Jy blaai in die argief vir Uncategorized.

TRETCHIKOFF – KONING VAN ADJEKTIEF

Junie 19, 2021 in Uncategorized

Vladimir Ttretchikoff, sogenaamde “Koning van kitsch”, was as kunstenaar geliefd by die publiek en ongereken by kunsresensente. Ek onthou hom ook as die koning van die byvoeglike naamwoord. Hy kon die adjektiewe inryg soos aan ‘n sosatiestokkie.

As iets nie “fantasties” of “geweldig” was nie, was dit “vreeslik”. “Fantasties” het ek tydens ‘n onderhoud vir my rubriek “Onder Vier Oë in Beeld in die jare 70 ‘n stuk of ‘n dosyn kere getel; toe word ek moeg van boekhou.

Hy was ook lief om met ‘n dubbelloop te skiet. Hou Afrikaanssprekendes besonder van sy werk, sou jy hom byvoorbeeld vra. “Geweldig,” sou Tretchi antwoord. “Dis fantasties, fantasties!”

Ek het hom oor sy gevoel jeens kunskritici gepols. Tretchi het sy arms teatraal in die lug gegooi. Toe sak hy terug in sy stoel en gryp sy kop vas. “Kunskritici? Wie de duiwel is die kunskritici? Krap aan die oppervlak en wat kry jy? ‘n Verydelde kunstenaar!”

Dit was so ongeveer sy geloofsbelydenis. Kritici het hom afgekraak as ‘n prul-kunstenaar, ‘n goeie verkoopman wat die massas met goedkoop sentimentaliteit verlei. Maar hy het geglo: “Dit is nie my kuns wat hulle kritiseer nie, dit is my sukses.”

Met ‘n meewarige laggie. “Jy weet, toe ek nog gesukkel het, was die kritici tevrede met my werk. Toe ek begin geld maak, toe’s dit skielik nikswerd.”Nie dat dit eintlik saak gemaak het nie, as jy Tretchi kon glo. “Dit maak my nie seer nie en dit maak nie my sukses seer nie.” Die Chinese meisie – bekend as die Mona Lisa van kitsch – is “beroemder as Tretchikoff,” het hy gemaak verontwaardig bygevoeg. Dan het sy oë geskitter van trots.

Buiten die Chinese meisie was immergroen gunstelinge onder meer die Verlore orgidee, die Sterwende swaan, die Wenende roos, onthou u? Hulle is almal lank na sy dood nog springlewendig. Trouens, sedert die millenium begin die pryse eers klim! In Amerika, Kanada, Brittanje, Australië, die Verre Ooste … selfs Ciprus – die mense hou net nie op om te koop nie.

Die Chinese meisie dateer uit 1952 en het een van die bekendste kunsreproduksies van die twintigste eeu geword.[ Die skildery vertoon ‘n Chinese meisie met ‘n ongewone blougroen veltoon, wat die skildery die bynaam The Green Lady gegee het. Die oorspronklike is op 20 Maart 2013 by Bonhams-veilinghuis in Londen vir byna $3.5 miljoen (Amerikaanse dollar, nie rand nie) verkoop. Dit is deur die Britse juwelier Laurence Graff opgeraap.

Selfs in Suid-Afrika het versamelaars groot geld vir Tretchi-werke uitgehaal. Op 27 Mei 2008 het sy Vrugte van Bali op ‘n veiling in Kaapstad ‘n (destydse) rekordprys (vir hom) van R3,74 miljoen behaal. Tretchi het daarmee o.m. stof in Irma Stern se oë geskop. Haar Kaapstad se hawe (vooraf die groot trekpleister) is vir (net!) R2,2 miljoen van die hand gesit.

Vyf ander werke van Tretchi het saam R1,452 miljoen opgelewer. Beleggers in kunswerk was geskok en die afslaer het die prys vir Vrugte van Bali as “ongelooflik” bestempel.

Buiten die kritici was daar nog iets wat Tretchi gekwel het: die persepsie dat hy – hy was toe “iets in die sestig” – jong meisietjies ateljee toe jaag en hulle so vinnig moontlik uit hul klere kry om hulle te skilder. “Soos ‘n seksmaniak,” het Tretchi gekla.

Die waarheid, volgens hom, was dat hy in 20, 25 jaar net vier halfnaakte meisies geskilder het. Die boodskap van een van daardie skilderye is: “Jy mag nie egbreek nie.” Die meisie – ‘n Afrikaanse nooi, Brenda, met ‘n “pragtige figuur” – wek die indruk dat sy aan die verbode vrug lê en dink, of dit dalk pas klaar gepluk het, aldus Tretchi.Soos die man geskilder het, het hy gepraat. Soos hy gepraat en geskilder het, so was die man.

