‘N SAADJIE IS ‘N DING WAT SPRING

Mei 29, 2021 in Uncategorized

Op pad na Sabiepark se piekniekplek toe stap ons van Tarlehoet af in Wildevylaan by talle tambotiebome verby. Plekplek staan dit amper te dig.  Op ‘n dag skrik ek vir ‘n saad – ‘n tambotiesaad – wat voor my allerlei energieke hop-hoppe uitvoer.

Die raaisel van die tambotie se saad het lank gekwel. Later hoor ek dit spring darem nie op eie stoom nie, maar weens die insekkie binne-in.

Gister, wanneer kry ek van Frikkie Lombard van die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse taal) die nuus dat daardie saadjie tot binne-in die formidabele woordeboek gehop het. Onder die letter “t”  gaan hy daar sy monumentjie kry.

Met sy goedkeuring haal ek graag Frikkie se vriendelike brief aan. Hy skryf: “Hallo Hennie.Wil net laat weet dat ek jou ‘Bure van nature’ besonder geniet, vir die humor, leersame inligting en keurige taal. Verder wil die toeval dit so hê dat ek juis met die lees en ekserpering van jou boek ook die woordeboekartikel oor “tambotie” moet kontroleer. En daar kry ek toe ‘n sitaat uit jou boek wat ek gaan gebruik (met volle erkenning aan die skrywer en die bron): ‘Die raaisel van die tambotie se saad het lank gekwel …’

Dankie, Frikkie. Voel ek nie gevlei nie! Dit alles weens ‘n ou saadjie.

Die WAT-man heg toe sommer die definisie wat die WAT vir tambotie het, aan. Dit lui:  “Mediumgroot tot groot bladwisselende boom, <i>Spirostachys africana</i> (fam. <i>Euphorbiaceae</i>), tot 18 m hoog, wat ’n giftige, melkerige sap afskei, met ’n dik, growwe, donkerbruin tot swart bas met ’n kenmerkende blokkiespatroon, afwisselende blare waarvan die rande fyngetand is, goudkleurige tot bloedrooi blomme wat spiraalvormig op korterige, dun are gegroepeer is, sade waarin daar dikw. larwes van motte voorkom wat aktief begin beweeg sodra dit warmer raak, sodat dit lyk asof die sade rondspring, en harde, olieagtige, donkerbruin hout met ’n aangename geur wat veral i.d. vervaardiging van duursame meubels, mynstutte, dakbalke en heiningpale gebruik word, maar nie as braaihout nie omdat die sap ’n onaangename smaak aan kos gee en die giftige rook diarree kan veroorsaak, en wat veral in laagliggende streke of op heuwels in al die lande in suidelike Afrika, behalwe Lesotho, tot so ver noord as Tanzanië aangetref word.”

Presies. Dis net die tambotie daai.  En moenie daardie waarskuwing oor die gebruik van tambatoe as braaihout gering skat nie.  Jou vleis smaak glad nie lekker wanneer dit op tambotiekole  staan en sis het nie.  Maar nie lekker smaak nie, is die minste van jou probleme.  Die giftige rook gaan jou ten minste laat hôl vir die naaste toilet.  Dis nou maar wors.  Dit kan selfs dodelik wees , word gewaarsku.

DIE HART TINTEL

Mei 26, 2021 in Uncategorized

Boekresensie: Bure van nature

 Mei 24, 2021

Louise Viljoen

Louise Viljoen

Titel: Bure van nature

Outeur: Hennie van Deventer

ISBN: 978-1-4853-1217-8

Uitgewer: Protea Boekhuis

Skuif gerus nader indien jy hou van opwindende veldstories en naelbyt-ontmoetings tussen mens en dier, want Hennie van Deventer, die outeur van sowat twintig boeke, se geboekstaafde vertellings sal jou vir ure lank vermaak. Veral in hierdie dae waar reisigers steeds skrikkerig is om té veel rond te beweeg weens die risiko’s verbonde aan covid-19, is leesstof soos Bure van nature soos manna vir die natuur-entoesias se siel. En vir iemand soos ek wat nog nooit die voorreg gehad het om die Krugerwildtuin te besoek nie, is hierdie boek ’n openbaring én ’n onvergeetlike bederf. Van Deventer en sy vrou, Tokkie, besit ’n woning in Sabiepark – ’n private natuurreservaat aan die Sabierivier, naby aan die Paul Krugerhek.

