Jy blaai in die argief vir 80.

HIER’S HY: MY NUWE BOEK

Januarie 3, 2021 in Uncategorized

Loutere vreugde om vanoggend, 3 Januarie 2021, op my 80ste die omslag van “Bure van nature” te wys – my 21ste en seker laaste boek. “Bure” verskyn in Mei by Protea Boekhuis.

Die omslag – voorbladfoto deur die wakker Organ Ongeni van Sabiepark se piekniekplek  – en ‘n lusmakertjie van die  keurige  inhoudontwerp  laat my opgewonde hande vrywe. (Die foto op die agterblad is deur Tokkie van Deventer. Die vuurtjie flikker in ons lapa.)

.

“Bure” is in meer as een opsig ‘n “Buurman van die wildtuin (Tarlehoet, 2004) Merk II” – maar met hope splinternuwe Sabiepark- en wildtuinstories.  Sestien jaar het immers tussenin verloop.

Volgens  die agterblad is my pennevrug  “propvol veldstories  en naelbyt-ontmoetings tussen mens en dier”. Die subtitel is nie verniet nie: “Waar mens en natuur skouers skuur”.

Ek klink graag ‘n glasie “Wild Africa”-likeur op Deborah Steinmair, redakteur, en Hanli Deysel, ontwerper. Die twee kranige dames het uit hul pad gegaan om betyds vir my verjaardag die piekfyn omslag afgerond voor my neer te sit.

Die voorsmaak van hul arbeid laat my tintel van plesier. Watter groter geskenk kan ‘n mens vra – veral op my gryse jare?

FLITSE UIT MY KLEINTYD

Desember 27, 2020 in Uncategorized

Volgende Sondag, 3 Januarie 2021, word ek 80. Tagtig, verbeel jou. Vandag, presies ‘n week voor bereiking van daardie ver-ver baken as jy jonk is, dwing my gedagtes terug kleintyd toe.

Van my Babanango-era op die plaas Middel-in teen die berg Spês onthou ek weinig. Ek was maar drie toe ons in 1944 noodgedwonge moes Kimberley toe met sy heilsame, droër klimaat. Op doktersadvies. Want klein Hennie sukkel chronies met ‘n kroep-borsie in die nat, mistige weer van Natal.

Die Kimberleyskof – van 1944 tot 1950 – lewer ‘n kaleidosokoop van herinneringe op. Helder beelde doem op van ons nederige ongepleisterde skakelhuisie by Diagonalstraat 10 – naby die stasie en die treinspoor, met ‘n sinkheining en ‘n kleinhuisie met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die agterplaas.

In daardie stowwerige agterplaas het klein Hennie met sy duiwe en skilpaaie geboer en met sy “vetdiere” (blikbeeste, -perde, -varke en -skape) plaas-plaas gespeel. Een gedenkwaardige agtermiddag het hy hom verbeel hy is Superman. ‘n Vliegpoging van die tuinmuurtjie af was minder geslaagd. “Superman” se regterpols was morsaf!

Die feit dat die eerste jaar in die nuwe omgewing nog oorlogstyd is, sou vir ander herinneringe sorg: van manne in uniform in die strate, petrolrantsoene, DKW-motortjies, mense in lang, ongeduldige toue vir aartappels en ander noodsaaklikhede, slegte brood en uiters karige suiker-en koffie-porsies. Rys was onverkrygbaar, die bak van wit brood was verbode – as jy daarmee betrap word, was jy in die moeilikheid, groot moeilikheid.

Voordat ek in 1947 by die Laerskool Diamantveld met die skoolbanke kon kennis maak (en in ‘n stadium toe ek tot Pa Seun se ontsteltenis nog telkens die syfer 7 vergeet as ek tot 10 moet tel), het hy op ‘n koue wintersaand op ‘n nagskof by De Beersmyn hondsiek geword. Hy het vroeg huis toe gekom, sy klere netjies opgevou en in die kas gebêre, soos altyd. Daarna het hy in die bed geklim. Daardie selfde nag is hy skielik aan sy hart oorlede. ‘n Man in sy fleur – net 35 jaar oud.

Ma Baby, die jong weduwee, moes maar uitspring en gaan werk. Ek onthou hoe sy elke dag kiertsregop op haar fiets wegry Kimberley-sentrale toe. Die blou Hillman Minxie moes verkoop word. Bekwame vrou wat sy was, het ma lewenslank verseg om te leer motor bestuur.

Oupa Herklaas en ouma Elsie Visser het daardie tyd by ons kom woon. Aan oupa se voete het ek leer Volksblad lees – min wetend dat ek drie dekades later redakteur van die koerant sou word. By ouma Elsie het ek brood met botter en tamatiesous leer eet en vol fiemies geraak oor kos. Dit het arme ma grys hare besorg. Gelukkig het ek in latere lewe my nonsens gelos. Als is vir my lekker – tot kool en pampoen. Hou net afval weg, asseblief.