Flambojant en emosioneel. Geen ander woorde kan hom beter beskryf nie. Vladimir Tretchikoff is op 26/8/2006 oorlede

NIE NET ‘N SKIL OF ‘N BLIKKIE

Junie 12, 2021 in Uncategorized

‘n Ou koerant moet ‘n mens nie op sy baadjie takseer nie. As jy klaar gelees is, gooi jy hom nie sommer weg soos ‘n nikswerd-piesangskil,  ‘n sardiensblikkie of ‘n plastieksakkie nie.

Onder koerantpapier kan jy slaap. Jy kan dit vir honger donkies voer. Jy kan jou vis en tjips toedraai. Jy kan die hond se plassies opvee. Jy kan vuur maak en ruite was. Jy kan bevrore vleis koud hou op lang ritte.  Jy kan die papegaai se hok uitvoer.  Die nut is amper onbegrens.

Kollega Johan van Wyk het ‘n keer ‘n nogal uitvoerige studie gedoen oor waarvoor ‘n ou koerant alles deug. HY kom toe tot die insigryke gevolgtrekking dat dit op een plek werklik tot sy reg kom: “In die kleinhuisie met die boerpampoene op die dak. “Nệrens lees jy lekkerder in ‘n ou koerant as daar nie.”

Johan kon bygevoeg het: Nệrens is jy dankbaarder oor die beskikbaarheid nie as wanneer jy skielik papier op sy dringendste nodig kry en die verfynde vorm vir daardie doeleindes ontbreek. Ja-nee, die toegevoegde waarde is enorm.

Ek hoor graag van ander vindingryke idees. Hier egter drie aanwendings wat vir die uwe nuut en oorspronklik was.

Nommer een is die sogenaamde Paper House in Pigeon Cove, Massachusetts.  Die hele huis en sy inhoud bestaan uit ou koerante, hoofsaaklik uit Boston.  Sowat 100 000 eksemplare is vir die doel gevou of gerol. Die volledige takie het 20 jaar in beslag geneem.

In die woonkamer staan ‘n klavier – ‘n uitnodiging vir iemand wat kan om die klawers met Johann Strauss se wals “Oggendkoerante” te gaan tokkel. Daar is ‘n radio in ‘n outydse kabinet. ‘n Boekrak is gemaak uit buitelandse koerante  en ‘n oupastaanhorlosie uit koerante van die hoofstede van die Amerikaanse deelstate.  ‘n “Nuuswaardige” lessenaar is uit koerante met die nuus van Charles Lindberg se epiese vlug.

‘n Koerantman voel so tuis, jy wil sommer dadelik sak en pak intrek en begin lees!

In die Suid-Tiroolse vakansiestadjie in die Alpe Merano ontdek hierdie gryse koerantman toe nog ‘n nuwe nut wat aan hom onbekend was. Op ‘n straathoek pryk dit:  ‘n reuseblombak van monumentale hoogte en omvang. Die struktuur het HvD verdwerg  – en dit verg nogal ‘n struktuur van stoffasie om HvD te verdwerg!

Die foto’s is bedoel om kreatiewese te prikkel om daardie stukkie Tiroolse vindingrykheid na te aap. Laat dit ‘n uitdaging wees.

Van nader tuis is die pragtige tabberdjies wat vir die Kovsies se joolkoningin en eerste prinses aangetrek is ter viering van Die Volksblad se verskuiwing na die oggendgleuf op 4 Maart 1991. Mooier “uitgawes” was daar gewis nie in my tyd as hierdie aan die mooi lyfies van Liezel le Riche en Almie Cloete nie. By hulle is Die Volksblad se Alta Beetge wie se breinkind die mode-ding was.  (“Haar rokkie het ‘n skeurtjie in en almal kyk daarna …”)

SUMMA CUM LAUDE VIR SAREL

Junie 6, 2021 in Uncategorized

As ek vir Sarel Venter, oud-adjunk-redakteur van Die Volksblad, by sy 80ste more (7 Junie) ‘n rapport moet gee vir vakke soos Ordentlikheid, Onkreukbaarheid, Beginselvastheid, Voorbeeldigheid, Christelike waardes, Koers hou en Gesonde insigte slaag my rotsvaste kollega summa cum laude.

Sarel was ‘n soliede steunpilaar in my eerste hoofredaksie in die 80’s – een van die Aärons en Hurs wat ‘n jong, idealistiese redakteur se arms in uitdagende tye omhoog help hou het. Ek eer hom vir sy onskatbare bydrae tot ons soms wroegende besinning en met sy gevleuelde “pen” in hoofartikels en rubrieke in ‘n moeilike en veelbewoë dekade wat ons saamgestap het.