Bure van nature beslaan 192 bladsye en word opgedra aan “almal wat al met rustigheid in die hart in ’n flikkerende kampvuurtjie sit en tuur het terwyl treffende naggeluide uit die donker bos op ’n briesie van Sabierivier se kant aangesweef kom.” Die boek is opgedeel in drie temas waaronder dosyne stories gegroepeer is. Die temas is: By my voorstoep verby (40 stories), Poste restante Skukuza (7 stories) en Bobaas-buurman (11 stories). Die uitgewersbrief beskryf dié stories as “inheems soos kremetartbome, onderhoudend soos ’n kuier om ’n hardekoolvuur”. Die bekoring van Bure van nature lê in die heerlike spitsvondige en lewendige wyse waarop Van Deventer sy liefde en respek vir dier en natuur deel. Hy skryf onderhoudend en met ’n aansteeklike passie oor hulle wedervaringe.

Dis baie jammer dat daar nie foto’s is waarin lesers kan deel nie, maar Van Deventer se woordvaardigheid en sy vermoë om ’n situasie lewensgetrou te skets maak daarvoor op. Vir my as leser het dit gevoel of ek elke ontmoeting en ontdekking in die veld meemaak. Feitelike inligting wat vaardig deur die stories verweef is, maak van Bure van nature nie nét ’n lekkerleesboek nie, maar ook ’n leersame ondervinding. Ek het heerlik daaraan gelees en was spyt toe ek die boek ná die laaste bladsy toemaak. Net voordat ek Bure van nature gelees het, het ek Sir David Attenborough se A Life on Our Planet: My Witness Statement and a Vision for the Future gelees en ook baie geniet. Die twee here se passie vir diere en die natuur en hulle nalatenskap waarin hulle hul kennis en ervaringe deel, is prysenswaardig en inspirerend.

Dis baie moeilik om van die stories uit te sonder, want ek het elkeen geniet. Ek wil tog die openingsparagraaf van “Sabiepark, geboortegrond” op bladsy 104 uitlig: “Die verskeidenheid fluite, koere, krasse, kwele, kwake, roepe, tjirpe en tjanke van allerlei bontrokke, bokmakieries, janfrederiks, katakoeroes, klopkloppies, lewerikke, lysters, sterretjies, valke, vinke en wielewale is eindeloos.” Dit is heerlikhede soos dié wat ’n leser soos ek se tone laat omkrul en my aanpor om aan te hou lees – Van Deventer is ’n meesterverteller.

Meer oor die outeur: Hennie van Deventer was met sy uittrede in 1998 uitvoerende hoof van koerante van Naspers. Hy was ook vir twaalf jaar lank redakteur van Volksblad in Bloemfontein. In 1997 het hy Naspers se hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, ontvang vir “die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het”. Hy het, in sy baie suksesvolle loopbaan, vele eerbewyse van verskillende instansies gekry. Hy geniet nou al reeds langer as twintig jaar sy aftrede.

Skaf gerus jou kopie van Bure van nature hier aan.

Besoek ook Van Deventer se Facebook-blad hier waar hy meer inligting oor Bure van nature en ook foto’s deel.

‘N MILJOENệR IN BLINKERTJIES

Mei 20, 2021 in Uncategorized

Boswell, Pagel, Wilkie – wie die sirkus in die laaste helfte van die vorige eeu geken het, het Francesco, die witgesig-nar geken. Amper vyf dekades lank het hy geslag na geslag in die Groot Tent met sy manewales laat skater.

Francesco het in my hart gekruip in Augustus 1978 toe ons ure onder vier oë vir die rubriek Onder Vier Oë in die dagblad Beeld gesels het. Gestroop van sy wit poeier-masker en peperduur Paryse kostuums, was Gilyan Francesco ‘n fyn mens-mens, het ek ontdek.Francesco het ‘n tweede keer in my hart gekruip toe hy my 20 jaar later, einde 1997, uit die bloute in die Kaap bel. Hy sien in die koerant dat ek gaan aftree. Waarom? “Jy is dan nog so jonk.” Weer het die mens agter die narremasker my verras.

Dié Johannesburgse pruikmaker, skilder en filosoof was ‘n groot geselser met hande wat nooit tot rus kom nie – soos blare wat grond toe fladder, het ‘n resensent hulle beskryf. Ons onderhoud was ‘n fees.Francesco was Suid-Afrika se enigste witgesig-nar: “die aristokraat van die sirkus; die heer van die narre; die man wat die antwoorde ken en die praatwerk doen”. In die wêreld was in daardie stadium net vyf ware narre. Van die vyf was hy die enigste akteur. Om ‘n witgesig te word, moes hy kursusse volg in ballet, drama, perdry en musiekwaardering.

Alles het een aand op Colenso begin toe die legendariese Madame Pagel vir hom sê: “Jy gaan ‘n witgesig word. Gaan maak vir jou ‘n kostuum.”Hy het gehoorsaam – die kostuum en die naaimasjientjie waarop hy dit gemaak is, is later in ‘n spesiale Francescokamer in NALN (Nasionale Letterkundige Museum) in Bloemfontein uitgestal – maar later het hy in verset gekom en die kostuum in haar woonwa geslinger. “Ek wil nie ‘n witgesig wees nie: ek haat dit,” het hy weerbarstig uitgeroep. Sy het net gelag en hy het haar hoor sê: “Hy sal regkom”. Sy het gelyk gehad. Hy het … en hy was nooit spyt nie.

