Jy blaai in die argief vir barend du plessis.

EN NOU, POLLUX?

Maart 9, 2020 in Uncategorized

….

Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020) via LitNet:

Verklarings van Media24:

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke “The Lost Boys of Bird Island” en “Die Seuns van Bird Island” asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.

….

Jordaan Eben – Hennie kan onthou jy het van die begin af die boek veroordeel terwyl ek nog skepties was.

***********************

Meermale moet ‘n mens maar sterk staan die versoekinge van die ou ondermaanse.

Moet maar die persoonlike swakheidjie bely om my in ‘n sekere mate te verlustig in die verleentheid van dese en gene wat my so aangevat het oor my onmiddellike verwerping van die Bird Island-boek as die verbeeldingsvlugte van verwarde siele.

Sal maar my rug styfmaak teen die versoeking om te begin appeltjies skil.

Vergewe my egter as ek darem net vir Pollux, stekelrige politieke rubriekskrywer van Rapport, herinner aan sy snedige opmerking van eertyds dat die uwe iemand is wat die Magnus Malan-storie so heftig ontken, dat hy (dis nou ek) ) deur geen bewyse oortuig sal kan word nie. Bewyse? Al bewyse wat daarna gekom het, is onomstootlike bewyse van die spul opgestapelde leuens van die “outeurs”, Steyn en wyle Minnie.

Gisteraand in Carte Blanche was daar minstens vyf nuwes: almal behoorlik be-edig.  Hoop Pollux het geluister en ‘n paar nota’s gemaak.

Terwyl Pollux nou so ‘n man vir bewyse is, kan hy gerus ook maar met sy bewyse kom vir sy dwarsklap van dieselfde dag dat die uwe ‘n redakteur was wat geglo het hy kan die wereld verander.

Ook die stelling was natuurlik uit die duim gesuig soos Steyn en Minnie se boek. Elke kollega wat my geken het, staaf die onwaarheid daarvan. Pollux het nog nooit verskoning gevra nie. Dalk is hier nou ‘n gulde geleentheid vir hom om sommer die onverdiende veroordeling ook in die reine te stel.

Of moet ek ook 36 jaar wag, soos Barend du Plessis nou al 36 jaar wag dat die polisie wie se”ondersoek voortduuur” aan sy deur kom klop?

LAMLENDIGE APOLOGIE

Maart 5, 2020 in Uncategorized

….

Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020) via LitNet:

Verklarings van Media24:

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke “The Lost Boys of Bird Island” en “Die Seuns van Bird Island” asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.

….

Brief in vanoggend se Die Burger en Volksblad:

Hennie van Deventer, Melkbosstrand, skryf:

Ek verwys die uitgewer Tafelberg graag na die verskoning wat die Sondagkoerant Rapport oor sy dwalinge met die Bird Island-sage op 16 April 2019 prominent gepubliseer het.

“Ons het ‘n fout gemaak,” het die koerant  ruiterlik erken. Sy verskoning was inklusief en berouvol. Dit het eksplisiet ook lesers en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley ingesluit.

Daarteenoor is die apologie van die primêre sondaars (saam met die opportunistiese outeurs)  flou, onvolledig en ontoereikend. 

Die uitgewers erken dat sy “ gewraakte stellings nie onafhanklik geveriëer (kon) word nie.”  Maar in sy apologie – duidelik versigtig regstegnies geformuleer –  word in dieselfde asem sy verskoning “net beperk tot mnr. Du Plessis”.  

Onmiddelllik ontstaan die vraag: kon die “gewraakte stellings” rakende Malan en Wiley wel dan op enige wyse  “onafhanklik geveriëer” word?  Indien wel, word dit deksels goed verbloem. 

Of sou die “verifikasie” steun op slegs die vae bewerings van die naamlose Mnr. X wat een dag voorbladnuus was en die volgende soos ‘n groot speld verdwyn het?  Hoeveel beëdigde verklarings van sleutelmense verlang NB-uitgewers en Tafelberg dan nog om hulle van hul mistasting te oortuig?

Maar natuurlik: anders as Du Pessis is Malan en Wiley nie meer in lewe nie. 

Voorts: ag die uitgewer die misleiding van derduisende lesers van so min betekenis dat hy hulle, anders as sy susterpublikasie Rapport, in sy oomblik van berou skoon vergeet?   

Die onttrekking van onverkoopte eksemplare is ‘n gebaar – ‘n nogal sterk simboliese gebaar van skuldbekentenis – maar op die keper beskou, is dit in geldwaarde uiters gering teenoor die miljoene wat internasionaal ingehark is.  Op biblioteekrakke wêrelwyd pryk die boek nog.  Op die internet leef miljoene verguisende woorde. Wat gaan NB-uitgewers en Tafelberg doen om hierdie tsoenami van skade te beperk ?