Ons koerant se politieke standpunte het ons in die hoofredakie gedurig aan die geregtigheidsbeginsel getoets. Ons het geglo om geregtigheid te laat geskied, is ‘n Bybelse opdrag. ‘n Ware staatmaker in hierdie eerlike strewe tot geregtigheid was Sarel, wat soos so baie ander joernaliste, eers predikant wou word. Hy is ‘n Gereformeerde wat aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO gestudeer het.

Weens sy fyn aanvoeling en ewewigtigheid het ek hom ingespan om ons meeste hoofartikels oor kerksake te skryf. Ek kon telkens aan Sarel gaan oordra met watter waardering sy bydraes ontvang is in kerklike kringe wat vir ons saak gemaak het. Ene oor ‘n regse predikante-aksie uit Silverton (die sogenaamde Silverton-193) is deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse NG Sendingkerk in geheel opgeneem “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge”.

‘n Hegte vriendskapsband bestaan tot vandag, en ook op persoonlike vlak is ek aan Sarel hope dank verskuldig vir bankvaste lojaliteit en ondersteuning. ‘n Mens hoef maar net op Google die name van Hennie van Deventer en Sarel Venter saam in te tik om te sien wat ek bedoel. In welwillende resensies en ander geskrifte het hy oor jare telkens my hart warm laat klop.

Oor een ding is ek spyt: dat ek en Tokkie nooit die voorreg gehad het om saam met Sarel en Liesbeth ‘n bootvaart te onderneem nie. So ‘n kundige entoesias soos Sarel kry jy nie elke dag nie. My en Tokkie se vaart op die Queen Mary II na Sydney het hy byvoorbeeld op sy rekenaar seemyl vir seemyl saam meegemaak. Sy intense meelewing op hierdie salige ontdekkingstog was ‘n belewenis. Ek is seker ons sou genotvolle ure saam ter see kon deurbring as omstandighede daarna was.

Die Venters het onlangs hul gewilde gastehuis, “Kom weer” in Fichardtpark, Bloemfontein, se hortjies gegrendel en na ‘n kleiner oord in Universitas verhuis. Mag hulle daar ‘n ryke nuwe skof beleef, mag die vreugdes by hul voordeur opstapel en mag nog talryke heerlike nuwe herinneringe vir hulle geskep word.

(Die saamgestelde foto wys Sarel op sy 70ste verjaardag, regs onder, saam met my en Herman le Roux in my kantoor by Die Volksblad, ontspanne saam met sy medelede van die hoofredaksie in die 80’s, en by ‘n Volksblad-saamtrek in 2016 in Sabiepark en Balule. )Deel dit:

TOE SKUD JAMIE SOOS HY LAG

Junie 5, 2021 in Uncategorized

Elkeen uit die Jamie Uys-era het ‘n gunstelingtoneeltjie uit ‘n Jamie-rolprent wat hom die lekkerste laat lag het. Vir party is dit iets uit sy eerste, Daar doer in die Bosveld; vir party uit sy laaste en grootste sukses, ook internasionaal, The gods must be crazy.

Wat het die veteraan-rolprentmaker – wat einde Mei 100 jaar oud sou geword het – se eie lagspiere die meeste geprikkel? Die vraag het ek hom in ‘n onderhoud vir my “Onder vier oë”-rubriek in Beeld gestel. Dit het hom geen oomblik laat twyfel nie.

Dit was in Funny people: die toneel van ‘n man se gespartel om ‘n klomp glibberige ballonne te verpak. Die papier was te klein en die tou te kort. Maar onderkry was min. Met toewyding en konsentrasie het hy deurgedruk totdat die spulletjie netjies toegewikkel was.

Net toe verskyn Jamie se skoonseun met ‘n stempel. So ver soos hy stempel, hoor jy net ballonne bars. Die pakker het hierdie onverwagte verwikkeling onbegrypend betrag. Maar toe ‘n balhorige ballon uit die pakkie peul, was hy rats by om dit op te raap en terug te dwing – net om ook aan flarde gestempel te word.

In sy versteekte kas het Jamie so gelag dat die kamera geruk het. Die pakker het nooit ‘n woord gesê nie, maar net die manier waarop sy oë dan op, dan af geflits het, het sy eie storie vertel.Jamie, ‘n oud-onderwyser, was drie jaar lank boer.

In 1950 kry hy die bevlieging om ‘n rolprent te maak: Daar doer in die Bosveld. Hy het gedink dit sal sommer kinderspeletjies wees – binne twee weke is alles kant en klaar. Maar toe duur dit twee jaar. Hy het alles wat hy besit, daarin gestort. “Toe moes ek maar aangaan.”The gods must be crazy het die miljoene laat inrol. Beautiful people het ook sy merk gemaak. Maar, snaaks genoeg, het Funny people wat eintlik net gemaak was vir die plaaslike mark, in sommige lande nog beter as Beautiful people geloop. Jamie was verras. Hy het nie gedink dit sal in die buiteland slaag nie omdat buitelanders candid camera al lank op televisie het.