Ten tye van ons onderhoud het Francesco 52 kostuums besit, almal “volledige kunswerke” met blinkers en pêrels, en gemaak deur die beroemde Madame Viccairre in Parys, die Dior van die sirkuswêreld. Elkeen het daardie tyd sowat R1 000 gekos, wat Francesco met ‘n vonkeling laat opmerk het: “Ek is ‘n miljoenêr … in blinkertjies!”

Die Francesco’s kom van Italië. Sy ouers – akrobate en sweefstof-artieste – en sy grootouers was ook sirkusmense. Hyself is na ‘n leeftyd by die sirkus weg, omdat hy “moeg geword het om net as hanswors beskou te word”.Hy was ook gesteurd dat sirkusbase enigiemand met ‘n geverfde gesig in die ring stuur om die mense te laat lag. Hy wou “die mooi tradisie van die nar” beskerm. In sy sierlike kostuum, en agter sy verf, wou Francesco hê dat die nar, buiten lawwe grapjas, ook ‘n realistiese karakter moet wees – iemand wat met die wisselvallighede van die lewe worstel, wat gedurig val, maar telkens weer opstaan om verder te stry. Hy het besef hy wil mense ook iets gee om oor na te dink.

Eers toe hy ‘n eie groep op die been gebring het, het sy nar-wees vir hom “werklik sin en betekenis gekry”. Die groep het oral lof ingeoes. Hy is, dalk die eerste keer, as volwaardige arties in eie reg erken en waardeer – ‘n nar in die klassieke sin van die woord. Daarna het hy ‘n narklub met 75 000 lede vir kinders begin. Een goeie daad per dag was die voorwaarde vir lidmaatskap. “Ek het ‘n sterk geloof, ek glo ek is God se nar en dat as jy God agter jou het, jy nie verkeerd kan gaan nie. Dit is wat ek my kinders leer.”

Hy wou graag as ‘n “leermeester-filosoof” brûe tussen rasse help bou – ‘n ideaal wat grootliks onverwesenlik gebly het omdat die ouderdom hom ingehaal het.

Sy grootste skrik in die sirkus het Francesco vroeg in sy loopbaan gehad. Die leeus se vertoning was pas klaar en die narre moes oudergewoonte ring toe om die publiek se aandag van die gewerskaf met die tralies af te trek. Francesco was net binne toe hy bemerk die tonnel is nie toe nie, en daar kom leeu se kind. Met sy yslike stewels het hy die tralies gestorm en – tot groot vermaak van die gehoor – vergeefs probeer om uit te klouter. Die leeu het hom net ‘n kyk gegee en weggedraf.“

Hy’t seker gedink: ‘Jou eenvoudige ou gek’”, het Francesco gelag.

Vir die dwerg Tickey het hy ‘n sagte plekkie gehad. “Hy is my held. As hy ’n normale man was, sou hy sonder twyfel ons heel grootste akteur gewees het.”ÊÊIn die sewentigs het Francesco ‘n aanloklike aanbod uit Australië ontvang, maar “hene mens, ek is ‘n Suid-Afrikaner. ‘n Trotse een. As ek moet padgee, wie bly oor? Dis net ek en Tickey.”

Nou is Francesco en Tickey albei intussen weg. Ja, wie bly oor?

 Gilyan Francesco is op 15/7/2001 oorlede

SONORE STEM EN HONENDE HUMOR

Mei 19, 2021 in Uncategorized

Soos vele ander egpare was John en Tini Vorster in geaardheid glad nie karperde nie. Tini (oor wie ek ‘n paar dae gelede ‘n blog geplaas het) had die sagte hart van ‘n maatskaplike werkster. John was die mededingende regsgeleerde, altyd oorgehaal om ‘n opponent kliphard aan te vat. Die begaafdse redenaar was geseënd met ‘n ingebore spitsvondigheid wat vernietigend kon wees.

As John Vorster die politikus met die sonore stem en vlymskerpe kwinkslae eers met sy een voet op sy groen leerbank in die volksraad gaan staan het en die opposisie met sy honende humor begin opkeil, was van sy kant van die raad galmende lagbuie van genot.

Ek was die aand in die Bloemfonteinse stadsaal toe die premier onder dawerende toejuiging aankondig Suid-Afrika sal nie die gekleurde Basil D’Oliveira as lid van ‘n MCC-krieketspan aanvaar nie. Tot vandag glo ek hy kon met presies die teenoorgestelde standpunt dieselfde toejuiging uitgelok het. Hy het oor die statuur beskik om mense om die pinkie te draai en die redenaarskuns om hulle in enige rigting mee te voer. Dalk het hy nie sy mag in daardie opsig nie ten volle besef nie.

