troskie lewer.

‘N MAN MET SY HAND AAN DIE PLOEG

November 28, 2021 in Uncategorized

Vreemde assosiasies wat soms spontaan by ‘n mens opkom.  Met die 80ste verjaardag van my Bloemfonteine buurman Chris van Rensburg dink ek skieik aan Volkskas, die bank wat nie meer is nie.

Waaraan ek eintlik dink, is die ou Volkskas-logo: twee hande aan ‘n ploeg wat die aarde omdolwe.  Een aan die leuse: Arbeidsaamheid.

As ek Chris met een woord moet beskryf, is dit  arbeidsaamheid. Hierdie gewse vise-rektor van die Sentrale Universiteit van Tegnologie  is ‘n man wat hand aan die ploeg slaan.. Wat nie skaam is om hand uit die mou te steek nie. Wat nie met sy hande gevou sit, met sy hande in sy skoot sit, met sy hande   in sy broeksak staan of bang is om sy hande in koue water te verbrand nie . Daarby is hy ‘n handige man. Sy hande staan vir niks verkeerd nie.

As hy nie die akademnie gekies het nie – dierkunde is sy vak – sou hy ‘n loopbaan kon volg as “handyman”. Nutsman, om nou mooi Afrikaans te praat.  Cris is ‘n kombinasie van timmerman, loodgieter, werktuigkundige, elektrisiën …. Noem maar op.

Ons paaie het in in1981 gekruis in Bloemfontein. Amper tien jaar lank het ons skuins oorkant mekaar gewoon in Dan Pienaar, hy en en die borrelende wyle Annette in Kmdt. Senekalstraat, ek en Tokkie in Genl. Van Schoor. Ons het dadelik gekliek en het graag saam gekuier, in Bloemfontein, die Krugerwildtuin en  Namibie. Later ook in die Oos-Kaap. (Addo) en in Sabiepark. .

As buurman  het ek hom hom leer ken as iemand wat nie vir sy hande die saligheid belowe nie.  Dit was uitputtend  om te aanskou hoe hy sy hand aan die ploeg slaan.  Waar ‘n ander ou die geelbladsye sou nader pluk en “let their fingers do the walking through the yellow pages”, sou hy self die saag, die hamer, die snoeiskệr of watter ander gereedskap ookal opneem.  Met ‘n tang is hy so knap soos agter ‘n rekenaar of op ‘n podium.

‘n Helder herinnering van Chris as tuinier en van ‘n Sondagoggend.  Inmontlik vroeg het sy grrassnyer begin dreun. .Die buurt was gewek.  Toe hy klaar is, gaan stort hy en  klim terug in die kooi. Min gepla.

Sy algemene handigheid het hy by ook by die braairooster gedemonstreer.  Op Luderitz het hy in slegte weer vir ons krewe in die rondawelhuisie se stort gebraait.  Een aand in Bloem was dit  frikkadelle as ‘n “hodurfie”. Toek kantel die braaier.  Ons twee moes met flitsies handeviervoet agter die gevalle soldate tussen die blomme aankruip .  Annette was nie geamuseer nie.

Van “hande” gepraat: Chris is ook ‘n handhawer.  Handhaaf gesonde waardes en hoë peil van ingeligtheid.  Hy weet wat in die wệreld aangaan en hy het oor alles sterk opinies.  Hy vang my dikwels uit dat ek nie so op die hoogte is as wat ‘n mens van ‘n oud-koerantman sou verwag nie. !

Die word “handhaaf” is ‘n eie neef van die Franse “maintenir” waar Engelse “maintain” geleen is. Chris het hom nie net betoon as instandhouer van bates, vas of roerend, nie,  maar ook vriendskappe. Hy het ‘n oop hand vir sy vriende. As jy sommer net wil korswel, diep gesels, verstandige raad wil vra of prikkelende menings soek … Chris is jou man. Ek het twee glasies vonkelwyn (een van sy gunstelingdrankies) geklink. op my groot vriend, nou van Kleinmond. Een Vrydag toe hy verjaar het en ‘n tweede Saterdag toe dit by Stellenbosch gevier is saam met die huwelik van sy dogter Elindi met Fernando van  Meksiko. Die huwelik is voorheen in Meksiko voltrek.