Sy lekkerste rol was in Lord Oom Piet. Miskien was dit veral omdat hy ‘n baard gedra het; so het hy ‘n lang grimeringsproses elke oggend vrygespring. ‘n Ander lekker rol was dié van die Rus in All the way to Paris, die internasionale variasie van die gewilde Hans en die Rooinek.‘n Suid-Afrikaanse Rus, George Korelin, moes hand bysit om Jamie die regte aksent te leer. Dit was darem nie te moeilik nie. “’n Boer se aksent en ‘n Rus se aksent wanneer hulle Engels praat, verskil nie so baie nie.”

Sou hy ‘n Suid-Afrikaanse prent van iemand anders graag gemaak het? Ja, Emil Nofal se Wild season met Gert van den Bergh. Dit was ‘n lekker prent, die hele stemming, die hele aanslag.

Sy swakste prent was Geld Soos Bossies, volgens Jamie. Hy het pas sy eie maatskappy gestig en geld was skaars. Daarom was dit so ‘n “haastige prentjie”. Die eerste twintig minute was baie bevredigend, maar daarna “kon jy sien dit is afgerammel”.

 Jamie Uys is op 29/1/1996 oorlede.Deel dit:

‘N SAADJIE IS ‘N DING WAT SPRING

Mei 29, 2021 in Uncategorized

Op pad na Sabiepark se piekniekplek toe stap ons van Tarlehoet af in Wildevylaan by talle tambotiebome verby. Plekplek staan dit amper te dig.  Op ‘n dag skrik ek vir ‘n saad – ‘n tambotiesaad – wat voor my allerlei energieke hop-hoppe uitvoer.

Die raaisel van die tambotie se saad het lank gekwel. Later hoor ek dit spring darem nie op eie stoom nie, maar weens die insekkie binne-in.

Gister, wanneer kry ek van Frikkie Lombard van die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse taal) die nuus dat daardie saadjie tot binne-in die formidabele woordeboek gehop het. Onder die letter “t”  gaan hy daar sy monumentjie kry.

Met sy goedkeuring haal ek graag Frikkie se vriendelike brief aan. Hy skryf: “Hallo Hennie.Wil net laat weet dat ek jou ‘Bure van nature’ besonder geniet, vir die humor, leersame inligting en keurige taal. Verder wil die toeval dit so hê dat ek juis met die lees en ekserpering van jou boek ook die woordeboekartikel oor “tambotie” moet kontroleer. En daar kry ek toe ‘n sitaat uit jou boek wat ek gaan gebruik (met volle erkenning aan die skrywer en die bron): ‘Die raaisel van die tambotie se saad het lank gekwel …’

Dankie, Frikkie. Voel ek nie gevlei nie! Dit alles weens ‘n ou saadjie.

Die WAT-man heg toe sommer die definisie wat die WAT vir tambotie het, aan. Dit lui:  “Mediumgroot tot groot bladwisselende boom, <i>Spirostachys africana</i> (fam. <i>Euphorbiaceae</i>), tot 18 m hoog, wat ’n giftige, melkerige sap afskei, met ’n dik, growwe, donkerbruin tot swart bas met ’n kenmerkende blokkiespatroon, afwisselende blare waarvan die rande fyngetand is, goudkleurige tot bloedrooi blomme wat spiraalvormig op korterige, dun are gegroepeer is, sade waarin daar dikw. larwes van motte voorkom wat aktief begin beweeg sodra dit warmer raak, sodat dit lyk asof die sade rondspring, en harde, olieagtige, donkerbruin hout met ’n aangename geur wat veral i.d. vervaardiging van duursame meubels, mynstutte, dakbalke en heiningpale gebruik word, maar nie as braaihout nie omdat die sap ’n onaangename smaak aan kos gee en die giftige rook diarree kan veroorsaak, en wat veral in laagliggende streke of op heuwels in al die lande in suidelike Afrika, behalwe Lesotho, tot so ver noord as Tanzanië aangetref word.”

Presies. Dis net die tambotie daai.  En moenie daardie waarskuwing oor die gebruik van tambatoe as braaihout gering skat nie.  Jou vleis smaak glad nie lekker wanneer dit op tambotiekole  staan en sis het nie.  Maar nie lekker smaak nie, is die minste van jou probleme.  Die giftige rook gaan jou ten minste laat hôl vir die naaste toilet.  Dis nou maar wors.  Dit kan selfs dodelik wees , word gewaarsku.

