Jy blaai in die argief vir babanango.

FLITSE UIT MY KLEINTYD

Desember 27, 2020 in Uncategorized

Volgende Sondag, 3 Januarie 2021, word ek 80. Tagtig, verbeel jou. Vandag, presies ‘n week voor bereiking van daardie ver-ver baken as jy jonk is, dwing my gedagtes terug kleintyd toe.

Van my Babanango-era op die plaas Middel-in teen die berg Spês onthou ek weinig. Ek was maar drie toe ons in 1944 noodgedwonge moes Kimberley toe met sy heilsame, droër klimaat. Op doktersadvies. Want klein Hennie sukkel chronies met ‘n kroep-borsie in die nat, mistige weer van Natal.

Die Kimberleyskof – van 1944 tot 1950 – lewer ‘n kaleidosokoop van herinneringe op. Helder beelde doem op van ons nederige ongepleisterde skakelhuisie by Diagonalstraat 10 – naby die stasie en die treinspoor, met ‘n sinkheining en ‘n kleinhuisie met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die agterplaas.

In daardie stowwerige agterplaas het klein Hennie met sy duiwe en skilpaaie geboer en met sy “vetdiere” (blikbeeste, -perde, -varke en -skape) plaas-plaas gespeel. Een gedenkwaardige agtermiddag het hy hom verbeel hy is Superman. ‘n Vliegpoging van die tuinmuurtjie af was minder geslaagd. “Superman” se regterpols was morsaf!

Die feit dat die eerste jaar in die nuwe omgewing nog oorlogstyd is, sou vir ander herinneringe sorg: van manne in uniform in die strate, petrolrantsoene, DKW-motortjies, mense in lang, ongeduldige toue vir aartappels en ander noodsaaklikhede, slegte brood en uiters karige suiker-en koffie-porsies. Rys was onverkrygbaar, die bak van wit brood was verbode – as jy daarmee betrap word, was jy in die moeilikheid, groot moeilikheid.

Voordat ek in 1947 by die Laerskool Diamantveld met die skoolbanke kon kennis maak (en in ‘n stadium toe ek tot Pa Seun se ontsteltenis nog telkens die syfer 7 vergeet as ek tot 10 moet tel), het hy op ‘n koue wintersaand op ‘n nagskof by De Beersmyn hondsiek geword. Hy het vroeg huis toe gekom, sy klere netjies opgevou en in die kas gebêre, soos altyd. Daarna het hy in die bed geklim. Daardie selfde nag is hy skielik aan sy hart oorlede. ‘n Man in sy fleur – net 35 jaar oud.

Ma Baby, die jong weduwee, moes maar uitspring en gaan werk. Ek onthou hoe sy elke dag kiertsregop op haar fiets wegry Kimberley-sentrale toe. Die blou Hillman Minxie moes verkoop word. Bekwame vrou wat sy was, het ma lewenslank verseg om te leer motor bestuur.

Oupa Herklaas en ouma Elsie Visser het daardie tyd by ons kom woon. Aan oupa se voete het ek leer Volksblad lees – min wetend dat ek drie dekades later redakteur van die koerant sou word. By ouma Elsie het ek brood met botter en tamatiesous leer eet en vol fiemies geraak oor kos. Dit het arme ma grys hare besorg. Gelukkig het ek in latere lewe my nonsens gelos. Als is vir my lekker – tot kool en pampoen. Hou net afval weg, asseblief.

In 1950 het pa Tonie Malan in ons lewens gekom. Ek en ma is terug Natal toe. Vir ‘n ruk was ons tuis by oom Martiens en tannie Dinah Maritz by die Boshoekmyn, naby Vryheid, waar hulle die winkel en slaghuis besit het. Ek het skoolgegaan op die naburige myndorpie Enyati. Soggens langs die pad gaan staan om deur ‘n steenkoolvragmotor opgelaai te word. Ai, daardie kragtige Studebakers.