Op die foto’s is Chris, wyle Annette en Tokkie op Melkbos, ek en Chris in Sabiepark en Chris met sy kleindogter klein Annette .Deel dit:

RAAISEL VAN ‘N ‘RAMP’

Julie 28, 2020 in Uncategorized

Op Dinsdag 23 Februarie 1988 het ‘n gerug deur Bloemfontein geswiep.  Stortreën van tot 100 mm per uur kan uitsak. Kantore, banke en skole het vroeg gesluit. Angsbevange mense het op vlug geslaan om skuiling te soek.

‘n Yslike  “vals  alarm” was dit toe.  Geen swaar reën het daardie middag geval nie.  Sondebokke is gesoek – en Volksblad (toe nog Die Volksblad en ‘n middagkoerant)  moes self ook onverdiende slae verduur.  Dit was nie die eerste en enigste  keer in sy bestaan van 116 jaar nie.

Tot vandag spook die raaisel steeds by my wie vir daardie paniek moet pa staan.

Dat die publiek met ‘n “vals alarm” so op loop gejaag kon word, klink by nabaat dalk dik vir ‘n daalder. Maar ná die Saterdag, en veral die Sondag se stortreën en vloede in die Midde- en Suid-Vrystaat, asook die Noord-Kaapland, kon ‘n mens se senuwees maklik op hol raak.

Die Saterdag het dit begin sous. In Bloemfontein is 88 mm gemeet – elders waarskynlik meer.  Die Sondag het grou aangebreek.  Terwyl die uwe in die NG kerk Berg-en-Dal die nagmaalsdiens bywoon, het die water in ‘n digte gordyn bly neerstort. “Ek moet by die kantoor kom, “ het ek vir my vrou, Tokkie, gefluister. Ons het by ‘n sydeur uitgeglip en het sopnat gereën die entjie na die motor toe. By die huis het die reënmeter al oorgeloop. Dit was ernstige sake.

By die kantoor was enkele kollegas reeds kliphard aan die bel en organiseer hoe om met verslaggewers en fotograwe by sekere brandpunte te kom waar riviere in vloed besig was om als wat voorkom uit hul pad te vee. Hoofredaksielid Jan Scholtz (reeds oorlede) en nuusredakteur Philip van Rensburg was die eerste gesigte wat ek gesien het.  Philip is kort daarna in gietende reën vort om self verslag te gaan doen, en het vir skouspelagtige foto’ en aangrypende berigte gesorg.

Daardie Sondag is in Bloemfontein 142,2 mm aangeteken – ‘n goeie maand se reën in een dag!

“Ramp der rampe” het die banier op Maandag 22 Januarie  gelui. Onder die opskrif  “Die ‘see’ se naam is Vrystaat  –  vlaktes word mere” is twee fotoblaaie van die rampgebied gepubliseer. Dit was ‘n koerant wat ek met voldoening  onthou. Ons het behoorlik “skouers oopgemaak”, soos ‘n goeie koerant met ‘n groot storie behoort te doen.  Hoofsubredakteur Nols Nieman (ook al oorlede)  kón soos min ander met tipografiese aanbieding “skouers oopmaak”.

Die volgende dag was die koerant se hoofberig oor honderde mense wat op die platteland ylings uit hul huise gevlug het en magteloos op die verwoestende vloedwater wag. Die opskrif was “Paniekvlug”. By die hoofstorie was die berig wat agterna heelwat reperkussies gehad het. Dit het verskyn onder die opskrif: “Dringende waarskuwing: tot 100 mm per uur verwag”.

Daarvolgens het ‘n Gesamentlike Beplanningsentrum aan mense in die Midde- en Suid-Vrystaat ’n dringende boodskap uitgereik dat ‘n voggordel oor die gebied begin vorm en dat geweldige swaar neerslae verwag word.

Toe die koerant op straat kom, was ‘n ongekende uittog uit die middestad reeds in volle gang.  In sommige kringe is die skuld vir die paniek toe op Volksblad gepak.  Die hoofopskrif ,“Paniekvlug”, was in daardie sondeboksoekers se oë die bron van die kwaad – hoewel die plattelandse “vlug” in die hoofberig en die Bloemfonteinse “vlug” natuurlik ten enemale nie een en dieselfde ding was nie.