In 1950 het pa Tonie Malan in ons lewens gekom. Ek en ma is terug Natal toe. Vir ‘n ruk was ons tuis by oom Martiens en tannie Dinah Maritz by die Boshoekmyn, naby Vryheid, waar hulle die winkel en slaghuis besit het. Ek het skoolgegaan op die naburige myndorpie Enyati. Soggens langs die pad gaan staan om deur ‘n steenkoolvragmotor opgelaai te word. Ai, daardie kragtige Studebakers.

Toe die twee trou, het ons na Durban verhuis. Ek het die eerste keer die see gesien. In Durban het ek opgehou om ‘n klein seuntjie te wees. Het in wind en weer met my fiets van Botanic Grove, Berea, Port Natalskool toe gery – nogal ‘n fris ent. Selfs Saterdagoggende alleen die bus gehaal Kingsmead toe vir krieket of met ‘n pak strokiesverhaal-boekies in my arms om te gaan fliek en boekies uit te ruil, soos die gebruik was.

In 1951, terwyl Basil Kenyon en Hennie Muller se Springbokke in Brittanje amok maak – onthou Murrayfield! – het ek in Durban tien jaar oud geword. ‘n Groot seun!

Hemel, dit was 70 jaar gelede. Tempus fugit – het die tyd nie gevlieg nie!

‘N BOEKIE VIR (AMPER) 80

Oktober 25, 2020 in Uncategorized

Op 3 Januarie 2021 – ‘n bietjie meer as twee maande – word ek 80.  Ietwat prematuur of nie, maak ek dit die onderwerp van vandag se blog. Hoekom, sal mettertyd duidelik word, hoop ek.

In die (amper) 80 jaar staan verskeie hoofelemente uit. Almal wat my ken, sal kan raai watter dit is. Buiten my naastes,  is daar onder meer (plus-minus chronologies) Potch-Volkies, Kollege-tehuis, Tukkies, Harvard, Bloemfontein, Randburg, Sabiepark, die Krugerwildtuin, Melkbos en skeepvaarte, waaraan ek in die later jare verslaaf geraak het.

Van al die dimensies is my koerantverbintenis ongetwyfeld die onuitwisbaarste.  Niks identifiseer my in dieselfde mate nie,  glo ek, al het 24 jaar verloop sedert ek my kantoordeur aan die Heerengracht die laaste keer agter my toegetrek het.

Middel 2020 sou die noodlot egter ingryp.  Media24 kondig ‘n ingrypende  nuwe  bedeling vir sy drukmedia aan. Ook Volksblad se ink droog op. Sy lewe as papierkoerant ruk ná 116 vrugbare jare tot stilstand.

Vir geen oomblik sou ek ooit kon droom dat hierdie trotse koerantgewel uit die hoofstroom sou verdwyn voordat ek die 80-baken bereik nie.

Die afskaling van my geliefde koerant waar ek 12 jaar redakteur was,  was nie net volslae onverwags nie.  Dit was ook ontugterend  en ‘n moeilik verteerbare skok –  ‘n sware verlies.

Vir my 80ste verskyn ‘n gedenkboekie met die titel “Koerant”.  Dit is ‘n selfpublikasie met ‘n beperkte oplaag, versorg deur Coenie Nolte se De Novoboeke. In die boekie  is die rou oor Volksblad se lot nog vars. Ek probeer nie my hartseer verbloem nie. Dit bied trouens die kapstok vir die boek.

Die rou is egter maar net die vlammetjie wat ‘n groter vuur aansteek. In ‘n stuk of 50 essays skryf ek darem nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekotes is opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor  ander koerante en die koerantwese in die algemeen.

Noem ‘n aspek van my  loopbaan –  iewers steek dit kop uit. Moet dus nie verras wees nie as selfs onverwagte name soos Dallas, Anneline Kriel en Racheltjie de Beer in die bladsye van Koerant opduik.

Onder die jongste nuuswaardighede in my boekie is die roemlose aftog van die uitgewery Tafelberg rakende die snertboek oor “die seuns van Bird Island” en sy gruwelike beswaddering van eerbare leiers in die vorige bedeling. Van die aanvanklike onboetvaardigheid uit daardie oord het niks oorgebly nie.

Die sage was ‘n stukkie pynlike Persgeskiedenis waaroor ek my uit die staanspoor nie onbetuig gelaat het nie. Oor ‘n tydperk het ek agt koerantbriewe daaroor geskryf in Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad.

Dat my radar nie verkeerd was nie, is vir my hier aan die vooraand van my 80ste ‘n bron van vreugde. Ek draai daaroor nie doekies om nie. Nie almal wat die boekie onder oë kry, sal daardie hoofstuk met welgevalle lees nie – en dalk enkele van die ander hoofstukke ook nie. Ek maak nie ‘n moordkuil van my hart nie.

Die boekie verskyn in gedrukte formaat vir naaste familie, vriende en kollegas.  Vir die grootste gros ontvangers bied ek dit as e-boek aan. Die skakel sal binnekort aan hulle bekend gemaak word.

Die aflewering is ietwat prematuur. Dit is met die oog op die einde-van-die-jaar-gewoel aan vele fronte. Dit is nog te meer die geval om my Volksblad-storie te vertel terwyl dit nog relatief vars is.

Aan al die lesers: lees die boek en klink saam ‘n glasie op 80 vervullende jare.