Toe die twee trou, het ons na Durban verhuis. Ek het die eerste keer die see gesien. In Durban het ek opgehou om ‘n klein seuntjie te wees. Het in wind en weer met my fiets van Botanic Grove, Berea, Port Natalskool toe gery – nogal ‘n fris ent. Selfs Saterdagoggende alleen die bus gehaal Kingsmead toe vir krieket of met ‘n pak strokiesverhaal-boekies in my arms om te gaan fliek en boekies uit te ruil, soos die gebruik was.

In 1951, terwyl Basil Kenyon en Hennie Muller se Springbokke in Brittanje amok maak – onthou Murrayfield! – het ek in Durban tien jaar oud geword. ‘n Groot seun!

Hemel, dit was 70 jaar gelede. Tempus fugit – het die tyd nie gevlieg nie!

VADERHART VOL LIEFDE

Junie 17, 2016 in Uncategorized

Pa Seun, ma Baby en klein Hennie voor hul huurhuisie in Kimberley.

Pa Seun, ma Baby en klein Hennie voor hul huurhuisie in Kimberley.

Aan herdenkingsdae soos Vadersdag en Moedersdag het ek min erg gehad. Te kommersiëel. Vadersdag 2016 tref my anders. Ek het ontdek dat Vadersdag vanjaar plus-minus met die 70ste herdenking van Pa Seun se dood saamval. Vadersdag is Sondag 19 Junie. Pa het op 21 Junie 1946 aan ‘n hartaanval gesterf. Op 35.

Pa sou ‘n nagskof werk by De Beers se diamantmyn in Kimbeley. In die sekuriteitshokkie het hy begin sleg voel. Hy het vroeg huis toe gekom, sy klere netjies gebêre, soos sy gewoonte was, en in die bed geklim. ‘n Uur of twee later het hy gesterf.

Hy is in die begraafplaas naby die Groot Gat ter ruste gelê, ver van sy wortels in die groen lande van Noord-Natal waarvandaan hy twee jare tevore sy gesinnetjie gebring het om, ironies, sy seuntjie, Hennie, se lewe te red. Vir dié se chroniese kroepborsie was die nat, mistige Natalse weer dodelik.

Hoe enorm groot daardie opoffering moet gewees het, het jare later eers deurgedring. Op Vadersdag 2016, 70 jaar ná sy dood, eer ek my pa opnuut vir die geweldige liefdesdaad.

Die postal van ons plaas Middelin aan die voet van die berg Spes by Babanango.

Die opstal van ons plaas Middelin aan die voet van die berg Spes by Babanango.

Pa wat net ‘n boer was, moes werk soek. Dié kry hy toe met behulp van my diamantspeuerder-oom Willie Smith in De Beers se sekuriteitsafdeling. Die nuwe Van Deventerwoning was ‘n nederige ongepleisterde skakelhuisie in Diagonalstraat – naby die stasie, met ‘n sinkplaatheining en ‘n kleinhuisie met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die agterplaas. In daardie stowwerige agterplaas het ek met duiwe en skilpaaie geboer en verlangend met my “vetdiere” (blikbeeste, -perde, -varke en -skape) plaas-plaas gespeel.

Van my kennismaking met die skoolbanke in 1947 by die Laerskool Diamantveld en my heel flukse vordering het Pa helaas niks meegemaak nie. Hy is na sy graf met ‘n sekere ontsteltenis dat sy seuntjie telkens die syfer 7 vergeet het as hy tot 10 moet tel. So het ma Baby my later meegedeel.

Die gebruikte blou Hillman Minx met die swart modderskerms wat pas die onekonomiese ou Plymouth as gesinsmotor vervang het, moes ná Pa se dood dadelik verkoop word. Ma kon nie bestuur nie en wou ook nie leer nie. Sy het ‘n fiets bekom en voor die skakelbord in Kimberley se telefoonsentrale die rol van broodwinner oorgeneem.