Die gedugte Vorster het my vroeg in my loopbaan as verslaggewer by Die Volksblad laat stamel. Dit was by Philpstown se eeufees of iets waar hy – toe nog minister van justisie – die spreker was. Ek wou asseblief ‘n afskrif van sy toespraak hê.

Hy het my met onbehae deur ruie wenkbroue betrag. “Vriend,” het hy afgemete, sonder ‘n sweem van ‘n glimlag geantwoord: “As ek afskrifte van toesprake begin saamdra, daardie dag tree ek uit die politiek.” Ek het gou geleer ‘n John Vorster-toespraak bestaan uit ‘n paar kriptiese notas agter op ‘n pakkie Rembrandt ongekurk 30.

Kort nadat hy HF Verwoerd in 1966 opgevolg het, het hy Koffiefontein besoek. Dit het ‘n draai ingesluit by die Interneringskamp waar hy in die Tweede Wereldoorlog agter doringdraad was. Ek sou nie weer om ‘n afskrif van ‘n toespraak aanklop nie!

Die besoek aan die Interneringskamp het wel vir een van my gunstelingfoto’s uit my vroeë loopbaan gesorg. Daardie skraal swartkopmannetjie met die dikraambril en die notaboek links van mnr. Vorster, dis ek!

Mettertyd het ek in die jare 70 by die nuwe dagblad Beeld kennis gemaak met die nogal warm stoel van die nagredakteur – die man wat die volgende dag alles moet kan verduidelik. Een van die aande wat ek nie lig sal vergeet nie was nadat die premier op ‘n jagtog in die private Sabie-Sand-reservaat ‘n leeu geskiet het.

Die aand nadat die storie (plus kleurfoto) op die voorblad verskyn het, het die uwe diens gedoen. Die eerste uitgawe was afgehandel. Ek het net behaaglik teruggeleun. Skielik lui die telefoon. Die fors stem kondig afgemete aan hy wil met die redakteur praat. “Goeienaand, mnr. Vorster – praat maar, ek is die nagredakteur.”

Verslaggewers wat ooggetuies was, het later vertel ek het ligrooi geword, en amper versteend op aandag geruk. Die premier was woedend. In die gewraakte onderskrif het gestaan Vorster het die leeu by Skukuza platgetrek, dus in die nasionale Krugerwildtuin, wat nie die geval was nie. Na verduidelikings en verskonings wou hy nie juis luister nie. Wat, wou hy weet, moet die wêreld van Suid-Afrika dink as die pers sy premiers sulke onbesonne dinge laat aanvang!

Impertinente persfotograwe is ook deur die leier met die stugge bloedhondgesig laat bontstaan. Pogings om hom vir die kamera te laat glimlag, het vir twee wat ek ken, glad nie voorspoedig verloop nie. “Maar ek glimlag dan klaar,” het hy een getroef. “As jy tande wil sien, moet jy Jimmy Carter gaan afneem,” het hy nommer twee kortgevat.

‘n Keer dat hy wel breed vir ‘n fotograaf geglimlag het was op ‘n foto op Huisgenoot se voorblad van hom in sy baaikostuum saam met sy kleinkinders op sy geliefde vakansieplek Oubos. “Oupa Nam-Nam” – so is hy by die foto genoem – was die toonbeeld van ‘n liefdevolle oupa.

John Vorster se latere presidentskap was kortstondig en misplaas – ‘n kunsmatige manier om sy politieke loopbaan te probeer verleng nadat hy kort tevore deur sy kollegas versoek is om weens swak gesondheid die tuig as premier neer te lệ. Al wat dit hom in die sak gebring het, is dat hy gedwing is om in die openbaar die verantwoordelikheid op hom te neem vir die “katnes” van die Inligtingskandaal wat deur regter Rudolph Erasmus finaal oopgekrap is. Dit was treurig dat die formidabele man se loopbaan so op ‘n laagtepunt moes eindig.

SY WAS ‘N ROTS

Mei 12, 2021 in Uncategorized

Sy/haar onderhoude met spesiale mense is deel van elke joernalis se memoires. Gedenkwaardige eie onderhoude wat vinnig by my opkom, was met  uiteenlopende karakters soos Thabo Mbeki, Harry Oppenheimer, Tretchikoff,  Gerhard (Spiekeries) Viviers, Francesco, die witgesig-nar, Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Jamie Uys, Anneline Kriel, Sonja Herholdt,  Ampie Roux, vader van ons eie  “bom”, Buurman van Zyl, legendariese Bloubul-afrigter, Thys Lourens en Paul Nash, een van ons grootste atlete.