Mnr. Brian Long, hoof van die Bloemfonteinse Weerkantoor, was een wat sy mes vir Volksblad  ingehad het.  Hy het oor radio Oranje ‘n skerp aanval op die koerant gedoen en gese dat “snert” gepubliseer is wat nie van die Weerburo afkomstig was nie.(Ironies genoeg, het Radio Oranje egter self in ‘n vroeër nuusuitsending die spesiale waarskuwing uitgesaai.)

Volksblad was verontwaardig en het het sterk beswaar by die betrokke minister aangeteken oor die hoë amptenaar se aanval. In ‘n hoofartikel het die koerant geskryf dat die aanval op hom “venynig en ongegrond” was .

Ons kon daarop wys dat Volksblad eers op straat verskyn het nadat noodmaatreëls al op plekke getref is en honderde mense reeds huis toe was. Hoe verklaar jy dit? Dit was ook onduidelik wie die provinsiale administrasie, universiteit, banke, skole en kleuterskole reeds van 13:00 af geskakel en gewaarsku het – lank voordat die rolpers nog begin draai het.  Die polisie kon nie lig werp nie. Honderde mense het Parkweg ook gebel met die nuus dat die Weerburo sou gewaarsku dat ‘n groot storm op pad is .

Die oorstromings het uiteindelik sowat R554 miljoen skade in die Vrystaat en Noord-Kaapland aangerig.  Reeds voordat die groot waters afgeloop was, het Die Volksblad  op 24 Februarie saam met M-Net ‘n spesiale vloedrampfonds begin wat die koerant met ‘n bydrae van R10 000 geopen het.

Die geld het ingestroom in ‘n tempo wat Volksblad “indrukwekkend en ongeëwenaard” genoem het. Geld is uit elke ondenkbare oord ontvang:  kinders, wit en swart, het van hul sakgeld gegee of  sentleggings gehou; bejaardes het van hul pensioengeldjies afgeknyp. Veral die onderwysdepartement met ‘n tamaaie R170 000 van leerlinge, onderwysers en amptenare, en die Vrystaatse NG kerk met R300 000 het spiere gebult. Die Afrikaner-Broederbond  het R75 000 geskenk. Altesaam R1,3 miljoen (baie geld in  1988) is ingesamel – die grootste bydrae deur ‘n koerant tot die Sentrale Rampfonds.

Nadat R1 miljoen ingesamel is, het Volksblad  geskryf dat met die stroom bydraes die “pragtige en intieme band tussen die koerant en die gemeenskap ” opnuut bevstig is.

Naskrif:  Volksblad se dekking van daardie ramp, en die omvang van die rampfonds, is ná amper 30 jaar vir die outeur hiervan steeds stof tot dankbaarheid.  Die vals verwyte oor Bloemfontein se onnodige groot skrik laat egter ‘n suur smaak.  Die enigste slotsom is seker dat dit, in die moderne idioom,  sogenaamde “fopnuus” was.  Maar wie het gelieg en hoekom?  Die antwoord op die geheim sal ons seker nooit weet nie, tensy  die skuldige nou na vore wil kom.)

WAAR DIE KOPER BLINK

November 20, 2017 in Uncategorized

Juweel van die Groot Karoo.

Die plek waar die koper altyd blink. So het ek die Krugerwildtuin leer ken. Vandag is dit – na my kennis – eintlik net die Nasionale Karoopark, 12 kilometer van Beaufort-Wes in die hartjie van die Groot Karoo, wat die tradisie voortsit.

Die Karoopark is ‘n juweel in vele opsigte; die harde, ruwe landskap wat prentjiemooi in sagte pastelkleure oorgaan in die laat namiddag; die karaktervolle gewelhuisies; die fassinerende diversiteit van wildlewe, vriendelike personeel wat so mooi Afrikaans praat, die heerlike ontbyte in ‘n deftige eetkamer wat by die tarief ingsluit is. Noem maar op.

Wat waarlik tref, is hoe die krane, ook die brandkrane, in die sonlig skitter. Ook nêrens anders het ek al ‘n gedenkplaat gesien wat so van gereelde versorging getuig nie. Die oomblik as jy by die hoofgebou stilhou, sien jy die glinsterende koperplaat wat op 12 September 1979 deur pres. P.W. Botha onthul is, en ‘n ewe eksieperfeksie brandkraan met een oogoplag.