Watter enorme waterskeiding Pa se dood in werklikheid was, sou ek eers as volwassene besef toe ek, op soek na my wortels, op ‘n pelgrimstog terug is Babanango toe. Later is ek na Deventer in die provinsie Over-Ijssel in Nederland waarvandaan Gerrit Jansz van Deventer in 1687, 35 jaar ná Jan van Riebeeck, na die Kaap gekom het.

Iewers, iewers, het ek gehoop, sou ek die Van Deventer-drade kon optel. Albei die soektogte het onuitwisbare indrukke gelaat.

Dit was gewyde oomblikke om in die lang gras op die oorspronklike familieplaas Rondspring by die grafte van Oupa en Ouma van Deventer te staan: Jacob Hendrik (8 Oktober 1871 – 10 Mei 1933) en Maria Catharina (gebore Van den Berg, 5 November 1872 –7 November 1930). Die stad van my vadere het my eweneens geroer. Stap jy in Deventer se Bergkwartier of op die stadsplein, die Brink; hoor jy die suiwer klank van die 47 klokke van die indrukwekkende Lebuïnuskerk – die oudste in Nederland – en die geloei van die koeie oorkant die Ijssel in die aandstilte, beleef jy op ‘n baie pertinente manier ‘n onsigbare band met die verre verlede.

Dit het ‘n speletjie geword om na die jaartalle op die gewels te kyk en te wonder: Het Gerrit Jansz dalk op hierdie einste hobbelrige keisteentjies gestap om afskeid te neem?

Teleurstellings het ook gewag , by Babanango en in Deventer.

Oupa en ouma Van Deventer se grafte.  Ek is na oupa genoem. Johan, my seun, dra weer my pa, sy oupa, se name.

<strong>Oupa en ouma Van Deventer se grafte. Ek is na oupa genoem. Johan, my seun, dra weer my pa, sy oupa, se name. .



Die opstal van ons plaas Middelin, buurplaas van Rondsprong, die familieplaas, was nie eens meer ‘n murasie nie. Niks het oorgebly nie. Silutshana wat die vername poskantoor van ‘n welvarende distrik was, het verval tot ‘n uiters basiese plaaswinkeltjie. In Deventer, weer, soek jy vergeefs na ‘n Van Deventer – hulle is die verlore geslag Deventenaars wat lank-lank gelede groener weivelde in Suid-Afrika, die Verenigde State en elders gaan soek het.

Jou herinneringe, het jy ontdek, is gewortel in iets heeltemal anders, iets unieks. In ‘n paar kiekies wat met ‘n “bokskamera” geneem is, een vergrotinkie teen die muur, ‘n rooi graniet-grafsteen in Kimberley, ‘n ou notebeursie, ‘n salariskoevertjie wat met sy dood nog onoopgemaak was en sy laaste kort briefie aan sy vrou.

Nie sonder ‘n tikkie jaloesie nie, het ek deur die jare gehoor hoe vriende en familie in gesprekke met bejaarde vaders die verlede opdiep. Ure is omgesels oor die wie, wat, waar en waarom van lank gelede. Bandmasjientjies is aangeskakel om ‘n geliefde stem te verewig.

Dan het ek my verwyt dat ek nie meer uitgevra het toe ek nog kon nie – ‘n fout wat te veel mense maak, en te laat agterkom. Nou het ek van Seun van Deventer, benewens die bogenoemde besittinkies, maar bloedmin oor. Geen herinnering aan ‘n stem nie (was dit fors of nie?); aan hande (was dit gebrei soos dié van ‘n boer?) of aan ‘n aanraking nie.

O-ja, darem die briefie. Dit het hy, in ‘n netjiese handskrif met ‘n vulpen, ‘n week voor sy dood aan sy vrou, Baby, gerig. Die onderwerp was juis die Hillman wat pas in die motorhuis aan die treinspoorkant van Diagonalstraat ingetrek was. “Liefste Baby,” het hy met ‘n ferme hand geskryf, “ek het vandag uitgevind dat ons kar net half met olie was toe ons haar gekry het. Jy moet dus probeer om vir ons drie pinte olie te kry. Kry by Willie (eggenoot van haar suster Minnie) ‘n skoon blik en laat dit maar daar staan. Dan sal ek dit daar gaan ingooi. Groete. Seun.”