DIE HART TINTEL

Mei 26, 2021 in Uncategorized

Boekresensie: Bure van nature

 Mei 24, 2021

Louise Viljoen

Louise Viljoen

Titel: Bure van nature

Outeur: Hennie van Deventer

ISBN: 978-1-4853-1217-8

Uitgewer: Protea Boekhuis

Skuif gerus nader indien jy hou van opwindende veldstories en naelbyt-ontmoetings tussen mens en dier, want Hennie van Deventer, die outeur van sowat twintig boeke, se geboekstaafde vertellings sal jou vir ure lank vermaak. Veral in hierdie dae waar reisigers steeds skrikkerig is om té veel rond te beweeg weens die risiko’s verbonde aan covid-19, is leesstof soos Bure van nature soos manna vir die natuur-entoesias se siel. En vir iemand soos ek wat nog nooit die voorreg gehad het om die Krugerwildtuin te besoek nie, is hierdie boek ’n openbaring én ’n onvergeetlike bederf. Van Deventer en sy vrou, Tokkie, besit ’n woning in Sabiepark – ’n private natuurreservaat aan die Sabierivier, naby aan die Paul Krugerhek.

Bure van nature beslaan 192 bladsye en word opgedra aan “almal wat al met rustigheid in die hart in ’n flikkerende kampvuurtjie sit en tuur het terwyl treffende naggeluide uit die donker bos op ’n briesie van Sabierivier se kant aangesweef kom.” Die boek is opgedeel in drie temas waaronder dosyne stories gegroepeer is. Die temas is: By my voorstoep verby (40 stories), Poste restante Skukuza (7 stories) en Bobaas-buurman (11 stories). Die uitgewersbrief beskryf dié stories as “inheems soos kremetartbome, onderhoudend soos ’n kuier om ’n hardekoolvuur”. Die bekoring van Bure van nature lê in die heerlike spitsvondige en lewendige wyse waarop Van Deventer sy liefde en respek vir dier en natuur deel. Hy skryf onderhoudend en met ’n aansteeklike passie oor hulle wedervaringe.

Dis baie jammer dat daar nie foto’s is waarin lesers kan deel nie, maar Van Deventer se woordvaardigheid en sy vermoë om ’n situasie lewensgetrou te skets maak daarvoor op. Vir my as leser het dit gevoel of ek elke ontmoeting en ontdekking in die veld meemaak. Feitelike inligting wat vaardig deur die stories verweef is, maak van Bure van nature nie nét ’n lekkerleesboek nie, maar ook ’n leersame ondervinding. Ek het heerlik daaraan gelees en was spyt toe ek die boek ná die laaste bladsy toemaak. Net voordat ek Bure van nature gelees het, het ek Sir David Attenborough se A Life on Our Planet: My Witness Statement and a Vision for the Future gelees en ook baie geniet. Die twee here se passie vir diere en die natuur en hulle nalatenskap waarin hulle hul kennis en ervaringe deel, is prysenswaardig en inspirerend.

Dis baie moeilik om van die stories uit te sonder, want ek het elkeen geniet. Ek wil tog die openingsparagraaf van “Sabiepark, geboortegrond” op bladsy 104 uitlig: “Die verskeidenheid fluite, koere, krasse, kwele, kwake, roepe, tjirpe en tjanke van allerlei bontrokke, bokmakieries, janfrederiks, katakoeroes, klopkloppies, lewerikke, lysters, sterretjies, valke, vinke en wielewale is eindeloos.” Dit is heerlikhede soos dié wat ’n leser soos ek se tone laat omkrul en my aanpor om aan te hou lees – Van Deventer is ’n meesterverteller.

Meer oor die outeur: Hennie van Deventer was met sy uittrede in 1998 uitvoerende hoof van koerante van Naspers. Hy was ook vir twaalf jaar lank redakteur van Volksblad in Bloemfontein. In 1997 het hy Naspers se hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, ontvang vir “die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het”. Hy het, in sy baie suksesvolle loopbaan, vele eerbewyse van verskillende instansies gekry. Hy geniet nou al reeds langer as twintig jaar sy aftrede.

Skaf gerus jou kopie van Bure van nature hier aan.

Besoek ook Van Deventer se Facebook-blad hier waar hy meer inligting oor Bure van nature en ook foto’s deel.

‘N MILJOENệR IN BLINKERTJIES

Mei 20, 2021 in Uncategorized

Boswell, Pagel, Wilkie – wie die sirkus in die laaste helfte van die vorige eeu geken het, het Francesco, die witgesig-nar geken. Amper vyf dekades lank het hy geslag na geslag in die Groot Tent met sy manewales laat skater.

Francesco het in my hart gekruip in Augustus 1978 toe ons ure onder vier oë vir die rubriek Onder Vier Oë in die dagblad Beeld gesels het. Gestroop van sy wit poeier-masker en peperduur Paryse kostuums, was Gilyan Francesco ‘n fyn mens-mens, het ek ontdek.Francesco het ‘n tweede keer in my hart gekruip toe hy my 20 jaar later, einde 1997, uit die bloute in die Kaap bel. Hy sien in die koerant dat ek gaan aftree. Waarom? “Jy is dan nog so jonk.” Weer het die mens agter die narremasker my verras.