Aan die feit dat die enorme park die romantiese wegloperleeu Sylvester se tuiste was, word die besoeker op vele maniere herinner. Maar Sylvester behoort tot die verlede tyd; die blink koper – ook die ornamente in die sitkamer – is nog altyd deel van die park se allure. Mag dit altyd ‘n kenmerk bly.

Op ‘n reis na Bloemfontein het ons in die Karoopark oornag; ‘n bietjie te naby aan Kaapstad, ongelukkig, en nog ‘n bietjie te ver van Bloemfontein. Daardie ekstra uurtjie of twee wat jy aan die einde van jou eerste dag op die pad oor het, is egter oor en oor die moeite werd; veral die genotvolle ritte deur die wildryke Lammertjiesleegte (gemsbokke gesien!) en die indrukwekkende Klipspringerspas. Ook die rondkyk in die fossielpark.

Buitendien: hier in die Karoopark wil ‘n mens vroeg jou vuurtjie aansteek. Salig om op jou stoep met ‘n glasie koue wit die sonnetjie op sy geleidelike afwaartse koers te volg en die donker die Nuweveldberge te sien bekruip. Die verskuiwing va die buite-braairoosters stoep toe was ‘n blink ingewing, mense!

Jong groen wingerde.

Vroeër die dag was die Hexriviervallei ‘n fees vir die oog. Ry hom in die herfstyd, hoor jy dikwels. Kan my die kleureskouspel indink. Maar ry hom ook in die helder sonskyn op ‘n Novemberdag as die skilderagtige lappe, lappe wingerd tot doer teen die berge in hul malse jong groen skitter. Jammer oor die informele nedersettings wat weliswaar die prentjie iets bederf, maar daaraan moet ‘n mens maar gewoond raak. Ook jammer dat aftrekplekkies so skaars is. Om elke draai wag ‘n nuwe stukkie skoonheid wat jou na jou kamera wil laat gryp.

Op dag twee van die reis is dit die geel grasvlaktes tussen die donker koppies oral langs die pad tussen Richmond en Colesberg wat die reisiger bekoor. Dan steek jy Colesberg verby. Die laaste skof van 235 kilometer na Bloemfontein breek aan: jou heimat vir twee skofte van 12 jaar elk. Aan die een kant raak jy al hoe haastiger om by jou bestemming te kom; aan die ander wil jy stadig ry en die eiesoortige, oop Suid-Vrystaatse landskap indrink.

Naby Bethulie (Foto: Francois Lotter).

Die padbordjies kom en gaan: Springfontein, die Gariepdam, Philippolis, Trompsburg, Edenburg, Tierpoort (die nuwe politiek korrekte naam) vir kollega Johan van Wyk se ou “Republiek”… elkeen ken ek op ‘n manier, elkeen dra ‘n herinnering, kleiner of groter.

Toe die tuiskoms! Oor die verrukliklike naweek in Bloemfontein het ek voorheen verslag gedoen.

Al wat van die nostalgiese besoek oorgebly het, was die 1 010 kilometer teerpad terug Melkbos toe. Dit ek en ek en Tokkie Maandagoggend om 04:10 aangedurf. Ons het min gestop en ook net vir kort rukkies. Ons het ‘n konstante snelheid gehandhaaf, een oog altyd op die snelheidsmeter. Om 14:20 het ons voor Penguin Place 11 se motohuis stilgehou. Goed gery, het ons vir mekaar gesê.

Hoe bly is ek nie ons het nie die onpersoonlike vliegtuig-opsie gekies nie.

LIEWE GEMEENTE

November 16, 2017 in Uncategorized

Wandeling op die strand. Tienie Zeeman en HvD .

Vreemd om ná 25 jaar jou ou gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein te besoek en, ná ‘n gesukkel om tussen al die motors ‘n parkeerplekkie te kry, sommer by die deur in die glimlaggende gesigte van vriende vas te loop: Morné Pretorius van die SAUK en sy mooi vrou, Nicolene.