“Liefste Baby”. Dit in ‘n briefie oor drie pinte olie! Die aanspreekvorm verklap iets van die Pa wat ek skaars geken het, en maak my op ‘n vreemde manier intens trots om Johannes Cornelius (Seun) van Deventer vir vyf kortstondige jare as vader te kon hê. Pa Seun was duidelik ‘n man met baie liefde in sy hart. Aan Vadersdag 2016 gee die skielike warm gevoel om myne ‘n spesiale betekenis.

GEBOORTEGROND

November 2, 2015 in Uncategorized

dundee

Hier is ek gebore.

Ons slaap die nag van 19 Oktober net buite my geboortedorp, Dundee, by die Battlefields Sports Resort – wat o.m. in troues spesialiseer! – en ontwaak in ‘n digte mis. Dit herinner vaagweg aan die jeugjare in Natal. Dit bring ook weer die herinnering van modderpaaie en motors wat met kettings om die wiele teen die passe opkruip.

Ek ry Dundee vroegoggend met ‘n missie binne. Ek hoop o.m. om die plek op te spoor waar ek op 3 Januarie 1941 gebore is: Sister Gilbert se “nursing home”. Eerste stop: die netjiese kantoor van Endumeni Tourism in Victoriastraat. Ek word ek deur ‘n vriendelike gryskoppvrou ontvang. Kan ek so gelukkig wees? Sy is toe wrintie ‘n Sister Gilbert “old-girl”!

Die fasade van die wit huisie op die hoek van Gladstone- en Colleystraat wil my eers laat twyfel. Agtertoe is egter aangebou en aangebou. Tot verbasing van die Indiër-buurman poseer die ou witkop met sy pet en sy kierie voor die huis vir foto’s uit verskillende hoeke. Nogal ‘n emosionele oomblik.

dundee3

Sieraad vir Dundee

Dundee is ‘n netjiese dorp. Een sieraad is die NG kerk. Eers later verneem ek die argitekte was Moerdijk (die nimlike Gerard) en Louw. Op die kerktoring is ‘n Anton van Wouw-beeld en ‘n koper-reliëfplaat ter gedagtenis aan die gesneuwelde burgers van die Slag van Talana. Dundee is in die hart van die slagveldroete.

Volgende op my roete van herinnering is Babanango, waar ons plaas was. Die reis neem ons deur die uitgestrekte Zoeloelandse “stad” Nqutu. Tokkie beweer dit klink elke keer of ‘n klip die ruit tref as ek die naam met respek en die nodige tongklap uitspreek.

Op Nqutu is verwarrende padverleggings soos in ‘n nagmerrie. Ons verdwaal. ‘n Gryse Zoeloe kom tot die redding. “Het jy petrol?” vra hy. Toe begelei hy die Honda op omweë na ‘n goeierige gruispad en beduie: “Babanago lê soontoe. Ry net reguit.”

Dit voel soos ure se rit. Uiteindelik sien ons enkele winkeltjies. Is dit Babanango? Dom vraag. Die jong swartman kyk my verbaas aan. Maar dis dan net ‘n amper-dorp. ‘n Gehuggie. Beeste, bokke en hoenders in die strate.

babanango

Ai, Babanango

Ons wil oorslaap maar die hotelletjie bestaan nie meer nie. Die enigste “gastehuis” trek my nie. Die berg Spês kruip weg tussen ander pieke. Dit is waar ons plaas, Middelin, was. ‘n Vriendelike polisieman beduie, maar sy Spês lyk vreemd.

