Jy blaai in die argief vir asterhof.

BRIEFIE UIT ASTERHOF

Mei 15, 2016 in Uncategorized

1-1-IMG_0001

Nagtelike nagtegale. Asterhof sing by Kollege. Dirigent is Denga van der Merwe. Reg voor haar staan Rina Thom.

_______________________

In 1960 kry ek ná klas onder die ruitveër van my blou Peugeot 203 onder ‘n jakarandaboom in Burnettstraat, Hatfield, ‘n klein pastelkleurige koevertjie met my naam op. Die koevertjie blyk die draer te wees van ‘n welriekende boodskap: Hennie, Kom saam met my na Asterhof se “social”, asseblief. Ek was dae op wolkies, want dit was nou vir jou ‘n bekoorlike astertjie daardie.

Van die aand se verrigtinge is my herinneringe ná 56 jaar maar vaag. Ek onthou wel die kussings rondgestrooi op komberse vir leker langbeen sit. ‘n Glasie sjerrie. Dalk twee. Romantiese musiek. Helder laggies. ‘n Oorrompelende gevoel van weldadigheid en knusheid.

Knusheid – dit is waarskynlik die woord wat die verhouding tussen Kollege en Asterhof daardie jare die beste weerspieël.

In my ienkjaar in Kollege, 1958, was een van die eerste aktiwiteite ‘n inter-kerk-sleep. Ons en Asterhof se mooie eerstejaartjies is ‘n Sondagaand in gelid na die Pretroria-Oos-kerk oorkant Loftus (Universiteitsoord het nog nie bestaan nie.) Ons met ons geel knopies op die lapelle van ons splinternuwe kerkpakke en hulle met hulle s’n op hul wit kerkrokke. Op ons s’n was K vir Kollege. Op hulle s’n was A vir Asterhof.

Dit het nogal vir ‘n komieklike situasie gesorg: die Kollege- en die Asterhof-ienks so man-meisie-man-meisie langs mekaar: “K, A, K, A, K, A …!”

Daar was nie net interslepe en “socials” nie. Selfs ‘n kollektiewe ontgroening-seremonie op die grasperk voor die Ou Lettere, langs die ou Kollegetehuis waar ek bevoorreg was om in sy laaste twee jaar as volwaardige koshuis my slegte koshuiskoffie te drink. Die eerstejaars is in twee kolonne opgestel. ‘n Haredekwas tweedejaar in sy nuwe kleurbaadjie het dan met ‘n sterk stem gebulder: Haaitjiekelorrum …. Haasbepaktrollum … maak gereed om te storm…. Regs vorm …. As ons die bevel kry “storm”, moes ons stomme groentjies soos mieliepitte in alle rigtings laat spat, terwyl die seniors hulle dubbel vou.

Dat Kollege en Asterhof gekliek het, was in omstandighede eintlik ‘n logistiese noodwendigheid van die kampus-situasie van destyds.

Net twee koshuise vir vroulike studente het bestaan: die sierlike nuwe Asterhof met, na ons oordeel, die ouliker meisies met die korter, vroliker geblomde rokkies, en die stugger Damestehuis (die Fant). Klaradyn het in my derde jaar bygekom. Vir die mans was daar net Kollege, Sonop (tokkelokkerig en doer ver) en Voortrekker (bra stroewerig). Die fondasies vir die nuwe Kollege op die proefplaas was nog nie eens begin grawe nie. Dat ‘n Taaibos en ander later sou kom, kon niemand raai nie.

Kollegemanne en Asterhoffers was as ‘t ware gedurig in mekaar se gesigte, soos die rugby-uitdrukking lui. As dit tyd was om te serenade was Asterhof ons voorkeurbestemming, en andersom. Ons het saam piekniek gehou en sierwaens gebou. Die manne het vir laasgenoemde ridderlik met hamers en spykers die stellasies getimmer. Die asters het die derduisende kreukelpapier-blommetjies gevou.

As ons op rugbytoere gaan, het die asters ons nommers op ons rugbytruie met naald en garing vasgewerk. Op Lentedag het ons mekaar ondersteun. Sal ek die jaar vergeet – 1961, dink ek – toe Asterhof se asters hulle in periodedrag geklee het en die hoof-item ‘n wedloop teen die koshuis se steil strappe was. Op en af. Kollegemanne was daar in hul menigte. In elkeen se hart die brandende ambisie om te wen. Maar toe hardloop ‘n Dagstudent ons almal stof in ons oë. Nie vreemd nie. Sy naam was Sep Serfontein, een van SA se top-naellopers.

Sep Serfontein wen Asterhof se trappe-wedloop.

Sep Serfontein wen Asterhof se trappe-wedloop.

Een grou Sondagmiddag het ek en my dik vriend Cas Jacobs van Carnarvon – waar die mense nog van van “putse” en “badskamers” gepraat het – buitengewoon verlate en mistroostig gevoel. Ons het ’n yslike bord met die woorde “Hoekie vir eensames” teen die Peugeot – die Santa Maria was sy naam – se voorruit opgeplak en die kar gaan trek op die beste plek waaraan ons kon dink – reg voor Asterhof.

Van die asters wat kom en gaan, het opgeruimd kom dagsê. Toe dit donker word, was ons egter steeds eensaam! Sou ons strategie verkeerd gewees het?

Net een keer wat ek kan onthou, was daar ongemaklikheid tussen Kollege en Asterhof. Van die manne het een laataand lus gekry om die asters se beddens te gaan dop. Op ‘n manier is onwettige toegang verkry. Hulle het die gange ingevaar. Weldra het gilletjies van oral opgeklink. Een Asterhoffer was in trane oor haar koek. Sy sou die volgende dag mondig word. Haar verjaardagkoek het blik en al op die grond beland en die strooptog nie heelhuids oorleef nie. Twee Kollege-HK-lede is weens hul onverantwoordelike betrokkenheid van hul ampte onthef. Spanning was in die lug.

Maar wat, kort daarna kuier die HK’s toe weer, soos altyd, saam by Hatfield se Japies, ‘n lekker kafee op die hoek met heerlike bruismelk en pasteie.

Waarom die herinneringe op ‘n sonnige Sondagmiddag op Melkbos opdiep? Laat ek die geheimpie verklap. Gister weer ‘n briefie uit Asterhof gekry. Op dié gryse ouderdom, ja. Nie ín ‘n koevert of in fyn handskriffie nie. Nie welriekend nie. Saaklike e-pos, soos in die onromantiese era waarin ons nou lewe, die gebruik is.

‘n Asterhoffer, tweede jaar, vra, soos sy dit stel, ‘n GROOT GUNS (net so in hoofletters). Sy skryf o.m.:
“Ek sien oom se post op facebook van oom-hulle se jonger dae en hoe Asterhof Kollege serenade het. Kan oom asb iets op Kollege-tehuis se facebook page skryf van die “verhouding” en die ou tradisies of enigiets wat verband hou met die Asterhof-dames en die Kollege-manne? Dalk as Asterhof die mooiste dames gehad het (natuurlik! – hvd) of die meeste gees (natuurlik! – hvd), ens?

“Ons probeer net meer uitvind van hoe dinge was in die ou dae sodat ons die tradisies kan herstel hier op Tuks …. ”
Vir so ‘n nobele saak doen hierdie oom graag sy ding – sonder ‘n aangehegte faktuur. Hoop maar net die resep van die 60’s is vir die nuwe tyd nog so ietwat relevant.

.