Dalk ook nie so vreemd nie – van daardie gemeente het ek in die gedenkblad by sy halfeeufees in 2006 geskryf: “Eredienste was soos ‘n byeenkoms van vriende. Jy kon toe oë beduie wie sit waar.” Die formidabele gedenkboek van 300 groot bladsye plus staan op ‘n ereplek in my boekrak. Eer aan die redakteur, ds. Jan Lubbe, vir ‘n magnum opus soos min.

Waaragtig, daar sit ‘n ouer prof. Johan Celliers toe ewe breed in die ouderlingsbank, en buurman Louis Lategan in die diakensbank. Albei banke steeds in die dwarste, soos ons dit leer ken het. Elders in die vol kerk herken ons ook bekendes, soos mev. Kleintjie Richards, weduwee van die gedugte prof. Willem Richards.

In die kerk se nuusblad “Fokus” pryk bekende name uit ons era in die kolom “Siekes tuis of in die hospitaal”: “Oom” Josias Swanepoel (oud-skriba), “oom” Dries van Coller, “oom” Victor Reitz en “oom” Krynauw Cilliers. Geeneen was nog ‘n “oom” in ons tyd nie!

Later lig ds. Johan Marais – deftig getoga soos vanouds – die gemeente van die kansel af in: “Oom” Dries van Coller is oorlede. Hy betuig meegevoel met “tannie” Hedwig. Dries van Coller was ‘n regter. Hedwig (Roets) was ‘n tydgenoot op Tukkies.

Berg-en-dal se kerk.

‘n Vreugde vir Tokkie is Johan Cromhout agter die orrel. Hy is al sedert 2005 orrelis en “laat hom praat”, verklaar sy ingenome. Voor hom het manne soos Chris Heyns en Izak Grové ook murg in die pype van daardie orrel gesit. Selfs die uwe, vals soos ‘n stuk geroeste blik, het hartlik saamgesing (of ten minste probeer).

Van die gemeente se leraars het die Van Deventers hope heerlike herinneringe:

Van ds. Tienie Zeeman, wat, volgens statistieke in die gedenkboek, een jaar amper sy honderdtal met preke behaal het – 98 of so iets. Hy was ‘n ware steunpilaar toe ons seun, Johan, op ses maande in die hospitaal beland het met diabetes mellitus; later ‘n vriend wat in 2000 saam met sy sagte vrou, Marie, op Melkbos kom kuier het, en by wie ons altyd op Witbank aangery het op pad wildtuin toe. In ons gasteboek het hy geskryf: ” ‘n Dag om vir altyd te onthou.”

Van die onpretensieuse ds. Gert Terblanche wat altyd met sy fiets by Ouma Marietjie kom inloer en sommer om die kombuistafel ‘n koppie tee saam geniet het. Lekker gewees om hom, nou afgetree, en sy vrou, Retha, Vrydagmiddag oor ‘n koppie koffie te sien – darem nie om ‘n kombuistafel nie!

Ook van die besadigde ds. Jan Slabbert, verstrooid se moses, maar ‘n man sonder fieterjasies en eweneens ‘n soliede skouer in uitdagende tye. Soos ds. Tienie en mev. Marie is ook ds. Jan al heen. Sy weduwee, Ciela, woon op- Stellenbosch.

Van Berg-en-Dal het ek in die gedenkboek ook geskryf: “Ons verknogtheid aan hierdie gemeente skryf ek toe aan die volgehoue vreugde om te behoort en om tuis te wees in ‘n kerk waarin daar lig en warmte is, ‘n gemeente waarin Sy Lig helder skyn.”

Die waarheid van daardie woorde tref my opnuut terwyl ons die erediens beleef: van die gelukwensing en blomme vir mev. Helena Samuel (vrou van Dave wat ‘n gereelde briefskrywer in Die Volksblad was) op haar verjaardag, deur die preek uit Ester 2 (om met moed te leef in uitdagende tye) en die voorstelling van ‘n formidabele ry nuwe kerkraadslede.

Mev. Samuel en die nuwe kerkraad is apart toegesing: “Laat Heer u seën op haar/hul daal.” Verskeie ander geliefde liedere (almal uit die Liedboek!) is aangehef. Dit alles in 70 minute!