Plus-minus 35 jaar gelede het Jurie Mentz, LV vir Vryheid, ons met ‘n kragtige 4 x 4 deur dongas tot op Middelin geneem. Die plek waar ons wit huisie met die stoep was. Ook tot op die familieplaas Rondspring waar oupa en ouma Van Deventer se grafte is. En “ons” poskantoor, Silutshana.

Maar Jurie is dood, die dongas het nog groter geword. Ek voel verdwaal en verlore en skemer sak vinnig toe. Dundee lê ver-ver met ‘n onding van ‘n pad. En die kontrei se mense ry graag sonder ligte.
Babanango word die groot teleurstelling van die reis.

Die kerkie waar Seun en Baby van Deventer getroud en Jakob Hendrik gedoop is, lyk darem netjies. Maxine de Wit kom in die straat af en vertel dis nou ‘n swart kerk. Sy was die laaste wit bruid.

Die natuur om Babanango is ‘n fees. Ek doop dit die Rûens van KZN. Ons ry diep die Babanagovallei in. Swak pad maar die laatmiddag-skaduwees skep ‘n rustigheid wat vir oulaas bekoor. Babanango was ‘n stukkie hartland. Maar daar sal ek seker nie weer kom nie.

BABAS VAN BABANANGO

April 24, 2015 in Uncategorized

1-1-IMG_0739

Babanango is ‘n piepklein dorpie in die noorde van Kwazulu-Natal, in dieselfde geweste as Vryheid, Melmoth en Dundee, en nie ver nie van Dingaan se kraal waar Piet Retief en sy manne wreed vermoor is. Die uwe is ‘n baba van Babanango. Is op 3 Januarie 1941 daar gebore.

Ongelukkig had die klein Van Deventertjie ‘n kroep borsie. Op die tenger ouderdom van drie moes Seun en Baby van Deventer op doktersadvies hul plasie in die groen heuwels van Noord-Natal groet en om hul seuntjie se onthalwe na Kimberley verhuis.

Vir 71 jaar het ek geen ander baba van Babanango geken nie. Drie weke gelede het ek uiteindelik een ontmoet. Haar naam is Annette Muller. Sy woon in Irene, Pretoria, en is getroud met adv. Gerrit Muller SC.
Ek kon van my stoel afval toe die Babanango-verbintenis by ontbyt in die deftige Caravellerestaurant op die MSC Opera se vaart na Venesië so gesels-gesels oor die roereier en roosterbrood aan die lig kom.

Annette (heelwat jonger as die uwe, soos die foto verklap) was ‘n nooi Combrinck van Babanango. Haar pa, Lukas, was ‘n polisieman. Sy het op die dorpie skoolgegaan totdat sy in standerd ses na Vryheid is, koshuis toe.

Ons begin familie uitlê. Ja, blyk dit, Annette weet van die Van Deventers van Rondspring. Dit is nou my tannie Hettie (vrou van oom Isak) en my enigste Van Deventerneef, Hendrik, met wie ek ‘n halfeeu al geen kontak het nie. Tannie Hettie was volgens oorlewering ‘n gedugte boervrou wat o.m. vir die tydskrif Die Huisvrou bydraes gelewer het. Sy het net vir Lukas op Rondspring geduld, geen ander polisieman nie, onthou Annette.

Die Combrincks se familieplaas is steeds by Babanango. Dit is ook waar Ruan vandaan kom, die jong man wat deesdae sulke uithaler-rugby vir die Leeus speel. Nog ‘n baba van Babanango. Hy is die seun van Annette se broer.
Sal na dese met nuwe oë na Ruan Combrinck kyk as hy doellyn toe pyl – noem dit iets soos ‘n voorvaderlike trots op ons gemeenskaplike plek van herkoms.

(Wat beteken die naam Babanango? Die populêre verklaring is dat ‘n Zoeloeseuntjie in die mis in die berge verdwaal het. Toe ‘n ouer broer op hom afkom, het hy uitgeroep: “Baba, nango” – “Vader, daar is hy!”)