Een onderhoud wat onuitwisbare indrukke gelaat het, was met mev, Tini Vorster, minder as 20 uur nadat premier (en later staatpresident) John Vorster weens die Inligtingskandaal skielik as premier moes bedank.  Die onderhoud van anderhalfuur in die premierswoning Libertas in Bryntirion, Pretoria, het my aangegryp. Dit het gelei tot die treffende plakkaat op die foto met die foto van die Vorster-egpaar en die volgende bewoording: My man John – mev Tini Vorster.  Dit  is nie elke onderhod wat met so ‘n plakkaat bekroon word nie.

By haar was in daardie bittere uur geen bitterheid, verydeling of teleurstelling oor haar man se premierskap  wat so dramaties gestuit is nie. Inteendeel. In haar was ‘n fierheid, blymoedigheid en stille krag wat ek nie sal vergeet nie. Daar was ook die teerheid, liefde en lojaliteit van ‘n sorgsame eggenote. So ‘n mengsel van aristokratiese waardigheid en vroulike sagtheid kry ‘n mens nie elke dag nie. Ek bewonder dit nou nog.

Geen wonder nie dat die naam van hierdie rots aan John Vorster se sy dadelik by my opgekom het toe die tydskrif Sarie in 1989 by my en ‘n paar ander mense wou weet watter vroue ons die meeste bewonder.

Sy was teenwoordig toe mev. Betsie Verwoerd haar man, dr. HF Verwoerd, aan die dood afgestaan het, het sy my daardie oggend oor ‘n koppie tee en keurige fyngebak rustig meegedeel.  Dit het haar diep getref.   Toe haar man as opvolger gekies word en dit hul beurt word om by Libertas in te trek, was dit met die gebed in haar hart dat hulle by die dag van afskeid saam oor die drumpel sal kan stap.  Daardie gebed is verhoor. Daarom verlaat sy Libertas met ‘n dankbare hart.

In 1993 met die verskyning van my debuutboek, Flaters en kraters, het ek uit die aftree-oord Serenitas in die Strand van haar ‘n handgeskrewe briefie op blou Croxleypapier gekry om my geluk te wens. Mert verwysing na my stukkie in Sarie het sy bygevoeg: “Wat u op skrif gestel het, is steeds en sal altyd vir my ‘n kosbare kleinood bly – veral in hierdie dae dat ek op die lewenspad terugloop en graag die mooi na vore bring om te onthou.”

Natuurlik is dit vir my ‘n kosbare briefie. Dit word steeds met sorg bewaar.  Koerantmense kan ook sentimenteel raak!

(Mev. Vorster het in 1978 ontvang ‘n eredoktorsgraad van die Potchefstroomse Universiteit ontvang vir haar maatskaplike  diens  – sy was Suid-Afrika se eerste geregistreerde maatskaplike werkster – en haar geskiedenisnavorsing oor die presidentslandgoed Groote Schuur in Kaapstad. In 1990 ontvang sy die D.F. Malan-medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar bevordering van die Afrikaanse kultuur.  Sy was ook ‘n ereburger van  Kareedouw waar die egpaar ná hul aftrede gewoon het. In 1987 het oud-president PW Botha die Orde vir Voortreflike Diens aan haar toegeken. ‘n Britse koerant het by geleentheid geskryf dat, as sy in ‘n later geslag gebore was, sy self die eerste minister sou kon wees. Sy verdien waarlik ‘n buiging van diepe bewondering.)

‘N MUSEUM VIR KOERANTE

Mei 7, 2021 in Uncategorized

Vir almal wat drukkersink in die are het, ook almal wat nuuskierig is oor wat agter die papiergordyn gebeur het of steeds gebeur, en in die mense wat dit laat gebeur het of steeds laat gebeur, is die digitale mediamuseum mediamense.com die ideale inloerplek.

Gaan kyk gerus wat die skepper en kurator, prof. Johannes Froneman, en sy helper, James Kemp, reeds in die kort tyd vermag het. Dit is reeds ‘n skatkis van gesaghebbende inigting oor joernaliste, koerante, tydskrifte en die uitsaaiwese.

Nou reeds is daar al genoeg stof sodat die gedrukte media se enorme bydrae nie vergeet word nie – veral in hierdie tyd van vervlietende digitale media.

Die versameling koerantvoorblaaie is verstommend. Die geskiedenis van (Die) Volksbad word treffend en kernagtig weergegee. Vir lekkerlees is die afdeling By Nabaat sterk aan te beveel.