Terloops, hier sing elkeen nog uit sy eie Liedboek, die kosbare kultuurskat van die kerk waarin T.T. Cloete soveel liefde gestort het. Gewese buurvrou Elsie Strauss (ouma van Rolene) het vir ons met ‘n breë glimlag een kom aanbied wat sy op ‘n tafel in die voorportaal gaan haal het. Die gemeente opereer sonder liedbord. Sien ook geen teken van enige ander instrument as die orrel nie.

Ná die diens dink ek aan my tye, eers in die diakenbank, later in die ouderlingebank. Onthou met ‘n glimlag: In Randburg (gemeente Fontainebleau) was ek in 1975 dadelik ouderling. Maar in Berg-en-Dal is ek in 1980 eers weer diaken. Moes eers “harde baard” kry; my “vakleerlingskap” deurgaan as redakteur van die gemeenteblad “Die Fontein”. Tokkie was al wyksleidster, toe gaan ek nog op my rondes met die kollekteboekie, o.a. na Monis Flemming, latere regter-president, en na Dawfré Roode, latere adjunk-rektor.

Sou darem graag gister (15 November) in Bloemfontein wou wees vir die seniors se “braaivleis-ete met slaai en al wat lekker is … ook musiek.”

‘N NAWEEK IN BLOEMFONTEIN

November 15, 2017 in Uncategorized


Tokkie en Oom Gert (Herman le Roux se foto).

Toe ons ons geliefde ou stad Bloemfontein op die N1 nader, sak my moed in my skoene. Die vullishoop langs die pad stort soos ‘n klein Vesuvius oor sy rande en die rommel-lawa stoot tot diep in die begraafplaas langsaan. Plastieksakke kleef aan grafstene. Lyk bra troosteloos.

Later sien ek heelwat wat opbeurend is, al is Bloemfonteiners in die algemeen taamlik bedruk oor agteruitgang in hul stad. Ons sien o.m. steeds netjiese, boomryke woonbuurte, ‘n “nuwe”, uitgestrekte Langenhovenpark, deftige nuwe geboue (veral motorhandelaars, kantore en restaurante) en ‘n eersteklas opset op Naval Hill met die reuse-Mandelabeeld en die uitsig-restaurant wat teen die noordelike hang gebou is.

Ja maar, sê die gasvrye Volksblad-vriende by wie ons tuisgaan, Sarel en Liesbeth Venter, praat van ‘n wit olifant! Oor wie die restaurant moet bedryf, is ‘n hele toutrekkery aan die gang. Geen lig in daardie tonnel nie. Intussen staan die plek maar maar leeg – ‘n monument vir lompe wanbestuur.

By Volksblad, die koerant waar ek oor drie dekades twee vervullende skofte van 12 jaar elk agter die rug het, word die veterane wat kom reünie hou, gul ontvang. Teen die mure hang foto’s uit ons almal se eras. Ons klink ‘n glasie vonkelwyn onder o.m. ‘n foto van die voorblad op 6 September 1966, die dag toe dr. HF Verwoerd in die Volksraad vermoor is. Ek was toe die (jong) hoofsubredakteur. Die voorblad was my werk. Die opwinding van koerant-maak bruis sommer weer in die verkalkte are.


Ek en Marlene by “Jan se boom”.

‘n Mens voel jy het tuisgekom in die koerantgebou met al sy herinneringe, al het die tegnologie ook hoe vernuwe en die kantooropset daarmee saam redelik ingrypend verander. Die statige redakteurskantoor met sy donker houtpanele en duursame meubels is ‘n gelukkige uitsondering. Lyk of ek gister daar uitgestap het, al was daar al ses opvolgers sedert ek in 1992 die deur agter my toegetrek het.

Die huidige generasie beur swaar teen die winde van ‘n digitale uitdaging wat in my tyd nie bestaan het nie. Maar die huidige redakteur, Gert Coetzee, en sy span is vol moed en dryfkrag. Jou eie vrese lyk sommer ietwat oordrewe in die lig van soveel positiewe energie.

Die Saterdag hou ons reünie-ete in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum. Die oudste onder die oudstes is die 95-jarige Gert Terblanche. Hy was nuusredakteur toe ek as student in 1958 by die koerant instap. Toe ek en Tokkie in 1966 verloof raak, skryf hy op haar verlowingsfoto in die koerant: “Geluk! Goeie smaak!” Hy stuur die skeurblad met ‘n bode na my in die hoofsubstoel. Kollega Herman le Roux neem Saterdag ‘n pragtige foto van hom en Tokkie (selwers al 71). Pleks dat ek hom gaan vra het of hy nog dink my keuse was in die kol!