Dié Johannesburgse pruikmaker, skilder en filosoof was ‘n groot geselser met hande wat nooit tot rus kom nie – soos blare wat grond toe fladder, het ‘n resensent hulle beskryf. Ons onderhoud was ‘n fees.Francesco was Suid-Afrika se enigste witgesig-nar: “die aristokraat van die sirkus; die heer van die narre; die man wat die antwoorde ken en die praatwerk doen”. In die wêreld was in daardie stadium net vyf ware narre. Van die vyf was hy die enigste akteur. Om ‘n witgesig te word, moes hy kursusse volg in ballet, drama, perdry en musiekwaardering.

Alles het een aand op Colenso begin toe die legendariese Madame Pagel vir hom sê: “Jy gaan ‘n witgesig word. Gaan maak vir jou ‘n kostuum.”Hy het gehoorsaam – die kostuum en die naaimasjientjie waarop hy dit gemaak is, is later in ‘n spesiale Francescokamer in NALN (Nasionale Letterkundige Museum) in Bloemfontein uitgestal – maar later het hy in verset gekom en die kostuum in haar woonwa geslinger. “Ek wil nie ‘n witgesig wees nie: ek haat dit,” het hy weerbarstig uitgeroep. Sy het net gelag en hy het haar hoor sê: “Hy sal regkom”. Sy het gelyk gehad. Hy het … en hy was nooit spyt nie.

Ten tye van ons onderhoud het Francesco 52 kostuums besit, almal “volledige kunswerke” met blinkers en pêrels, en gemaak deur die beroemde Madame Viccairre in Parys, die Dior van die sirkuswêreld. Elkeen het daardie tyd sowat R1 000 gekos, wat Francesco met ‘n vonkeling laat opmerk het: “Ek is ‘n miljoenêr … in blinkertjies!”

Die Francesco’s kom van Italië. Sy ouers – akrobate en sweefstof-artieste – en sy grootouers was ook sirkusmense. Hyself is na ‘n leeftyd by die sirkus weg, omdat hy “moeg geword het om net as hanswors beskou te word”.Hy was ook gesteurd dat sirkusbase enigiemand met ‘n geverfde gesig in die ring stuur om die mense te laat lag. Hy wou “die mooi tradisie van die nar” beskerm. In sy sierlike kostuum, en agter sy verf, wou Francesco hê dat die nar, buiten lawwe grapjas, ook ‘n realistiese karakter moet wees – iemand wat met die wisselvallighede van die lewe worstel, wat gedurig val, maar telkens weer opstaan om verder te stry. Hy het besef hy wil mense ook iets gee om oor na te dink.

Eers toe hy ‘n eie groep op die been gebring het, het sy nar-wees vir hom “werklik sin en betekenis gekry”. Die groep het oral lof ingeoes. Hy is, dalk die eerste keer, as volwaardige arties in eie reg erken en waardeer – ‘n nar in die klassieke sin van die woord. Daarna het hy ‘n narklub met 75 000 lede vir kinders begin. Een goeie daad per dag was die voorwaarde vir lidmaatskap. “Ek het ‘n sterk geloof, ek glo ek is God se nar en dat as jy God agter jou het, jy nie verkeerd kan gaan nie. Dit is wat ek my kinders leer.”

Hy wou graag as ‘n “leermeester-filosoof” brûe tussen rasse help bou – ‘n ideaal wat grootliks onverwesenlik gebly het omdat die ouderdom hom ingehaal het.

Sy grootste skrik in die sirkus het Francesco vroeg in sy loopbaan gehad. Die leeus se vertoning was pas klaar en die narre moes oudergewoonte ring toe om die publiek se aandag van die gewerskaf met die tralies af te trek. Francesco was net binne toe hy bemerk die tonnel is nie toe nie, en daar kom leeu se kind. Met sy yslike stewels het hy die tralies gestorm en – tot groot vermaak van die gehoor – vergeefs probeer om uit te klouter. Die leeu het hom net ‘n kyk gegee en weggedraf.“

Hy’t seker gedink: ‘Jou eenvoudige ou gek’”, het Francesco gelag.

Vir die dwerg Tickey het hy ‘n sagte plekkie gehad. “Hy is my held. As hy ’n normale man was, sou hy sonder twyfel ons heel grootste akteur gewees het.”ÊÊIn die sewentigs het Francesco ‘n aanloklike aanbod uit Australië ontvang, maar “hene mens, ek is ‘n Suid-Afrikaner. ‘n Trotse een. As ek moet padgee, wie bly oor? Dis net ek en Tickey.”