In By Nabaat is ‘n stuk uit pen van prof. Johannes Froneman oor my eie loopbaan. Dit is nie sonder kritiek nie.  Ek beskou dit egter as besonder ewewigtig. Gaan lees dit gerus by https://mediamense.com/hennie-van-deventer-koerantman/

Dat hy my een van die “mees energieke joernaliste” noem, sal vele kollegas seker beaam – nie almal sonder ‘n wrange herinnering of twee oor hul eie ervarings in daardie verband nie.

In Nabaat is ook ‘n grafskrif uit my pen vir Sapa wat in Maart 2016 in die Afrikaanse koerante verskyn het.

Besoek hierdie museum en beveel dit wyd by mense met harte vir die media aan.  Dis ‘n juweel wat hier tot stand kom.

KUIER OM ‘N HARDEKOOLVUUR

Mei 6, 2021 in Uncategorized

Die boekeblad van die Afrikaanse dagblaaie kondig my nuwe bosboek, “Bure van nature” soos volg aan:  

“Hierdie stories is inheems soos kremetartbome, onderhoudend soos ‘n kuier om ‘n hardekoolvuur.

“Die skrywer en sy vrou het ‘n huis in Sabiepark, ‘n private natuurreservaat aan die Sabierivier, waar wilde diere name het, soos die luiperd Vin Diesel en die vlakvark Brood. Waar ‘n hiëna vir aandete by die stoeptafel opdaag. Hulle het met die jare boekgehou van buitengewone verskynings en gebeurtenisse. Sy stories oor Sabiepark en die Wildtuin blaai die veld oop en gee ons ‘n intieme kykie op wilde diere. Dit stem tot nadenke, soos die uitstekende “Skurwe slaapmaats” waar die leser leer hoe om ‘n olifant te benader: met groot nederigheid, neergeslane oë en geknakte nek. Daar is interessante inligting, soos dat baldadige jong olifantbulle uit die trop verban word totdat hulle geleer het om hulle te gedra. Dat olifantkalwe 100 tot 120 kg kan weeg.

“Die stories word gekenmerk deur fyn waarneming, ‘n droë humorsin en buitengewone woordvaardigheid.”

Die ou man is nogal in sy skik hiermee.

 “Bure” behoort beskikbaar te wees by elke boekwinkel van betekenis. Anders moet hulle hom bestel. ISBN is 978-1-4853-1217-8.  Kos R250. 

22 KAALBAS REDAKTEURS

April 27, 2021 in Uncategorized

In loshande die rofste pers-uitstappie waarvan ek kennis dra, het ‘n 20-tal redakteurs en assistent-redakteurs letterlik kaal uitgekom.

Dit was ‘n besoek per Dakota aan die Unitaleier Jonas Savimbi by sy hoofkwartier, Jamba, diep in die Afrikabos in die 80’s. Die spannetjie het in ‘n tropiese storm papnat gereën. Ook hul koffers was deurweek – niks was droog nie. Bedremmeld, stroop hulle hul nat klere, en daar staan hulle toe in die Dakota terug Johannesburg toe soos natgereënde hoenders: poedelkaal, bibberend en blou van die koue. Ook uitgeput en ergerlik. .

Alles begin by ‘n besoek aan die kleurryke Savimbi deur Tertius Myburgh, redakteur van die Sunday Times (foto).  Savimbi vra in ‘n stadium: “Hoekom bring jy nie ’n volgende keer jou mede-redakteurs saam nie?”

So gesê, so gemaak.  Tertius begin toe rondvra oor ‘n huurvliegtuig en ‘n vlieënier wat sy pad Jamba toe sal kan vind. Op Wonderboom, Pretoria, loop hy ‘n ou Dakota raak wat reg lyk vir die safari.  Die vlieënier wys  die duime op; ja-nee, dis reg so.

Myburgh verneem na die koste en werk uit hoeveel dit per kop sal beloop as hy ‘n span van so 20 kan versamel. Daarna stuur hy telekse aan al die koerante in die land, Afrikaanse en Engels. Hy kry ‘n geesdriftige respons.  Enkeles wil weet hoe veilig dit is. Dink daaraan as ‘n ietwat rudimentêre Mala Mala, kom die antwoord. Tops, dan’s ons in.

Vroegoggend is die klomp op Wondeboom, uitgevat in hul khaki-bosdrag, oorgehaal vir die groot avontuur.  In die Dakota met sy parkbankies teen die sye is twee trommels vol bier op die ys en genoeg whiskey. Vyf uur lank dreun die Dakota se motore  egalig oor die Afrikakontinent met sy vrag persmense.  Onder hulle heers lughartigheid en afwagting.

Hulle word ontmoet deur Unitasoldate en word agterop twee Tsjeggiese vragmotors geboender vir die hobbelrige reis van nege uur oor primitiewe paaie Jamba toe. Die whiskey hou nog en die gees is ongedemp. Avontuur is in die lug.