Ai, was dit heerlik om soveel ou kollegas weer van aangesig tot aangesig gesien – die meeste spierwit grys, party met kieries maar almal stralend van vreugde oor die weersiens van tydgenote wat saam in die juk getrek het.
Op ‘n strategiese kolletjie naby die museum staan ‘n fiere jong vaderlandswilg. Dit is “Jan se boom” – daar geplant ter ere van Jan Scholtz, kleurryke Boesmanlander, wat twee jaar gelede oorlede is. Die naald van die Vrouemonument toring ‘n entjie agter toe die blou lug in. Vir my ‘n aandoenlike oomblik toe ek by “Jan se boom” ‘n arm om Marlene kan slaan.

Darem nie net Volksblad-mense gesien in die Volksblad-naweek nie. Die Vrydagmiddag het so twee dosyn ander ou vriende saam met my en Tokkie ‘n koppie koffie geniet: bure, politici, regslui, weduwees, ‘n oud-leraar, die stigter van verskeie goeie Bloemfontein-goeters soos die Friday Club … Party van hulle sien mekaar net as ons kom kuier, hoor ek tot my verbasing. Maar, natuurlik, ons raak almal ouer.


Tokkie en Meshack.

Ons gaan groet ook tuinman Meshack by die Universiteit vir Tegnologie waar hy nou werksaam is: ‘n vreugdevolle herontmoeting. Die dekade van 80 was onder meer vir die Van Deventers die dekade van Meshack. Hy was ‘n ware karakter wat nie net in ons lewe kleur gebring het met sy arbeid in onse blombeddings in Van Schoorstraat, Bloemfontein, nie, maar ook as mens vol lewenvreugde en vrolike humor.

Hy en Tokkie (wat mekaar altyd met ‘n kenmerkende “joe-hoe” geroep het) wil die een breër glimlag as die ander glimlag toe ek hulle laat regstaan vir ‘n foto.

“Ons tuin”, lyk nie goed, waarsku Meshack kopskuddend. En waarlik, die verwaarlosing is nogal ‘n skok – soos daardie “klein Vesuvius” langs die N1, die hartverskeurende swart verbrande historiese stadsaal, en die gemors soos molshope oral in Koningspark, waar die Kunsmark in die 80’s onder Tokkie se hand tot so ‘n sieraad vir die stad gegroei het. Dese en gene hou nou op ‘n Sondagmiddag daar piekniek. Vullisdromme ontbreek blykbaar of word nie juis benut nie.

Gelukkig is die erediens in ons ou gemeente Berg-en-Dal die Sondagoggend ‘n sielsverkwikkende ervaring. Daaroor skryf ek later ‘n aparte blog.

VYFTIEN BOTTELS BRANDEWYN

April 28, 2017 in Uncategorized

Die enorme koek. Die meisietjies is Mariëtte Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5), bure se dogters.

Gesondheid! So kon jy iemand toeroep wat dertig jaar gelede, op 2 Mei 1987, by “die grootste verjaarsdagparty wat Bloemfontein nog gesien het” ‘n stukkie vrugtekoek in die mond gesit het. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie!).

Die brandewyn-volume klink dalk ietwat ruim. Onthou, dit was nie sommer ‘n doodgewone koek nie. (Die) Volksblad se Kunsmark in Koningspark langs Loch Logan het sy vyfde verjaardag gevier. Dit moes behoorlik gedoen word.

Die mark was immers ‘n hoogtepunt op die Rosestad se sosiale kalender: ‘n geleentheid vir oud en jonk, kunstenaar en kunsliefhebber, ‘n dag elke maand wat deur niemand gemis word nie.

Op Kunsmark-Saterdag het gereeld meer besoekers na Koningpark gestroom as smiddae na die rugby in die Vrystaat-stadion. Besoekers het per bussie van die platteland gekom, Verkeersknope was algemeen. ‘n Gratis pendeldiens is deur die Bloemfonteinse munisipaliteit verskaf.


Kunsmarkkonsert.