Nou is Francesco en Tickey albei intussen weg. Ja, wie bly oor?

 Gilyan Francesco is op 15/7/2001 oorlede

SONORE STEM EN HONENDE HUMOR

Mei 19, 2021 in Uncategorized

Soos vele ander egpare was John en Tini Vorster in geaardheid glad nie karperde nie. Tini (oor wie ek ‘n paar dae gelede ‘n blog geplaas het) had die sagte hart van ‘n maatskaplike werkster. John was die mededingende regsgeleerde, altyd oorgehaal om ‘n opponent kliphard aan te vat. Die begaafdse redenaar was geseënd met ‘n ingebore spitsvondigheid wat vernietigend kon wees.

As John Vorster die politikus met die sonore stem en vlymskerpe kwinkslae eers met sy een voet op sy groen leerbank in die volksraad gaan staan het en die opposisie met sy honende humor begin opkeil, was van sy kant van die raad galmende lagbuie van genot.

Ek was die aand in die Bloemfonteinse stadsaal toe die premier onder dawerende toejuiging aankondig Suid-Afrika sal nie die gekleurde Basil D’Oliveira as lid van ‘n MCC-krieketspan aanvaar nie. Tot vandag glo ek hy kon met presies die teenoorgestelde standpunt dieselfde toejuiging uitgelok het. Hy het oor die statuur beskik om mense om die pinkie te draai en die redenaarskuns om hulle in enige rigting mee te voer. Dalk het hy nie sy mag in daardie opsig nie ten volle besef nie.

Die gedugte Vorster het my vroeg in my loopbaan as verslaggewer by Die Volksblad laat stamel. Dit was by Philpstown se eeufees of iets waar hy – toe nog minister van justisie – die spreker was. Ek wou asseblief ‘n afskrif van sy toespraak hê.

Hy het my met onbehae deur ruie wenkbroue betrag. “Vriend,” het hy afgemete, sonder ‘n sweem van ‘n glimlag geantwoord: “As ek afskrifte van toesprake begin saamdra, daardie dag tree ek uit die politiek.” Ek het gou geleer ‘n John Vorster-toespraak bestaan uit ‘n paar kriptiese notas agter op ‘n pakkie Rembrandt ongekurk 30.

Kort nadat hy HF Verwoerd in 1966 opgevolg het, het hy Koffiefontein besoek. Dit het ‘n draai ingesluit by die Interneringskamp waar hy in die Tweede Wereldoorlog agter doringdraad was. Ek sou nie weer om ‘n afskrif van ‘n toespraak aanklop nie!

Die besoek aan die Interneringskamp het wel vir een van my gunstelingfoto’s uit my vroeë loopbaan gesorg. Daardie skraal swartkopmannetjie met die dikraambril en die notaboek links van mnr. Vorster, dis ek!

Mettertyd het ek in die jare 70 by die nuwe dagblad Beeld kennis gemaak met die nogal warm stoel van die nagredakteur – die man wat die volgende dag alles moet kan verduidelik. Een van die aande wat ek nie lig sal vergeet nie was nadat die premier op ‘n jagtog in die private Sabie-Sand-reservaat ‘n leeu geskiet het.

Die aand nadat die storie (plus kleurfoto) op die voorblad verskyn het, het die uwe diens gedoen. Die eerste uitgawe was afgehandel. Ek het net behaaglik teruggeleun. Skielik lui die telefoon. Die fors stem kondig afgemete aan hy wil met die redakteur praat. “Goeienaand, mnr. Vorster – praat maar, ek is die nagredakteur.”

Verslaggewers wat ooggetuies was, het later vertel ek het ligrooi geword, en amper versteend op aandag geruk. Die premier was woedend. In die gewraakte onderskrif het gestaan Vorster het die leeu by Skukuza platgetrek, dus in die nasionale Krugerwildtuin, wat nie die geval was nie. Na verduidelikings en verskonings wou hy nie juis luister nie. Wat, wou hy weet, moet die wêreld van Suid-Afrika dink as die pers sy premiers sulke onbesonne dinge laat aanvang!

Impertinente persfotograwe is ook deur die leier met die stugge bloedhondgesig laat bontstaan. Pogings om hom vir die kamera te laat glimlag, het vir twee wat ek ken, glad nie voorspoedig verloop nie. “Maar ek glimlag dan klaar,” het hy een getroef. “As jy tande wil sien, moet jy Jimmy Carter gaan afneem,” het hy nommer twee kortgevat.

‘n Keer dat hy wel breed vir ‘n fotograaf geglimlag het was op ‘n foto op Huisgenoot se voorblad van hom in sy baaikostuum saam met sy kleinkinders op sy geliefde vakansieplek Oubos. “Oupa Nam-Nam” – so is hy by die foto genoem – was die toonbeeld van ‘n liefdevolle oupa.