‘n Dag en ‘n half kuier hulle ‘n hond uit ‘n bos saam met Savimbi.  Ná ‘n laaste aandete saam met die gulle gasheer val hulle om tienuur die aand in die pad terug.  Behoort dus  ligdag die landingstrook te haal.  Toe drie probleme: i. die whisky is op; ii. Die Tsjegge weet skynbaar nie van skokbrekers nie, en iii. ‘n magtige Tropiese storm bars los.  Dit giet. Ure lank ploeg, swaai en bokspring die gehawende voertuie sans skokbrekers  deur die nag voort terwyl die manne bibberend onder bokseile skuiling soek .   Rudimentêre Mala Mala se voet, brom hulle in ‘n koor en werp beskuldigende blikke in Myburgh se rigting.

Ligdag bereik hulle die Dakota. Dankie tog, sug die manne. Nou kan ons droë klere aantrek. Helaas. Toe hulle hul koffers optel, stroom die water uit elke skrefie. Niks – maar niks – binne het droog gebly nie.

Hulle bestyg die Dakota, nat en koud. Die motore het skaars begin brom,  toe’s hulle soos een man uit hul nat klere: 20 redakteurs op ‘n ry sonder ‘n draad aan hul lywe.  Die vliegtuig binne lyk soos ‘n wasgoeddraad met al die nat bosmonderings wat druppend aan die sye hang.

Die manne is hoendervel en dik die duiwel in. Myburgh moet net bontstaan. Alles is sy skuld. Hy gaan vra later die vlieënier of daar nie ‘n verwarmer is nie.  Dié beduie na ‘n handvatsel agter hom . Dis of vrek warm of yskoud, waarsku hy. Werk dit maar self uit. Die hele vyf uur in die lug op pad terug is Myburgh heen-en-weer. Hy sit dit op warm todat hy die sweet sien pêrel. Dan sit hy dit weer op koud.

Die uitgemergelde groepie was nog nooit blyer om op Suid-Afrikaanse bodem neer te stryk nie.

Ek was gelukkig nie  op die uitstappie nie. Seker maar ‘n “premonisie” gehad, soos my ouma Elsie Visser altyd gesê het. Toe stuur ek Willie Kühn, ‘n assistent-redakteur.  Hy was nog bleek om die kiewe toe hy in Bloemfontein aankom ná die nagmerrie-safari.

* Willie wat voor my troue my woonstelmaat was, het later redakteur van Beeld en van Huisgenoot geword. Tertius is aangestel as ambassadeur in Washington maar is aan pankreaskanker oorlede voordat hy die pos kon opneem.  Hoe jammer. Hy sou ‘n voortreflike ambassadeur gewees het: slim, sjarmant en spitsvondig. (Dankie aan Joel Mervis. Het my geheue gaan verfris in sy boek “The Fourth Estate” , Jonathan Ball, 1989).

LAASTE IN DIE RY VAN ’64-GALERY

April 23, 2021 in Uncategorized

Alf Ries (voor) en Neville Krige (langs hom). Foto: Johan Pretorius.

Sou die uwe die enigste oorlewende van die parlementere persgalery van 1964 wees?  Tussen my en Johan Pretorius, ‘n SAUK-veteraan van ‘n latere generasie, het ons tot die slotsom gekom dat ek  waarskynlik laaste in die ry is – nogal ‘n taamlik eensame plekkie om ‘n mens te bevind.

In Januarie 1964, skuins ná my 23ste verjaardag, het ek by die persgalery opgedaag.  Alf Ries was die gedugte politieke beriggewer van die Nasionale Pers.  Schalk Pienaar was die deurlugtige indrukskrywer. Ander Pers-mense was die Burger-manne Louis Louw en Bob van Walsem. Die Transvaler se Sakkie van der Merwe en Johan Kruger was saam in die tuig. (In 1965 het die weë met Die Transvaler geskei. Wiets Beukes (Die Volksblad) en Ebbe Dommisse (Die Burger) het hulle toe by ons span aangesluit.

Voorsitter van die persgaleryvereniging was daardie tyd Donald Prosser van die Evening Post van Port Elizabeth. Hoof van die Sapaspan was Arthur Classen. In sy span was o.a. Robert Postma, Bossie Boshoff en Gordon van der Merwe.  Ander bekendes in die omte was o.a. Tertius Myburgh, latere redakteur van die Sunday Times, Carel van der Merwe,  Daan Esteen en Neville Krige van die SAUK, Tony Heard van die Cape Times, Tos Wentzel (oud-Volksbladder) van die Argus en Stewart Carlyle van die Natal Mercury.

Saam met Daan en Neville het ek vir die parlementêre span krieket gespeel; saam met Gordon van der Merwe ek in ‘n inry na “Dr. No”  gaan kyk  – my eerste James Bond-fliek –  saam met Carel van der Merwe ‘n nagklub besoek en saam met Bossie ‘n paar biere in die Kimberleyhotel gaan drink.