Die fees van 2 Mei 1987 was nogal iets om oor huis toe te skryf.

Vrolike musiek is verskaf deur die Sukovs-orkes (die Radeszky-mars, Du kannst nich treu sein, Don’t cry for me Argentina en ‘n hand vol ou treffers) en die sangpaar deur Philip en Ella Kotzé. n Sjarmante teetuin is met die hulp van Tafelronde en die O.V.V. onder die groot koeltebome vir eregaste aangebied.

Duiwe is losgelaat. Die feesrede is gelewer deur die Administrateur, Louis Botha, wat sommer sy kunstalent ook uitgeleef het op ‘n reusedoek wat deur die Vrystaatse Technikon vir alle aspirant-kunstenaars opgerig is.

‘n Span matriekmeisies van die Sentrale Hoërskool het mandjies vol koek aan elke besoeker bedien. ‘n Jonger span het met lekkergoed vir die kinders rondgeloop. Almal kon proe. Duime het na bo geskiet. Dankie, het die dankbare ontvangers beduie, dit smaak vorentoe!

Skilderye langs die visdam.

Om van so ‘n koek te droom, is natuurlik een ding; om die droom te verwesenlik iets anders. Op my vrou, Tokkie, organiseerder, en haar gedugte Kunsmark-span, Marietjie Gericke, Henriette Anderson (nou Loubser, redakteur van Huisgenoot) en wyle Jan le Roux, het allerlei uitdagings gewag.

Die eerste vraag was: Waar kry ons ‘n resep? Christel Erasmus van die SA Droëvrugteraad (nou van die Paarl) het geesdriftig sommetjies begin maak. Hier is haar volledige resep: 70 kg koekmengsel, 30 kg meelblom, 15 kg suiker, 60 dosyn eiers, 15 bottels brandewyn, 18 kilogram botter, 15 kilogram kersies, 9 kilogram neuter.

Vraag twee: Waar sou groot genoeg panne vandaan kom? Gelukkig was Tempe by Bloemfontein destyds ‘n reuse-basis vir dienspligtiges. Ja-nee, hulle sou hul panne graag vir ons leen.

Wie sou bak en waar? Die Pick ’n Pay–hipermark was bekend om sy fyngebak. Sy bakker, Peter Steinberg, was dadelik vuur en vlam. Hy sou dit deurnag doen in die winkel se reuse-oonde. Twaalf koeke is gebak.

Wat gaan die hoop bestanddele kos? Die hande het oopgegaan. SA Sugar Corporation het die 15 kilogram suiker gegee. Banana Distributors het die 60 dosyn eiers bygedra. Van Sacca het die 18 kilogram botter gekom en van Star Foods die 9 kg neute. Dalk was daar meer skenkers. Onthou, dit was 30 jaar gelede.

Vervoer kon ‘n turksvy wees. Geen probleem nie, het Oranje Toyota dadelik laat hoor. ‘n Hi-Ace se sitplekke is uitgehaal om vir die twaalf koeke ruimte maak. Die koeke was so onhanteerbaar groot dat dit in twee gesny moes word om te vervoer.

Selfs Sarie was daar.

In ons kombuis in Genl Van Schoorstraat het Tokkie, Rina le Roux, Annette van Rensburg en Alida Fourie porsies gesny totdat hul vingers kramp. Twee oumas, ons eie Ouma Marietjie van Wyk en Annette se Ouma Henna Nel, asook die huishulp Miriam Maarman is ingespan om die koeke uit die eetkamer aan te dra – hulle was die “runners”, vertel Tokkie.

“Fantasties! Pragtig! Wonderlik!” het Günther Brozel, wynmaker van Nederburg, die Saterdag ekstaties uitgeroep. Selfs die vrouetydskrif Sarie het uit die Kaap kom kyk en entoesiasties berig oor die “belewenis” van daardie laatsomeroggend in Koningspark.

* In Tokkie se besit is nog kaartjies wat sy in die 80’s by een van die kraampies gekoop het. Bedink die verrassing wat dit vir Michelle le Roux (nou mev. Marais) was om op haar 50ste in 2015 ‘n gelukwensing te ontvang op ‘n kaartjie wat sy dertig jaar gelede op die Kunsmark aan “Tannie Tokkie” verkoop het!