John Vorster se latere presidentskap was kortstondig en misplaas – ‘n kunsmatige manier om sy politieke loopbaan te probeer verleng nadat hy kort tevore deur sy kollegas versoek is om weens swak gesondheid die tuig as premier neer te lệ. Al wat dit hom in die sak gebring het, is dat hy gedwing is om in die openbaar die verantwoordelikheid op hom te neem vir die “katnes” van die Inligtingskandaal wat deur regter Rudolph Erasmus finaal oopgekrap is. Dit was treurig dat die formidabele man se loopbaan so op ‘n laagtepunt moes eindig.

SY WAS ‘N ROTS

Mei 12, 2021 in Uncategorized

Sy/haar onderhoude met spesiale mense is deel van elke joernalis se memoires. Gedenkwaardige eie onderhoude wat vinnig by my opkom, was met  uiteenlopende karakters soos Thabo Mbeki, Harry Oppenheimer, Tretchikoff,  Gerhard (Spiekeries) Viviers, Francesco, die witgesig-nar, Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Jamie Uys, Anneline Kriel, Sonja Herholdt,  Ampie Roux, vader van ons eie  “bom”, Buurman van Zyl, legendariese Bloubul-afrigter, Thys Lourens en Paul Nash, een van ons grootste atlete.

Een onderhoud wat onuitwisbare indrukke gelaat het, was met mev, Tini Vorster, minder as 20 uur nadat premier (en later staatpresident) John Vorster weens die Inligtingskandaal skielik as premier moes bedank.  Die onderhoud van anderhalfuur in die premierswoning Libertas in Bryntirion, Pretoria, het my aangegryp. Dit het gelei tot die treffende plakkaat op die foto met die foto van die Vorster-egpaar en die volgende bewoording: My man John – mev Tini Vorster.  Dit  is nie elke onderhod wat met so ‘n plakkaat bekroon word nie.

By haar was in daardie bittere uur geen bitterheid, verydeling of teleurstelling oor haar man se premierskap  wat so dramaties gestuit is nie. Inteendeel. In haar was ‘n fierheid, blymoedigheid en stille krag wat ek nie sal vergeet nie. Daar was ook die teerheid, liefde en lojaliteit van ‘n sorgsame eggenote. So ‘n mengsel van aristokratiese waardigheid en vroulike sagtheid kry ‘n mens nie elke dag nie. Ek bewonder dit nou nog.

Geen wonder nie dat die naam van hierdie rots aan John Vorster se sy dadelik by my opgekom het toe die tydskrif Sarie in 1989 by my en ‘n paar ander mense wou weet watter vroue ons die meeste bewonder.

Sy was teenwoordig toe mev. Betsie Verwoerd haar man, dr. HF Verwoerd, aan die dood afgestaan het, het sy my daardie oggend oor ‘n koppie tee en keurige fyngebak rustig meegedeel.  Dit het haar diep getref.   Toe haar man as opvolger gekies word en dit hul beurt word om by Libertas in te trek, was dit met die gebed in haar hart dat hulle by die dag van afskeid saam oor die drumpel sal kan stap.  Daardie gebed is verhoor. Daarom verlaat sy Libertas met ‘n dankbare hart.

In 1993 met die verskyning van my debuutboek, Flaters en kraters, het ek uit die aftree-oord Serenitas in die Strand van haar ‘n handgeskrewe briefie op blou Croxleypapier gekry om my geluk te wens. Mert verwysing na my stukkie in Sarie het sy bygevoeg: “Wat u op skrif gestel het, is steeds en sal altyd vir my ‘n kosbare kleinood bly – veral in hierdie dae dat ek op die lewenspad terugloop en graag die mooi na vore bring om te onthou.”

Natuurlik is dit vir my ‘n kosbare briefie. Dit word steeds met sorg bewaar.  Koerantmense kan ook sentimenteel raak!

(Mev. Vorster het in 1978 ontvang ‘n eredoktorsgraad van die Potchefstroomse Universiteit ontvang vir haar maatskaplike  diens  – sy was Suid-Afrika se eerste geregistreerde maatskaplike werkster – en haar geskiedenisnavorsing oor die presidentslandgoed Groote Schuur in Kaapstad. In 1990 ontvang sy die D.F. Malan-medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar bevordering van die Afrikaanse kultuur.  Sy was ook ‘n ereburger van  Kareedouw waar die egpaar ná hul aftrede gewoon het. In 1987 het oud-president PW Botha die Orde vir Voortreflike Diens aan haar toegeken. ‘n Britse koerant het by geleentheid geskryf dat, as sy in ‘n later geslag gebore was, sy self die eerste minister sou kon wees. Sy verdien waarlik ‘n buiging van diepe bewondering.)