Die hoofbode was die kleurryke Fred (nooit sy van te hore gekom nie) en ‘n nuwe lid in die bodespan ene Demetrio Tsafendas, ‘n Mosambieker wat later berugtheid sou verwerf as die moordenaar van dr. HF Verwoerd. Dikwels by Tsafendas ‘n getoosterde kaas-en-tamatoetoebroodjie bestel.

Neville, Daan en HvD met ons parlementêre krieketpette.

Die persgalery het nog nie sy eie eetplek gehad nie. Etes is geniet in ‘n anneks van die parlementệre eetsaal, die “Dikeet”.  Goeie kos, redelike pryse.

Alf het die nuweling onder sy vlerk geneem. Onthou die eerste keer toe hy my die galery gaan wys het.  Daar van bo af was die volksraad onder ons waardig en indrukwekkend.  ‘n Voorreg gewees om juis in daardie tyd in Alf se politieke span te werk. Ons verhouding is deur ‘n paar driwwe maar ons het jarelange vriende geword.

As werksakker was die volksraad ‘n boeiende plek. In die kabinetsbanke was die oorheersende dr. Verwoerd, wat bo sy tydgenote uitgetroon het, die ietwat stugge oud-stoker Ben Schoeman, die korrekte Eben Dönges, rustige wynboer Paul Sauer, pyprokende diplomaat Hilgard Muller en opkomende ster, John Vorster – almal in my oë groter as lewensgroot. ‘n Jong vuurvreter, PW Botha, het begin aandag trek.

In die opposisiebanke was die Sappe (lede van die Verenigde Party) se gedistingeerde leier, sir De Villiers Graaff, Marais Steyn, wat kon praat dat skuimvlokkies in sy mondhoeke staan, die waardige Piet van der Bijl en die netjiese Ossie Newton-Thompson, ons krieketkaptein.  Helen Suzman was vir die PFP (Progressiewe Federale Party) ‘n bekwame een-vrou-span vir wie almal bra lugtig was.  (Marais Steyn het later jare na die NP oorgestap.)

‘n Karakter soos Blaar Coetzee van Vereeniging, ‘n latere minister, se toesprake, besprinkel met kwinkslae, was altyd eersteklas-vermaak. Op ‘n keer was Coetzee aan die woord. Dr. Jan Moolman (VP, Oos-Londen) kom half orent om ‘n vraag te stel. “Orde, orde,” raas speaker Henning Klopper van Parys: “Die agbare lid weet mos hy moet opstaan as hy ‘n vraag wil stel.” Soos blits kom dit van Coetzee: “Ja, staan op Jan. As jy sit, is die drukking op jou verstand te groot!”

Coetzee het Klopper, terloops, Here Jesus genoem na aanleiding van sy voorletters HJ en sy aanspraak dat hy die Bybel 20 keer deurgelees het. Klopper het ook gespog dat hy nooit ‘n druppel sterk drank oor sy lippe geneem het nie. In al sy jare in die politiek het hy nooit ‘n drankie vir iemand gekoop nie.

Omdat Die Volksblad nie ‘n eie politieke beriggewer gehad het nie, het sy galeryman ook ‘n wandelgangkaartjie gehad. Het nogal graag in los tydjies in daardie eksklusiewe portaal uitgehang. ‘n Keer het ek my senior kollega gescoop met ‘n voorbladberig oor ‘n onenigheid tussen Jan Visse, Nasionale Party-LV vir Gezina, en een van die destydse Kleurlingverteenwoordigers, Bill Hollander. Die misverstand het na die wandelgang oorgespoel.

‘n Paar geniepsige houe is gewissel. Maar die  eerste wat die politieke beriggewer daarvan te wete kom, is op ‘n Burger-plakkaat in Tamboerskloof waar hy gewoon het. Hy was nie geukkig nie. Speaker Klopper was ewe min geïmponeer. Drie lesse vir ‘n groentjie: 1. die speaker is baas van die parlement; nie die eerste minister, soos hy in sy onkunde gedink het nie; 2. die wandelgang is ‘n “heilige hal” en wat daar gebeur, gebeur as ’t ware met gegrendelde deure;  3. ‘n jong abjater krap nie in die politieke beriggewer se slaai nie.

Geen permanente skade is gelukkig aangerig nie. Gou het die Vrystater ‘n gereelde oppasser vir die Rieskinders, Hartman en Marianne, geword as pa Alf en ma Maggie die aand uitgaan. Marianne was nog in doeke. Nou die dag sien ek op Facebook ‘n foto van oupa Hartman met twee nuwe kleinkinders in die arms. Toe voel ek soos die enigste oorlewende van 1964; die laaste in die ry.